Jan Rabie & Marjorie Wallace-skrywersbeurs 2026: ’n onderhoud met SP Benjamin

  • 0

Foto van SP Benjamin: verskaf

Naomi Meyer praat met SP Benjamin oor die Jan Rabie & Marjorie Wallace-skrywersbeurs wat pas aan hom toegeken is, oor wie hy is en wat hy met die beurs en sy skryfprojek beoog.

Hallo SP, baie geluk met die ontvangs van die Jan Rabie & Marjorie Wallace-skrywersbeurs! Wat ’n geweldig groot prestasie. Mag ek jou heel eerste vra om te vertel hoe dit jou laat voel het toe jou Afrikaans-onderwyser in die skool jou aangemoedig het om goeie opstelle te skryf. Ek lees natuurlik hiervan in jou ATKV-album op LitNet.

Baie dankie vir die goeie wense wat jy uitspreek. Dis inderdaad ’n voorreg en prestasie om in dieselfde asem genoem te word as al die vorige ontvangers van hierdie beurs.

Die einste onderwyser, Ernest P Smith, loop ek vroeër vanjaar, ’n goue 41 jaar later, raak by die teraardebestelling van ’n vriendin se moeder. Nog steeds met sy vol baard, maar die skouers wat hy nie meer so amper senuagtig hang-en-optel soos ’n verskrikte mossie toe hy destyds voor die bord gestaan het nie. Ek groet hom: “Dis ’n man wat nie in die oggende daarvan hou om gesig te was nie wat ’n vol baard paradeer.” Dis presies wat ek hom destyds ook daar in die klaskamer spottend meegedeel het. Hy lag. Die man wat ’n boek geskryf het, stel hy my aan sy maat voor. “Die man het ’n boek geskryf,” sê hy dit weer. Meer oor hy nie glo dat so iets moontlik is nie. Iemand wat onder sy ken-en-baard met ’n Afrikaanse taalboek gesit het.

Ja, ek sal hom ewig dankbaar bly vir sy destydse moeite, toewyding en daardie ekstra myl wat hy met ons saamgestap het.

So daar was ’n aanmoediging vir jou om te skryf, en dan was daar ook ’n boek wat jou diep geraak het: Die son struikel. Wil jy iets daarvan vertel?

Dit was dan ook juis EP Smith wat Die son struikel van Dolf van Niekerk met ons behandel het. Dit was ’n storie wat regtig tot my gespreek het. Dis ’n tema wat handel oor outsiderskap, die stryd van die individu en groter magte soos die kerk, die staat en ook die gemeenskap. Die hoofkarakter, ’n buitestander wat worstel met die kernvrae soos die bestaan van God en dan ook die sin van die lewe.

Dis hier waar ek die eerste maal besef het dat dit heel oukei is om nie ’n tropdier te wees nie, nie altyd te moet dink en doen soos ander nie, om jou eie ding te doen en nie hoef jammer te sê oor jy anders is nie.

........
Dis hier waar ek die eerste maal besef het dat dit heel oukei is om nie ’n tropdier te wees nie, nie altyd te moet dink en doen soos ander nie, om jou eie ding te doen en nie hoef jammer te sê oor jy anders is nie.
........

Ek besef dis nie vir jou maklik om oor jouself te praat nie. Dit is een van die aspekte van skrywer-wees: Jy kan jou karakter wees, of jy kan jouself wees en oor iemand anders skryf, en die leser gaan nie weet nie. Wat is vir jou die beste – en die moeilikste – aspekte van skrywerskap?

Dis nooit maklik vir ’n skrywer om oor homself en sy lewe te praat nie, aangesien dit dikwels daarop neerkom dat jy persoonlike, soms (hart)seer of traumatiese ervarings moet oopmaak en blootlê. Dinge sit aan jou vas. Jy ervaar en verwerk ervarings anders. Dis ’n mes wat alkant sny.

As skrywer moet jy dikwels ’n balans vind tussen die persoonlike en universele temas om ’n storie te vertel wat nie net vir jouself relevant is nie maar wat ook tot ’n groter gehoor kan spreek. Dis fyntrap. Die waarheid moet soms gelieg word. En ’n leuen moet op so ’n manier aangebied word dat baie lesers daaraan suig asof alles daarvan afhang.

........
As skrywer moet jy dikwels ’n balans vind tussen die persoonlike en universele temas om ’n storie te vertel wat nie net vir jouself relevant is nie maar wat ook tot ’n groter gehoor kan spreek. Dis fyntrap. Die waarheid moet soms gelieg word. En ’n leuen moet op so ’n manier aangebied word dat baie lesers daaraan suig asof alles daarvan afhang.
........

Om jouself te kan inleef in jou karakters se pyn, en ook goeie oomblikke, bevorder uiteraard ’n dieper verstaan en uitbeelding van so ’n karakter se emosies, denke en motiverings. Dit help jou om ’n meer realistiese en oortuigende ervaring op papier te sit. Doen dit jou siel enigsins goed? Laat dit jou saans beter slaap? Een ding is seker: Hierdie intense vertelstrategieë en bewussynstroom versterk inderdaad die skrywer se alledaagse perspektief en siening. Is dit ’n goeie ding? Oordeel maar self.

Dit was vir my ’n voorreg en ook met groot waardering om my na die Departement Afrikaans en Nederlands en ook hierdie komitee te wend vir befondsing in die vorm van die gesogte Jan Rabie & Marjorie Wallace skrywersbeurs.

My passie vir lees, skryf en die optekening van eg Suid-Afrikaanse stories was nog altyd ’n alles oordonderende begeerte.

Uit die diepte van my hart wil ek alle rolspelers in die toekenning van hierdie beurs bedank. Robert Balfour, rektor en visekanselier van die Universiteit van Wes-Kaapland, en Donovan Lawrence, voorsitter van die beurskomitee en ook die keurpaneel – dankie vir die blyk van vertroue in my vermoë.

Vertel my van jou voorlegging vir die beurs, asseblief. Wat beoog jy met jou skryfprojek?

Die voorgestelde manuskrip, met die voorlopige werktitel As jy my kon volg, is uniek. Dit poog om die konflik tussen ’n moeder en haar matrikulantseun te belig wanneer daar om dieselfde persoon se liefde, toenadering en aandag meegeding word. ’n Uiters dinamiese en plofbare liefdesdriehoek, dus, wat binne die vier mure van ’n eens rustige woning begin vlam en stu. ’n Tema wat nog nie breedvoerig in die Afrikaanse literatuur aangepak en ondersoek is nie.

Die verhaal en intrige begin wanneer die voormalige opvoeder en weduwee ’n baie jonger vrou vra om by haar en haar seun in te trek, aanvanklik as huishoudster of huishulp. Maar die jong seun kom gou agter dat sy (eensame) ma veel meer as net skottelgoed-aandra en wasgoed-op-die-lyn-kry in gedagte het wat die jong vrou betref. Dis dan wanneer die jong vrou die situasie begin uitbuit en ma en seun teen mekaar begin opstel.

Is jy die soort skrywer wat vooraf glashelder weet hoe die roman gaan eindig? Wat hoofstuk vir hoofstuk kan beplan? Of skryf jy eerder organies? Vertel my van jou werkswyse.

Dis, soos jy noem, ’n meer organiese proses. Soos die dae kom en gaan, sal elke karakter sy plek begin inneem, volstaan en begin groei. Nee, ek doen nie ’n hoofstuk-vir-hoofstuk-beplanning nie. Ek het dit nog nooit voorheen gedoen nie. Karakters skep is soos kinders grootmaak. Hulle moet die geleentheid gegun word om te groei. Hulle moet my as skrywer ook soms kan verras. Hoe anders gaan ek lief word vir hulle?

........
Karakters skep is soos kinders grootmaak. Hulle moet die geleentheid gegun word om te groei. Hulle moet my as skrywer ook soms kan verras. Hoe anders gaan ek lief word vir hulle?
........

Jy het al dinge aan mense verkoop, en jy het al ander beroepe beoefen. Het jy nog altyd, tussen alles deur, geskryf? En gelees?

Ja, toe ek baie jonger was, het ek gewerk as verkoopsman en ’n wit leuen hier en ’n wit leuen daar aan klante vertel om iets aan hulle te verkoop. Dit was so ’n slegte tyd vir my psige dat ek amper depressief aan die ander kant uitgekom het. Toe reeds het ek ’n begeerte gehad om liewer ’n karakter of twee te skep om namens my te moet lieg. Vandag, as ek terugkyk, was dit nie heeltemal wensdenkery nie. En lees was maar nog altyd in my gene. Enige ou koerant of papier wat ek in die veld kry, was vir my ’n bron van inligting. Terwyl die tjommies voëls en akkedisse gejag het, het ek na die naaste hoop vullis gegaan om ’n leesding te soek. Tot groot frustrasie van die ander. Dit was ek. Daardie was my gewoonte.

........
En lees was maar nog altyd in my gene. Enige ou koerant of papier wat ek in die veld kry, was vir my ’n bron van inligting. Terwyl die tjommies voëls en akkedisse gejag het, het ek na die naaste hoop vullis gegaan om ’n leesding te soek. Tot groot frustrasie van die ander. Dit was ek. Daardie was my gewoonte.
.........

As ander mense nie van jou weet dat jy skryf nie, hoe voel dit nou, noudat jy die geheim aan die wêreld vertel: Jy is ’n skrywer en jy is ’n uitverkore skrywer daarby! Of verkies jy om nie daaraan te dink nie en fokus jy eerder op die brose werk in jou hande, dit wat jy besig is om reeds in jou kop te skep (want jy het al aan die idee gedink terwyl jy jou voorlegging voorberei het)?

........
My kop is ’n nes waarin ’n klomp stories aan’t uitbroei is.
........

My kop is ’n nes waarin ’n klomp stories aan’t uitbroei is. Stil-stil. Daar is nie tyd om vir mense te vertel dat ek skryf nie. Want ook jou skynbaar alledaagse stories, die praatjies wat jy maak, moet ek stil-stil neem (steel) en by die ander plaas. Hoe minder jy weet, hoe beter mag ek van jou neem of steel of leen.

Wat dink jy sal ’n beurs soos hierdie een jou in staat stel om te doen? Ek bedoel nou wat die skryf betref, en wat die alledaagse leef betref. Elke mens, skrywer of te nie, moet tog rekeninge betaal en kos eet.

Hierdie beurs sal my beslis die geleentheid bied om ’n skryfskool by te woon en om dalk ’n kort aanlyn skryfkursus te voltooi. Iets wat ek in die verlede selde gedoen of oorweeg het. Tog ook iets wat nodig is om jou vaardighede te ontwikkel. Dalk stel dit my in staat om ’n bietjie te reis en nuwe plekke te besoek vir inspirasie en storie-agtergronde. Op die oomblik is alles moontlik.

Waarom skryf jy?

Waarom skryf ek? Watter goeie vraag. Beslis nie vir roem nie. Nee, hel, dis ’n vreeslike eensame proses om by ’n werkbank te sit en stories aanmekaar te flans. Ek dink mens sal aan die einde van jou tyd steeds met daai vraag worstel. Maar as dit ’n roeping is, moet jy op ’n manier hierdie energie of hongerte wat jy het, probeer kanaliseer. En daar is niks lekkerder as om dan daardie werkbank op te soek en te gaan sit en plot nie. Waarom skryf ek? Oor daar niks anders onder hierdie son is wat ek wil doen nie. Ek skryf ... oor ek skryf.

........
Waarom skryf ek? Oor daar niks anders onder hierdie son is wat ek wil doen nie. Ek skryf ... oor ek skryf.
........

Noudat die finansiële kopseer rondom die skryfprojek en die alledaagse lewe uit die weg geruim is, hoe beïnvloed die toekenning van hierdie beurs die omvang, die reikwydte en die algemene inhoud van die skryfprojek wat jy visualiseer, indien hoegenaamd? Stel dit jou in staat, verruim dit jou moontlike navorsingsvisie, verander dit jou idees ...? Wat is jou gedagtes omtrent jou skryfprojek op hierdie stadium – en lyk dit anders as wat dit was voordat hierdie toekenning plaasgevind het?

........
Daar is nou ’n verwagting. Kort en klaar. Iets het geskuif. Die onverwagse verrassing van iets uitpluk en na die tafel bring – iets vanuit die donker; iets, ’n manuskrip wat drup van nagsweet en getuig van naelstring kou – dis uit jou hande geneem. Daardie verassing is nie meer joune nie. Almal wag. ’n Volgende manuskrip. Dis wat jy (moet) bring. Maar dit gaan ’n lekker sit, opstaan en skryf wees.
........

Daar is ’n duisend antwoorde op elk van bostaande vrae. Wat is die gedagtes omtrent die skryfprojek, en lyk dit verskillend as voordat hierdie beurstoekenning gemaak is? Daar is nou ’n verwagting. Kort en klaar. Iets het geskuif. Die onverwagse verrassing van iets uitpluk en na die tafel bring – iets vanuit die donker; iets, ’n manuskrip wat drup van nagsweet en getuig van naelstring kou – dis uit jou hande geneem. Daardie verassing is nie meer joune nie. Almal wag. ’n Volgende manuskrip. Dis wat jy (moet) bring. Maar dit gaan ’n lekker sit, opstaan en skryf wees. Danksy Jan Rabie en Marjorie Wallace.

  • Luister na ’n onderhoud tussen Donovan Lawrence en SP Benjamin wat op RSG uitgesaai is.

 

Lees ook:

Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs 2026: ’n onderhoud met Donovan Lawrence

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top