Joernaal
Clinton V du Plessis
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781991256355
In sommige lande en kulture word die getal 13 as ’n gevreesde of ongelukkige getal beskou wat met ongeluk of rampspoed van een of ander aard assosieer word. Joernaal is Clinton V du Plessis se dertiende digbundel en by uitstek kan ek verklaar dat dié getal in Du Plessis se geval allesbehalwe ongelukkig is.
Die bundeltitel is om twee redes noemenswaardig. Eerstens bevat Joernaal verskeie persoonlike gedigte waarin die digter-spreker oor sy lewe en verlede besin. Die titel skep die verwagting van ’n joernaal waarin die spreker sy persoonlike ervarings neerpen. Tweedens is dit interessant indien dié titel met die titels van vorige bundels, naamlik Aantekeninge teen die skemeruur (2017) en Verslag (2019), gelees word. Met Joernaal word Du Plessis se oeuvre aangevul en bly die motief van besinning deur middel van die geskrewe “aantekeninge”, “verslae” en “joernaalinskrywings” ’n deurlopende tema in Du Plessis se mees onlangse bundels.
Op die voorplat verskyn ’n skildery deur Christelle Cronjé. Die verskillende lae verf verhef die tekstuur op die skildersdoek en skep die illusie van ’n rivierloop of vallei. Die verskillende uitvloeisels kan ook figuurlik beskou word as die samekoms of samevloeiing van verskillende dele of komponente van die digter-spreker se lewe soortgelyk aan ’n rugstring wat die menslike skelet ondersteun en verskeie komponente van die menslike “masjien” met mekaar verbind. Elke leser sal egter sy of haar eie afleidings maak en sodoende ’n verband tussen die skildery op die voorplat en die temas in die gedigte trek.
Die bundel bestaan uit vier afdelings getiteld “Eiendoms Beperk”, “Lyfrente”, “Verwante partye” en “Amortisasie”. Die rekeningkundige en kontraktuele terminologieë word as gepaste metafoor ingespan as deel van die digter-spreker se terugblik op sy lewe. Die leser word met die spreker se intieme gedagtes, gevoelens, gebeure en ervarings gekonfronteer en blootgestel soos in die geval van ’n persoonlike joernaalinskrywing of ’n spreekwoordelike balansstaat van ’n algemene joernaal waarin alle besigheidstransaksies soos inkomstes en uitgawes aangeteken word. Die gedig “Outobiografie” is in dié opsig merkwaardig en boor ’n diep aar raak waarin veral die digter-spreker se ervarings van segregasie voor 1994 aangesny word. Terselfdertyd tree die spreker op intertekstuele vlak met DJ Opperman se epiese gedig Joernaal van Jorik (1949) in gesprek:
[...]
Steeds ken ek my plek, in elke gesprek
uit eie keuse loop ek katvoet, daar spoor vooroordeel in my bloed
ek was, anders as Jorik
in die baarmoeder van ’n lokasie, tussen die rituele met voorvaders
[...]
Ek is geen joernalis, geen Jorik
ek is die verwerpte hoeksteen in die taalmonumente
tog hou ek boek in die nag flentertjies papier, knipsels,
ek skryf die grootboek op, van reg en onreg
van gee en ontneem
in die laboratorium van die uitnemende woord
kweek hy proefbuisdigters, geneties fyn
die digter se gesig plooi tot erosieslote
op die voorplat van sy jongste bundel.
[...]
Vanuit ’n letterkundige oogpunt is die naspeuring van intertekstuele verwysings in die bundel besonder verrykend. In bostaande strofes verwys die spreker na DJ Opperman se Jorik-karakter uit sy versdrama, maar ook na sy letterkundige laboratorium wat die “kweekhuis” van verskeie bekende digters, soos Pieter Fourie, Joan Hambidge, Daniel Hugo, Fanie Olivier en Lina Spies (om maar enkeles te noem) was. Die “erosieslote” verwys na die bekende foto van Opperman op die voorplat van sy bundel Komas uit ’n bamboesstok (1979) en kan ook by Joernaal se voorplat aansluit ten opsigte van verfhale as “erosieslote”.
In “Die kinders” tree Du Plessis in gesprek met Ingrid Jonker se gedig “Die kind” wat in 1963 in haar bundel Rook en oker verskyn het. Soortgelyk aan Carina Stander se “Die kind is dood, maar sy haal nog asem” wat in Die vloedbos sal weer vlieg (2006) verskyn het, asook Bernard Odendaal se “Die kind is steeds nie dood nie” in sy bundel Onbedoelde land (2007), fokus die spreker op die geweld waaraan kinders in Suid-Afrika steeds daagliks blootgestel en onderwerp word.
Nóg ’n kind is dood
iewers is haar lykie gevind
[...]
[...]
Die vyand het tussen ons kom woon
ons koester die misdaad
ons verdra die verval gelate
die reuse skaduwees van die dood
val té gereeld en té vroeg oor die kinders van Langa,
van Ravensmead, van Bonteheuwel, van Nyanga
en oral waar kind net kind wil wees.
Ingrid, die pas is weg en daar is nou vir elkeen stemreg.
Maar Ingrid, die kind is dan voortydig, onnatuurlik dood?
Die verskil tussen polities gemotiveerde protes en gepaardgaande geweld asook misdaad weens maatskaplike ongelykhede in die Suid-Afrikaanse konteks word treffend en beeldryk verwoord.
Verdere intertekstuele gesprekke met skrywers en digters soos Antjie Krog, Koos Prinsloo en NP Van Wyk Louw kom ook in die bundel aan bod. In verskeie gedigte skryf die digter-spreker oor herinneringe aan sy kinderdae asook beelde van sy pa en ma. Soos in van sy vorige bundels kom stasies en treine tematies sterk na vore. Du Plessis maak geredelik gebruik van die vryeversvorm asook binnerym. Die bundel is ryk aan metafore met gedigte wat pretensieloos en toeganklik geskryf is.
........
Du Plessis is een van Afrikaans se mees onderskatte en ongewaardeerde digters. Vir té lank het hy op die periferie van die Afrikaanse literêre establishment verkeer
........
Die slotafdeling van die bundel bestaan uit lykdigte. Die gepaste titel, “Amortisasie”, wat na die delging van skuld verwys, kan hier in konteks van die lykdigte gelees word as die prys wat die mens aan die einde van die lewe moet betaal. As rekenmeester van beroep is die digter immers goed vertroud met terme soos “amortisasie”. Die balans tussen lewe en dood word gehandhaaf deur middel van gereelde “betalings” (oftewel die dood). Sodoende word ’n “gesonde balansstaat” tussen die lewendes en die dooies in stand gehou, aangesien die planeet onder oorbevolking gebuk gaan. Die titel word ook in hierdie opsig relevant, aangesien “joernaal” ook in rekeningkunde gebruik word om inkomstes en uitgawes, dus die lewendes en die dooies, op te teken.
In sy rubriek “Lofsanger of kannibaal?” skryf die digter-kritikus Daniel Hugo: “Vir ’n Afrikaanse digter is Joan [Hambidge] se [lyk]gedig dus die enigste geldige doodsertifikaat.” Hier steek Hugo die draak met ’n opmerking deur Breyten Breytenbach wat gesê het dat “’n [m]ens natuurlik eers seker [kan] wees dat jy regtig dood is wanneer Joan Hambidge ’n lykdig oor jou geskryf het”. Du Plessis sit die tradisie voort met lykdigte opgedra aan onder andere TT Cloete, Karel Schoeman, Gisela Ullyatt, DJ Opperman en Petra Müller. Die bundel word afgesluit met ’n verering van wyle aartsbiskop Desmond Mpilo Tutu in “Arch”.
[...]
Soos Saggeus, kort van postuur,
maar ’n reus met ’n mikrofoon moedig voor in die ry. Jy
bou ’n brug oor die kloof
tussen Casspir, suburb en township,
maak geloof, gebed en God weer hip en relevant
[...]
Dit blyk dat Clinton V du Plessis se passie vir die digkuns nog lank nie geblus is nie, ten spyte van sy verklaarde voorneme in 2019 dat sy bundel Verslag sy laaste digbundel sou wees. Du Plessis is een van Afrikaans se mees onderskatte en ongewaardeerde digters. Vir té lank het hy op die periferie van die Afrikaanse literêre establishment verkeer, soos die digter-spreker ook self in die programgedig verklaar: “Ek was buite die kring / wat luidkeels lof wou besing”, asook “Ek bly staan aan die onderkant van die stoep / bly doelbewus doof as die hekwagters my nader roep.” Die feit dat Joernaal by ’n gevestigde uitgewer verskyn het, is reeds ’n positiewe teken dat Du Plessis die erkenning kry wat hom toekom en minder sku vir die spreekwoordelike “hekwagters” is. Ten spyte van die digter-spreker se gevoel van buitestanderskap, verklaar hy:
Slegs van buite kan jy die ruite
van hierdie taalkatedraal
moertoe en flenters gooi.
Ek is ’n regstellende joernaalinskrywing.
Ek was / ek is.
Joernaal is ’n toeganklike bundel waarin eietydse maatskaplike uitdagings geopper word en temas soos die ars poëtika, die toekoms van Afrikaans as taal, asook die digterlike outobiografiese kode sterk figureer. Dié bundel het my met ’n gevoel van genoegdoening gelaat. Soos hierdie laatwerk van Du Plessis toon, is sy digterstem en -vernuf definitief nie uitgeput nie. Joernaal is een van Du Plessis se beste bundels en word ten sterkste aanbeveel.
Bron
Hugo, D. 2023. Vers & kapittel II – artikels, rubrieke, resensies en onderhoude oor die digkuns. Kaapstad: Turksvy Publikasies.
Lees ook:
Kommentaar
As leek besef ek nou eers waarom Clinton so lugtig was vir die resensente. Die annalise/resensie van die digbundel is diep en deeglik. Solank die sosio-ekonomie van hierdie land soos 'n skoppelmaai/pendulum swaai, glo ek sal Clinton, die sosiale kommentator/digter, dig. Ja, te lank het die establishment geglo sy gedigte is te "ekkerig". Mooi loop, my vriend. Ek hoop my Afrikaans is korrek.
Ek dink die resensent maak hier 'n denkfout: Die omgekeerde van 'n stelling is nie altyd waar nie (dit leer die Wiskunde ons).
Ek verduidelik: Die meeste goeie gedigte tree (intertekstueel) in gesprek met ander literêre werke of kunswerke. Maar: intertekstualiteit is nie 'n maatstaf vir goeie poësie nie. Dus: gedigte met intertekstuele verwysings is nie vanselfsprekend goeie gedigte nie.
Nee, Marlies. Ek (die resensent) het geen "denkfout begaan" nie. Nêrens in my resensie het ek gesê dat "intertekstualiteit 'n maatstaf vir goeie poësie" is nie.
My sin lees soos volg: "Vanuit ’n letterkundige oogpunt is die naspeuring van intertekstuele verwysings in die bundel besonder verrykend." Met "besonder verrykend" sê ek (die resensent) dat dit vir my lekker was om die intertekste te kon raaklees. Ek is nou wel nie so wydbelese soos Louise Viljoen en Joan Hambidge nie, maar vir iemand wat 39 jaar oud is, het ek redelik wyd gelees.
Ek dink dit is onvanpas om met 'n mede-resensent se resensie "fout" te soek bloot omdat jy in jou resensie van Du Plessis se bundel op Versindaba totaal van my mening verskil. Resensente sal altyd van mekaar verskil. Dit is 'n gegewe.
Resensies is in meeste gevalle subjektief. Ek verkies dalk Omo waspoeier en jy hou van Sunlight of Skip. Die belangrikste eienskap van enige resensie is om enige stelling met bewyse uit die teks te staaf en daarvolgens die teks as geheel te takseer.
Ek is al telkens oor die vingers geraps. Prof Karen de Wet het my agteraf as "onewewigtig" beskryf om maar een voorbeeld te noem. Dalk is ek nie altyd in die kol nie. Maar ek gaan aanhou resensies skryf. Ek het in die afgelope dekade al 96 resensies geskryf. En waar ek misgetas het, sal ek daarvoor pa staan.
Ek volstaan met my mening omtrent Du Plessis se bundel.
Dewald, jou resensies is altyd sober en tot die punt. Baie insiggewende resensie hierdie! Dankie hiervoor!