Israel toets ons geloof

  • 10

...
My vriend het die Bybel baie beter geken as ek. Hy het selfs geweet dat daar spesiale plek gaan wees vir 144 000 uitverkorenes.
...

Dis lankal nie meer selfverdediging nie. Israel het sedertdien al 600+ Oktober 7’s gepleeg. Dit gaan lankal nie meer oor die gyselaars nie. Hoe verwag jy om jou gyselaars lewend terug te kry as jy al wat gebou is, platbombardeer? Miskien is dit tyd dat ons gelowiges die waarheid begin raaksien: Israel lieg vir ons. Israel breek die neënde gebod en ons goedgelowiges wil hulle so graag glo, want God! Maar die ware waarheid staar ons in die oë: Israel is besig om willens en wetens al hierdie mense uit te moor en die enigste vraag aan ons is: Gaan ons hulle moord ondersteun?

Ek was in standerd 5 toe my beste vriend se familie Israel toe is vir ’n tipe pelgrimstog aangebied deur mense van hulle kerk. Hulle was baie beter kerkmense as ons. Ons het Sondae kerk toe gegaan, maar dikwels, veral in die koue winteroggende, het ons so ’n bietjie later uit die kooi gekruip en het my ma ons by die kerk se agterdeur afgelaai sodat ons skelm by Sondagskool kan insluip net na die diens verby is. Maar nietemin, alhoewel ons Christen grootgemaak is, is hulle definitief groter Christene as ons.

My vriend het die Bybel baie beter geken as ek. Hy het selfs geweet dat daar spesiale plek gaan wees vir 144 000 uitverkorenes. Ek het dadelik besef dat, enkel maar gemeet aan hom, my geloof tekortskiet, so daar is vir my geen kans om in die spesiale groepie te wees nie. Maar vriend-hulle, aan die ander kant, se kerklewe was so gesond, hy het vir seker die grootste kans gestaan van al die mense wat ek ken, en ek was bly vir hom, minus ’n dwergpersentasie jammerte wat ek voel omdat my gebrekkige geloof maar vir my op die heel beste ’n heelwat laer posisie in die hemel gaan losslaan, indien enigsins.

My vriend is iemand wat nog net altyd meer geweet het as ek oor alles. Hy het derde gekom in die Wiskunde-olimpiade, dis nou derde in die hele land. Almal op skool het geweet hy is geniaal, definitief by verre die slimste ou in ons skool. En hy was altyd besonder gaaf met almal. Hy het nie gehuiwer om ons minder begaafde mense te help met ons skoolwerk as ons dinge nie verstaan het nie. Hy was die eerste persoon wat my vertel het van die spesiale band wat Afrikaners met die volk van Israel “gevoel” het. Ek gebruik die woord tussen aanhalingstekens, want ek is nie vandag seker dat die volk van Israel dieselfde oor die Afrikaner gevoel het nie, alhoewel apartheid-Suid-Afrika en Israel saamgewerk het om Suid-Afrika se atoombomme te help bou.

...
Hoe dit ook al sy, my vriend vertel dat sekere Afrikaners hulle met die volk van Israel vereenselwig in die sin dat hulle ook hulself as “uitverkore” wil bestempel.
...

Hoe dit ook al sy, my vriend vertel dat sekere Afrikaners hulle met die volk van Israel vereenselwig in die sin dat hulle ook hulself as “uitverkore” wil bestempel. Ek het nie daardie jare regtig geweet wat om te maak met daardie kennis nie, want weer eens het ek nie deel gevoel van so ’n uitverkorenheid nie; inteendeel, dit was alles splinternuwe nuus vir my. Ek was duidelik nog nie genooi na daardie partytjie nie.

Vir jare het ek nie weer veel gedink aan die Afrikaner as uitverkorene nie. Inteendeel, ek het myself meer geskaar by mense wat nie hul ras, taal of kultuur gebruik om hulself op enige manier bo ander te verhewe nie. Maar ek het ’n ongesonde fassinasie met kultusgroepe, soos die KKK en Neonazi’s, asook die Suidlanders en die Bittereinders, en ek kyk ook elke dokumentêre film wat ek kan kry oor vreemde volksverskynsels soos Orania en dies meer.

Een van my gunstelingvakke op universiteit was logika. Ek probeer altyd agter die kap van die byl kom van die argument wat aangewend word waarmee die heerssugtigheid van ’n bevolking geregverdig word. Nie een van hierdie argumente maak werklik sin nie, en dit het vir my ’n speletjie geword om te identifiseer presies waar die argument die pad byster raak.

Soos die jongste vorm van verfynde rassisme in die mees onlangse dokumentêre films oor Orania (ek parafraseer): “Dis nie dat ons iets het teen swart mense nie, dis net dat ons onsself wil omring met ons eie kultuur.” So gestel, klink die argument glad nie rassisties nie. Ons haat glad nie ander mense nie, ons is net baie lief vir onsself. Verder is enige iemand van enige ras welkom om aansoek te doen om in Orania te bly. Die realiteit wys egter dat tot op hede wit mense 100% van alle suksesvolle aansoeke uitmaak. Nou goed, ek verstaan daar kan verskeie redes daarvoor wees. Hoeveel wit mense bly tans is Soweto? Hoeveel swart mense kan bekostig om in histories wit buurte in te trek? Daar is tans nog steeds sterk rasgebaseerde skeidslyne in Suid-Afrika wat in stand gehou word as gevolg van ekonomiese faktore wat hoofsaaklik deur Suid-Afrika se apartheidsbeleid veroorsaak is. Al verskil is, in die res van Suid-Afrika is dinge stadig maar tog stelselmatig besig om te verander, terwyl daar geen vooruitsig is dat dieselfde verandering binnekort in Orania gaan gebeur nie.

...
Godsdiens en taal kan heel suksesvol aangewend word om bevolkingsgroepe van mekaar te skei.
...

So terwyl hierdie mense ontken dat ras ’n bepalende faktor is, word dikwels twee ander faktore gebied vir die verduideliking van die 100% witheid van die Orania, en dit is taal en godsdiens. Nou ja, ek sien steeds nie dat bruin Afrikaanse Christene binnekort Orania gaan binnestroom nie, maar wat vir my duidelik soos daglig is: Godsdiens en taal kan heel suksesvol aangewend word om bevolkingsgroepe van mekaar te skei.

Daarom is dit vir my so ironies dat hierdie tipe groep wit Afrikaner-Christene hulle so vereenselwig met Israel. Hulle deel nie ’n taal nie, en hulle deel ook nie ’n religie nie. Inteendeel, dit is nodig om te sê dat Israel se Sionisme nie verwar moet word met Judaïsme, die Joodse geloof nie. Heelwat Sioniste is ateïste. So wat is dit wat hierdie spesifieke groep wit Afrikaners bankvas agter Israel laat staan ten spyte van die volksmoord, verwoesting en oorlogsmisdaad wat Israel tans pleeg? Wat dink jy is dit?

Ek wens ek kan wag tot die kranse antwoord gee, maar ek het planne vir die res van die dag, so ek gaan ’n leidraad gee. Dink ’n bietjie terug oor die betreklik onlangse geskiedenis heen en maak ’n lysie van al die lande wat al daarvan beskuldig is dat hulle ’n apartheidsregering bestuur.

Myne is maar ’n kort lysie en dit sluit beide Israel en Suid-Afrika in. (Meld gerus jou lysie in die kommentaarafdeling sodat ons kan vergelyk.)

Nou ek is nie veel van ’n sosioloog nie, maar hier is my teorie. (Let wel, dis nie die enigste teorie nie; daar is ook ’n ander teorie wat ’n parallel in die Amerikaanse Christelike Sionisme het wat die bespoediging van Armageddon wil bewerkstellig, wat die wederkoms van Jesus tot gevolg sal hê. Soos ek sê, die fratsgroepe fassineer my – google gerus Christelike Sionisme vir ’n bekommerde giggel of twee as jy belangstel.

Maar goed, my teorie: Hierdie groep wit Afrikaners staan bankvas agter Israel, want hulle hunker terug na apartheid en Israel is ’n apartheidsregime wat hulle wens om te kon wees. Dis óf dit, óf moontlik verwar hulle die staat Israel met die Israel van die Bybel. Maar soos Marthie Momberg in haar boek 21 Voices verduidelik, dis definitief nie dieselfde entiteit nie. (Luister gerus na haar onderhoud met Jean Oosthuizen waarin sy die baie goed uitlê: Marthie Momberg (21 Voices) & Jean Oosthuizen in gesprek oor Israel/Palestina krisis.)

Nietemin, ek onthou hoe die dominee van die NG Kerk ons vertel het om “godvresend” te lewe. Ek moet erken, as kind het die term my getraumatiseer. Ek onthou goed hoe ek as kind een aand in die bed tydens ’n woedende Hoëveld-donderstorm gedink het dat ek eindelik verstaan wat dit beteken om “godvresend” te wees. Eintlik was ek maar net angsbevange omdat die weerlig die bome voor my kamervenster geslaan het. Maar daardie aand het ek meer as ooit in God geglo.

Later in my lewe het ek ’n daadwerklike besluit geneem om nie soseer bang te wees vir God nie, want dit was werklik vir my ’n aaklige gedagte. Ek het in die kerk teen die preekstoel in goue letters op rooi fluweel opgemerk “God is liefde”. Ek het besluit ek sal in stede van in vrees, liewer in God se liefde leef. Wat kan ek sê – ek is maar ’n softie – angs akkordeer nie so mooi met my sensitiewe gestel nie.

Ek is ook sensitief vir die feit dat heelwat van ons nog vasklou aan die God van die Ou Testament en miskien daarom nog dink dat die Israel van vandag daarop geregtig is om beloofde lande van melk en heuning oor te neem en stede te verwoes dat die mure van Gaza tuimel soos dié van Jerigo. Ek verstaan alte goed, die verwoesting wat in Palestina vandag gebeur, neem Bybelse proporsies aan. Dis absoluut oorweldigend, en die Bybelse koninkryk van Israel deel ’n naam met die staat Israel wat vandag ’n bevolking uitroei. Weer eens verstaan ek goed dat vir mense wat van kleins af geleer is om godvresend te wees, daardie God wat gevrees moet word die Bybelse God van Abraham, Dawid en Israel is.

Dis ’n heel verwarrende situasie en dit ontgaan my ook nie dat Israel besig is met ’n hasbara/propagandaveldtog om juis hierdie verwarring uit te buit nie, in ’n poging om die wêreld met allerhande leuens en misinformasie te oortuig dat Israel al 3 000 jaar daar bestaan en dat hulle Gaza mag vernietig omdat Israel op selfbeskerming geregtig is. Die internet veg egter mooi terug met pittige sêgoed, soos: “Israel is die enigste 3 000 jaar oue land wat in 1948 gestig is.” Verder verduidelik Marthie Momberg duidelik dat die internasionale wet bepaal dat omdat Israel die besetter van Palestina is, maw in totale beheer is van wat in Palestina gebeur met betrekking tot alles van water, voedsel en elektrisiteit in Palestina tot die beweging van die mense, Israel daarom geen reg het op selfverdediging nie – hulle is dan volgens internasionale reg verantwoordelik vir hulle; jy mag nie jou weermag teen hulle aanwend nie. (Weer eens dring ek aan, luister na Momberg in haar eie woorde: https://youtu.be/6wh32ogspzY.)

...
Dis nie selfverdediging nie. Dis ’n leuen. Dis eenvoudig moord op groot skaal.
...

Maar mens moet jou afvra hoe die uithongering van ’n volk selfverdediging is. Kinders sterf letterlik van die honger in Gaza. Watter gevaar hou ’n sterwende driejarige vir ’n Israeli-soldaat in? Dis nie selfverdediging nie. Dis ’n leuen. Dis eenvoudig moord op groot skaal.

’n Teoloog moet my asseblief korrigeer as ek verkeerd is, maar volgens my oortree Israel definitief die vyfde gebod: Jy mag nie moord pleeg nie. Israel oortree ook die agtste gebod: Jy mag nie steel nie. Hulle steel al sedert 1948 stelselmatig alles van Palestina. Israel oortree die tiende gebod: Jy mag nie begeer nie. Hulle begeer die hele Palestina, Gaza en die Wesbank en nog meer. Dan oortree hulle die vierde gebod – Jy moet die Sabbatdag heilig hou – deur Palestyne selfs op die Sabbat te vermoor. En soos ek in die begin genoem het, Israel oortree definitief die negende gebod: Jy mag nie leuens vertel nie. Maar moenie my woord daarvoor aanvaar nie; daar is genoeg bewyse, oa “Israel kills, lies, and the Western media believe it” (https://aje.io/0n4mzs).

Nou wil ek spesifiek die Afrikaner-Christelike Sioniste aanspreek wat tot hier gelees het en nog steeds dink hulle godsdiens verlang van hulle om Israel te ondersteun ten spyte van al die geloofswette wat hulle tans oortree. Soos ek dit tans sien, is daar drie opsies as mens na die hartseer toestand in Palestina kyk:

  • God is boos en die moord en slagting is God se wil. In welke geval jy jou godsdiens dan goed bekyk en jouself afvra of jy belangstel om met ’n bose God ’n ewigheid in die hiernamaals wil deurbring.
  • God is nie boos nie, maar Israel is besig om vir ons te lieg oor wat werklik aangaan. Die implikasie is dat Israel dan ook die derde gebod oortree: Jy mag nie God se naam ydellik gebruik nie. Ek dink moord in die naam van God is die ergste graad daarvan. So jy kan jou godsdiens behou deur Israel se volksmoord as ongoddelik en immoreel te bestempel: God is goed; dis Israel se skuld.
  • Of jy kan aanhou met hierdie derde opsie: Ek sien geen volksmoord raak nie. Die implikasie is dan: Wat sê dit van jou as mens as jy die nood van ander so kan miskyk?
Lees ook:

Kritiese besinnings oor die Israelse eiendomsaansprake op Palestina

LitNet Akademies Weerdink: Trump, Palestina en Israel

21 Voices: Why the Palestinian struggle is a global matter, a reader’s impression

Hasbara en die Trump-era: ’n LitNet Akademies Weerdink-onderhoud met Marthie Momberg

Reguit met Robinson: Palestina, Hamas en Israel in 2023

  • 10

Kommentaar

  • Op hierdie einste LitNet het ek voorheen geskryf:

    1. Hoeveel mense het God op een dag vermoor omdat hulle voorhuwelikse seks geniet?
    2. Nadat God die Israeliete uit Egipte gelei het, hoeveel van hulle eie mense het hul op God se aandrang vermoor omdat hulle nie ore het nie?
    3. Hoeveel Israeliete het God vermoor om Dawid te straf omdat hy 'n sensusopname gehou het?
    4. Hoeveel mense het God tydens 'n plaag vermoor omdat hulle vir Moses en Aaron bevraagteken het?
    5. Hoeveel Israeliete het God vermoor omdat hulle rondnaai?
    6. Hoeveel mense van ander stamme het God deur Israel laat uitmoor omdat die Jode sy witbroodjies is?
    7. Hoeveel mense het God in Sodom en Gomorra vermoor weens sodomie?
    8. Hoeveel Assiriërs het God vermoor nadat hulle koning en sy bediendes hom uitgelag het?
    9. Hoeveel Israeliete het God gedreig om te vermoor as hulle hom verlaat?
    10. Toe God nou regtig gatvol geraak het vir die mens, hoeveel het hy gedreig om te vermoor?

    Antwoorde
    1. 23 000 (1 Kor. 10:8)
    2. 3 000 (Eks 32: 26 – 28)
    3. 70 000 (1 Kron. 21: 1 – 14)
    4. 14 700 + 250 (Numeri 16:35)
    5. 24 000 (Numeri 16:35)
    6. 20 000 (Rigters 3: 28-29)
    7. Elke liewe lewendige ding in die gemeenskap (Gen. 19: 24-25)
    8. 185 000 (Isaiah 37: 1-36)
    9. 90% van almal uit elke gemeenskap (Amos 5:1-3)
    10. Almal, insluitend gebore en ongebore kinders op Aarde. (Gen. 6: 5-7: 22)

    Hoe lyk dit met ʼn laaste versie uit Romeine (6:22): “But now that you have been set free from sin and have become slaves to God …”

    [Die inligting het ek verkry uit Michael Tellinger se SLAVE SPECIES of god.]

    Dis nie meer so maklik om te sê God het iets gesê nie. Benjamin Netanyahu is wel 'n god in eie reg, mensgemaak, soos alle verbeelde gode wat die mens uit onkunde aanbid.

  • Connie Kerkmuis

    Liewe Riku

    Ek sukkel dikwels om die samehang van jou skryfsels deeglik te begryp. Maar kan myself nie help om vandag so bietjie saam te gesels nie. Vroeër vanjaar had ek ook, vir die eerste keer in my lewe, die reuse vooreg beleef om jou in lewende lywe te kon aanskou, weliswaar op 'n afstand tydens 'n optrede, maar ten minste kan ek nou ook se ek het die bekende sanger Riku al LAAIF gesien!

    Terug by Israel en die Boere. Vir die grootste deel, kry ek die gevoel dat ek en jy baie dieselfde oor die bepaalde saak dink, met hier en daar wel ook sekere klemverskille. Die konflik in die midde-ooste het helaas niks met godsdiens te make nie. Dit is die mens wat hulle godsdienste by die konflik wil insleep. En soos jy tereg noem, is antieke Israel en moderne Israel nie dieselfde staat nie. As almal tog net daaroor kon saamstem! En oortree Israel dan werklik die 10 gebooie? Soos jy noem? Nee, nie in die minste nie, want die 10 gebooie was nie van toepassing op mense wat nie Israeliete was nie. Hoe dink u het Jakob gemaak wanneer sy vroue vir hom hulle slavinne aanbied vir die nag? Natuurlik het hy hulle begeer, al waarsku die gebooie tog duidelik jy mag nie 'n ander man se vrou begeer nie. So is dit ook met moord en leuens en so. Dit was darem toelaatbaar wanneer dit op nie-Israeliete van toepassing was. Israel het tog vele volke uitgewis toe hulle die beloofde land ingeneem het.

    Hoekom steun so baie Boere vir Israel? Dit is gladnie uniek aan wit Afrikaanse mense om Israel te steun nie. Daar is onder al die rasgroepe in Suid-Afrika steun vir Israel. Ons minister van Sport, Kuns en Kultuur, wat beslis nie 'n wit man is nie, is dan tog ook pro-Israel. Dit is vir my jammer dat jy altyd hierdie obsessie met die Afrikaners openbaar. Die wit bewvolking van Suid-Afrika bestaan uit sowat 7 % van die totaal, en die Afrikaanse gedeelte van die 7 % is moontlik so 4 % van die 7 %. 'n Klein, krimpende groepie (ten minste in persentasie) wat dag na dag al meer irrelevant word in Suid-Afrika. Daar woon waarskynlik minder mense in Orania as in my hele straat. Orania oortree geen wet nie. Dit wat hulle doen, val binne hulle regte. As Orania rassisties is, is die hele Grondwet dan nie rassisties nie? Persoonlik is ek heel tevrede dat die 3000 mensies in Orania net daar woon en bly waar hulle is. Wat presies jy en die EFF wil hê van hulle moet word, weet ek nie. Gaan jy vir hulle plekkie maak in jou tuin om daar te kamp? Ek soek hulle beslis nie as my bure nie, jy kan hulle maar kry as jy hulle die dag oortuig kan kry om hulle Orania droom te laat vaar.

    Terug by die Bybel. Soos jy seker weet, bestaan daar meer as een manier om die Bybel te interpreteer. Die sogenaamde 'Nuwe Testament' het die konsep van "Israel' uitgebrei na almal vir wie God liefhet. Noem dit maar 'n stukkie Christelike innovasie as jy wil, alhoewel die mense wat die Bybel geskryf nie, nie een waarlik Christelik was nie. Nie in die sin van wat die woord 'Christen' later sou word nie.

    Daar is baie Bybelverse wat gelowiges basies beveel om kant te kies ten gunste van Israel. En baie gelowiges lees daardie verse letterlik. En natuurlik verwar hulle antieke en moderne Israel met mekaar. Hoe dan anders?

    Met beste wense,

    Jou groot aanhanger,

    Connie Kerkmuis

  • “The World Jewish Congress is the international organization that represents Jewish communities and organizations in 100 countries around the world. It advocates on their behalf towards governments, parliaments, international organizations and other faiths. The WJC represents the plurality of the Jewish people, and is politically non-partisan. The Talmudic phrase "Kol Yisrael Arevim Zeh beZeh" (All Jews are responsible for one another), encapsulates the raison d'être of the WJC. Since its foundation in 1936, in Geneva, Switzerland, the WJC has been at the forefront of fighting for the rights of Jews and Jewish communities around the world.” (Op die Internet gesien.)

    Wat die Boere en Jode gemeen het, is die non-partison-deel. En alle Afrikaners (antiek of modern) is verantwoordelik vir mekaar, maar nie in ‘n honderd lande nie, net dié een.

    Daar was ‘n Ragel in my klas.

    Sjoe.

  • Ek sukkel ook om agter die kap van die byl te kom wat Riku se skrywe beteken. Dit is vir my ’n eensydige en oppervlakkige siening van ’n baie komplekse situasie wat ons as Westerlinge glad nie verstaan nie. Christene wat wel die Bybel probeer verstaan, weet dat die Bybel bedoel later met die nuwe verbond dat die nuwe Israel diegene is wat in Christus glo en dat daar alleenlik redding deur Hom moontlik is. Dit sluit die Joodse Christene in. Met verwysing na my bg opmerking oor die Westerlinge, hoe moet ek dan ook verwag dat nie-Christene my standpunt oor Nuwe Israel en redding verstaan?

  • Hy sê hierbo en stel dit so asof hy voor 'n klas staan wat 'n moerse toets gepluk het: “Op hierdie einste LitNet het ek voorheen geskryf” (ek vermoed dat ons saam uit die ark gestap het, hy links op die breë weg gegaan het, ek op die nou paadjie, regs).
    Dit wat hy onderwysagtig opnoem, was die gevolge van ongehoorsaamheid. Geen gehoorsame Israeliet se bestaan is deur die Skepper willens en wetens hom op grusame wyse ontneem nie. Die ongehoorsames is vele male gewaarsku waarvan die stuk in 2 Kron. 34 vers 24-25 maar slegs een voorbeeld is.
    So terloops, Josia (2 Kron 34-35) is my gunstelingkoning. Hy het sy geloof by sy oupa gekry, ek ook. Hy het reeds op agtjarige ouderdom koning geword, omdat sy heidense pa verskriklike dinge gedoen het en deur sy eie mense na twee jaar as regeerder vermoor is. Dink net daaraan dat hy op 15 as tienerkoning tussen al daai woelinge gelowig geword het (2 Kron 34:3). Ek het ook op daardie ouderdom, daar was nie 'n Damaskus-oomblik nie, tot die besef gekom dat daar nie 'n ander antwoord is nie. Vir Josia moes dit op sy brose ouderdom en posisie durf en oortuiging gekos het!
    Ons almal weet dat die Israel van vandag nie die Israel van die Bybel is nie. Dis al baie maal hier verduidelik soos nou weer hierbo. Maar daar is sommige wat nie hoor nie en ander wil ook nie hoor nie.
    Ewenwel, Israel toets nie òns geloof nie.
    Diè Israel het 'n ander geloof en dit sluit nie Christus in nie.
    Daar is lande en teokratiese groepe rondom Israel wat dit nogsteeds blatant verkondig dat hulle dit ten doel het om hom van die aardbol af te vee.
    Om die afskuwelik veraderlike daad waartydens eenduisend 300 plus van jou mense wat baba’s en kinders insluit en wat op 'n musiekfees bymekaar was, wreedaardig te vermoor asook om hul plase te vernietig, net te moet oorsien, is absurd.
    Gerieflik word vergeet van die vermaerde Israeli-inligtingsdienste wat van niks bewus was nie, musiekfees op die grens - so rustig was hulle – is dit bewys van 'n verskriklike ingebore haat jeens die bure – lus vir volksmoord?
    Daar word uit alle oorde gehamer op Israel – en die lekker enetjie - die eerste minister keer dat dit bars dat sy korrupsie verhoor voortgaan.
    Israel het male sondertal gesê bevry ons mense wat julle ontvoer het en ontbind Hamas en als is verby – maar nee.
    Jy wat 'n oorlog begin moet ook weet hoe om dit te beëindig, het iemand iewers gesê.
    Waarop dui die hardnekkigheid van Hamas en van sommige bure – dui dìt op verkwiklike vrede?
    Soos daai vrou op die advertensie dit het “ag... come on!”
    Vrede vir almal
    Raed-na-Gael

  • Hanno Visagie

    Ek is 'n ervare, belese US-gegradueerde Christen-geneesheer. Dis vir my telkens veelseggend dat LitNet bydraes van behoudende Bybelgegronde Christene blokkeer.

  • Connie Kerkmuis

    Die Boer

    vir die koorleier
    'n Psalm van Connie Kerkmuis

    Die Boer is 'n koppige kreatuur.
    Hy lees eerder Moses as Momberg.
    En waar Oosthuizen betrokke is,
    trap hy fyn.
    Luister, O Israel, laat staan vir eers die Sinaiberg en die bergpredikasie
    Luister na die stem van Momberg
    Die stem van rede
    Begelei deur die soete klanke
    van Riku Latti.

  • So van berge gepraat:

    Ek kyk op na die berge.
    Kom my hulp daarvandaan?
    Nee, my hulp kom
    van die Here...
    (Ps 121:1-2; NLV)

    hy sal nie aan die offermaaltye op die
    berge deelneem nie,
    hy sal nie hulp soek by die afgode
    van die volk Israel nie...
    (Esg 18:6; 1983)

  • Hans Richardt

    Raed-na-gael, wat sal mens sê? Ek was op 'n keer vir 'n maand in Israel.
    Eerstens, is dit donners duur. Tweedens, sal ek nie weer daarheen wil gaan nie. Ek het rondom "ou Jerusalem" gestap toe Arabierse 'n seun klippe na my gooi, gedink ek is 'n Yank. Toe draai ek om en gooi sy klippe terug vir hom en het bietjie plat gepraat... laag af in alfabet. Klipgooi was tog ook bybelse tradisie...

  • Hans...
    (ek is nie 'n ou vir die sosiale media nie, is nêrens daar nie, hopelik sal webvoet hierdie een ou oefeninkie oorsien) ja wel, indien jy moerig is oor iets is dit mos jou reg om 'n klip te gooi. Dis blykbaar 'n wêreldwye erkende reg. In die Bybelse tyd is jy gestenig, wel vir meestal immorele oortredings wat deesdae net 'n wenkbroulig werd is of nie eens nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top