
Boekomslag: Kaalvoet sielsgedagtes deur Milanie Vosloo; foto van Milanie Vosloo: verskaf
Die bekende skrywer Milanie Vosloo skryf dagstuk- en gebedeboeke, sowel as ander inspirerende boeke. Daar is altesaam 24 titels op haar kerfstok. Sy is die uitvoerende voorsitter van Uppe Marketing (Edms) Bpk, ’n reklame-agentskap wat sy in 1985 gestig het en op 5 Maart hul 40ste bestaansjaar vier. Milanie is ook die projekbestuurder van die gewilde en bekende webwerf www.afrikaans.com wat maandeliks 60 000–100 000 besoekers het. Haar jongste boek, getiteld Kaalvoet sielsgedagtes, het onlangs by CUM Boeke verskyn en is reeds ’n topverkoper.
Milanie glo God gebruik gewone mense – ondanks hul gebrokenheid – om daagliks sy hande en voete hier op aarde te wees. Sy sê: “My verhouding met God het op ’n baie vroeë ouderdom begin en ek is terdeë bewus van my afhanklikheid van Hom. Dis heerlik om saam met Hom te reis en soveel genade-wonderwerke te ervaar. ’n Loopbaan in die harde sakewêreld en die uitdagings wat verskillende rolle inhou, hou my op my knieë. Ek put wysheid, vrede, vervulling en liefde uit die Woord. Vir my gaan die Woord oor die leef van die lewe, die voorbeeld wat Jesus self vir ons kom stel het en die boodskap van verlossing. Die beloftes, waarhede en versekering in sy Woord saam met die leiding en toerusting van die Gees bly my grootste bron vir skryf.”
Louise Viljoen van Jeffreysbaai het die voorreg gehad om vir Milanie ’n paar vrae te stel:
Jy skryf onder meer dagstukboeke vir vroue. Waarom?
Vroue is op soveel maniere die gom wat dinge aan mekaar hou, die vreugde in hulle mense se dag, die krag vir hulle gesinne en die wysheid wat op ander maniere na dinge kyk. Tog is vroue dikwels so leeg gegee, is hulle die mense wat inspirasie, moed, ondersteuning, vrede en die bevestiging van iemand wat hulle onvoorwaardelik liefhet, so nodig het. Ek probeer deur my boeke juis hierdie ondersteuning aan vroue gee.
Om 365 boodskappe te skryf, elkeen met sy eie boodskap, verg baie selfdissipline en bestudering van die Woord. Waar kry jy vars idees en temas?
Afgesien van die Woord, ander skrywers, teoloë en predikers waarby ek leer, vind ek my inspirasie uit die lewe self. Uit gewone mense ... uit die val en opstaan, die valleie en bergtopervarings en die pyn en lag van die lewe. Ek probeer in my boeke juis tipiese temas en onderwerpe wat ons almal daagliks beleef, verweef en só verpak dat lesers daarmee kan identifiseer en dit hulle eie maak.
........
Ek bly verras oor die manier hoe die Gees op soveel onverwagte plekke en in situasies gedagtes in my plant wat oor tyd ontkiem en ontwikkel tot dit uiteindelik gestalte in ’n volledige boek kry.
........
Watter tyd van die dag (of nag) skryf jy graag?
Enige tyd. Enige plek. Soms is dit soggens wanneer ek wakker word, ander kere tydens vakansies wanneer ek rustig is en tyd het om meer bewustelik God se goedheid in te drink en daaroor te dink. Partykeer skryf ek aan die einde van ’n lang dag op kantoor en soms selfs op ’n vliegtuig of in ’n koffiewinkel. Ek bly verras oor die manier hoe die Gees op soveel onverwagte plekke en in situasies gedagtes in my plant wat oor tyd ontkiem en ontwikkel tot dit uiteindelik gestalte in ’n volledige boek kry.
Het jy enige skryfrituele wat jy net móét volg of die woorde wil nie kom nie?
Ek probeer nooit geforseerd skryf nie, want dan is dit nie weldeurdag of eg nie. Daarom gee ek ook nie elke jaar ’n nuwe dagstukboek uit nie, maar gee myself genoeg tyd om op my eie ritme te groei en dan, wanneer ek kan, die woorde neer te pen. Ek skryf ook my rubrieke in Lig en Leef en my meditasies wanneer ek self tot rus by God is ... en probeer dit daarom, sonder druk, vooruit doen.
Beskryf jou ideale dagstukboekleser.
Lesers lees hierdie genre om verskillende redes. Daarom sal die profiel van ’n dagstukleser verskil. In my kop is daar nie ’n ideale leser nie. Vroue is draers van hoop en lig. Ek wil hulle graag help met emosionele ondersteuning, raad, wysheid, bemoediging, vertroosting ... en aan hulle “taal” gee wat hulle eie vreugde, lag, dankbaarheid en lof verwoord. My gebed is dat die kort boodskappe hulle dag verryk, iets gee om aan te dink en hulle help om die lewe met al sy fasette te leef.
........
My hoop is dat die kort en kragtige skrywes hulle sal aanmoedig om die Woord beter te verstaan en die lewe, ondanks en te midde van ’n klomp dinge, sommer net te geniet.
........
Waarom verdien dagstukboeke ’n plek op die boekwinkelrakke?
Jesus het vir ons deur sy manier van omgaan met mense kom wys wie God is. Ons almal het nie die tyd, kapasiteit of liefde om dik boeke te lees nie. Dagstukboeke help ons om ons Godsbeeld te vorm en ons aan te moedig om daar waar ons elke dag ’n gewone dag leef, iets van sy liefde te wees. My hoop is dat die kort en kragtige skrywes hulle sal aanmoedig om die Woord beter te verstaan en die lewe, ondanks en te midde van ’n klomp dinge, sommer net te geniet.
Sou jy nie sê daar is ’n gevaar dat lesers lui sal raak om self die Bybel te bestudeer of te bid indien hulle met pasklaar-dagstukkies en -gebede bederf word nie?
Ons is almal op ons eie manier op reis op ons geloofspad. Ek hoop dat lesers juis deur my skrywes die Woord self sal geniet en dat dit hulle sal aanmoedig om die Skrif verder te ontgin; dat dagstukboodskappe hulle die ervaring sal gee dat hulle in hulle gewone lewe vir God langs, voor, agter en in hulle reis beleef.
Watter woordlengte is die ideale dagstuk?
Die lengte van dagstukke hang van die behoefte, tyd en leeskapasiteit van lesers af, maar gewoonlik is ’n ideale woordtelling tussen 250 en 350 woorde. Dit sluit die Skrifaanhaling, boodskap en gebed in.
Is daar nog plek vir gedrukte dagstukboeke wanneer mens deesdae sommer slimfoontoepassings kan aflaai wat vir jou dagstukkies lewer?
Natuurlik het die tegnologie mense se leer- en leesgewoontes verander. Daarom het ek ook drie jaar gelede begin om weeklikse meditasies op YouTube te plaas. Sien https://www.milaniesielsgedagtes.com/.
Maar daar sal altyd mense wees wat die lekkerte van ’n boek, die blaai van papier en die langlewendheid van ’n boek verkies.
........
Dagstukboeke het ’n spesiale, baie persoonlike en spesifieke plek in mense se harte. Dis nie net ’n middel tot ’n doel nie. Mense lees dit oor en oor en jaar na jaar en vind – soos hulle deur hul eie reis leef – moed, krag, troos en raad.
........
Dagstukboeke het ’n spesiale, baie persoonlike en spesifieke plek in mense se harte. Dis nie net ’n middel tot ’n doel nie. Mense lees dit oor en oor en jaar na jaar en vind – soos hulle deur hul eie reis leef – moed, krag, troos en raad.
Behalwe om bloot die dagstuk te lees, wat kan lesers nóg doen om hulle stiltetyd optimaal te benut?
- Maak elke dag op ’n bepaalde tydstip – vroeg soggens, namiddae of saans tyd om in stilte by God te sit. Ruim tyd in om sommer net by Hom te wees en met Hom te praat. Leer Hom deur sy Woord en Gees dieper te ken.
- Soms kan jou stiltetyd die lees van die Woord en/of die skryf van jou eie joernaal wees. Jy kan sommer ook net jou gedagtes op God se teenwoordigheid fokus en Hom – sy groot liefde – indrink.
- Leef bewustelik en sien, hoor en leef God in die alledaagse.
- Omring jou met mense wat ook lief vir Hom is.
- Gesels oor Hom en dit wat jy ervaar.
- Lees opbouende geestelike boeke.
Enige raad vir voornemende dagstukboekskrywers?
As jy die behoefte of droom het om ’n skrywer te wees, doen dit. Gaan sit en skryf jou gedagtes neer. Wandel deur die Woord, dink oor God se werking in jou en ander se lewens en pen dit neer. Elke skrywer het sy eie resep en dit wat vir hom/haar werk.
Kry jy enige terugvoer van lesers af? Indien ja, wat staan vir jou uit?
Die grootste terugvoering is die verkope van my boeke. Menige daarvan het 20 000–40 000 verkoop en is al verskeie kere herdruk. Ek sal ook gereeld e-posse ontvang waarin lesers sê wat die boeke vir hulle beteken. Wanneer ek optree, is ek verras oor hoeveel mense na my toe kom en vertel dat hulle die boeke so geniet. Daarvoor is ek maar net so dankbaar … en verras oor wat God deur my – gewone mens wat ook maar val en opstaan – doen.
Kies jy ’n vers en skryf dan die boodskap? Of hoe gaan jy te werk?
My skryfproses is nie gestruktureerd nie. Die woorde en gedagtes word eerder oor tyd in my gevorm en, wanneer ek tyd het, verpak ek dit saam met die Woordbeloftes en gebede.
- Soms ontstaan daar ’n gedagte of insig wat ek neerpen om later oor te skryf.
- Ander kere het ek self ’n belewenis waarin ek God se hand sien en vanwaar ek ’n boodskap vir ander kan verpak.
- Soms lees, hoor of beleef ek stories van mense wat inspirerend is.
- Menige kere vind ek ’n stuk Skrif wat my prikkel … waaroor ek loop en dink om later in mensetaal te omskryf.
- Wanneer ek egter so 300 stukke het, lees, meet en evalueer ek die hele boek en maak dan ’n lys van onderwerpe wat nog nie gedek is nie. Dan doen ek weer daaroor navorsing.
- Die laaste uitdagende fase wat absoluut gefokusde werk van ses tot agt weke verg, is om herhaaldelik deur die boek te werk, gepaste temas te verpak, te sorg dat daar genoeg afwisseling in die styl is en dit kreatief en sinvol saam te stel.
Watter unieke eise stel die skryf van dagstukboeke aan ’n skrywer?
Dagstukskrywers (veral as mens meer as een uitgee) moet lewenslange leerders bly en self groei in die Woordkennis en in hulle geloofsreis. Hulle moet mense se behoeftes en emosies raak hoor en verstaan wat hulle nodig het. Dan lê die groot uitdaging daarin om die 366 stukke gestruktureerd maar sinvol en logies te verpak.
Hoe hanteer jy dit wanneer die woorde nie wil kom nie en jy móét skryf.
Ek raak eers stil … baie stil … en wag … tot ek voel: Nou lê die woorde op my hart reg en kan ek my rekenaar uithaal.
Voel jy ooit dat jy dieselfde boodskappe hersirkuleer deur dit net te omskryf?
Die temas van die lewe sal altyd dieselfde bly: vrees, spanning, bekommernis, liefde, verhoudings, mislukkings, suksesse, hartseer, ensovoorts sal altyd daar wees. Daarom sal dagstukboeke dieselfde temas min of meer elke keer hanteer. Tog lê die geheim van ’n nuwe produk daarin dat jy as skrywer self groei, genoegsaam navorsing doen, bewustelik leef, kreatief na die lewe kyk en dit dan (al is die temas universeel) weer nuut en interessant verpak.
Dankie vir jou weldeurdagte antwoorde, Milanie.
Lees ook:
Kom saam: ’n onderhoud met Sonja Goldberg oor haar dagstukkieboeke

