
Prent: Canva
Hans Pienaar het onlangs ’n LitNet Akademies-resensie-essay van Charl-Pierre Naudé se In die rede geval op LitNet gepubliseer. Lees dit hier. Charl-Pierre Naudé reageer hier onder op die LitNet Akademies-resensie-essay.
1. Inleiding
LitNet Akademies-resensie-essays was nog altyd ’n spesiale oomblik in die resensiewese van Afrikaans.
Maar soms loop dinge verkeerd. Dit het definitief hierdie slag met die LitNet Akademies-resensie-essay deur Hans Pienaar van my boek oor die filosofie, In die rede geval: waarom die mens mites maak, gebeur. Hierdie resensent en die boek het mekaar nié na behore gevind nie. En hierop sal ek ter wille van openbare begrip van die genre van filosofie, van die resensiewese en spesifiek van my boek moet reageer en sommige ongelukkighede aan my kant met die resensie uitwys.
Wanneer ’n 17 000 woord resensie-essay op ’n skrywer se werk verskyn, behoort hy of sy dit te sien as uitsonderlike aandag om voor dankbaar te wees. Maar as die resensie die boek so verkeerd verstaan dat dit geen of min bydrae tot begrip van die teks maak nie, dan is dit nodig om dit uit te wys. Veral as die uitwys behulpsaam kan wees met toekomstige resensies oor filosofie.
...........
Daar is geen poging in hierdie resensie om die belangrike temas uit te lig of te belig nie. Die fokus is op die resensent se eie leesgeskiedenis, en hoe die boek, wat veronderstel was om die punt van ontleding te wees, dáárvan verskil.
...........
Daar is geen poging in hierdie resensie om die belangrike temas uit te lig of te belig nie. Die fokus is op die resensent se eie leesgeskiedenis, en hoe die boek, wat veronderstel was om die punt van ontleding te wees, dáárvan verskil.
Daar is min poging tot teksgerigtheid in Pienaar se resensie-essay. Nóg lesers met ’n filosofiese agtergrond nóg lekelesers kan baat daarby vind. Beide groepe sal vervreemd opeindig van ’n resensie wat in lang, gefolterde sinne eindeloos afdwaal in kwasi-akademiese sypaadjies, met tendensieuse fokusse soos die Amerikaanse presidentskandidaat Trump.
Die filosofie is ’n tradisie, ’n portaal van baie spesifieke eggo’s – net soos die letterkunde – wat eerbiedig moet word. Jy hoef nie die filosofie in diepte te ken nie, maar jy moet ’n aanvoeling vir die parameters, rekbaarheid en slaggate daarvan hê. Pienaar se stuk het op asemrowende manier hierdie parameters misken en die slaggate onderskat – en met ’n groot skoot hubris.
Die ironie van die saak is dat die resensent my in private WhatsApp-boodskappe uitgenooi het tot dialoog met sy resensie. Asof hy die resensie juis met daardie doel voor oë geskryf het. Ek sal nou reageer, maar nie omdat sy resensie dialoog uitlok nie, eerder omdat dit die teks verkeerd verstaan.
Sommige lesers sou die resensie-essay selfs as aanvallend of intellektueel aggressief kon sien. Ek sien dit beslis so in plekke, maar daar sou geen probleem daarmee gewees het as die resensie self vaardig was nie.
Gewoonlik is ’n interaktiewe, diskursiewe kommunikasie tussen ’n geresenseerde skrywer en die resensent nie deel van die konsep van ’n resensie nie. Maar ek gaan sover dit binne my vermoë is aan hierdie uiters rare oogmerk van hierdie “resensent” probeer voldoen.
Dit bly my oorwoë mening dat ’n boek oor filosofie ’n veel meer ontledende en filosofies-omraamde resensie behoort te kry as wat Pienaar in staat was om te gee.
...........
Dit bly my oorwoë mening dat ’n boek oor filosofie ’n veel meer ontledende en filosofies-omraamde resensie behoort te kry as wat Pienaar in staat was om te gee.
...........
Akademici, lesers, filosowe moet self lees en besluit. As julle deur die resensie kan worstel. Dit is belangrik om kennis te neem van hierdie soort problematiese hantering van resensering.
Iets het gebeur tussen die eerste deel van Pienaar se resensie, wat nog heel logies en vriendelik vorder, en die middel en laaste deel. Hy het ten beste eksperimenteel probeer resenseer, maar dit verloën resensering.
Ek dink Pienaar se eie beskrywing van homself is die klinkklaarste bewys dat hy nie die man van die oomblik moes gewees het nie. Hy noem homself in sy essay ’n “studeerkamerleek, ’n slordige outodidak, ’n boikotfilosoof”. ’n Slordige outodidak is dalk die laaste soort persoon wat oor ’n indringende filosofiese werk moes geskryf het.
2. Wesenlike mistastings
Pienaar het ’n boek wat in die tradisie van die fenomenologie geskryf is, ten dele gaan staan en beoordeel aan die hand van sienings uit die analitiese filosofie. Die sienings wat hy uit die analitiese filosofie raap, kom meestal uit die taalfilosofie.
Dit is egter duidelik dat hy ’n skrapse kennis van die fenomenologie, sowel as die analitiese filosofie het. Beide die fenomenologie, sowel as die analitiese filosofie is belangrik en het hulle rolle. Maar jy moet weet waar die een eindig en die ander een begin. Hans Pienaar het met groot ywer botterklonte uit reënwaterpoele probeer karring.
Pienaar skryf in ’n roekeloos polemiese styl, wat dalk iets sê oor die uitgediende modusse van Suid-Afrikaanse diskoers.
Vrae ontstaan ook oor waarom hy ’n boek bespreek aan die hand van wat nié daarin is nie, pleks van wat wel daarin is.
Dan het sy artikel die astrantheid om resensente wat positief oor my boek geoordeel het, almal akademici of doktorale navorsers met bewese akademiese agtergronde, as verdag voor te stel.
3. Waarom ek dit goed gedink het om Claude Lévi-Strauss en die strukturalisme, asook die Barthes van Mythologies nie in my boek te berde te bring nie
Hierdie is een van Pienaar se beter vrae oor my teks en verdien ’n gefokusde antwoord.
Soos my boek uitwys, is mitewerking die oudste historiese refleks van die denkende mens. Die dryfveer agter mitewerking is om denkbeelde te vorm ter selfbeskerming. Redewerking behels die latere mens se vermoë om die drang na selfbeskerming voorlopig in hakies te plaas in sy soeke na kennis.
Barthes se Mythologies is skitterende joernalistieke filosofie. Maar Barthes is nié ’n teoretikus van mitewerking of van mites nie. Hy is ’n optekenaar daarvan. My boek handel eerder oor ’n uitgebreide teorie, die teorie van Blumenberg, wat op sy beurt handel oor die historiese en antropologiese kragte wat vorm gee aan ons kennis.
Mitewerking, terloops, is ’n omvattender begrip as mites. Pienaar gebruik die twee terme omruilbaar. Mitewerking verwys na die maak van konstruksies waarin mitiese elemente figureer. Sulke konstruksies kan ook redewerkend van aard wees. Mites, daarenteen, is die eenvoudigste en direkste vorm van mitewerking, gewoonlik ’n storie of ’n baie betekenisvolle embleem.
Ek het groot respek vir Barthes wanneer hy wel teoretiseer, soos in sy boek Writing degree zero (oor die semiologie enersyds, en andersyds oor die aard van narratiewe oorspronklikheid). Hier het ek daaroor geskryf.
Joernaliste in Suid-Afrika het al oor Barthes se Mythologies geskryf, maar dan gaan dit oor politieke polemiek en skemerkelkpraatjies, nie oor sy teorie nie.
Pienaar wil ook weet waarom ek nie na Lévi-Strauss verwys in ’n boek wat handel oor die antropologie en mites nie. Ek antwoord: Lévi-Strauss se strukturalistiese antropologie besig sigself met die soeke na universele inhoude (universals), met ander woorde die soeke na menslike denke wat vir álle geskiedenisse en plekke “waar” kan wees. Buiten vir die feit dat die post-strukturaliste soos Derrida reeds die vloeibaarheid en gedeeltelikheid, trouens die onmoontlikheid van sekerheid vir sulke skemas soos die strukturaliste s’n aangedui het, is dit belangrik om te weet dat dit ook vanuit die “pre-gestruktureerde” raam van die voortyd gerelativeer kan word. Hierdie raam kom in my boek ter sprake met wat ek noem die filosofiese antropologie.
Die filosoof Martin Heidegger, in sy lesings te Davos in 1929, en veral sy nakomeling, Blumenberg, het die konvensionele opvatting van wat antropologie kan doen (wat Lévi-Strauss se filosofie by verlenging kan insluit), omver gegooi. Lévi-Strauss werk met veel latere manifestasies van die vroeë mens – wat logies gesproke verbintenisse met moderne kultuur kan hê. (Pienaar verwys na die Lascaux-grotte, waar oermense maar 10 000 jaar gelede gelewe het.) Blumenberg, daarenteen, werk met ’n veel vroeër primordiale mensskepsel in sy filosofiese antropologie, en gans ander vrae word deur hom aangeroer as by Lévi-Strauss.
Die verskil tussen Lévi-Strauss en Blumenberg kan ek met ’n aanhaling uit my boek belig. Die stukkies in blokhakies het ek ingevoeg vir hierdie skrywe. In hierdie aanhaling is die posisie van die filosoof Ernst Cassirer (vir my huidige doeleindes) soortgelyk aan Lévi-Strauss s’n:
Heidegger se beswaar was dat Cassirer [en by implikasie Lévi-Strauss se antropologiese strukturalisme vir ons doeleindes hier] se strewe na ’n filosofiese antropologie “antroposentries” en “reduksionisties” is. Daarmee het hy bedoel dat Cassirer [en by implikasie Levi-Strauss] beweegredes vir die vroeë mensskepsel wil postuleer wat terugkykend gegrond is vanuit sy (Cassirer se) eie – histories subjektiewe en toevallig gelewerde – lewenswêreld. [Heidegger] noem daardie punt die terminus ad quem (“die eindpunt”). Instede moet hy wat [Lévi-Strauss] is, volgens Heidegger homself eerder in die vroeë mens se situasie indink, die terminus a quo (“die beginpunt”), waarvan die besonderhede onmoontlik is om te weet en wat géén leidraad bied om te vermoed dat daardie beginpunt [of beginpunte] lewenswêreldlike aspekte bevat het wat met [die van die moderne mens] s’n oorvleuel nie. Heidegger het geglo sy fundamentele begrip, Dasein (wat na die inhoud van lewenswêreld as ’n noodwendig subjektief gelewerde bestaanskonteks verwys), kan nié antropologies vertolk word nie, omdat die antropologie as begrip (soos dit op daardie stadium bestaan het) ’n objektiewe intermenslike strewe wil wees. Heidegger se “Dasein” veronderstel ’n grondeloosheid ten opsigte van waarneming van buite, en is die teendeel van [Lévi-Strauss se] “claims that culture and symbolic forms fully express a given human nature.” (Naudé, 2023, bl 45)
Daar is ’n enorme verskil tussen die terminus ad quem en die terminus a quo. As jy wil weet hoe die eerste mense gedink het, kan jy hulle nie volgens jou eie kontingente samelewing se reëls probeer voorstel nie – dit sal ’n subjektiewe projeksie wees. Daar is géén reguit lyn wat noodwendig loop tussen die eietydse wêreld en die eerste voormense s’n nie. En tog kan jy, op grond van die min faktore wat waarskynlik teenwoordig was, meta-strukturele aannames maak.
Blumenberg/Heidegger is juis die uiterste geval van ’n kritiek op reduksionisme, maar veral ook van ’n kritiek op kulturele selfverwysendheid wanneer dit kom by jou verbeelde voorstelling van primordiale mense. Heidegger en Blumenberg se veronderstelling van die radikaal subjektiewe ontiese oriëntasie vir die mens in die (historiese) aanvangsituasie, onkenbaar vanuit ons eie tyd, word in hierdie akademiese artikel van my bespreek.
Blumenberg is nie reduksionisties in die aanbieding van ’n model nie, hy bied slegs ’n waarskynlike prentjie aan oor waarom die onkenbare vroeë mensskepsel uit noodsaak genoop was om tot selfbewussyn en kollektiewe selfbewussyn te ontwikkel. Daar is in Lévi-Strauss, Cassirer en andere ’n onbewustelike aanname dat die mens sommer so vanself ’n denkende skepsel was. Blumenberg redeneer dat niks vanself is nie. Waarom is ons die enigste diere wat verfynde denke het? Wat het dit veroorsaak? Hy postuleer ’n katastrofiese gebeurtenis hiervoor. En al is sy gepostuleerde gebeurtenis dalk nie reg nie, is die kern daarvan wel reg: Iets uitsonderliks het gebeur. En daardie uitsonderlikheid is by Blumenberg die gebeurtenis van ’n bestaanskatastrofe. Dalk kom toekomstige filosowe en vind ’n nuwe teorie vir die uitsonderlikheid.
4. Pienaar se mistasting oor die verskil tussen mite- en redewerking
Pienaar se beskouing begin relatief goed. Veral waar hy die verband tussen Barthes en Blumenberg trek. Ook waar hy Robert Graves, mite-teoretikus en digter, betrek, is sy bespreking nog goed op pad. Maar hy is verkeerd oor my “erge geringskatting” van die “talle besprekings” oor mites in die Westerse populêre pers, wat ek kwansuis sou ignoreer. Een uitvloeisel van my boek is juis dat dit die teenoorgestelde doen: Dit beklemtoon die geringskattings wat juis in Pienaar se populêre bronne bestaan oor werk wat oor mite buite die Engelse sfeer gedoen is. Pienaar se meestal Engelse, Amerikaanse en Australiese bronne sal veel flukser vorder in hul redenasies oor mite as hulle meer van die dieptewerkinge van hul vak kennis sou neem, soos dit deur filosowe soos Löwith, Heidegger en Blumenberg gekarteer is. Ek het nie plek gehad om na werke te verwys nie wat van mindere belang is vir my primêre ontleding.
’n Groot probleem vir Pienaar is hoe my boek onderskei tussen mitewerking en redewerking. Hy vra: “[W]aar trek jy die strepe van die legkaartstukke? Is logika redewerkend, of moet ’n mens dit liewer as mities beskou?” Dit is nie ’n ongeldige vraag nie, en tog maak my boek die saak telkens baie duidelik.
Mite is “a piece of high-carat ‘work of logos’,” haal ek Blumenberg in my boek aan. Mite en logos is inderdaad “soms baie soos vinkel en koljander,” skryf ek in hoofstuk 2.
............
Mitewerking (mythos) en redewerking (logos) is nié ’n binêre, teenoor-mekaar-opstelling nie, soos Pienaar beweer. Dit is nader aan ’n as-werking, waarin mitewerking en redewerking om die beurt “oor mekaar gly” en weer “uit mekaar trek”.
...........
Mitewerking (mythos) en redewerking (logos) is nié ’n binêre, teenoor-mekaar-opstelling nie, soos Pienaar beweer. Dit is nader aan ’n as-werking, waarin mitewerking en redewerking om die beurt “oor mekaar gly” en weer “uit mekaar trek”. Die leser is nie veronderstel om ’n absolute onderskeid tussen die twee soorte werkinge te maak nie. My boek is baie duidelik hieroor:
Nie net is daar ooreenkomste tussen hoe mitewerking en teorie funksioneer nie, maar mitewerking en teorie gaan in die tydsverloop noue kombinasies met mekaar aan. Dit is in sulke kombinasies waar mens onder meer soms die werking van reokkupasie kan sien. (bl 59)
Dit lyk of Pienaar by voorbaat mitewerking wil sien as die “skuldige party” in die ongeluk van die mens se bestaan en redewerking as “die redder”. Maar die saak is komplekser. Ek praat in my boek oor ’n spektrum. Aan “die linkerkant” gaan dit oor die selfbeskerming van die mens (en mitewerking is by uitstek die instrument hiervan). Aan “die regterkant” gaan dit oor die mens wat wil weet hoe dinge lyk sonder dat hy sy selfbeskerming voorop stel (waarvan redewerking die instrument is). Hierdie verskil is baie belangrik om te tref.
Dié verskil is soos die veranderde werkings van selverdelings in die liggaam. Soms is dit opbouend, ander kere lewensgevaarlik, nog ander kere niksbeduidend. Dit bly alles selverdelings (soos die denke ook denke bly), maar jy moet gaan kyk na die veranderende funksies van die selverdelings.
Die sameswering tussen redewerking en mitewerking blyk uit die volgende passasie in my boek:
Die antieke natuurfilosoof Epikurus (341-270 v.C.), wat die atoomsamestelling van materie in navolging van Demokritus (460-370 v.C.) gepostuleer het, het hom op ’n vroeë vorm van teorie toegespits, maar nietemin in dieselfde asem geglo die gode hou aan “in die gapings tussen die atome” bestaan. (bl 59)
Pienaar het my boek óf te skraps gelees óf te veel kere herlees, maar hy eindig vreeslik deurmekaar. Hy vra: “Is logika redewerkend, of moet ’n mens dit liewer as mities beskou, iets wat net ‘geeks’ en ‘eggheads’ in die oë van die gepeupel gebruik?”
Ek dink tog my boek beantwoord die vraag na wense.
5. Nog een van vele verwarrings
Pienaar verwar grondmites met aanvangsmites. Dit is ’n grondige verwarring wat ander verwarrings in die hand werk. “Grondmites is groot, kollektiewe mites wat oor lang geskiedkundige tye van krag is en kom by uitstek in die teologie voor” (In die rede geval, bl 105). Aanvangsmites is die eerste manifestasie van ’n mitewerkende patroon, en hierdie vorme is meestal vir ons in die newel van die tyd verlore.
6. Die kwessie van funksionaliteit
Hierdie is ’n ’n basisfaset van Blumenberg se denke. En dit word geredelik verkeerd verstaan, nie net deur Pienaar nie.
Natuurlik is die onderskeid tussen mitewerking en redewerking vir die analitiese filosoof Wittgenstein irrelevant. Pienaar skryf: “Met so ’n metode soos Wittgenstein s’n is dit om ’t ewe wat mitewerking en wat redewerking is.”
Maar Wittgenstein is besig met ’n ander soort ondersoek as Blumenberg. Dit beteken nie die onderskeid moet onbelangrik wees vir alle filosowe nie. Wittgenstein se ondersoek is ’n baie waardevolle een: oor die alomvattende praktiese bestaan van taal as nut. Sy taalteorie sluit in bepaalde opsigte aan by Blumenberg se funksionaliteitsteorie, wat glo dat alle praktyke ontstaan omdat dit ’n praktiese funksie het.
Maar by Wittgenstein kan mens ook ’n belangrike verskil met die fenomenologie sien: Die fokus is op die netwerk van werkinge, en by die fenomenologiese is die fokus op die werkinge se transendente verhouding met die eksistensie. Vandaar ook dat Wittgenstein se taalfilosofie sy beginsels as tydloos aanbied, terwyl die tydgebondenheid van praktyke by Blumenberg allerbelangrik is.
Blumenberg se begrip funksionaliteit is ’n moeiliker begrip as wat dit op die oog af lyk, en moet onderskei word van funksieteorieë waarin ’n bepaalde funksie aangebied word as die betekenis van mites, soos die funksie van fertiliteit.
Soos ek dit self stel in ’n opstel wat nog onderweg is: “Blumenberg’s functionality thesis does not postulate that this or that function is the meaning of human endeavours, it postulates that functionality per se is the prerequisite of human endeavours.”
Die een tese (Blumenberg s’n) is ’n funksionaliteitstese waarin funksie die motivering is tot die ontstaan van bewussyn. In ander funksionaliteitsteses is funksie die betekenis van die bestaan van bewussyn. Laasgenoemde het gewoonlik die een of ander spesifieke teorie wat die funksie van betekenis vervul (soos aangetoon).
Nog ’n voorbeeld van ’n funksionaliteitstese waarin ’n spesifieke funksie as die betekenis van die bestaan aangebied word, is “die oorlewing van die sterkste” in die evolusieteorie. “Oorlewing van die sterkste” is ’n spesifieke teorie. Blumenberg bied geen sulke reduksies aan as deel van sy eie funksionaliteitstese nie. Sy eie funksionaliteitstese is, in ’n sin, “inhoudloos”. Terwyl by ander funksionaliteitsteses is die inhoud van allergrootste belang. Op bladsy 24 van my boek staan:
Blumenberg voer aan as mens wil verklaar wat idees en hul rol is – waarom die mens, in teenstelling tot die diere, dink – moet jy gaan soek na die redes vir die bestaan van idees, aangesien niks sonder ’n praktiese behoefte ontstaan nie. Dit is ’n algemene punt wat Blumenberg in verskeie werke maak. Al die uiteenlopende teorieë oor die betekenisse van mites in hul rol as ’n vroeë vorm van denke, is geneig om hierdie punt te mis en allerlei betekenisraamwerke word by voorbaat aan mites toegedig. ’n Argument wat gewoon aanvaar dat die mens dink “omdat dit sy aard is”, beantwoord nie die vraag wáárom het dink die mens se aard geword nie. As daardie vraag beantwoord word, kom veel aan die lig oor die rol van denke in al sy gedaantes vir die mens.
Wat my dronkslaan oor Pienaar se resensie, is dat my boek juis baie herhalend geskryf is om die “moeilike” konsepte tuis te bring. Hoe kon Pienaar keer op keer die kruks van verduidelikings so gemis het? (Nietemin, ek dink ons interaksie hier het wel hopelik nut, soos dit nou aangaan, en dit sou nie gebeur het sonder sy skrywe nie.)
7. Is Blumenberg se filosofie nie self ’n mite nie?
Hierdie is ook een van Pienaar se beter vrae. As dit maar by hierdie soort fokus gebly het.
Die filosofie, veral bepaalde filosofieë (soos Blumenberg s’n), loop natuurlik die gevaar om ’n mite te word. (Alles loop daardie gevaar.) Dit gebeur gewoonlik wanneer so ’n filosofie homself aanbied as die laaste antwoord, wat, net soos in die eskatologie, ’n mitewerking is (sien In die rede geval, bl 315).
Heidegger se Being and time loop die gevaar, en myns insiens is dit weens die feit dat die konneksie tussen wêreld en mens by hom as te “natuurlik” hanteer word. Daardie “natuurlike” plek van die mens in die wêreld by Heidegger kan problematies wees, en bied sussende eienskappe wat sou kon herinner aan mitewerking. Maar Blumenberg, wat katastrofe postuleer as die toevallige beginpunt van ’n mensheid wat alleen in die universum staan, het geen van Heidegger se sussende elemente nie. Dit mis dus die mees kardinale eienskap van mite. En dus dink ek, nee, Blumenberg se filosofie is ver van mitewerking.
8. Die kwessie van reokkupasie
Dit is wel moontlik om Blumenberg se verskillende teorieë oor reokkupasie in denksisteme te misverstaan as tiperend van “attempt[s] to characterize mental states exclusively in relational, specifically causal, terms”, wat volgens The Stanford Encyclopaedia of Philosophy juis kentekenend is van “functionalist theories”. (Hierdie aanhaling was Pienaar s’n.)
Maar nêrens argumenteer Blumenberg of ek dat die denkstelsels wat hy bespreek, definitief op so en so ’n manier ontwikkel het nie. Hy argumenteer bloot dat daar ’n goeie kans is dat dit so of op soortgelyke wyse gebeur het. Dit kan glad nie met volle sekerheid bewys word nie, en hoef ook nie met volle sekerheid bewys te word nie. Wat nodig is, is dat die moderne mens die noodsaak insien om homself as histories gemotiveerd te beskou, en slegs baie oortuigende argumente kan die moderne mens die stof hiervoor bied. Die kompleksiteit van Blumenberg se antropologiese model is absoluut ongeëwenaar in die filosofie en een van die oortuigendste ontstaansrelase oor die mens en hoe die inhoude van sy geskiedenis tot stand kom.
9. Die kwessie van Eden
Ek waardeer dit dat Hans Pienaar vir Blumenberg (en vir my, sy bode) op verskeie punte wil problematiseer, soos wat hy dit doen in verband met Lévi-Strauss. Maar dan moet ek steeds uitwys waar ek dink hy my teks verkeerd verstaan.
Met die metafoor van Eden voer ek nié aan dat die voormens in ’n paradys gelewe het nie. Lévi-Strauss het aangevoer dat die oermens se lewe baie gevaarlik en brutaal was. Ek is seker dit was. Maar dit was ná Eden.
Met Eden bedoel ek die aanvanklike bestaan van die mens as ’n relatiewe afwesigheid van bewussyn, veral ’n afwesigheid van selfbewussyn. Dit is die “Sondeval”, volgens die Genesis-metafoor, wat aan Adam en Eva onderskeidelik hul bewussyn van “self” gegee het.
Hoe brutaal kan die bestaan wees as jy min bewussyn of geen selfbewussyn het nie? Dit is staties en onangswekkend. Voel hottentotsgotte wat mekaar insluk, eksistensiële pyn? Die bron van die angs is die bestaan van bewussyn, en veral die bestaan van selfbewussyn.
My boek maak dan die onderskeid tussen die “agtergelate staat van onskuld” (nie-bewussyn) en die “status naturalis” wat daarop gevolg het (bl 46–7). Dit is die tweede, die status naturalis, wat ooreenstem met waaroor Lévi-Strauss skryf.
Is Pienaar nie besig om hare te kloof nie? Ek glo wel die ouens se kapsels het veel te wense oorgelaat.
10. Weer Wittgenstein
Waar Pienaar sy eie eksentrieke omgang met die filosofie skets, is hy plek-plek sinvol (totdat hy die fenomenologie begin beledig). Soos gesê, daar is geen sprake van teksgerigtheid van die teks onder bespreking nie. Dit gaan oor hoe Pienaar die wêreld sien en waarom hy ongelukkig is dat Blumenberg nie met hóm saamstem nie.
Teen die tyd dat Pienaar by Wittgenstein kom, is hy die kluts behoorlik kwyt, en van hier af is dit afdraand.
Pienaar haal Wittgenstein se onderskeid tussen “die magiese” en die wetenskap aan waar Wittgenstein heeltemal korrek aanvoer dat magiese taalgebruik staties van aard is (terloops, die magiese is nie sinoniem met die mitiese nie, maar dit vir eers daar gelaat), terwyl die wetenskapstaal ’n ontwikkelingsaard sou toon. Dit is heeltemal korrek, omdat Wittgenstein se navorsing oor die aard van taal handel. En die taal van die magiese (kom ons neem argumentshalwe vir nou aan dat dit sinoniem is met die mitiese) toon wél statiese trekke, en die taal van die wetenskap toon wél trekke van ontwikkeling.
Met hierdie analogie wil Pienaar aandui hoe verkeerd Blumenberg is met sy skets van ’n ontwikkelingsgang vir die mitiese denke. Maar Blumenberg karteer nie taal nie, hy karteer historiese ervaring. Dit is iets gans anders. Hoewel die taal van die suiwer mitiese wel staties is in enige tydperk (ek dui dit ook aan in hoofstuk 4 van my boek), is die historiese beliggaminge van mitiese ervaring in die historiese tydsverloop glad nie staties nie.
Omrede die mitiese in verskillende kombinasies met redelikheid voorkom, is dit óók, soos die wetenskap, geneig tot ontwikkeling, hoewel minder. Wanneer die mitiese met die rede verbind om teologiese dogma te vorm in die derde eeu nC, byvoorbeeld, is die mitiese reeds in ’n ontwikkelde vorm vergeleke met die suiwer mitiese van die oerbewussyn. Ek karteer hierdie situasie breedvoerig in redelike toeganklike taal op verskeie plekke in my boek, maar veral in hoofstuk 2.
Teologiese dogma is wel nie bewustelik op ontwikkeling gemik nie (omdat God veronderstel is om tydloos te wees). Tog gaan die tyd genadeloos met dogma om, en kan jy byvoorbeeld nie sê dat die mitiese element in 20ste-eeuse bevrydingsteologie dieselfde is as in die Ou Testament nie. Die mitiese element in moderne teologie is baie ontwikkeld, omdat die mitiese in sy verbindings met die rede altyd gesofistikeerde denkvorme teweegbring, waarvan die sofistikasie vandag steeds toeneem. Net soos in die geval van die wetenskap. (Die teologie veronderstel helaas steeds ’n eindpunt vir sy kennis, wat in die tydloosheid van God setel, en die wetenskap veronderstel ’n oneindigheid.)
Pienaar wil met sy verdediging van wetenskap se sofistikasie op grond van Wittgenstein se taalanalises skynbaar ’n saak uitmaak vir sogenaamde “feitewerking”. Soos ek Wittgenstein verstaan, is feite vir hierdie filosoof ’n skepping van die mens se bewussyn, net soos in die fenomenologie, en hierin is hy steeds teoreties gesproke getrou aan Kant se onderskeid. (Hoewel Wittgenstein nie met die onderskeid tussen waarnemer en wêreld, soos by Kant, werk nie, want vir hom ís die wêreld die taal en die taal ís waarnemer.)
Die punt behoort duidelik te word: Pienaar se begrip van feitewerking is ’n onproduktiewe middelterm waarmee hy onsuksesvol ’n teenstelling tussen Wittgenstein se taalfilosofie en Blumenberg se fenomenologie probeer bewerkstellig.
Wanneer Pienaar die mitiese aan die hand van Wittgenstein staties wil verklaar, wat dan kwansuis moet dien as bewys van hoe “ontwikkelend die wetenskap” is en hoe onontwikkeld mitewerking is, het hy skoon vergeet van die moderne kunste, wat by uitstek vorme van mitewerking is en wat net sulke ontwikkelende denkvorme oplewer soos die moderne wetenskap! (Maar natuurlik van ’n gans ander aard.)
Wittgenstein en Blumenberg doen verskillende dinge. En daar is trouens baie raakpunte. Die een kan nie die ander een verkeerd bewys soos wat Pienaar probeer doen nie.
11. Blumenberg en die wetenskap
Waar Pienaar hom uitlaat oor Blumenberg as neerbuigend teenoor die wetenskap en dat hy wetenskaplik oningelig is, nader sy onbesonne ontleding ’n hoogtepunt. Eintlik is die status en die kosbaarheid van die wetenskap die vernaamste fokus van Blumenberg se hele lewensprojek.
Pienaar kan maar gerus na die bibliografie van Blumenberg gaan kyk, en veral beveel ek die grootse werk The genesis of the Copernican world aan. Wat op aarde het jy gedink jy doen hier, Hans? En jy het die baldadigheid in jou om ’n drukfout in my aanvanklike tesis wat jy onder oë gehad het en wat sedertdien reggestel is, as my eie gebrek aan wetenskaplike kennis te vertolk! Geniepsig, man.
Blumenberg se respek vir die wetenskap (sowel as my eie respek daarvoor) is so onverdund soos respek moet wees vir enige van die groot kennisvelde: die kunste, die teologie, die natuurwetenskap, ensovoorts.
In sy genommerde afdeling 8 is Pienaar so buite sy diepte dat ek vir hom vlerkies by Crazy Store wil bestel. Om krities te wees oor die manifestasie van wetenskap wanneer dit die mitiese godsdienspatroon van die “eindpuntverklaring” bevat, is nié om neerbuigend teenoor die wetenskap te wees nie, juis nie. Dit is wel om krities te staan teenoor die wetenskap wanneer dit ’n vorm van mitewerking geword het wat skadelik en verskralend kan werk ten opsigte van die volle spektrum van menslike ervaring. Die wetenskap bevat nie al die antwoorde soos ’n god nie, en daar is in die huidige tyd pogings om die wetenskap soos ’n god te sien.
Pienaar beweer ek plaas die wetenskap in die binêr logos/mythos. Daar is geen sprake van ’n logos/mythos-binêr nie (soos reeds in hierdie repliek vermeld). Die logos bevat soms trekke van die mythos, en die mythos kom soms voor in kombinasies met die logos. (Sien hoofstuk 2 in my boek, waarna ek reeds verwys het, en wat onder meer by name handel oor die bastervorme van mite en rede.)
Ek het geskryf oor die filosofie van Blumenberg. Gaan heen en skryf jou eie boek oor die onaantasbaarheid van die wetenskap en die tweede katswinkwet op termodinamika, Hans, volgens die verregaande insigte van die studieveld genaamd Pienaria, man.
Jy wil beweer dat dit ongeldig is om te argumenteer dat mitewerking deel uitmaak van wetenskaplike prosesse. En dat Blumenberg, Heidegger, veral Husserl verkeerd is hieroor? Slaan my met ’n veer om! Gaan kyk wéér na die titels van die boeke in my bibliografie waarop my boek berus. Die kwessie van mitewerking in die wetenskap is goed gevestig en top-akademici skryf in top-akademiese tydskrifte daaroor. Dit is nie ’n aanval op die wetenskap nie.
12. Pienaar se mistasting oor die rol van onbewuste/onderbewuste/voorbewuste in In die rede geval
Pienaar maak die volgende byster opmerking: “Lévi-Strauss werk ook oorvloediglik in ’n veld wat oënskynlik nie regstreeks in Blumenberg/Naudé aan bod kom nie: die onbewuste/onderbewuste/voorbewuste.”
Die teendeel is die geval. In die rede geval, sowel as Blumenberg se denke, is fundamenteel geskoei op juis die aanname van die bestaan van die “onbewuste/onderbewuste/voorbewuste”. Dit is hierdie mistasting van Pienaar in die voorlaaste stuk van sy besige relaas wat hom by uitstek tot allerlei verdere verkeerde insigte verlei (terwyl ek nie gedink het dit meer moontlik is nie).
Weer moet ek wonder: Het hierdie resensent my boek gelees? Of het hy dit te veel gelees?
Ek gee ontledings oor Freud se teorieë in my boek, onder meer van die doodsdrang en van verskeie mites wat Freud as metafore inspan vir psigiese werkings. My bespreking van die filosoof Löwith gaan juis oor ’n konflik tussen die eskatologie in die historiese Judaïese-Christelike kultuur en hoe skadelik, volgens Löwith, die eskatologie op onbewuste kollektiewe vlak sigself in die moderniteit laat geld. (Sien die afdeling 3.2.1 “Misleide erfenis”).
Toepassings, soos my Blumenbergiaanse bespreking van Etienne Leroux, berus juis op die begrippe van die onbewuste/onderbewuste. En so kan ek aangaan. My hele boek, sowel as Blumenberg se filosofie, berus op hierdie begrippe!
Ek gaan nou aanhalings uit die boek gee wat aandui hoe belangrik hierdie kwessie vir my hele ontleding is:
Dit is interessant dat die individu in die hedendaagse terapie – die studieveld wat Sigmund Freud (1856-1939) begin het, en die voorbeeld waarna Blumenberg verwys met die woorde “in that of the individual” – soortgelyk met angs omgaan as die vroegste groepe mense. (bl 50–1)
Löwith se aanspraak in sy boek is dat ’n eskatologiese struktuur in die moderne geskiedenis niksvermoedend op ’n teologiese uitkoms staatmaak. Die eskatologiese struktuur sal onwetend ’n uitkoms bewerkstellig wat berus op die Verlossingsverhaal, en op Christelike begrippe soos “redding” – met ander woorde op ’n aarde wat moet eindig. [...] Katastrofies! (bl 84)
Carl Gustav Jung (1875-1961) se begrip van die kollektiewe onbewuste en Freud se begrip van die onderbewuste speel duidelik in die agtergrond by Blumenberg hul rolle. (bl 118)
Blumenberg is sterk deur die Freudiaanse en Jungiaanse begrippe van onderbewuste en onbewuste beïnvloed, en sy begrip “die Darwinisme van woorde” is die beste voorbeeld hiervan. (bl 443)
Die onbewuste/onderbewuste, veral in sy kollektiewe psigiese vorme, staan op haas elke bladsy van my boek ingeskryf.
13. Pienaar se vergesogte redenasie oor Blumenberg se “Darwinisme van woorde”
Waar Pienaar hom oor Darwinisme uitlaat, babbel die Goebbels behoorlik in sy praatfontein. Hy kom naby daaraan om my en Blumenberg van Nazisme te beskuldig! Pienaar skryf: Die “Darwinisme” is “’n uitgediende begrip”, gebaseer op die “survival of the fittest”-tema, wat “ook die basis van die gediskrediteerde Nazi-agtige leer van sosiale Darwinisme is”.
Dit mag so wees dat allerlei Japies en Sannies van die geskiedenis allerlei toepassings van die begrip Darwinisme gemaak het, en dat sommige van hierdie sienings inderdaad ’n verbintenis met Nazisme toon. Maar wat op aarde het dit met spesifiek Blumenberg se gebruik van die begrip Darwinisme te doen, behalwe die klank van die woord?
Blumenberg se “antropologie” van die mens as Mängelwesen (die mens as ’n uiters kwesbare wese gekenmerk deur die afwesigheid van ’n eksistensiële nis), ’n wese wat beskutting en onderstutting vir homself wil skep, het juis niks met die oorlewing van die sterkste te make nie. As jy my boek behoorlik gelees het, Hans, sou jy sien dat met Darwinisme bedoel Blumenberg juis nié ’n mens wat oorlewing van die sterkste nastreef nie, want dit is die beginsel van die natuur. Die mens het die natuur agterlaat vir ’n sosiale beginsel toe hy mens geword het.
Blumenberg se metafoor van Darwinisme dui bloot daarop dat daar ’n genetiese onbewuste, ’n ondergedompelde sosiale geheue, in die mensskepsel werksaam is wat funksioneer volgens ’n beginsel van progressie. Die oorlewingsprogressie in die “Darwinisme van woorde” het egter niks met “die sterkste” uit te waai nie, juis het dit te doen met die skep van instellings wat die mens, as synde uitgelewer en swak, in sy swakheid kan beskerm.
Wanneer menslike kultuur instellings skep, funksioneer dit toenemend empaties. So kry jy in moderne tye byvoorbeeld ouetehuise en hospitale. Die mens is besig om op ’n progressieleer te ontwikkel wat juis sy kwesbaarheid die beste kan akkommodeer.
Soos met die woord antropologie, het Blumenberg die konvensionele betekenis van Darwinisme radikaal omver gewerp, en bedoel hy iets gans anders daarmee as wat Pienaar veronderstel.
Boek gelees, meneer Pienaar? Ek dink nie so nie. Of andersins het jy te veel gesels met onlangs verworwe gespreksgenote wat die boek nie behoorlik gelees het nie.
Op bladsy 117–8 van my boek staan oor die term Darwinisme geskryf:
Die feit dat sekere gebruike en instellings [in die geskiedenis] oordraagbaar word, gebeur met ’n soort “evolusionêre kennis”, soos die term Darwinisme aandui, wat sluimer in die spesie- of kollektiewe bewussyn.
(Ek kies maar lukraak tussen al die onsinnighede waarop om te reageer, anders sal ek maande lank hiermee besig wees. Pienaar, as synde ’n bewese sosiale kommentator, is meer aan homself verskuldig as hierdie “resensie-essay”.)
14. Die gif van politiek
Een van Pienaar se verkeerdste lesings, juis omdat hy die werking van die politiek op onbewuste vlak in my Blumenbergiaanse beskouing so onderskat, kom voor in sy sienings oor my afdeling 9.4.3 (“Die gifte van die natuur word die gif van politiek”).
Daarin postuleer ek die moontlikheid dat bepaalde pre-moderne trekke in die plaaslike swart politiek ’n skadelike reokkupasie ondergaan het wat agter die stropingsveldtogte van die 2021-onluste gesit het. (Hierdie analise is soortgelyk as Löwith se analise van die skadelike onbewuste werking van die Middeleeuse eskatologie in moderne Europese kultuur.)
Pienaar skryf dat die Menseregtekommissie van Suid-Afrika (MRK) bevind het dat armoede die rede was vir die stropings en dus is my filosofiese analise verkeerd. Ek is seker armoede sit agter die stropings, Hans. Dit beteken nie dat die selflegitimasie van stroping in die swart kultuur van Suid-Afrika nie dieper wortels het nie. My Blumenbergiaanse analise sluit onder meer aan by bepaalde insigte oor die skadelike effekte van kolonialisme soos uitdrukking gevind in onder meer die historikus Noel Mostert se boek, Frontiers (ek skryf maar die verkorte titel hier).
Terloops, daar is talle plekke op aarde waar stroping nié ’n kultuur is nie en waar die mense net so arm of armer is as in Suid-Afrika. Indonesië kan dien as voorbeeld. En moenie vergeet nie dat sommige van die stropers in KwaZulu-Natal in allerlei karre, selfs ’n Mercedes of twee, opgedaag het om te stroop! Alles op kamera vasgelê. (Die karre is natuurlik ook gestroop van iewers.)
Die moedswilligheid van Pienaar se misverstane verstom keer op keer. En dieptekennis oor die geskiedenis is nie die MRK se veld nie.
15. Pienaar se probleme met die begrip metafoor
Pienaar gee te kenne dat hy nie een van Blumenberg se groot begrippe metaforologie verstaan nie. Waarom die boek nie aan ’n ander resensent oorhandig nie wat dit wel kan verstaan?
Dit is hier waar sy misleide toepassing van begrippe uit die (analitiese) taalfilosofie op my boek die duidelikste blyk. Hy verwys na die verskil tussen verskillende (baie knap) taalteoretiese begrippe wat taalkundig na aan mekaar geleë is, soos metonomie en metafoor, en wil daarmee te kenne gee dat my Blumenbergiaanse gebruik van die basisbegrip metafoor stomp en onhandig is.
My wêreld, Hans.
Die misgryp hier is soortgelyk aan jou verkeerde toepassing van Wittgenstein as kritiek op Blumenberg. Pienaar skryf: “My beswaar is dat die begrip metafoor, weer eens omdat dit oënskynlik nie sekuur genoeg die linguistiese definisies volg nie, die net te wyd gooi.” Haai? (Agge gwaan!, soos Ingrid Jonker gedig het.)
Blumenberg skryf nie oor taal nie, hy skryf oor die historiese werkinge van kultuur, waarvan die gebeurtenis van taal maar een onderafdeling is. As jy oor die werkinge van taal wil skryf, is onderskeidings soos metafoor en metonomie baie nuttig inderdaad. Dit is egter irrelevant vir die “weerspieëlende” werkinge van die groter opset van hoe geskiedenis en kultuur sigself voortborduur.
So Pienaar wil hê Blumenberg moes hierdie of daardie onderskeidings aangedui het omdat die of daai ander filosoof van sy voorkeur dit gedoen het? Good for those! Wil Pienaar hê ek moet sý taalfilosofiese bronne daarvan kritiseer dat hulle nie die allerbelangrike Blumenbergiaanse onderskeid tussen metafoor en metaforologie ingespan het nie?
Pienaar gooi pawpaws rond in ’n spinasieveld.
Sy hele analise roep Van Wyk Louw se waarskuwing op, en ek parafraseer nou, om nie mis te doen in die skoene van die grotes nie (pun intended). Wanneer dit by Blumenberg (en by implikasie die fenomenologiese tradisie terugskouend tot by Immanuel Kant) kom, is Pienaar soos ’n middernagtelike muis besig om vieslike bolliewerk agter te laat in baie, baie groot skoene.
Hy moet asemhaal en tot 10 tel voordat hy weer aan die skryf gaan.
16. Pienaar se relaas oor die kwantumfisika en wiskunde
Die groot probleem van Pienaar se lesing van my teks is dat hy in plekke baie idiosinkratiese betekenisse toedig aan my gebruik van baie gewone woorde. Dalk moet Pienaar Blumenberg eerstehands gaan lees en kyk of hy meer sin daarvan kan maak. Ek gaan een passasie ten slotte aanhaal om te wys wat my eie probleem met sy lesing van my boek is:
Hy skryf:
Blumenberg/Naudé praat van die drang om kring te sluit as ’n sinsoekende mitiese oorredingsmotief, en Naudé noem verskeie maniere waarop die motief oor ’n wye veld toegepas word sodat ’n bepaalde stuk denke die voorkoms van redelikheid het. Maar hy het dit mis om dit toe te pas op die kwantumfisika, en deur verlenging, die fisika-wiskunde – al die voorbeelde hier bo genoem getuig van die radikale openheid van die wetenskappe.
Eerstens is die gebruik van die woord redelikheid misleidend. Hy moes eerder geskryf het “die voorkoms van begryplikheid”.
My boek, en ook Blumenberg, stel dit duidelik dat die kardinale verskil tussen die moderne mentaliteit en die Middeleeue is dat die konsep van ’n enchaton (eindpunt) vir tyd in die moderne verval het. Natuurlik het wetenskap ’n radikale oop oriëntasie, want dit is ’n moderne aktiwiteit. Hierin verskil dit van die teologie, wat grootliks ’n Middeleeuse aktiwiteit is.
Maar dit beteken nie dat die waarnemingstrukture van die bewussyn, waarvan die geslotekringmotief een is (motiewe wat hul beslag gekry het in mitiese kontekste van die oertyd), opgehou het om ’n rol te speel by die ontwerp van die wetenskap en ander moderne aktiwiteite nie. Daarom wys my boek ook op die ooreenkomste in patrone tussen die teologie en die wetenskap. Die geslotekringmotief is ’n betekenis-soekende motief wat ’n drukkrag uitoefen in alles, van om ’n berekening te laat klop tot om ’n reis te beplan. Dit is ’n denkpatroon wat daagliks in ons lewens aanwesig is. Waarom sal dit nie ook ’n rol speel in die aktiwiteite van die kwantumfisika nie? (Pienaar het skynbaar vergeet dat die geslotekringmotief óók ’n oop, hangende voorkoms het, soos ek dit telkens in hoofstuk 4 verduidelik.)
Die mitiese en die redelike is twee breë ervaringsvelde waarin dieselfde strukture, naamlik die strukture van die menslike bewussyn, hulself laat geld.
Dit is nie soseer die feit dat Pienaar se stelwyses so pynlik gedronge en so stellig en met soveel subtiele en onsubtiele misverstande gepleeg word nie, wat dit moeilik maak om met hom te interageer. Ek wil voorstel dat hy net vir ’n kort tydjie alles wat hy in sy lewe gelees het, kennelik Lévi-Strauss, ’n bietjie uit die prentjie los, en die teks wat hy wil resenseer, wat my boek en Blumenberg is, met ’n oop gemoed gaan lees. Hy lees allerlei kontradiksies tussen Lévi-Strauss en Blumenberg in, wat nie daar is nie, en kyk dan die groot verskille tussen hulle mis!
Hy kritiseer byvoorbeeld vir Blumenberg oor “die groot skrik” (die absolutisme van realiteit) met die opmerking dat die mens se groot skrik nie vir die wye ooptes kon gewees het nie (soos Blumenberg beweer), maar vir die siektes waaraan die mens onderworpe was, met ander woorde “vir wat binne of naby in die mens was”.
Hier trek Pienaar ’n valse teenstelling tussen die “mens-self” en die “ooptes”. Ek is seker siektes was ’n groot probleem! Dit sou inderdaad deel van die groot skrik van die vroeë mens gewees het, al was dit ook vanuit sy eie liggaam. Hier is ’n baie letterlike verstaan van Blumenbergiaanse onderskeidings in die spel by Pienaar.
Elders beweer Pienaar dat die mens nie bang vir diere sou gewees het nie (soos ek kwansuis sou beweer het), want daar was altyd ’n hiërargie van diere, met die mens heel bo, wat “teruggaan na die Kambriaanse tyd”. Hier mis Pienaar die kardinale onderskeid van Blumenberg in die mens se bestaan, naamlik sy oorgang van “natuur” na “samelewing”. Die mens was en is ’n baie swak en blootgestelde dier, en het slegs oorheersing oor die natuur bewerkstellig deur middel van sy samelewingstrukture, waarin al die mense mekaar in interafhanklikheid begin help het, weens hul inherente bestaanswaktes. Die feit dat die mens bo in die voedselketting geëindig het, heel vroeg al, beteken allermins dat hy as natuurlike wese bo in die natuur was. Hy was nie, hy was heel onder, en dit was die groot skrik wat hom tot dink en samelewing genoop het en gemaak het dat hy “bo” die diere kon triomfeer. (Om te oorvereenvoudig: Sit ’n individu in die veld met leeus en hulle sal daardie mens opeet. Sit dieselfde mens in ’n bakkie, met maatjies omring en elkeen met ’n geweer, en die leeus speel tweede viool.)
17. Pienaar se afdelings 9 tot 14
Die “fyner” besonderhede van hierdie afdelings verleen hul nie tot diskursiewe debat nie. Dit was pynlik om daardeur te worstel. Dit dwaal te veel af in lukrake velde wat nie behoorlik filosofies verbind word met my teks nie. Dit bevat vergesogte kwasi-akademiese argumentasies en teenoor-mekaar-opstellings van ’n lae en verwarde orde.
Daar is soveel beligting wat gedoen kon gewees het. Die belang van om kennis te neem van die oorgange pre-moderniteit/moderniteit/laat-moderniteit? Die verstommende aard van die mens as metaforiese dier? Die verborge storie van die kennis van die mens? Ek noem dit “’n heldeverhaal van idees, en van gode op aarde (bl 18).
Waar is die belangrikste temas van die boek in hierdie resensie? Die tema van “die ander god”; die tema van die “vergeefse projek”; die boek se gesprek met Nietzsche en ander filosowe; en so kan ek aan en aan en aan gaan.
En wat van die allerbelangrike implikasies wat uit die teks vrykom? Hieroor sê Pienaar niks. Die aanname van radikale verskille vir die mens in die ontiese aanvangsposisie het verreikende implikasies vir enige argument oor kulturele noodwendigheid. Kom in dekolonisasie. Geen piep hieroor van Hans nie.
Ek is nie fyngevoelig as ek sê hierdie resensie is die rampspoedigste resensie wat ek nog ooit teëgekom het. En daar is vele in Afrikaans, onder meer resensies wat intellektuele bedrog openbaar, waarmee Pienaar se resensie meeding.
En moenie ’n fout maak nie: Daar is baie legitieme kritiek wat op Blumenberg gelewer kan word. Maar daarvoor moet jy sy werk veel beter ken as wat Pienaar dit ken. En jy sal die filosofie in die algemeen beter moet ken.
Die resensent Pienaar raak toenemend ontspoor soos sy artikel, wat goed begin het, na die einde vorder. Na aan die einde raak hy op bykans gewiglose wyse meningsbelus. Ek herken glad nie my boek in vele plekke van sy bont geargumenteerde passasies nie.
En tog dink ek Hans Pienaar is ’n besonder intelligente man. Maar hy het sy rol hier verkeerd verstaan. Hierdie resensie kan nie met die beste wil in die wêreld akademies-begrond genoem word nie.
Ek beskou my boek as ’n nederige bydrae tot toeligting van die fenomenologiese tradisie in die filosofie, wat ek gedoen het aan die hand van ’n reus in die kontinentale filosofie. Dit is jammer dat Pienaar se resensie nie ook by die beginsel van nederigheid kon bly nie. Want dit is wat van ons gevra word wanneer ons werk met idees wat groter is as ons.
Maar laat ons nou nie te swaarmoedig raak nie. Pienaar is veel meer as hierdie resensie, soos sy uitstekende werk as joernalis en skrywer uit die verlede van getuig. En dit is vir my duidelik dat hy ook waardering vir die boek het benewens sy misvatte. Dankie daarvoor.
18. Slotopmerkings
In die algemeen oorskat Pienaar die waarde van die polemiese as dialogiese modus. Persoonlik dink ek die polemiese is ’n verarmde vorm van die dialogiese en dat dit moet leer om bietjie terug te staan. ’n Konvensionele resensie sou groter sukses met komplekse begrippe opgelewer het.
Ek stap nou af van hierdie onderwerp en ek hoop ek land nooit weer as skrywer in so ’n situasie nie.
Ek vertrou die resensies wat nog uitstaande is op die boek, sal oorwoë geskied. Ek wil LitNet bedank vir die ruimte aan my gegun om my boek te verhelder. Ek wil ook vir Hans Pienaar bedank: Ná die duisternis kom hopelik die lig.
Lees ook:
Kommentaar
Ek sal graag wil lees wat Crito hiervan dink.
Baie welkome, nuttige, omvangryke kommentaar op kommentaar. Ook 'n blik op die onderliggende onblusbare instink van twee katers op 'n terrein.
oi vey ek laaik van altwee die skrywers se skrywe en denke en ander sonskyndinge so ek gaan nie kante kies nie en besides ek is ook nie so slim met meta-moderne woorde soos hulle nie maar wat ek graag van albei sal wil weet ... is hoekom die gesprek verstrengel moet raak in sulke "artifisieel intelligente" woorde en dan nog emosioneel mekaar se sterte ook lek - julle wil mens dwing om Bernard J Baars en sulke tjommies tot die gesprek te roep want al hierdie fiksie vra dat julle vrede maak met rede en die 15 sekonde kollig waardeer 🙂
Ek het afgestap van hierdie onderwerp, Charles (J Fourie). My algemene respek vir Hans Pienaar, as skrywer en joernalis, bly onaangetas. Ek het dit geskei van my ervaring van sy resensie-essay, soos ek ook in die laaste sinne van my interaksie met hom te kenne gegee het. Sterkte aan julle albei (en ook aan Serwo-Kroaties, waarin die eerste deel van jou kommentaar skynbaar geskryf is, Charles).