In die rede geval deur Charl-Pierre Naudé: mites en foute oor miteteoriewerking

  • 1

Boekomslag: Naledi; prent: Canva

Hans Pienaar het onlangs ’n LitNet Akademies-resensie-essay van Charl-Pierre Naudé se In die rede geval op LitNet gepubliseer. Lees dit hier. Charl-Pierre Naudé het hier op die LitNet Akademies-resensie-essay reageer. Hans Pienaar lewer hier onder repliek op Charl-Pierre se skrywe.


Charl-Pierre Naudé se procedé vir sy repliek op my essay oor mites skyn te gewees het om ’n rits haastige besware, gepaardgaande met heelwat verdraaiing, aanmekaar te las tot dit lank genoeg is om sinvol te lyk, my dan oorvloediglik te verkleineer en dan bloot te herhaal wat hy in sy boek geskryf het as afwysing van my kritiek. 

Ek het ’n KI-program gevra om te tel hoeveel keer hy my neerhalend aanspreek, maar die teks was te lank – die KI-program wou geld hê daarvoor. Ek skat dis hier by 20, 30 keer rond. Maar nou ja, cowboys don’t cry en sommige van sy beskrywings wys Charl-Pierre die woordmeester aan die werk: “paw-paw in ’n spinasieveld”, “tweede katswinkwet”, “vlerkies in ’n Crazy Store-winkel”, “klonte botter karring uit reënwaterpoele”. Dis werklik vermaaklik.

Sy sofismes en foute is daar vir elkeen om na te speur, maar omdat ek sterk twyfel of enige leser sulke moeite gaan doen, lig ek net enkeles hier uit wat die argumentasie verder kan voer vir diegene wat belangstel.

  1. Oor die oproer in Julie 2021: Sy frase "selflegitimasie van stroping in die swart kultuur" is onoordeelkundig. Na my aanvanklike kritiek op Naudé se twyfelagtige toepassing van Hans Blumenberg se filosofie op die KwaZulu-Natal-oproer van Julie 2021, bring hy nou self hierdie woorde in die gesprek in. Sy bewering dat so iets nie in ander kulture bestaan nie, is natuurlik ’n growwe mistasting wat hy probeer verdoesel deur te verwys na Noel Mostert se Frontiers.

Mostert se magnum opus speel af in die Oos-Kaap, maar die opstande van 2021 het daar feitlik nie bestaan nie. Afgesien daarvan dat dit handel oor twee eeue en meer gelede se grensoorloë, wat vir Xhosa-mense verset teen kolonialisme was, het die eerste wit setlaars uit die staanspoor hul eie stroopkultuur na suidelike Afrika gebring. Die gebied se geskiedenis is een lang reeks koloniale strooptogte van allerlei soorte. Die Naudé wat ek ken, is geen rassis nie, maar die gevaar bly dat sy studie van Blumenberg bloot gaan dien om soortgelyke apartheidstaal te laat voortleef – tot nadeel van Afrikaanse mense, niemand anders nie.

  1. Naudé noem Roland Barthes, een van die moederpilare van die semiologie, ’n blote optekenaar van mites, en ’n joernalis. Dis eenvoudig nie waar nie; sy werk oor mites en "signification" is steeds belangrik en prikkelend. En hy reken ek stel Barthes teenoor Blumenberg op, terwyl my vernaamste punt is dat Blumenberg sommige van sy werk verder voer, met die implikasie dat die student van Barthes by Blumenberg, en les bes Naudé, kan leer.
  2. Naudé probeer die grote Claude Lévi-Strauss indwing in die argumentasie in sy boek rondom Ernst Cassirer en projeksie in die verlede. Die twee hoort eenvoudig nie saam nie – as hulle Afrikaans kon praat, sou hulle grafstene begin bars het van al die omdraai: Lévi-Strauss uit protes en Cassirer uit nederige verleentheid. Wat nodig is, is om Lévi-Strauss te gaan lees – wat Naudé duidelik nie gedoen het nie – veral sy essay "Archaism and civilisation" in Structural anthropology, om sy fyn genuanseerde redenasies aan die hand van feite in die veld oor hoe om die gebrek aan kennis oor oermense te oorkom. 

Dis heeltemal korrek dat enige beskouing van oer- of voormense projeksies is, soos Naudé demonstreer aan die hand van onder meer Heidegger se terminus ad quem-argument. Blumenberg kom met ’n boeiende poging om die projeksiebeswaar te ontduik, en Naudé beïndruk met hoe hy sy filosofiese spoor hierin volg en verduidelik, tussen al die slaggate deur. Maar op die ou end bly dit ’n soort projeksie; al probeer Naudé dit verdoesel in die taal van die geregistreerde filosoof dat ’n mens desondanks sekere "aannames oor metastrukture" kan maak.

  1. Daar is egter ander maniere om die denkwêreld van oermense vanuit die huidige te bedink. My eie poging gaan so (en ja, ja, dis arrogant en ’n uitdrukking van die uiterste hubris, soos Naudé aanvoer, maar ek het nou hierdie idees – wat moet ek daarmee doen?), en hiervoor verlaat ek my weer op Wittgenstein se opmerkings oor mites, en op ’n taalspel of twee, soos gesuggereer in sy Philosophical investigations: Wittgenstein se magnum opus bestaan grootliks uit vraagstellings. Die taalspel sou kon begin met ’n vraag: Net soos ons vandag skeptiese dinge sê oor die gode van antieke tye, kan die moontlikheid bestaan dat die mense van tientalle millennia gelede ook skepties was oor die gode uit húlle antieke tye? Die antwoord sou moes wees dat so ‘n moontlikheid inderdaad kan bestaan, en so ’n potensialiteit skep allerlei nuwe areas van denke. Dit moedig ’n mens ook aan om Lévi-Strauss en mense soos Robert Graves se werk in die gesprek te bring, soos ek in my essay maak. Eersgenoemde se bespreking van valse sjamane en laasgenoemde se lompe konsep van ikonotropie, en beide se beskrywings van gebrekkige mitologieë, kom dan gou ter sprake.

’n Mens kan ’n reeks saamstel wat so verloop: Ek kyk skepties terug na Lévi-Strauss en Graves (’n mens móét, want daar was nou alte veel kritiek op hulle) se beskrywings van mites en gode; Lévi-Strauss kyk weer skepties terug na sy eie en tydgenote se beskrywings van "primitiewe mense" se gode; almal kyk skepties na die "primitiewe" mense in die destydse Derde Wêreld wat hulle ondersoek het se verslae oor hul gode; en hierdie mense kyk weer skepties na hul eie onmiddellike verledes en tydgenote en hul gode.

In al hierdie scenario’s bly daar een konstante: Skeptisisme oor gode is altyd moontlik. Dit mag ligsinnig wees om so iets te verklaar, tot jy besef dat in die gemeenskappe van die tyd waarin Tristes tropiques van Lévi-Strauss afspeel, hierdie skeptisisme ’n kardinale deel van die konstruksie van sosiale verhoudinge was wanneer groepe bymekaar ingelyf is of van mekaar afgesplits het. Groepe met minderwaardige of onoortuigende gode of mites moes assimileer of "heropgevoed" raak. Waar die teenoorgestelde die geval was, is die nuwes entoesiasties aan boord geneem. Onder vandag se pigmeebevolkings in Sentraal-Afrika is dit een van die motiverings van reisende, verkennende individue (soms te voet oor honderde kilometer) om mekaar se rites en mites te beproef en te vergelyk. En wanneer mense vandag van een groep na ’n ander beweeg, gaan dit met die aanleer van nuwe mitewerkings (gewoontes, gebruike, sjibbolette, diskoerse) gepaard – en in die toeligting hiervan sal Blumenberg ’n waardevolle bydrae kan lewer.

Maar bly dit nie steeds ’n projeksie om dan te postuleer dat iets soortgelyks 500 000 jaar gelede gebeur het nie? Heel moontlik, maar as ’n mens dan terugkeer na die oorspronklike taalspel, raak dit ook ewe onwaarskynlik dat sulke skeptisisme nie kon bestaan het nie. (Want op watter punt het die mens dan wel begin skepties raak oor sy gode?) Hierdie taalspelle is nie Wittgenstein s’n nie, maar ’n soortgelyke redenasie is waarskynlik agter sy verwerping van James Frazer se reusagtige werk oor mitologie, The golden bough. Frazer gebruik die positivistiese raamwerk van Auguste Comte dat die mens deur stadia van mitologiese wese tot wetenskaplike wese geëvolueer het. Wittgenstein sê daarteenoor dat hulle net verskillende vorme van lewe was, en dat vandag se houdinge oor basiese dinge – kos, klere, werk, plesier, skoonheid, versinsels, gebruike, gode, bonatuurlike wesens – toe en nou dieselfde soort ding was.

Nog ’n taalspel: As ons vandag met stelligheid kan sê “dis nou ’n feit”, wat sou die omstandighede moes wees om so iets 100 000 gelede te kon sê? Die antwoord sou kon wees dat al wat nodig is, ’n woord is vir iets in die omwêreld waaroor mense nie stry nie, soos dat daar by Piet se watergat altyd likkewane is. Verdere spel met die konsepte sou ’n mens uitbring by die besef dat "feit" ’n baie basiese woord is, en noodsaaklik in oergemeenskap was, net soos dit vandag is. Albei hierdie taalspelle bied maniere om die problematiek wat Naudé beskryf by wyse van Heidegger se onderskeid tussen die terminus ad quem en die terminus ad quo te oorbrug. 

  1. Naudé kom met ’n lang argument gedra op herhalings uit sy boek, en eindig met ’n blote verklaring dat iets uitsonderliks honderde duisende jare gelede moes gebeur het, ’n bestaanskatastrofe, wat die mens van dier in denker verander het.

Maar dit is presies waarmee ek verskil, beide dat katastrofe die beginpunt was en dat daar ’n uitsonderlikheid was. Om hierdie stellings bloot op ’n neerhalende maniere te herhaal, is nie genoeg nie. Ek beroep my, soos uitvoerig behandel in my essay, op Frans de Waal se werk soos beskryf in sy Chimpanzee politics. En my kritiek op Blumenberg kom daarop neer, om nou hier Naudé se eie redenasie te gebruik, dat hy nie kon ontkom aan ’n terminus ad quem gesetel in die laat 20ste eeu se eksistensialisme of die naoorlogse Groot Ontnugtering in Europese kulture nie.

Vandag se sjimpansees demonstreer etiese denke en die vermoë tot georganiseerde opstand teen die mens. Voor mites moes daar primatepolitiek onder oermense of aapmense gewees het. Die daaglikse Machiavelliaanse sosiale maneuvers wat ons almal as primate bedryf, is ’n veel sterker bron vir skepping van mites, soos dit vandag in Amerika met Trump gebeur. Maar aan die sterk politieke aspekte van mites raak Blumenberg en Naude net in ’n baie geringe mate.

  1. Naude se "weerleggings" is teleurstellend flou en geeneen oortuigend genoeg om uitgebreide aandag te verg nie, met een uitsondering: Dit ís so dat Blumenberg se werk berus op die onderbewuste – daar was my woorde misleidend. Ek moes verwys het na die gestruktureerde onderbewuste.

Maar dit verander geensins aan my argument dat die gebruik op ’n te algemene vlak van die saamgesmelte woord "metafoor", soos wat ons almal doen wanneer ons verwys na trope en/of beeldspraak, sekere konsekwensies vir jou argumentasie het as jy taalelemente begin rondgooi. Die psigoanalise tree hier na vore omdat die onderskeid tussen metonimie en metaforiek in hierdie velde van ondersoek as polities en andersins deurslaggewend onthul is.

Naudé se eienaardige argument skyn te wees dat omdat Blumenberg nie ’n taalfilosoof was nie, hy maar taalkundige terme los en vas kan gebruik soos hy wil. Metonimie is ook van belang by ’n ander konsep van Naudé en Blumenberg, "die ander god", waarvoor ek nie plek in my essay gehad het nie. My lesing mag te oppervlakkig wees, maar Naudé skyn vir my die geredelikheid waarmee ander gode aanvaar word, te onderskat. Graves se The Greek myths I en II wys hoeveel verskillende weergawes daar van elke mite bestaan, iets wat nie mooi deur Blumenberg se konsepsie van metaforologiese skepping verduidelik word nie. (Sien ook die verwysing hier bo na navorsing oor pigmeë.) Ek weet nie genoeg van godsdienste nie, maar die Sjintoïsme en Hindoeïsme kom hier ook ter sprake.

  1. Naudé verstaan my heeltemal verkeerd wanneer hy skryf: "Pienaar se begrip van feitewerkingis ’n onproduktiewe middelterm waarmee hy onsuksesvol ’n teenstelling tussen Wittgenstein se taalfilosofie en Blumenberg se fenomenologie probeer bewerkstellig." Ek probeer geen so ’n ding nie; inteendeel, dit is bedoel as ’n komplement – ’n nuutskepping – uit entoesiasme oor Naudé se eie nuutskeppings, mitewerking en redewerking. En Wittgenstein se "taalfilosofie" het niks daarmee te doen nie; as hy behoorlik gelees het, sou hy gesien het dit spruit uit Wittgenstein se opmerkings oor The golden bough, dat die moderne mens nou al veel beter as antieke gemeenskappe weet hoe die wêreld werk. 

Die onderliggende proses waarna Wittgenstein verwys, van ’n altyd ontwikkelende konsensus oor dinge soos die aarde wat rond is, is wat ek "feitewerking" noem, en kan wel deeglik deel uitmaak van enige fenomenologie. Een van die huidige manifestasies daarvan is "feitkontrolering", maar ek dink hier is ’n dieper teoretisering moontlik en potensieel baie vrugbaarder as om net op die pragmatiese te fokus om leuens deur politici te probeer teenwerk. Ek sou bitter graag van die georganiseerde filosofie wou hoor of ’n mens Wittgenstein se eie verwerping van sy "eerste filosofie", wat hy gegrond het op atomiese proposisies gesetel in die ontos, kan gebruik vir ’n benadering tot feitewerking vanuit die filosofie.

  1. Naudé meen ek verstaan die fenomenologie nie. Maar wat ek probeer doen, is om anderkant die fenomenologie te bok- of paalspring. Wat gebeur as ’n mens die animisme en fenomenologie naas mekaar plaas? Dit is seker eerstejaarvrae, maar na aanleiding van Blumenberg vra ek hulle weer: Is animisme ’n verlenging van fenomenologie? Indien nie, waar lê die grens, of is dit ’n kategoriefout om dit te vra? Ek postuleer voorts dat die fenomenologie ’n historiese verskynsel is, weens ons oorgerasionaliseerde tye.

Een van die motiverings hiervoor was ’n onlangse gesprek met ’n Britse vrou in Wallis wat by my wou weet of ek ook al die dinosourusagtige wesens gesien het waaroor haar vriendin "from Africa" skryf. Ek vertel toe hoe sulke "wesens" al deur die polisie in lande soos Malawi ondersoek is, maar dat niemand hulle nog gesien het nie. Haar antwoord was: Wel dan wag daar ’n lekker "experience" eendag op my.

Wat beteken hierdie verwagtings wat sy het vanuit ’n fenomenologiese/animistiese perspektief? Waarom is selfs hoogs redelike mense se ervaring van animistiese verskynsels of die "bonatuurlike" soms so sterk? ’n Interessante geval om in hierdie verband te bestudeer is Tea Obreht se briljante roman The tiger’s wife.

  1. Ek sal toegee dat "neerbuigend" nie korrek is om Blumenberg se houding teenoor die wetenskap te beskryf nie, maar hier is dit Afrikaans wat ons in die steek laat. "Patronising" is nader aan die kol, in ’n meer filosofiese sin van vaderlikheid, van pa staan vir die wetenskap. ’n Voorbeeld kom weer in Naudé se antwoord voor wanneer hy skryf dat Blumenberg "die konvensionele betekenis van Darwinisme radikaal omver gewerp" het, en hier het ek gedink dis die afgelope 30 jaar se ontploffing van kennis oor genome, geenoordrag, biome, die ekologie ens ens.
  2. Daar is vandag interessante en vrugbare oorvleuelings tussen areas in die fisika en die filosofie, maar my kwessie is dat Blumenberg en Naudé (of dalk net Naudé) te ver gaan as hulle hul metaforologie op die navorsingsprosesse van die fisika self probeer toepas. In sy antwoord kom Naudé met herhalings uit sy boek in ’n kwasiargument wat so eindig: "Die kwessie van mitewerking in die wetenskap is goed gevestig en top akademici skryf in top akademiese tydskrifte daaroor." Dit is so dat beeldspraak oorvloediglik voorkom, soos ek self geskryf het, maar dit is in die pogings om aan die hand van byvoorbeeld fisika en wiskunde beskrywings van die wêreld te verskaf, heel dikwels deur lekevrae daaroor gedryf.

Die fisika en wiskunde in die praktyk probeer egter los- of wegkom van beeldspraak; ’n mens kan postuleer dat dit eintlik is wat "fisika" beteken. Allermins om iets soos "formules as gesofistikeerde metafore" te lewer soos Naudé in sy boek skryf. Twee voorbeelde – eerstens die Bell-teorem, opgestel ten einde ’n tesis deur Einstein, Podolsky en Rosen verkeerd te bewys, dat verstrengeling in kwantumfisika die uitkoms is van verskuilde veranderlikes wat nog ontdek moes word. John Bell van CERN in Switserland het in 1964 bewys dat hulle nie kan bestaan nie. So is Einstein se welklinkende klagte oor "spooky action at a distance" finaal begrawe.

Tweedens: In 2023 het die kosmoloog Thomas Hertog ’n boek oor Stephen Hawking geskryf, op die beroemde Brit se versoek. Hertog vul On the origin of time met heelwat verwysings na die letterkunde en kunste, en skryf mooi beeldsprakerig. Terselfdertyd wys hy wiskundig waarom Hawking feitlik met sy laaste asem sy jare lange aanhang verwerp het van die antropiese beginsel dat ons heelal bestaan as opsie onder verskeie ander moontlike heelalle weens ’n behoefte aan ’n wese om dit te kan verstaan. "The anthropic principle is a counsel of despair. It is a negation of our hopes of understanding the underlying order of the universe, on the basis of science," was sy finale woord, ’n ommekeer van A brief history of time, waarvan die verkope van 25 miljoen eksemplare hom skatryk gemaak het. Met die mens as die rede vir kosmologiese ondersoek, en sy behoefte aan begrip (by wyse van maklik verstaanbare taal in die vorm van beeldspraak, kan ’n mens byvoeg), kan wetenskap nie bestaan nie.

Dit gaan in beide gevalle om wetenskaplike prosesse, nie die status of sosiale rol van die wetenskap, soos Naudé my aspris misverstaan nie. Ek voer glad nie aan dat die wetenskap die alfa en omega is nie, of die botoon moet voer nie, bloot dat dit onafhanklik funksioneer.

Hoe dit ook al sy, hopelik toon al die bostaande aan dat dit denke aan bande lê om allerhande eise aan resensies te stel. Ek is nie goed ingelig oor praktyke onder Afrikaanse filosowe nie, maar ek sien nie veel wat werklik oorspronklik of kreatief is nie. Die georganiseerde filosofie lyk gerig te wees op ellelange eksposisies van Europese filosowe se werk. Dis altyd welkom en lekker om dit in Afrikaans te lees, maar is nie juis inspirerend nie.

Naudé se pogings om Blumenberg na huidige kwessies deur te trek is daarom prysenswaardig, maar deel van die proses behoort tog te wees dat hulle verder uitgepluis word, ook by wyse van teenkantende ("adversarial") kritiek. As dit dan ’n pyniging vir hom is om te lees, is daar darem die troos dat dit bewys dis filosofie.

Lees ook:

In die rede geval deur Charl-Pierre Naudé: ’n lesersindruk

LitNet Akademies-resensie-essay: Mite as krisis en krisis as mite – In die rede geval deur Charl-Pierre Naudé

LitNet Akademies-resensie-essay: Interaksie met Hans Pienaar oor In die rede geval

 

  • 1

Kommentaar

  • Charl-Pierre Naude

    En nog is het einde niet.

    Hans Pienaar dring aan op verdere interaksie met my in wat ek reeds uitgewys het as sy lekegeploetery met my boek, 'In die rede geval: waarom die mens mites maak'.

    Ek sal bondig antwoord.

    Steeds gaan dit maar oor jou eie boekrak, met enkele filosofiese werke van veertig jaar gelede daarop, wat jy nou oprakel en weer halfpad lees en op oorwegend ontersaaklike en lukrake wyses as kritiek op my boek wil verbind. Ten minste verskyn jou skrywe hierdie keer onder die vaandel van 'n mening, en nie 'n "resensie" of iets "akademies" nie. Dit is 'n magtige vordering, die keer aan LitNet se kant.

    Dit is baie maklik om in 'n filosofiese gesprek retoriese onsinnighede kwyt te raak, en daarmee baie slim te klink; dit val ongelukkig baie maklik in by die hele “sfeer” van filosofering. Dit is dan baie moeiliker vir iemand anders om daardie onsinnighede te weerlê sonder om in dieselfde retoriese onsinnighede te verval. Dit is die gevaar wat ek loop as ek in besonderhede op jou gemymer sou ingaan, Hans Pienaar. En daarom gaan ek dit nie doen nie. Dit gaan nie 'n doel dien nie.

    Jou kommunikasie is minder verduisterend, minder verward, minder deperaat diskursief, asook minder histeries as jou aanvanklike skrywe – so daar is wel vordering. Ek is baie bly dat my boek soveel kwelpunte in jou kon losmaak. Dit is die positiewe kant van al jou misverstande.

    Jy noem my repliek beledigend. Ek het nie, maar wel jou bedenklike en selfrefleksiewe punte beledig, asook 'n arrogante en afwysende houding wat jy teenoor groot denkers geopenbaar het. Respekte, my ou. Jy is nie twaalf jaar oud nie. En ek moes myself darem so bietjie kon vermaak tydens 'n vervelige taak, dan nie?

    Jou grootste mistasting is dat jy nie Blumenberg se diachroniese begrip “metaforologie” verstaan nie. Dit het niks met metinomie of dergelike taalfilosofiese begrippe waaroor jy so koesterend voel, te doen nie. Dit is 'n meta-begrip, soos Syn of die Niks ook metabegrippe is. En interessant genoeg is selfs “metaforologie” 'n metaforiese begrip, want alle menslike taal is beeldend. Blumenberg noem dit “absolute metafore”. Ook wiskunde, die wetenskap, en veral die oubaas van die natuurwetenskap, is in wese metaforiese werkings.

    Blumenberg en sy metaforologiese begrippe, soos reokkupasie kan groot nuwe insigte bring wat betref die subjektiwiteit, oorsprong en ontwikkeling van denke. Dit bied andersoortige moontlikhede aan om fundamentalistiese denke van allerlei aard aan te spreek, en om nuwe bevrydingsmoontlikhede – moontlikhede wat uiteindelik nie self positivisties van aard is nie (soos die aanhouer faal dialektiese materialisme byvoorbeeld) – aan ons te openbaar.

    Dankie vir jou onverpoosde aandag. Ek gun jou jou menings. En, al kon ek dit nie tot op hierdie punt sê nie: ek waardeer dit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top