
Foto via Unsplash
President Cyril Ramaphosa se onlangse kommentaar dat die ANC by die DA kan leer oor hoe om munisipaliteite te bestuur, het ’n storm ontketen wat weier om te bedaar.
Die DA slaan nog steeds munt daaruit en die ANC, eerder as om introspeksie te doen, se uitlatings getuig van gebelgdheid en passiewe aggressie. Dit ly geen twyfel nie dat ten minste sommige ANC-lede weet hul party se munisipale prestasie is ontoereikend, om dit sagkens te stel. Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, het in reaksie aangevoer dat hoewel hy weet hulle slaag nie met die kernsake van munisipale bestuur nie, is dit nie al wat tel nie. Volgens hom is daar wel met transformasie geslaag.
Hulle leef in ontkenning. Die res van ons doen nie. Ramaphosa het daarna weer ’n dwarsklap na Stad Kaapstad gemik oor skynbare gebrekkige dienslewering aan armer gebiede, maar dit is ’n skynheilige terugkrabbeling in die lig van hoe ander metro’s en munisipaliteite onder ANC-bewind vaar.
Menige ontleders het bloot op die politieke gevolge van Ramaphosa se uitlatings gefokus. Met ander woorde, wat sal hierdie opmerkings vir ’n beleërde ANC beteken in volgende jaar se plaaslike verkiesing? Dit het beslis waarde, maar dit spreek nie die kern van Ramaphosa se kritiek aan nie: wat gedoen moet word om munisipaliteite reg te bestuur.
Daarbenewens mis almal die skreiende ironie van ons president se uitlatings: dat die ANC ná 31 jaar aan bewind steeds nie weet hoe om ’n munisipaliteit te bestuur nie. Nou weet ons hoekom groter en meer komplekse regeringstrukture soos nasionale, provinsiale en staatsbeheerde ondernemings so erg in die pekel is. Daarenteen het die DA, met veel minder regeerervaring, dit reggekry om die entiteite onder hul beheer om te draai en hul standaarde te handhaaf.
........
DA-munisipaliteite is steeds ver in die minderheid onder die totale 257 munisipaliteite (plaaslik, distrikte en metro’s) in die land. Tog presteer hulle disproporsioneel tot hul getalle.
........
DA-munisipaliteite is steeds ver in die minderheid onder die totale 257 munisipaliteite (plaaslik, distrikte en metro’s) in die land. Tog presteer hulle disproporsioneel tot hul getalle. Midvaal (Gauteng), Kouga (Oos-Kaap) en die Wes-Kaap se Swartland, Mosselbaai en Overstrand troon op objektiewe maniere uit bo die res. Dit is nie my mening nie, maar plekke op ranglyste wat deur eksterne rolspelers bepaal word.
Byvoorbeeld, kort ná Ramaphosa se uitlatings het DA-beheerde Wes-Kaapse munisipaliteite skoonskip by Ratings Afrika se toekenningsgeleentheid gemaak. Hierdie pryse beloon veral finansiële bestuur en dissipline. Saldanhabaai (waar die DA saam met die VF+ regeer) en Swartland het die eerste prys gedeel, Swellendam was tweede en Hessequa was derde. Ter stawing van hierdie prestasie moet bepaald na negatiewe afwykings gekyk word. Munisipaliteite wat sukkel in die Wes-Kaap – soos Knysna en Theewaterskloof – word deur koalisies met die ANC as kernparty bestuur.
Ek het al in ANC-beheerde munisipaliteite (Stad Johannesburg, Mogale City en Stad Tshwane) in Gauteng gewoon en woon nou in ’n DA-beheerde een (Drakenstein in die Wes-Kaap). Ek het inmiddels vir jare in gemeenskappe regoor die land aan munisipale probleme gewerk. Van Noordwes tot die Noord-Kaap en KwaZulu-Natal het ek gereis en die verval eerstehands beleef. Paaie in woongebiede wat heeltemal verweer is, water en krag wat afgesny is weens wanbetaling en infrastruktuur en openbare ruimtes wat verval het. Ek was ook onlangs weer in Gauteng en sekere dinge val jou dadelik op as jy vergelykings kan tref. Munisipale bestuur is eintlik heel eenvoudig as die wil bestaan, want die formule vir sukses is logies en klinkklaar. Kom ons neem dit onder die loep.
Kom net jou pligte na
Eerstens moet die toepaslike wetgewing eenvoudig nagekom word. Die vernaamste hiervan is die Grondwet, die Munisipale Finansiële Bestuurswet en die Munisipale Stelselswet (die Stelselswet).
Ingevolge die Grondwet (art 152) moet plaaslike regering, onderhewig aan sy geldelike vermoëns, sekere oogmerke nastreef. Dit sluit onder meer in dat demokratiese en verantwoordingspligtige regering vir hul gemeenskappe voorsien moet word; dat dienste op volhoubare wyse verskaf word; en dat ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling, sowel as ’n gesonde omgewing bevorder moet word. Duidelik bly die oorgrote meerderheid van die land se munisipaliteite in gebreke om enigsins hierdie vereistes na te kom. Mbalula moet straks hierdie doelwitte in ag neem voordat hy roekelose en bespotlike stellings maak. Transformasie is subjektief en kan beide positief óf negatief wees. Arm swart mense is opsluit die vernaamste – maar geensins die enigste – slagoffers wat die nie-nakoming van hierdie basiese vereistes betref.
Die Stelselswet bevat meer besonderhede en bepalings. Dit sluit onder andere in hoe geïntegreerde ontwikkelingsbeplanning moet werk en dienste gelewer word, prestasiebestuur en -meting, gemeenskapsbetrokkenheid, menslike hulpbronne, skuldinvordering en hoe munisipale amptenare moet optree. Als is daar vir enigiemand om te lees en na te kom.
Helaas is dit juis waar die kaf van die korrels geskei word. Dit is ’n hartseer feit dat baie munisipaliteite oor ’n klein belastingbasis beskik, ondanks toewysings deur hoër vlakke van regering. Aangesien hulle wel befondsing uit munisipale belastings, diensteheffings en toewysings ontvang, kan geld egter nie as ’n verskoning voorgehou word vir die totale ondermyning van hierdie vereistes nie. Ek het self met munisipale tegnici in Noordwes gepraat wat moedig probeer om hul werk met verouderde of geen toerusting te doen. Afgesien hiervan is te veel munisipale bestuurders en finansiële hoofde eenvoudig nie geskik om hul werk te doen nie. Die rede vir hul aanstelling is altyd politieke inmenging (lees: kaderontplooiing), terwyl dit letterlik verbied word.
Die jongste verslag deur die ouditeur-generaal (OG) oor munisipaliteite wys dat slegs 41 (16%) skoon oudits ontvang het. Baie mense maak OG-verslae af as niksseggend, omdat dit kwansuis slegs ’n ware rekenkundige weerspieëling van ’n entiteit se geldsake is al dan nie. Ek stem nie hiermee saam nie. Dit onthul juis die redes vir swak munisipaliteite se treurmare en kreeftegang, en die oplossings word onomwonde verklaar – helaas nou al vir dekades. Vermorsing en onreëlmatige besteding (wat onder meer spruit uit opgeblase tenders en in baie gevalle op blote korrupsie neerkom) word al vir jare in hierdie verslae uitgewys en nogtans word daar in te veel gevalle niks daaraan gedoen nie. So ook die redes (soos gebrekkige gevolgebestuur en vaardighede).
Natasha Marrian wys onlangs in Financial Mail uit dat, behoudens Stad Kaapstad, munisipaliteite grootliks hul wetlike waterpligte versaak. Die OG wys hierbenewens herhaaldelik daarop dat die nie-nakoming van wetgewing die hoofoorsaak van bevindinge teen munisipaliteite is. Die minimumstandaard is lankal reeds swart op wit. Dit moet net gelees en nagekom word.
Die werk is wat werk
Terwyl ek saam met ’n vriend deur Johannesburg se noordelike voorstede na sy huis in Edenvale vanaf Lanseria gery het, het dit my opgeval hoeveel padblokkades oral voorkom en hoe min ander werk gedoen word. Hier by ons in die Boland is die teenoorgestelde waar: min padblokkades en werkers oral. Dit word uiteindelik in die resultate gesien en dit is uiteindelik die enigste maatstaf vanuit ’n inwoner en kieser te perspektief.
Daar is seker redes vir padblokkades omdat misdaad botvier in Gauteng, maar die getal daarvan moet bevraagteken word – veral in die lig van meer dringende prioriteite. Soms is hulle enkele kilometers van mekaar af, terwyl die verkeersligte in die area almal buite werking is en die verkeer ophoop. Voorts is daar enkele werkers wat hier en daar sonder toesig rondloop en skynbaar die aansienlike hoeveelhede rommel op stroke langs en tussen die pad optel. Of ledig rondsit en slaap.
In die Paarl sien ons elke dag werkers wat besig is om verkeersirkels netjies te maak en op te tooi, rommel op te tel, paaie te lap en teer, bome te snoei en gras te sny. Stad Johannesburg is weliswaar meer kompleks en groter as Drakenstein, maar myns insiens geld dieselfde beginsels van werk.
........
Deurlopende werk maak ook ligte werk. Dit is baie makliker en goedkoper om weekliks korterige gras te sny en deurgaans klein slaggate te herstel as om later groot skadebeheer toe te pas. Identifiseer prioriteite, skep ’n roetine van instandhouding en werk en hou dan daarby.
........
Deurlopende werk maak ook ligte werk. Dit is baie makliker en goedkoper om weekliks korterige gras te sny en deurgaans klein slaggate te herstel as om later groot skadebeheer toe te pas. Identifiseer prioriteite, skep ’n roetine van instandhouding en werk en hou dan daarby.
Streef na beter
Iets wat Ramaphosa en sy party sal loon, is om bloot om hulle rond te kyk en te sien wat aangaan. Die president het immers vroeër vanjaar die toestand van Johannesburg betreur en gesê hy is skaam om wêreldleiers na die G20-beraad te nooi. Daar is selfs voorgestel dat dit eerder in Kaapstad as Johannesburg gehou word. Dit skreeu ten hemele dat die president van die land eers na aanleiding van ’n internasionale beraad iets oor die toestand van sy land se grootste stad wou kwytraak.
Gewone inwoners sukkel al vir jare met gebreekte verkeersligte, paaie en straatligte. Water is nou weer ’n reusekrisis in die Goudstad. Niemand se oë en ervarings is so onbetroubaar dat hulle nie die voor die hand liggende uitdagings kan raaksien nie. En as jy dit nie straks raaksien nie, vra die gemeenskap (soos wetgewing boonop vereis).
Om ooglopende probleme te sien en dit aan te spreek geld vir beide munisipaliteite en hul inwoners. Ek praat nie hier van relatiewe nietighede nie, maar wydverspreide en ernstige probleme.
Geld word veelal (en skouerophalend) as verskoning gebruik hoekom basiese dienste nie gelewer kan word nie. In baie gevalle – en dit word gerugsteun deur die OG en ander entiteite se data, sowel as die nuus – is korrupsie en vermorsing eerder die ware rede. Menigmaal is swak invordering van gelde ook hiervoor te blameer (ook iets wat beheer en bestuur kan word).
Munisipaliteite kan ewenwel nie slegs op hul bestaande plaaslike inkomste en toedelings staatmaak om hul prioriteite te verwesenlik nie. Selfs staatsinstellings moet meer entrepreneuries dink en doen om beleggings en bemiddelde inwoners te lok om sodoende die belastingbasis te vergroot en werkloosheid te bestry. Dit begin by die basiese dinge, soos om infrastruktuur in stand te hou en korrupsie hok te slaan. Die teenoorgestelde het in die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit (Lichtenburg) gebeur: ’n weiering om te luister en dan te doen, het Clover laat padgee. Soos die OG telkens uitwys, is kapasiteit en vaardighede uiters gebrekkig in te veel munisipaliteite. Die goeies jaag meriete en skoon regering na.
Dit gaan egter ware verantwoordbaarheid en ’n nuwe ingesteldheid jeens inwoners en sakelui verg. Te veel munisipale amptenare en veral burgemeesters sien hulself bloot as party-afgevaardigdes en nie as dienaars van die publiek nie. Munisipale besture en rade moet probeer om hul inwoners te beïndruk, eerder as om hulle as stemvee en onderdane te beskou. Ek het nie hierdie artikel geskryf om die ANC te red of die DA se beuel te blaas nie, maar die feite spreek vanself. Dit was bloot om uit te wys dat munisipale bestuur eintlik eenvoudig is as jy bereid is om lesse te leer en die reëls te volg. Dit geld vir almal. En as ’n party dit nie wil doen nie, moet die kiesers ook die moed aan die dag lê om na beter te streef. 2026 is om die draai en gelukkig het ons keuses.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees: Wie gaan die munisipale septers swaai na 2026?
Plaaslike munisipale dienslewering daagliks meer dringend vir water en ander dienste
Yes for national dialogue, but don’t forget municipal services
Yet again, turmoil around a small town’s water: Cradock’s story and its wider messages
The ANC’s last decade: an interview with Ralph Mathekga after South Africa’s municipal elections

