Volkskerk en die eenheid van die kerk

  • 1

Hermann Giliomee is by die ABSA KKNK aangehaal: “Die Afrikaners het al van ’n baie vroeë stadium die idee van ’n volkskerk gehad. Die kerk moet gaan kyk wat die verhouding is met die volk waarin hy geplaas is. Is hy ’n volkskerk of is hy nie ’n volkskerk nie?”

Naomi Meyer het hom gevra hoe wenslik die begrip van 'n "volkskerk" is in die godsdiensdiskoers van ons tyd en oor die verhouding tussen die kerk en die volk waartoe sy lidmate behoort. Wat is die rol van sulke faktore soos taal, kultuur en politiek in 'n geloofsgemeenskap? Lees sy bydrae hier. Jaap Durand het daarna op dieselfde vrae reageer.

Geen sinvolle gesprek oor die volkskerk-gedagte kan gevoer word as nie eers gekyk word na wat die Skrif sê ten opsigte van die eenheid van die kerk nie. Die rede hiervoor is eenvoudig: die Bybelskrywers van die Nuwe Testament gaan nie alleen uit van die gegewenheid van die eenheid van die kerk nie, maar praat ook in duidelike taal daaroor. Die volkskerkgedagte, daarenteen, het lank na die Bybelse tyd, veral eers sedert die 16de-eeuse Hervorming, na vore gekom. Dit was as gevolg van die versplintering van die kerk in Europa enersyds, en andersyds die vestiging van die kerk onder verskillende volke met uiteenlopende tale en kulture in die na-Reformatoriese sendingaktiwiteite.

Op internasionale vlak het die probleem van moontlike “volkskerke” of “inheemse kerke” vir die eerste keer werklik op die teologiese agenda gekom met die 19de-eeuse sendingwerk van Protestantse kerke in Afrika en Asië. In hierdie tyd het ’n bepaalde Westerse meerderwaardigheidsgevoel baie daartoe bygedra dat die Westerse kerkvorm as die enigste moontlike vorm afgedruk is op die jong kerke wat uit die sendingarbeid ontstaan het, met voorspelbare gevolge.

Op kultuurvlak kom die Ooste en Afrika in opstand teen die oorheersing en disintegrerende uitwerking van die Westerse kultuur, en hierdie opkomende nasionalisme sou ook op kerklike terrein naslepe hê. Hierdie verset kom veral na vore na die Eerste Wêreldoorlog in ’n soeke na die ou lewensverbande wat so aggressief afgetakel is.

Die Westerse kerke sou hierop reageer met ’n nuwe besinning onder sendingwetenskaplikes oor wat die Duitsers sou noem die Bodenständigkeit van die jong kerke. Ons vind hierdie reaksie by ’n aantal Angelsaksiese denkers soos Roland Allen en Merle Davis, maar dit sou veral die Duitsers wees – Martin Kähler, Bruno Gutmann, en in die besonder Christian Keysser – wat die implikasies van die Christelike sending in nie-Westerse lande deurdink het.

Hoe hierdie ontwikkelinge die Suid-Afrikaanse sendingtoneel beïnvloed het, is ’n lang storie wat nie uitvoerig herhaal kan word nie. Kortliks kom dit daarop neer dat die teologiese oorwegings vir die selfstandige bestaan van kerke wat uit sendingwerk na vore gekom het, in dié geval van die NG Kerk, later misbruik is om die bestaan van aparte “dogterkerke” te regverdig, terwyl die werklike rede vir die uitsluiting van die bruin gemeenskap uit die NG Kerk in 1857 die “swakheid” van sommiges was, ’n eufemistiese beskrywing van rassisme in die kerk. Hierdie neerslag van ’n soort apartheidsdenke in die 19de eeu sou later na verskillende kante enige sinvolle teologiese gesprek oor die meriete al dan nie van ’n volkskerkgedagte vir goed beduiwel.

Sendingteoreties het die idee van ’n inheemse kerk saamgehang met die teologiese grondmotief van die vleeswording van Christus as die ewige Woord en die eis dat die verkondiging van die evangelie juis daarom moet grondvat in die daaglikse kenbare en verstaanbare wêreld van die aanhoorders daarvan. Kortom: die taal en kultuur van die mense is van die uiterste belang vir die mense wat as kerk antwoord op die Woord. Teen “inheemsheid” of “volksheid” in hiérdie sin van die woord kan daar geen beswaar aangeteken word nie. Dit het niks te doen met ’n volkskerkgedagte wat uitgaan daarvan dat een of ander kerk as’t ware die geestelike tuiste is van almal wat tot ’n bepaalde volk behoort nie, nog afgesien van die godsdienstige en geloofstoewyding van die lidmate.

Tog is daar een baie belangrike voorwaarde: die inheemsheid of “volksheid” van die kerk mag nooit in die weg staan van die eenheid daarvan nie. Die Belydenis van Belhar verwoord dit alles die beste:

… (dat) die verskeidenheid van geestelike gawes, geleenthede, agtergronde, oortuigings, soos ook die verskeidenheid van taal en kultuur, vanweë die versoening in Christus geleenthede is tot wedersydse diens en verryking binne die een sigbare volk van God;

dat die ware geloof in Jesus Christus die enigste voorwaarde is vir lidmaatskap van hierdie kerk.

Daarom verwerp ons enige leer

wat óf die natuurlike verskeidenheid óf die sondige geskeidenheid so verabsoluteer dat hierdie verabsolutering die sigbare en werksame eenheid van die kerk belemmer of verbreek of selfs lei tot aparte kerkformasie;

… wat ontken dat ’n weiering om hierdie sigbare eenheid as ’n kosbare gawe na te jaag, sonde is;

wat, uitgesproke of onuitgesproke, voorgee dat afkoms of enige ander menslike of sosiale faktore medebepalend is vir lidmaatskap van die kerk.

Vir enige debat oor ’n volkskerkgedagte vanuit ’n Christelike teologiese perspektief bly die Belharbelydenis se uitspraak in dié verband ’n uitdaging en ’n getuienis.

 

 

Keer terug na die webseminaar se indeksblad om nog bydraes te lees.

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Met blykbaar dieselfde genoegdoening as bv Allan Boesak verwys Durand na die "swakheid van sommige" in 1857. Wat hy en Boesak waarskynlik doelbewus verswyg, is dat die skeiding vrywillig was; iedere gemeente kon self besluit. Kontrasteer dit met die Belhar-belydenis wat aan alle gemeentes opgedring word.

    Let op dat die Belhar-belydenis by taal eeder verskeidenheid as eenheid bepleit. Dit sou glo tot verryking lei, maar sekerlik nie die gebruik van Afrikaans bevorder nie. Die gesamentlike klasse (Afrikaans en Engels) aan die Universiteit Stellenbosch benadeel Afrikaans omdat hulle in die praktyk neig om eentalig Engels te wees. Dieselfde sal volg na die vereniging van die NGK en die VGK. Daar kan werklik geen geldige skriftuurlike of kerklike beswaar teen eentalig Afrikaanse kerke wees nie. 

    Johannes Comestor

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top