Vir prof Jaap: ’n gedig as huldeblyk

  • 27

Foto: verskaf

ek roep jou vanmôre voor die gees
ek sien jou weer duidelik
op daardie klassiekgeworde koerantfoto’s
beide swart en wit

in jou pak, met jou toga
arms gekruis, loop jy voor
‘n seun van die Vrystaat
Jakes Gerwel aan jou sy
’n effense frons kreukel jou voorkop

jy wat vreesloos
vasberade die gevaar tegemoet stap
terwyl dié om jou vlug
uit vrees vir rubberkoeëls
jy ongeïntimideerd, onwrikbaar
met oë waarin die waarheid
waarin oortuiging en begeestering
gloei soos kole
met ’n kop vol sistematiese teologie
met ’n hart vir die geringstes
die onderdruktes
die gemarginaliseerdes
van Kwazakhele
van Bellville-Suid
van Belhar
jy die protesstem
die stem van hulle
wat geen stem gehad het nie –

nou kan jy maar gaan rus
jy verdien die rus
jou werk voltooi
dit is volbring
goeie en getroue dienskneg
jy het geleef, geleer, gely, gesterwe
gedring deur die Meester se liefde
want dis groter as die dood –

gaan in in die vreugde van jou Heer
in sy groot toekoms
in sy koninkryk wat vir jou gekom het
in die vervulling van al sy beloftes.

  • 27

Kommentaar

  • Koue rillings.
    Die uitdrukkings en prentjie (verbeelding) wat jou woorde deur 'n mens se kop laat rol - soos 'n swart-en-wit 1950s film. Shoe! Awesome!

  • Jou woordkeuse en die manier hoe jy die boodskap oordra is ongelooflik. Dis passie en talent wat hier raakgelees word.

  • Lelanie Kruger

    Al ken ek hom nie, wens elke mens sekerlik dat sulke mooi groot woorde eendag gebruik word om 'n nalatenskap te beskryf wat so enorm was en sal voortleef!

    Wat 'n pragtige huldeblyk van lewe en dood.

  • Fantastiese huldeblyk vir iemand wat niks minder verdien nie. Jy het 'n slag met woorde, Willem de Swyger.

  • Ja - dit is Manne soos dié wat 'n land en sy mense Bou!! Manne met geloof en oortuiging in wat God verwag van alle mense op aarde!!

  • Die mooiste huldeblyk! Prof Jaap, u lewe was u boodskap van geloof gewees.
    Dankie, Willem de Swyger.

  • Wat n pragtige huldeblyk aan 'n man wat ek nie persoonlik geken het nie. Willem, jy skilder waarlik met woorde!

  • I am English speaking but totally bilingual. I love Afrikaans and find it a most descriptive language in general and especially in poetry. Unfortunately Prof. Jaap was not known to me and this is my loss, sadly. I am grateful to now have the privelege of getting to know of him and his great work. Thank you.

  • Stephen Roberts

    'n Ongelooflike talent van gedigskryf aan 'n reus van 'n man!
    Ek lees graag nog van hierdie Willem de Swyger se gedigte.

  • Dankie Professor, dat ons kon saamstap - hek toe. Kaalhand. Die militante tegemoet, met gewere en swepe en honde en Casspirs en die wete dat u daar by ons is. Hamba kakuhle Professor, beste professor.

  • Jakob & Elina Dekker

    Prof Jaap my jarelange tennismaat op Brandwagbaan Stb. In 2015 verskyn eerste uitgawe van sy boek, "Godsgeheim". Daarná volg "Dit is amper dag" en ander. As senior skryf hy nog van sy Vader ...

  • Sherrilyn Lloyd

    Kolskoot! Perfekte beskrywing van wie Prof vir my was. Onverskrokke het hy my eens verby die dieners begelei toe ek die vasgekeerdheid nie meer kon hanteer nie. Een Saterdagoggend was hy die enigste wat opspoorbaar was en ons - in Ladies se saal - uit die polisie se hande kom red het ... I salute you, Prof! R. I. P.

  • Vir my was hy "Oom Jaap", ’n familievriend. ’n Sagte, vriendelike man met ’n intense belangstelling in, en deernis vir sy naastes. Hy het nogal na Sean Connery gelyk, maar in teenstelling met die fiktiewe James Bond was Oom Jaap ’n regte held.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top