In die rede geval deur Charl-Pierre Naudé: ’n lesersindruk

  • 4

In die rede geval: Waarom die mens mites maak
Charl-Pierre Naudé

Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781776172979

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Charl-Pierre Naudé se In die rede geval is gebaseer op sy PhD-proefskrif oor die werk van Hans Blumenberg, en spesifiek sy Arbeit am Mythos. Blumenberg is vir my ’n totaal onbekende entiteit, maar nie Naudé nie. Toe ek die boek in Exclusive Books se rakke teëkom, het dit my laat wonder watter nut so ’n werk vir niefilosowe inhou. As die boek in die gewone handel beskikbaar is, is dit voorsien dat niefilosowe, soos ek, die boek sal koop en lees. Die boek is dus met ’n bietjie skeptisisme gekoop. En gelees.

Tydens die aanvanklike verskyning was daar resensies wat die boek aanprys as onder andere ’n brug van digter na filosoof en die nut van die boek vir literêre teoretici.1, 2

As niefilosofiese leser het ek aangeneem dat die akademiese meriete van die argumente nagesien is tydens die akademiese beoordeling van die proefskrif. Naudé meld egter (bl 33) dat hy Blumenberg toeganklik vir gewone lesers wil maak. Die boek is egter fundamenteel filosofies wat, hoewel dit betreklik maklik lees, tog stadige leeswerk behels – ’n paar bladsye en jou brein sing ’n bietjie. Naudé vergoed hiervoor deur die werk boeiend aan te bied – soos ’n filosofiese speurverhaal (18).

Die boek skop af deur die mite (woordspeling bedoel) te probeer verdryf dat mite die antitese van rede is. Mythos3 en logos,4 so redeneer Blumenberg, is meer soos ’n tweeling – “indispensible aspects of the comprehensive effort that makes human existence possible” (41). Naudé beskryf die twee konsepte as vinkel en koljander. Hierdie proposisie van Blumenberg behoort vir menige leser onmiddellik boeiend te wees, omdat die tradisionele kompartementele denkmodusse dit nog altyd as feitlik onversoenbare teenoorgesteldes aangebied het.

...........
Naudé beskryf die twee konsepte as vinkel en koljander. Hierdie proposisie van Blumenberg behoort vir menige leser onmiddellik boeiend te wees, omdat die tradisionele kompartementele denkmodusse dit nog altyd as feitlik onversoenbare teenoorgesteldes aangebied het.
...............

Dit is waar die speurtog begin, en dan neem Naudé die leser, soos hy dit stel, “om die geheimsinnige dubbelagent agter dit alles te identifiseer” (18). Naudé vermag ’n reikwydte wat seker behorend tot ’n doktorale tesis is, en wat vir minder ingeligte lesers wel indrukwekkend is. Hy doen dit hoofsaaklik op twee maniere. Die eerste is om hoofstukke tematies op te deel, maar hierdie temas is eiesoortig. “Die Ander God se verdere gedaantes” en “Die vergeefse projek” is maar twee voorbeelde. In ’n hoofstuk behandel hy dan een of meer mites (van Prometheus tot moderne popsterre) in die konteks van Blumenberg saam gelees met ander denkers, soos filosowe (van Plato tot Degenaar), sielkundiges (Freud en Jung en ander), skrywers (Van Chaucer tot James Joyce) en digters (Goethe tot Frost). Hierdie tematiese indeling veroorsaak dat die kerngedagtes van Blumberg se idee telkens herbesoek word maar anders belig word en dat dit nie ’n vervelige herhaling van die idees is nie. Mite kan rede skep en omgekeerd. Die verhouding is nie binêr nie, maar wel op ’n bewegende, en al hoe groter wordende, spektrum. Dit is dus denkmodusse en nie teenoorgesteldes nie. Ook die verhouding tussen mite en rede in godsdiens word telkens besoek.

Die tweede manier wat Naudé aanwend om die boek boeiend te hou is dat hy Blumenberg se idee sterk konstateer in die Suid-Afrikaanse konteks van byvoorbeeld politiek, fiksie, poësie en geskiedskrywing ens. Mandela word met Napoleon vergelyk en dan word weer na sy assosiasie met verskillende popsterre verwys as die aanblasing van “’n ou godegeheue”, in die hoofstuk wat handel oor “die ander god se verdere gedaantes”. Die fiksiewerke van JM Coetzee, Etienne Leroux, Karel Schoeman en talle ander word ook betrek. Ook poësie – van Van Wyk Louw, Antjie Krog en selfs Gert Vlok Nel. Naudé skroom ook nie om van sy eie poësie te besoek in sy speurtog nie. Ander politieke figure, soos Verwoerd en ander, word ook bespreek. Die polemiek tussen Patrick Tariq Mellet en Dan Sleigh oor geskiedskrywing word ook behandel na aanleiding van eersgenoemde se boek The lie of 1652.

............
Wat Naudé met hierdie boek vermag, is dat die leser nuwe insigte kan kry in ’n verskeidenheid van onderwerpe – ’n ekstra handvatsel wat voorheen nie daar was nie. Daar word byvoorbeeld op bl 272 sterk rede gevoer dat die status van popsterre ’n verband het met die monoteïstiese teologie se verbod op godebeelde wat maak dat die godheid dan slegs in die verbeelding kan manifesteer.
...............

Wat Naudé met hierdie boek vermag, is dat die leser nuwe insigte kan kry in ’n verskeidenheid van onderwerpe – ’n ekstra handvatsel wat voorheen nie daar was nie. Daar word byvoorbeeld op bl 272 sterk rede gevoer dat die status van popsterre ’n verband het met die monoteïstiese teologie se verbod op godebeelde wat maak dat die godheid dan slegs in die verbeelding kan manifesteer. Weens die feit dat die kollektiewe psige histories ’n veelgodedom besit, word die popster dan ook in hierdie verbeelding van godheid gemanifesteer. Op hierdie manier word die logos van monoteïstiese teologie verplaas deur die mite van ’n veelgodedom. Dit kan die enorme soortgelyke populariteit van godsdiens en popmusiek verklaar.

Hoewel die trefwydte indrukwekkend is, is die argumente sterk postmodernisties, wat beteken dat dit nie vir elke leser dieselfde oortuigingskrag sal hê as wat dit duidelik vir Naudé het nie. Maar aangesien Naudé nie deklamerend is nie, maar eerder soekende,  laat dit die leser verstaan dat dit nie in klip gegiet is nie. Vir my was juis die soms onoortuigende argumente pitkos vir verdere denke.

Tydens die lees van die boek het ek dan ook gewonder oor ander boeke, van die sogenaamde topverkoperboeke wat fiksie sowel as nie fiksie insluit. Hoe sal Anoniem van Chanette Paul beskou word in die konteks van mythos en logos? Haar hoofkarakters, Lula en Kriek, sit elkeen met hul eie logosse wat dan deur die mites van die storie verplaas word terwyl daar weer deurentyd nuwes in die plek daarvan verskyn. Ook Deon Meyer se onlangse Leo begin met ’n mite oor die Ghaddafi-goud en is die hoof moment die mite dat groep A, wat geweet het van die goud, ook groep B was wat die goud gesteel het en die geheel van die storielyn vorm. Bennie Griessel is self ’n mite, maar iemand wat met eiesoortige logos die boewe telkens vastrek en in die proses die logos-politiek binne die polisie as ’n mite openbaar. Dat hy alle sake met logos oplos, is ook ’n mite, want ons ken nie Bennie Griessel se ondersoekmislukkings – wat deur die mythos ten koste van die logos verswyg word  nie. Hoe speel die ontluikende debat tussen Karel Schoeman en Dan Sleigh oor geskiedskrywing in hierdie konteks van mite en feit af? Wil ons die balkon in die kasteel die "pui" noem, soos die feite dit gee, of wil ons hê dit moet die "katbalkon" wees, soos die mite dit wil hê? Ook Jonny Steinberg se Nelson and Winnie is eintlik ’n studie tussen die mythos van Mandela en die logos van Winnie.

Tydens die lees van die boek het ek ’n werkswinkel bygewoon wat deur die Wes-Kaapse argief oor genealogiese navorsing aangebied is, en hierdie wisselwerking tussen mite en rede opgemerk. Die voorbeeld wat in die werkswinkel gebruik is, was dié van ’n getroude man van Grabouw wat dood is in Kaapstad met ’n aansienlike boedel. Die argief se boedellêer het sy testament, die boedelrekening en die sterfkennis bevat. In die testament is daar ’n kind wat baie ouer as die ander is. Sy geboortedatum is ook voor die huweliksdatum in die sterfkennis. Onmiddellik is daar ’n mite: ’n buite-egtelike kind. Wanneer die ander argivale bronne nagegaan word, word die mite verplaas met die feit dat dit ’n kind uit ’n eerste huwelik is. Onmiddellik skep hierdie feit ’n nuwe mite: die man was dus ’n wewenaar. Uit verdere bronne word egter bepaal dat sy eerste vrou hom weens egbreuk geskei het. Die mite is weer verplaas.

Maar dit is nie so eenvoudig nie, waarsku Naudé/Blumenberg ook. In die argiefwerkswinkel was ’n vrou teenwoordig wat sê dat sy van slawe-afkoms was. Haar storie is dat haar voorsate slawe was op die plaas wat later die woongebied geword het waarin sy nou bly. Die slawerekords is skraps en daar is geen manier om vas te stel of die vrou se storie (mite) waar is nie. Die skrapse rekords van die slawe en die oordadige rekords van blankes maak egter ook dat die logos van die rekords vir blankes nie ’n korrekte weergawe van die lewe aan die Kaap is nie – dus is die rekords (die logos) op sigself ’n mite. Maar verder word die vrou se mite ’n logos vir die gebrekkige argivale rekords en ’n logos van wit bevoorregting. Dit demonstreer volgens Naudé/Blumenberg die onlosmaaklike band tussen mite en logos.

Ook tydens ’n bekendstelling van Robert Schall se Afrikaanse vertaling van Faust in Stellenbosch het die idee by my posgevat dat die mite wat Mefistofeles voorhou, eintlik die logos van korrupte politici is. Dit is dus nie net wisselwerking nie, maar ook ’n herokkupasie van mekaar, volgens Naudé/Blumenberg.

Die onlangse verkiesing het ook ’n ideale platform geskep om hierdie interaksie tussen mite en rede verder te verken. Zuma, tribalisim, bevrydingspolitiek, verlies aan mag, ens is alles terme wat gelaai is met die dualismes van mite en logos. Maar helaas, al wat ’n mens wyser geword het, is dat daar darem ook ’n verskil tussen mite en gewone k*kpraat is en dat ’n mens in daardie omstandighede maar die bietjie logos (die stemtelling) verkies.

Die titel, In die rede geval, openbaar Naudé (en waarskynlik Blumenberg) se simpatie tussen die twee konsepte. Soos die boek vorder, is dit duidelik dat mythos die verkose begrip vir Naudé en Blumenberg is. Mythos word aangebied as ’n noodsaaklikheid – dalk groter as logos – maar ongelukkig (volgens Naudé) word mythos heeltyd deur logos “in die rede geval”.

Die enigste kritiek teen die boek, soos gepubliseer, is dat dit nie ’n indeks bevat nie. Dit bemoeilik die herbesoek van spesifieke idees of gedagtes. Dit word aanvaar dat so ’n indeks lywig sou wees, maar die gebrek daaraan stroop die boek van die status van ’n gereelde naslaanbron – iets wat die inhoud definitief regverdig. Klein feitefoute is egter nie hinderlik nie (bv bl 345, waar David Lurie se dogter in Disgrace as Magda aangegee word ipv Lucy).

Ten slotte kan die boek aanbeveel word vir almal wat ernstig oor lees is, hoewel dit geensins ontspannend of maklik is nie. Dit verskaf ’n handvatsel wat vir die leser verrykende ervarings kan bied ten spyte daarvan dat daar nie met alle redevoering saamgestem hoef te word nie. Daarby intensiveer Naudé Blumenberg se idee in so ’n mate dat dit gereeld – lank na die lees daarvan – sy verskyning vir die leser maak – en op ’n lekker manier.

Eindnotas

1 Sien Hercules Boshoff se resensie op LitNet, Marlies Taljaard se resensie op Versindaba, Mellet Moll en Andre Kruger se resensies op Netwerk 24.

2 Hans Pienaar se resensie-essay het verskyn nadat hierdie lesersindruk reeds voltooi was.

3 Mythos word hier in sy breedste konteks gebruik, wat insluit mites, eposse, volksverhale, fiksie, poësie, kuns ens – mitewerkend dus.

4 Logos word eweneens in sy breedste konteks gebruik, soos die Verligting, die Moderne tyd, wetenskap ens – redegewend dus.

Lees ook:

LitNet Akademies-resensie-essay: Mite as krisis en krisis as mite – In die rede geval deur Charl-Pierre Naudé

LitNet Akademies-resensie-essay: Interaksie met Hans Pienaar oor In die rede geval

In die rede geval deur Charl-Pierre Naudé: mites en foute oor miteteoriewerking

  • 4

Kommentaar

  • Charl-Pierre Naude

    Dankie vir jou insigryke en helder ontsluiting van 'In die rede geval: waarom die mens mites maak', Willem Krog.

    Laat my toe om die een paragraaf in jou stuk wat in 'n mate vir lesers ontsporend sou kon wees, ten slotte op my beurt te verhelder. Dit is die derde paragraaf van onder - wat handel oor my simpatie vir die twee konsepte.

    Ek sou meen dat logos en mythos eerder MEKAAR voortdurend in die rede val, want hulle is in wisselwerking met mekaar (en hulle het hul verskillende redes om te bestaan). Ek sou dan aanvoer dat Blumenberg se projek een is wat uiteindelik deur die rede getipeer wil word, al het dit groot simpatie met mythos. Om mythos sy (ek wil e "haar") onbetwisbare en ewigdurende teenwoordigheid NIE te ontken nie, maar eerder te verreken, is juis om mythos met die krag van groter redelikheid te benader. Toe die Verligting die legitieme rol van mythos (legitiem omdat dit die ondergrond van ons menslike wese is) probeer ontse het, het dit (die Verligting) juis in onredelikheid begin verval.

    Ek sou sê dat selfs die kunste, wat so doelbewus met die patrone en grammatikas van mitewerking omgaan, dit doen met die uiteindelike oortuiging dat mitewerking in redewerking vertaal kan word. Met ander woorde: organiese kennis (wat mythos behels) kan - en behoort - in vertolkte kennis (wat 'n redelike strewe behoort te wees) oorgesit word. (Hoewel Goethe gewaarsku het dat nie alle mitewerkende kennis noodwendig in redelike kennis oorgesit kan word nie.)

    Dankie, weereens, vir 'n goeie resensie en ook die geldige punte van kritiek.

  • Hierdie is 'n baie lekker voorbeeld van hoe vrugbaar Naude en Blumenberg se idees toegepas kan word. In my essay stel ek 'n ekstra term voor: feitewerking, wat ook vervleg raak met mite- en redewerking. As 'n mens dit behoorlik bedink, kan 'n mens dalk uitkom by presies wat gebeur het met die mense wat Willem beskryf in die argief-werkswinkel wat hy bygewoon het. Die mythos en logos raak so vervleg dat die een die ander word, 'n analise wat 'n mens laat vorder, maar op die ou end in die doodloopstraat van hierdie vervlegting laat beland. My hipotese is dat as 'n mens onderskeid tref (op allerlei maniere) tussen hoe die feite optree en logos, en ook dan mythos, kan jy dalk by 'n walletjie in die doodloopstraat opklim. Of dalk nie. Dalk is feite net te swak.

  • Charl-Pierre Naude

    Ons vorder beslis, Hans. Jou laaste sin is tersake: "Dalk is feite net te swak."

    Wat is die verskil tussen "feite" en logos? "Feite" is 'n wyse van beskouing, en kan of mythos of logos of 'n kombinasie van logos en mythos wees. Jou gebruik van die term "feite" verraai myns insiens 'n verhewe status wat jy aan "feite" toedig, wat positivisties aandoen, waarskynlik deur jou ontleen uit die empiriese wetenskappe. Blumenberg se hele wêreldbeskouing waarsku hierteen, van bladsy 1 tot bladsy 511 van my eie boek.

  • Charl-Pierre Naude

    Hans, hierdie sin in jou kommentaar is ook vordering. Jy het dit in jou aanvanklike skrywe gestel, maar dit was ondergedompel onder allerlei ongeldige afdraaipaaie:
    "Die mythos en logos raak so vervleg dat die een die ander word, 'n analise wat 'n mens laat vorder, maar op die ou end in die doodloopstraat van hierdie vervlegting laat beland." Ek kan die kommer hiervan insien.

    Dit is my mening dat mitewerking en redewerking nooit heeltemal en met volle sekerheid uit mekaar se hare gehaal kan word nie, maar dit is ook nie nodig nie. Wat nodig is, is dat die menslike subjek die moontlikheid, selfs die waarskynlikheid, van mitewerking in eie boesem ten alle tye verreken. En dat hierdie verrekening terughoudendheid, nadenke en politieke nederigheid - nie verlamming nie, net nederigheid - in die hand werk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top