Soms wonder ek hoe die laaste dag of wat voor die Titanic gesink het, verloop het. Voor hulle bewus geraak het van die ysberg, was dit seker maar alles doodnormaal. Elkeen het gedoen wat hulle wou. Party het dalk ’n bietjie koppe uitgehaak, want hoe gereeld kom mens dan nou op die grootste skip wat nog ooit die waters bevaar het?
Maar ek wonder veral oor hoe mense opgetree het toe hulle ontdek hulle laaste oomblikke het aangebreek. Was hulle meer geduldig en verdraagsaam met mekaar, of het die krisis die laaste lagie ordentlikheid laat afskilfer en het mense hulle ware kleure begin wys? Ek is seker daar was iemand wat met al hul juwelierware en pelse op die reddingsbote wou klim, ongeag of dit beteken iemand anders moet hul plek verloor. Daar sou mense wees wat reken hulle moet eerste op die reddingsbote gaan, want hulle is slimmer of ryker of mooier of meer beroemd. Daar is altyd mense wat dink hulle, en dit wat hulle verteenwoordig, is beter as enigeen of enigiets anders.
Nie almal besef ’n sinkende boot is die grootste gelykmaker nie. Die water wat oor jou kop spoel, gee nie om of jy ryk of slim of mooi is nie.
Ek wonder wat van Manuel Segovia en Isidro Velazquesz geword het. Hulle was die laaste twee oorlewende sprekers van die taal Ayapaneco, en hulle was laas nog kwaaivriende met mekaar. Ek wonder of hulle nog lewe, maar nog belangriker, ek wonder wat van die taal geword het. Dink net, ’n taal gaan tot niet omdat die sprekers daarvan nie met mekaar praat nie. Vooruitgang en ontwikkeling gee nie om oor jou gevoelens nie; dit wat gerieflik en gemaklik is, kry voorkeur. Dit maak nie saak hoe mooi jou variant van die taal in jou ore is nie, as sprekers nie met mekaar praat nie, gaan die taal een of ander tyd tot niet, tensy daar met intensie opgetree word om die taal te red.
Wat is die verskil tussen Ayapaneco en Afrikaans? Afrikaans het darem ’n bietjie meer as twee sprekers wat die taal nog praat, maar dis ook al. Gereeld is daar aanslae op Afrikaans. Tot dusver kon die aanslae nog weerstaan word. Daar is nog Afrikaans-departemente by sommige universiteite. Daar is nog pryse wat uitgeloof word vir Afrikaanse literatuur. Onlangs is daar pryse uitgeloof vir sogenaamde smaakmakers.
.......
In die boekbedryf word slaggate vervang met onvoldoende redigering, of voorblaaie wat deur kunsmatige intelligensie geskep word.
........
Dis die een kant van die saak. Die ander kant? Afrikaanse lesers wat boeke op groot skaal steel en sodoende skrywers en uitgewers van inkomste ontneem. Daai selfde diewe is natuurlik hoogs die josie in vir politici wat steel, skynbaar blind vir die ironie dat hulle presies dieselfde doen. En net soos wat politici se stelery uiteindelik veroorsaak dat daar nie geld vir dienste is nie, net so maak boekdiewe se stelery dat daar nie geld vir nuwe boeke is nie.
Hoekom is daar slaggate in die paaie, rioolwerke wat nie herstel word nie, beurtkrag en dies meer? Onbevoegdheid is net ’n deeltjie van die antwoord. Korrupsie, diefstal van geld en goedere is die grootste oorsaak. In die boekbedryf word slaggate vervang met onvoldoende redigering, of voorblaaie wat deur kunsmatige intelligensie geskep word. Wanneer genoeg mense boeke steel, kan die uitgewers nie bekostig om die mense aan te stel en in diens te hou wat sorg vir ’n gehalteproduk nie. Dit beteken verder dat die kwaliteitliteratuur wat minder goed verkoop, nie meer geproduseer kan word nie. Dis die gevolg van mense op ’n Whatsapp groepie wat dink hulle wys die vinger vir die uitgewer en skrywer deur die boek te steel en rojaal te versprei, soms nogal teen betaling ook.
Dan is daar die kopieregwetgewing wat nou na die President is vir sy handtekening. Word daai wetgewing onderteken, gaan baie skrywers ophou skryf. Niemand wil skryf wanneer hulle harde werk gesteel word deur boekdiewe aan die een kant en onteien word deur die staat aan die ander kant nie.
.........
Niemand wil skryf wanneer hulle harde werk gesteel word deur boekdiewe aan die een kant en onteien word deur die staat aan die ander kant nie.
.........
Raai wat? Afrikaans gaan aan die kortste end trek. Minder Afrikaanse skrywers beteken minder Afrikaanse boeke. ’n Kleiner aanbod beteken boeke se pryse gaan styg. Binnekort gaan dit net vir ryk mense en boekdiewe bekostigbaar wees, totdat daar ’n punt kom wanneer Afrikaanse boeke ’n nismark gaan wees.
Dit sal nie binnekort gebeur nie, nie binne die volgende vyf tot tien jaar nie, maar tensy dinge drasties verander, gaan dit binne my leeftyd gebeur.
Dit help nie om op boekdiewe se integriteit ’n beroep te doen nie. Hulle steel. Hulle gaan net hoor as hulle met die harde kant van die gereg te doen kry, of vrees dat hulle volgende aan die pen gaan ry. Ten spyte van hullle bewerings dat hulle lief is vir lees en lief is vir die taal, is hulle fluks besig om boeke te vermoor. In daardie opsig is hulle nes die twee sprekers van Ayapaneco wat al twee glo lief is/was vir hulle taal. Mens kan lief wees vir ’n taal en aandadig wees aan sy moord.
Boekdiewe werk kop in een mus met die politici wat die taal wil vermoor, en hulle besef dit nie eens nie.
Die huidige hoop is dat die President die wetgewing na die Konstitusionele Hof sal verwys omdat van die bepalings ongrondwetlik is. Dis ’n verkiesingsjaar; enigiets is seker moontlik.
Dis ook moontlik dat dit nie polities lonend is vir die President om nou wetgewing wat sy party ondersteun, te bevraagteken nie. Waar laat dit ons dan?
Al wat seker is, is dat baie Afrikaanse skrywers, insluitend hierdie een, hulle afvra of skryf nog die moeite werd is.
Lees ook:
Wysigings aan die kopieregwetgewing: Gys Visser werp lig op die probleme met die "fair use"-leerstuk
Kommentaar
Dankie, Bettina Wyngaard. Ek deel u mismoedigheid.
Dis beter om fiksie in Nederlands of Engels te publiseer. Vergeet van Afrikaans. Mors van tyd. Niemand gaan dit onthou nie.
Netso, dit bekommer my ook al geruime tyd. Uitgewers is beslis onder groot druk, en is selfs minder geneig om 'n kans te vat met 'n manuskrip wat dalk nie 'n goeie verkoper sal wees nie (al is dit goed geskryf) as tevore. In 2018, toe ek in Amsterdam by ZA Huis was, het ek gewonder: sal mense oor 70, 80 jaar hierheen (moet) kom om Afrikaans te lees? Maar, indien Afrikaanse boeke skaars word, sal plaaslike Engelse skrywers (of Afrikaanses wat in Engels skryf) regtig daarby baat, of sal internasionale bestsellers selfs meer aftrek kry? Hoe ook al, die wolf se gehyg is al by die tuinhekkie hoorbaar.
Dis darem 'n baie breë en selfs gebiedende uitspraak, Herman Lategan! Is taal ooit 'n afpenbare gebied? Toegegee, die wêreld in al haar onpeilbare vervlakking, selfs in Nederland, gaan al hoe meer oor na Globish. Na donkie-'Engels'. Wat tog seker 'n enorme verleentheid moet wees vir die inheemse bittereinders wat aanvoel dat hulle intieme en al klaar moeilike interaksie met die moedertong besoedel word?
En Afferkaans... Gaan ons gestryery (in al die afwentelinge van 'stry') dan nie oor Andervrou se bybie nie? Ook al sou ons 'n lekseltjie komvandaan kon afpen... "So lank die kind in die tjalie lê..."
Die wêreld is immers (ook) vol weerstandighede. Kyk maar hoe daar vir "taal" (en soms in die naam van taal) baklei word vir 'n bietjie waardigheid. Dis mos nie nét eiewaan nie! Van Tibet tot in die Kaap is daar een-vou-dig te veel mense wat nie die edik van "all-size-same-bonghol" wil sluk nie.
Buitendien, nou dat daar niks meer oor is om in te "glo" nie, het ons mos die wêreld se tyd om te mors, dan nie?
Onlangs het ek weer afgekom op 'n brousel wat so byna-byna 'n Kaapse verhoog geruik het.
Ek trek uit ('OA' is die ou aktrise; 'Meester' is die regisseur):
OA (lag sardonies terwyl sy haar sleep ongeduldig swiesj): Wat sal jy nou weet van sulke dinge? Dis alles ‘n geval van jouself te laat gáán om verkrag te word deur taal...
MEESTER: Oe héérlik!
Ons praat mos hoeka van tongvál, dan nie? Van tong uitsteek en van my-tong-in-jou-kies bêre. Of verkies jy dat my tong ons dors les tussen jou lieste? Hoe moet ek jou léés? En hoekom dan nie ‘vaaltong’ en tongverval nie? Jy weet tog ons taal is ons ont-binding!
Sonder die kôô... (tersyde, en sagter) ons kontverblinding...
OA (Maak asof sy hom nie gehoor het nie Daar is weer agtergrondmusiek wanneer die woorde groter teen die muur geprojekteer word. Sy gaan voor op die verhoog op haar knieë met haar rug na die muur, lê die rol op die vloer neer, vou dit oop, laat sak haar sluier om die muurteks asof in eggo te resiteer.):
O, maar wanneer dit verby is...
wanneer jy die moedertong in my mond laat verdor
neem jy die wêreld weg,
verduister jy my geheue,
maak jy dat ek as vreemdeling
en sonder ’n eie paar skoene
die toekoms moet binnegaan
wat ek nie meer fatsoeneer nie,
nog net interpreteer,
nie betree nie -
wanneer jy die geboortetaal
van my wegneem
ruk jy die hart uit my drome
om dit te vervang
met die mondmaniere
van ’n tong wat nog net
die blinde werk van miere kan doen -
en wanneer jy my as massasyfer liasseer
om soos ’n gefuikte papegaai
te pik-pik na die nabootsing
van ’n soeke na sin,
maak jy dat ek ’n weesmens is
in die leë huis van my vaders
sonder taal om my afwesigheid mee toe te smeer...
(OA bly so op haar knieë totdat Meester die volgende repliek gelewer het.)
MEESTER: Maar ons sal die taal áfleer... Woord vir woord ons monoloog looi en leer totdat die mond léég is... Leer verteer totdat ons dit kan uitspreek en vereer:
“Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrikakwa...” Is mos so, dan nie? (Begin sing) “O boereplaas, geboortegrond...”
En toe het die stelers dit deur hulle gat getrek sonder om dit ook maar in die mond te neem. Hoor nou hoe skater die hoere! Asof hulle op ’n sak sêdinge afgekom het. Maar in ruil het ons ons lewens gekry, dan nie? Vir nou... Is ons dan nie die nageboortes, die born free nie?... Ons sal mondstom en tongkrom in ons binnekamers mompel en droom van Oorleweseewees...
Aaa... Ganôg!
Hahahaha, grapjas.
Ja, Bettina, 'n sinkende skip, mmaar dis nie snaaks nie met dié dat die Afrikaanse radio en tv so hard meewerk aan die agteruitgang van Afrikaans.
Wát nie onthou nie, Herman Lategan?
Dankie, Bettina, vir jou belangrike bydrae tot hierdie stryd teen sowel boekeroof as die té verreikende Kopieregwetsontwerp. Spykers met koppe, inderdaad. Ongelukkig, as dié wetsontwerp wet word, sal boekrowery waarskynlik net toeneem - in alle inheemse tale en van plaaslike Engelse publikasies, helaas. Vir ons intellektuele en vermaaklikheidstuiste sal ons seker maar Noord moet kyk. In Gerwel se dae was daar iemand in die Presidensie wat betoë in Afrikaans kon volg en formuleer. Laat ons hoop…
Boeke is deesdae so duur dat g'n mens dit kan bekostig nie. En dan is dit baie jammer dat party digbundels - soos Pieter Odendaal en Tom Dreyer s'n - in sulke lelike klein formate uitgegee word.