Persverklaring: PEN Afrikaans oor die aanvaarding van die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg op 29 Februarie 2024

  • 1

Die bestuur van PEN Afrikaans betreur die uitkoms van vanmiddag se byeenkoms van die Nasionale Vergadering waartydens die opspraakwekkende Wysigingswetsontwerp op Outeursreg opnuut met die meerderheidstem van die regerende party aanvaar is – ondanks besware van opposisiepartye en grootskaalse teenkanting uit die skeppende bedrywe.

Ook skrywers en uitgewers het hul protes teen die wetsontwerp se verreikende verswakking van outeursregbeskerming laat hoor, onder meer deur die ondersteuning van ’n petisie wat PEN Afrikaans saam met twee ander plaaslike skrywersverenigings (PEN South Africa en ANFASA) en die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (PASA) van stapel gestuur het. Die petisie het gisteraand 22:00 gesluit en het in minder as ’n week 4247 ondertekenaars gelok, wat menigte van ons land se voorste skrywers insluit.

“Dit is uiters betreurenswaardig dat die wetgewer ten spyte van grootskaalse kritiek van kopieregkenners en opregte sorg van ons land se skrywers wat vir hul brood en botter op outeursreg staatmaak, kies om bloot voort te gaan met hierdie wetsontwerp wat soveel skade vir ons boekbedryf voorspel,” sê Bernard Odendaal, voorsitter van PEN Afrikaans.

Soos in 2020, sal die wetsontwerp nou weer na president Cyril Ramaphosa gaan vir ondertekening. Indien hy steeds besorgd is oor die grondwetlikheid van sekere bepalings daarin, kan hy dit na die Konstitusionele Hof verwys.

“Dit bly vir ons ’n saak van erns om, in belang van ons lede en die groter Suid-Afrikaanse boekbedryf, die stem van skrywers te laat opklink hieroor. Ons beoog om aan te hou om juis dit te doen,” sê Odendaal.

Lees ook:

Wysigings aan die kopieregwetgewing: Gys Visser werp lig op die probleme met die "fair use"-leerstuk

Copyright Amendment Bill: Authors unite

Kopiereg en billike gebruik vir leke

  • 1

Kommentaar

  • Mêrie Scheepers

    Hierdie skrywer praat nie namens alle skrywers nie. Skrywers glo in hulle werk, al word alles nie gepubliseer nie. Sal hulle nooit kan ophou skryf nie.
    Jammer dat sulke negatiewe redenasies ook die lig moet sien, gelukkig is dit 'n minderheidsmening.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top