Jaap Durand: Beliggaamde solidariteit

  • 1

Jaap Durand: Foto verskaf deur sy gesin

...
Wat soek ’n wit man in so ’n posisie, in so ’n tyd, by so ’n plek?    
...

“In 1979 word prof Jaap Durand die eerste viserektor van die Universiteit van Wes-Kaapland.”

In die memoriamstukke oor Jaap Durand die afgelope week of so kom hierdie sinnetjie herhaaldelik voor. Van een kant gesien: nóg ’n mylpaal in die lewe van ’n hoogs merkwaardige man – briljante student met sy doktorsgraad van Amsterdam; geliefde dominee in die NG Kerk in Afrika in Port Elizabeth; professor aan die teologiese fakulteite van Wes-Kaapland en Stellenbosch. Nou viserektor. Deur ’n lens gesien, egter: nóg ’n wit man in ’n sleutelposisie by ’n apartheidsinstelling, die “bush college” vir die “kleurlinge”, soos dit hoort.

In my nadenke oor sy lewe bring daardie een sinnetjie ’n ander vraag by my op: Wat soek ’n wit man in so ’n posisie, in so ’n tyd, by so ’n plek?    

Dit was 1979. Vanaf 1970 kry die Swart Bewussynsbeweging ’n stewige voet op die kampus van UWK. Dit kom met ’n ongekende, militante aktivisme, maar, onder aanvoering van knap en polities bewuste dosente soos Adam Small en Jakes Gerwel, tegelyk met ’n weldeurdagte intellektuele onderbou. Die studente loods protesaksie na protesaksie, soort van die begin van die era van die massavergaderings en aksies, en dit alles loop uit op die groot “wegloop” van 1973, die mars letterlik van die kampus af, met die bedoeling om “hierdie kind van apartheid permanent toe te maak”. Die “wegloopaksie” slaag nie, maar die gevolge is belangwekkend en verreikend.

Met daardie aksies verander die studente vir altyd die karakter, aard and identiteit van UWK. Die apartheidregering se planne vir UWK as ’n “kleurlinginstansie” is gedoem. Alles word stormgeloop: van die kleredragkode tot die inhoud van lesings tot die samestelling van die wit-oorheerste doserende personeel. Dwars teen die bedoelings van apartheid in, voel die studente hulself nie deel van ’n bevoorregte, middelklas-“kleurling”-gemeenskap nie. Hulle maak eerder gemene saak met die werkersklasse en sien hulself as deel van die landwye onderdrukte swart gemeenskap. Die werkers by Fatti’s & Moni’s staak in protes teen werksomstandighede en lae lone, en in solidariteit staak die studente saam. Wat in die gemeenskap gebeur, vind weerklank op die kampus.

In dieselfde jaar dat Jaap Durand viserektor word, word twee studenteorganisasies in die lewe geroep: die Congress of South African Students (Cosas) en die Azanian Students’ Organisation (Azaso). Hierdie twee organisasies sou die mobiliseringsvermoëns van studente geweldig verhoog en sou ’n belangrike rol speel in die studenteprotesaksies van die 1980’s. 

Dit is 1979. Die vlamme van die Soweto-revolusie van 1976 laai plek-plek nog hoog, en waar polisiegeweld dit geblus het, smeul die kole vuurwarm onder die oppervlak. Tussen Junie en Desember 1976 word in die Wes-Kaap alleen meer as 130 jongmense doodgeskiet, en landwyd is die skatsyfer 700, en meer as 1 000 gewondes. In die Wes-Kaap begin die vlamme teen 1979 weer oplaai en die groot geweldskonfrontasies in Elsiesrivier en op die Kaapse Vlakte in 1980 is net om die draai. Die befaamde Committee of 81 koördineer die een klas- en skoleboikot na die ander; die stigting van die UDF kom in 1983; en twee jaar later volg die afkondiging van die eerste noodtoestand. Die finale aanslag teen apartheid is voluit aan die gang, en UWK is in die hart daarvan. Jakes Gerwel noem UWK “die tuiste van Links”. Ek dink meer aan UWK as die tuiste van die revolusie.

...
Hoekom vervloek die studente die wit regering, maar omhels die wit Jaap Durand?
...

So: Wat soek ’n wit man in so ’n sensitiewe posisie in ’n tyd soos daardie? In ’n tyd waarin die vertroue tussen swart en wit so dun geskaaf is dat dit bykans nie meer bestaan nie? Waarin ons ideaal vir ’n nierassige Suid-Afrika so onder druk was, so broos dat dit plek-plek ongrypbaar was? In ’n plek soos UWK, waar die tipiese, tradisionele rol van wit mense in swart instansies lankal uitgespeel is, of beter, uitgedwing is deur militante, polities bewuste, revolusionêr-geïnsipireerde studente? Wat soek Jaap Durand onder, tussen en aan die spits van studentemassas op wie se kamermure fotoplakkate nie van Mandela of Gandhi of Jesus nie, maar van Ché Guevara hang? Wat soek hy daar, tussen die woedende massas, in opstand teen ’n wit regering wat sê dat hulle sy wit-wees beskerm? Hoekom vervloek die studente die wit regering, maar omhels die wit Jaap Durand?

Is dit omdat Jaap so goed kon toi-toi? Nee, dit is nie dit nie. Almal weet dat wit mense nie kan toi-toi nie. Dit het glo te make met ritme in die bloed, of so iets. Of so sê die mense. Maar nee, dit is iets heel anders. Dit is omdat hulle hom vertrou. Omdat hulle sien dat hy kant kies, vir die verdruktes, en teen sy eie belange in. Omdat hy bereid is om sy eie integriteit te laat toets, nie in filosofiese debatte nie, maar in die harde werklikheid van konfrontasie met die bose. Omdat hy bereid is om wat hy in boeke en artikels skryf, in beliggaamde solidariteit uit te leef.

...
Is ons bereid om werklik, profeties-getrou, te staan waar Christus staan – aan die kant van die armes, verdruktes en verontregtes, al kos dit ons alles?
...

By die NG Sendingkerksinode van 1982, net voor die aanvaarding van die Belhar Belydenis, waarvan hy een van die opstellers was, vra Jaap Durand die kerk ’n vraag. Is ons bereid, vra hy, om die konsekwensies van die belydenis vir onsself in die oë te kyk en te aanvaar? Sommige het gedink dat hy daarmee die woede van die wit NG Kerk bedoel het – die gevolge vir ons dominees en gemeentes wat van finansiële steun van die wit kerk afhanklik was. Of die politieke konsekwensies verbonde aan weerstand teen die apartheidsregering: bedreiging, aanhouding, selfs die dood? Dit alles, waarskynlik. Maar ek dink hy het meer dít op die oog gehad: Is ons bereid om werklik, profeties-getrou, te staan waar Christus staan – aan die kant van die armes, verdruktes en verontregtes, al kos dit ons alles? Om onaflaatbaar vas te hou aan die onverdeelde, inklusiewe, radikale geregtigheid van God vir alle mense, onder alle omstandighede, te alle tye? En die ding is: Hy was reg, en die verbitterde debatte en skandelike besluite rondom Belhar en geregtigheid vir LGBTQI-mense in ons kerk bewys dit. En meer: Hy het die reg gehad om dit van ons te vra, omdat hy self bereid was om daardie konsekwensies vir homself te beliggaam.

Studente van UWK getuig van tye op die kampus, swaar belaai met spanning, en angstigheid, en wantroue, toe Jaap Durand as viserektor hulle byeengeroep het en met hulle gepraat het. En hulle het geluister, want hulle het hom vertrou. Hulle het hom vertrou, want hy was die beliggaming van solidariteit, eerbaarheid en opregtheid. Ek het van daardie gesprekke nie foto’s gesien nie. Daar is wel twee beroemde foto’s wat daardie solidariteit, opregtheid en moedigheid illustreer. Al twee is foto’s van massa-optogte.

...
Jaap Durand met windverwaaide hare. Jaap Durand op die oorlogspad, maar aan die voorpunt. Hy stuur nie die studente hek toe nie; hy loop voor.
...

Op die een foto is Jaap Durand saam met die rektor, Richard van der Ross, en Jakes Gerwel, aan die voorpunt van die massa studente. Dis ’n aksiefoto. Jaap Durand met windverwaaide hare. Jaap Durand op die oorlogspad, maar aan die voorpunt. Hy stuur nie die studente hek toe nie; hy loop voor. As sy studente teen apartheid protester, is hy aan die voorpunt. Vir almal om te sien. Die ander foto wys dieselfde trio, in afwagtende posisie, in stille konfrontasie met die polisiemagte by die hek van die kampus by Modderdamstraat. Die ander twee kollegas kyk na die polisie voor hulle. Jaap, met gevoude arms, kyk grond toe. Jaap Durand hoog die duiwel in. Hy wil die polisie nie eens aankyk nie. As hulle aan sy studente wil vat, sê sy lyftaal en gesigsuitdrukking, moet hulle eers by hom verby kom.  

Dit is die eerbaarheid, die moedigheid, die beliggaamde solidariteit waarvan ek praat. Iemand het Jaap Durand êrens as “’n onbesonge held” beskryf. Dit mag in sekere kringe waar wees. Maar in my hart, en in die harte van generasies van UWK-studente, besing ons hom, luid en bly, vir die merkwaardige mens wat hy was.

Lees ook:

Vir prof Jaap: ’n gedig as huldeblyk

Volkskerk en die eenheid van die kerk

Jaap Durand: Is die NGK 'n kerk vir die Afrikanervolk?

  • 1

Kommentaar

  • Pieter G.R. de Villiers

    Baie dankie vir hierdie spesiale huldeblyk deur Allan Boesak wat self in die branding van daardie revolusionêre tye vir Jaap van naby beleef het. Dus, in Allan se skrywe het ons "eerstehandse" getuienis wat met insig die hart van Jaap se lewe en invloed uitwys. Durand se solidariteit met sy studente is inderdaad spesiaal vir die durf en vreesloosheid daarvan in uiters gevaarlike en dodelike tye. Maar dit het vir Durand self ook veel gekos. Die gemeenheid wat hy moes beleef het 'n laagtepunt gedaal toe die kerk selfs sover gegaan het om sy predikantstatus van hom weg te neem - al was hy een van die kerk se briljantste teoloë. Teenoor daardie benepe gemeenheid beliggaam hy met sy solidariteit 'n teologiese tradisie wat geregtigheid en ontferming uitstraal. Sy lewe is 'n onbetwisbare bewys dat godsdiens magtiges tog tot 'n val kan bring en lewe kan skep in die mees mistroostige tye.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top