In die rede geval: Waarom die mens mites maak
Charl-Pierre Naudé
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781776172979
1. Inleiding
Dit ly geen twyfel dat die mensdom sigself tans as midde-in ’n rits globale krisisse sien nie, met die dringendste waarskynlik die dreigende ineenstorting van die demokrasie in Amerika. Oor daardie krisis doem die persona van Donald Trump op, een wat net Amerikaanse verbeeldingsvlugte kan oplewer, ’n vermengeling van die ongelooflikste kruhede (urinerende prostitute, skootgrype, kwaksalwery, oranje hare) en die waagmoedigste vredesgebare (etes saam met ’n Noord-Koreaanse diktator). Trump werk op ’n vlak waar flagrante leuens, disinformasie en karaktersluipmoorde volgens meningspeilings minstens 30 miljoen kom-wat-wil ondersteuners gewerf het wat vir hom sal stem al sou hy as ’n agent vir Rusland onthul word.
Na die sluipmoordpoging op hom gaan die land van die samesweringsteorie hierdie situasie net "superhype" – om ’n Amerikaanse woord te gebruik – as ’n dieper krisis as ooit, hoewel skietery op massas mense nou al ingeburger geraak het in Amerika, en Trump self oral verskyn met wapentjies van semi-outomatiese gewere op sy lapelle as beskermheer van die wapenkultuur. Alleen ’n mitologiese benadering om die mites in die volksmond en dié rondom sy eie persoon (wat nou in die volgende maande en selfs jare waarskynlik tot ikoniese status gaan groei) te identifiseer en te ontleed hoe hulle werk, bied ’n manier om sin van die Trump-fenomeen te maak.
Verlede jaar daag ’n sterk moontlikheid op om so ’n ontleding aan te help: Charl-Pierre Naudé se In die rede geval, ’n besonder deeglik en bedagsaam geskrewe oorsig oor die filosofie van Hans Blumenberg tesame met oorspronklike en vermaaklike toepassings op onderwerpe wat Afrikaanse mense besig hou.
Breedweg gesien,1 plaas Blumenberg mites teenoor die rede, veral die rede van die Verligting wat volgens baie denkers in die verlede die noodsaak vir mites vernietig het, of ten minste gereduseer het tot feëverhale en dilettantiese gebruik deur die kunste. Pleks van hierdie rasionalistiese triomfalisme, redeneer Blumenberg, is mythos onontbeerlik vir menslike denke en is dit so verstrengel met logos dat dit nutteloos en teenproduktief is om die een bo die ander te begunstig. Meer vrugbaar is om hulle te herlei na grondmites diep in die verlede in, maar nie na die inhoude nie, eerder na hul funksies, wat gemotiveer is deur ’n eksistensiële angs en die geestesbehoeftes wat dit skep.
........
Naudé bewys ons almal ’n guns. Dis ’n gawe aan Afrikaanse lesers, soos sy ander werk ook gawes is: Hy is ’n “leserlike” skrywer, wat spesiaal moeite doen om jou maklik te laat lees en jou behoeftes soos wat die lees dit skep, vooruitskat.
........
Naudé bewys ons almal ’n guns. Dis ’n gawe aan Afrikaanse lesers, soos sy ander werk ook gawes is: Hy is ’n “leserlike” skrywer, wat spesiaal moeite doen om jou maklik te laat lees en jou behoeftes soos wat die lees dit skep, vooruitskat. Op die vlak van die studeerkamerleek stel hy ons in Afrikaans bekend aan ’n krag in die Europese filosofie wat skynbaar nie eintlik elders gereken word nie (daar is byvoorbeeld geen inskrywing aanlyn oor Blumenberg in die Stanford Encyclopedia of Philosophy nie).
Dis ’n formidabele stuk werk wat my dwing om my eie geloofsbriewe (“credentials”) voor te lê, in hierdie dae van gedwonge verklarings van diskursiewe herkoms (“provenance”). Ek skryf as een van daardie studeerkamerleke, ’n slordige outodidak wanneer dit by filosofie kom, ’n boikotfilosoof wat homself in die voet geskiet het deur filosofie op universiteit op te skop uit protes teen apartheidsapologete.
Maar ook as joernalis, mediawerker, wat my lewe lank beide diep in die veld, soms die oorlogsveld, en in die nagtelike produksiekantore gewerk het om feit van versinsel te onderskei. En vandag as skrywer, ridder van die verbeelding op sy Rosinante, al te doof om te hoor of hy ’n agterryer het. Ek verwag ten volle om iewers Sancho Panza se kat aan die stert beet te hê.
2. ’n Groot afwesigheid
Wat my onmiddellik opval, is dat Naudé, en amper al die resensente oor die boek, nie na die geweldige navorsing wat in verskeie dissiplines al oor mites en die mitologie gedoen is, verwys nie. Van Naudé self sou ’n mens nie ’n groot bespreking kon verwag nie – sy boek is reeds 500 bladsye lank en dit is die vrug van ’n PhD-studie waarvoor hy noodwendig sy fokus moes vernou.
Tog mis ’n mens ten minste ’n sydelingse verwysing na die twee Franse reuse in die studie van mites, wêreldberoemd in hul tyd, Roland Barthes en Claude Lévi-Strauss. Veral wanneer Naudé verklaar: “Weliswaar het vele denkers voor Blumenberg al oor mites geskryf, maar as ’n soort versiersel, ’n sekondêre aspek by die mens. Daar was min begrip vir hoe basies en onmisbaar mitiese denke vir die mens is” (Naudé 2023:17). Barthes en Lévi-Strauss het nou wel nie in die veld van die filosofiese antropologie gewerk nie, maar veel van hul werk was filosofies van aard en word so beskou.
Onder resensente kom Hercules Boshoff die naaste aan ten minste ’n bewustheid van ander werk, “die psigoanalitiese begrip van mite soos gepopulariseer sedert Jung (met sy argetipes wat openbare figure soos Jordan Peterson klakkeloos toepas)”.2
Hierdie erge geringskatting doen vreemd aan, want te midde van die koffietafelboeke met wel soms diepsinnige artikels, is daar talle dokumentêre, etnografiese en etnologiese studies, artikels in die pers en die vloed van intellektueel-populêre aanbiedinge van webwerwe soos Aeon, die Boston Review, Medium, ens. Lesers van my agtergrond en generasie wat graag in mekaar se boekrakke snuffel, sou veral twee werke moes rapporteer as amper aller aanwesig: Roland Barthes se Mythologies3 en Robert Graves se The Greek myths I and II.4 En in later jare Karen Armstrong se reeks werke oor die geskiedenis van godsdienste, insluitende A short history of myth.5
Geplaas langs Mythologies van Barthes, is Blumenberg se werk ’n voortsetting van ’n soortgelyke, onrustige soeke na die kontinuïteite en diskontinuïteite tussen antieke mites en hedendaagse populêr-kulturele verskynsels wat Barthes se poëtiese essaytjies onderlê. Naudé kom met iets soortgelyks aan Mythologies met sy reeks toepassings van Blumenberg se metode (as daar so iets is) op hedendaagse verskynsels. Hy kyk na byvoorbeeld die Oedipus-mite in Freud, die gedig “The road not taken” van Robert Frost, Etienne Leroux en die bikinidraers van Onrus, en die rel tussen Dan Sleigh en Patric Mellet in soms vermaaklike en altyd oorspronklike pogings.
Barthes se teoretiese werk verskaf ondersteuning vir Blumenberg. Enigiets kan mities wees, verklaar Barthes, ’n objek “adapted to a certain kind of consumption, laden with literary self-indulgence, revolt, images, in short with a type of social usage that is added …” (Barthes 1980:109) En, “Men do not have with myth a relationship based on truth, but on use: they depoliticise according to their needs” (Barthes 1980:144). Die inhoud van ’n mite is nie op dieselfde vlak van belangrikheid as sy funksie nie, sê beide Barthes en Blumenberg, en die vraag is in watter behoefte binne ’n sekere tydsgewrig hierdie mite voorsien.
Veral een rubriek deur Barthes, “Neither/nor criticism” (ek gebruik maar die Engelse titel) lig toe hoe nuttig Blumenberg hierdie funksionaliteit verder ontleed: Waar Barthes elders na banale spektakels soos rofstoei of die Romeinse gladiator getransformeer in die vegvliegtuigloods kyk, gaan dit in hierdie essay oor die funksie van ’n komposisionele element, ’n mitiese simmetrie wat in die struktuur van “neither/nor criticism” (die Frans “ni … ni” vat dit mooi klankmatig vas) onthul word.
Barthes het dit terstond herlei na die bourgeoisie se versugting na gelykmatigheid, vredigheid, stasis en uiteindelik ’n kokonagtige onttrekking van die wêreld. Dit is in die 1950’s geskryf, die dekade van die groot ontnugtering in Europa soos wat intellektuele moes worstel met die besef dat die Verligting uitgeloop het op die ergste menseslagtings en volksmoorde ooit, en Barthes het homself laat verlei na die doodloopstraat van die klassestryd as die enjin van die samelewing. Daarteenoor kon Blumenberg in Duitsland met sy wirtschaftswunder ’n nuttiger, meer universele diskursiewe meganisme opstel wat Naudé as “mitewerking” vertaal.
Waar Barthes ’n uitvoerige ontleding aan die hand van die semiologie produseer, stel Blumenberg die verhouding en spanning tussen mitewerking en logos voorop, wat Naudé resiproseer met die nuttige vertaling “redewerking”. Vir Blumenberg is hierdie redewerking iets taamlik wyds, en sluit dit die wetenskappe in, terwyl Barthes later sy semiologie van die mite beskryf as die studie van alles waaroor dit nie in die wetenskappe gaan nie.
........
Mitewerking gaan nie oor die mites self nie, of die inhoud nie, maar die denkstrukture (’n mens sou in ’n ander verband kon praat van pseudostrukture) wat van hedendaagse inhoude mites of mitewerking maak.
........
Mitewerking gaan nie oor die mites self nie, of die inhoud nie, maar die denkstrukture (’n mens sou in ’n ander verband kon praat van pseudostrukture) wat van hedendaagse inhoude mites of mitewerking maak. Mense verlaat hulle op hierdie strukture wanneer gewone redelikheid nie meer werk nie. Dit is wanneer die rede “defunksioneel” (my term) en nie meer voorsien in ’n behoefte aan wat Naudé vertaal as “sinrykheid” en wat Barthes beskryf met die semiologiese term signification nie.
Sinrykheid kom as redelik voor, maar is gebaseer op nieredelike “meganismes of oorredingsfigure”. Wanneer Naudé ’n paar noem, kry ’n mens ’n gevoel vir ook die metodologiese wat Blumenberg se denke oor mites omvat:
Sinrykheid verskyn dikwels in die gedaante van effekte wat “gelyktydig” gebeur en dan is die gelyktydigheid ’n teken van betekenisvolheid. Dit verskyn ook as die onderliggende/verborge identiteit van uiteenlopende verskynsels of handelinge waarin die onthulling van die gedeelde identiteit betekenisvol is. In ander gevalle beklemtoon sinrykheid die geslotekringpatroon in verskynsels waarin betekenis ’n ononderdrukbare tuiskoms geniet. Sinrykheid verskyn ook as herhalings/terugkeer van iets wat “dieselfde” is, waarin die herhalings die teken is van betekenisvolheid. Sinrykheid manifesteer verder ook by die wisselwerking tussen weerstande, wat dan lei tot ’n verhoogde waarde van ’n figuur of ’n verskynsel weens die uitwissing van daardie weerstand. Sinrykheid stel verder dikwels iets as afgesonder of alleenstaande voor om daardie “iets” se werklikheidsgraad op ’n spits te dryf (Naudé 2023:141).
Wanneer dit kom by Graves se projek, om alle voorkomste en variasies van die antieke Griekse mites te versamel en te vergelyk, val dit eerstens op hoe sy idiosinkratiese benaderings wat daartoe gelei het dat hy oënskynlik nie meer in die akademie “gereken” word nie, Blumenberg se denke vooruitloop. Iets daarvan blyk reeds in die sardoniese opmerking: “Greek mythology was no more mysterious than are election cartoons today” (Graves 1973:22); en “[G]enuine myths may be found in the least promising stories, and the fullest or most illuminating version of a given myth is seldom supplied by any one author.”
The lives of such characters as Heracles, Daedalus, Teiresias and Phineus span several generations. They are titles, rather than the names of particular heroes. Yet myths, though difficult to reconcile with chronology, are always practical, they insist on some point of tradition, however distorted the meaning may have become in the telling. (Graves 1973: 12–3)
Hierdie passasies bevat vermoedens oor die “huge disorganized corpus of Greek mythology” wat Graves probeer teoretiseer as “ikonotropie”, die verdraaiing van mites, hetsy toevallig of doelbewus, terwyl Blumenberg ’n meer tegemoetkomende filosofering oor die verband tussen ou en nuwe mites, tradisie en historiese tydgebondenheid volg. Dit loop uit op die begrip van “reokkupasie”, wat herinner aan Graves se “insist(ence) on some point of tradition)” as eie aan mites.
Die antropoloog Franz Boas verskaf dalk die beste parallelle beskrywing: “It would seem that mythological worlds have been built up, only to be shattered again; and that new worlds have been built from the fragments.”6 Waarop ’n mens Naudé moet laat byvoeg: “Blumenberg se studie handel egter in die eerste plek oor die proses van oordrag van mitiese materiaal oor die tye heen, en nie net van mitiese materiaal nie, maar van die hele ratwerk van denke wat sistemies daarmee saamhang” (Naudé 2023:454).
3. Onderskeid en identifikasie
Dit bring ’n mens uit by die eerste haakplek in ’n evaluering vanuit my spesifieke leunstoel: Hoe onderskei ’n mens tussen mitewerking en redewerking in so ’n “ratwerk van denke wat sistemies daarmee saamhang”? As ’n diskoers “sinryke” (lees mitewerkende) uitinge met “redelikes” vermeng, waar trek jy die strepe van die legkaartstukke? Is logika redewerkend, of moet ’n mens dit liewer as mities beskou, iets wat net “geeks” en “eggheads” in die oë van die gepeupel gebruik?
In die Westerse filosofiese geskiedenis is een deurlopende werkswyse die Sokratiese. Blumenberg se benadering skep die gevaar dat die Sokratiese metode self mitewerkend kan voorkom, selfs as ’n spektakel waarin die slagoffer daarvan as ’n soort held uit die stryd kan tree – kyk maar net na Trump, wie se gewildheid styg hoe meer hy aan die Sokratici van die media onderwerp word. Daar is inderdaad etlike soorte rasionaliteite en/of diskursiewe verskynsels, soos retoriek, en elkeen word verder gekompliseer deur die performatiwiteit van taal na aanleiding van die filosowe JL Austin en Ludwig Wittgenstein se invloedryke werk.
Vanuit Blumenberg se perspektief van mites se funksionaliteit is daar hedendaags soveel konteksgebonde funksies dat hulle nie meer optekenbaar of ontleedbaar is nie. Blumenberg se breë sambreel daaroor is dalk self ’n mitewerkende greep, iets soortgelyk aan die “strawman fallacy”: Dit plaas hom in ’n retoriese posisie waarin hy hierdie hele stel denkverskynsels saam kan maneuvreer eerder as analiseer.
Wittgenstein se weergawe van die Sokratiese metode, “language games” of “Sprachspiel” (wat beter klink as die lompe Afrikaans, “taalspelle”) is daarop gerig om filosofiese taal uitmekaar te speel en te wys hoe dit berus op “groot woorde” en allerlei taalverwarrings. Waar hy in sy “eerste filosofie” op soek was na atomiese proposisies waarvan hy oortuig was dat dit in die wêreld gesetel was, met die onsegbare buite taal vir ewig onsegbaar,7 het hy in sy tweede filosofie daarmee weggedoen en alle betekenis as die uitkoms van gebruik gesien, met taal se grense nou intern, vol gate soos die soort kaas wat jy in strokiesprente kry.8
’n Mens kan die ooreenkomste met Blumenberg probeer naspeur, maar met so ’n metode soos Wittgenstein s’n is dit om ’t ewe wat mitewerking en wat redewerking is. Al wat moontlik sal oorbly van ’n soeke na ooreenkomste, is die identifikasie van Blumenberg se benadering as ’n binêre ontleding: mitewerking/redewerking, met al die lastighede wat binêre veroorsaak.
Naudé skep uit die staanspoor self ’n eenvoudige taalspel met die titel, In die rede geval. Die leser word genooi, al is dit net omdat ons hom almal in die eerste plek as digter ken, om met die dubbelsinnighede te speel. Vir my gevoel is die resultaat egter ’n soort suspensie, waarin jy as leser die enkele ongrammatikaliteite oor die hoof moet sien sodat jy kan “saamspeel”, want die meeste van ons tel ’n boek met welwillendheid op as mens ’n paar honderd rand daarvoor betaal het.
Niks verhoed ’n mens dan om hierdie spel as ’n geval van mitewerking te sien nie, as die najaag van die “sinryke titel” wat elke kreatiewe stuk werk veronderstel is om in die mitiese wêreld van die Afrikaanse lettere te hê – ’n titel wat dan dalk iets meer sê oor homself as wat Naudé daarmee bedoel het.
........
Die internet is reeds ’n veel groter biblioteek van mitewerking in al sy honderde, selfs dalk duisende, formate en vergestaltings: meme, ikone, emoji’s, e-posse, plasings, TikToks-video’s, ens.
........
Van die kant van mite gesien is daar ’n soortgelyke probleem: dat alle diskoers ’n uiting van mitewerking op die een of ander vlak kan wees. Die eerste struikelblok is dat die rekords oor mites so omvangryk was – Graves noem dat daar in die antieke tye se argiewe aanduidings is dat ’n ontsaglike aantal geskrifte oor die vroegste mites weens allerlei faktore verlore gegaan het. Die internet is reeds ’n veel groter biblioteek van mitewerking in al sy honderde, selfs dalk duisende, formate en vergestaltings: meme, ikone, emoji’s, e-posse, plasings, TikToks-video’s, ens.
Dit alles is ’n verdere gevolg van performatiwiteit en Sprachspiel. Graves probeer hierdie struikelblok omseil deur na “genuine myths” te soek, terwyl Barthes praat van “real myth”, ’n frase wat ook by Blumenberg voorkom. Graves maak in The Greek myths se inleiding ’n lysie van goed wat ons asseblief tog nie as mites moet sien nie: filosofiese allegorie, etiologiese verduidelikings, satire, sentimentele fabels, geborduurde geskiedenis, troebadoerromanses, politieke propaganda, morele legendes, anekdotiese humor, teatrale melodrama, heroïese sages en realistiese fiksie (Graves 1973:12).
Blumenberg sou kon antwoord dat hierdie almal gevalle is van funksies wat deur mites verrig word, maar as net die funksie tel, sou ’n mens moet sê in die huidige tydsgewrig gaan dit net om die tegnologie wat die funksies bemoontlik of in geheel dra: Mense maak in die eerste plek tiktoks net om op TikTok te kom. Tegnologie as funksie en einddoel, en saam daarmee die ontsaglike globale onophoudelike inkomstestrome wat dit onderlê, suggereer ’n heel ander manier om na mites te kyk. Voorlopig daar gelaat.
4. Mens, dier en diermens
Die eerste van verskeie sleutels tot Blumenberg se filosofie is sy siening dat mites geborgenheid verskaf het aan die mens toe hy sy uniekheid teenoor ’n ongenaakbare wêreld ontdek het. Mites het mense se eksistensiële angs en angs oor hul menslike identiteit gesus, en doen dit vandag nog. ’n Tweede is dat mites as strukture en “titels” (à la Graves) nie vergaan nie, maar tot nuwe funksies in die vervulling van nuwe behoeftes uit die argief laat herleef word, in wat Blumenberg reokkupasies noem.
As funksionaliteitsteorie in die breë gaan Blumenberg s’n mank aan die gebreke van dieselfde teorieë in dieselfde klas. Soos die Stanford Encyclopedia of Philosophy dit stel:
Functionalist theories of all varieties – whether analytic or empirical, role or realizer – attempt to characterize mental states exclusively in relational, specifically causal, terms. A common and persistent objection, however, is that no such characterizations can capture the phenomenal character, or “qualia”, of experiential states such as perceptions, emotions, and bodily sensations, since they would leave out certain essential properties of those experiential states, namely, “what it’s like […] to have them”.9
Naudé raak aan hierdie kwessies in ’n bespreking van fenomenologie, maar los dit nie op nie. Bygesê, of ’n mens dit as “’n styl van bevraging” of metodologie sien, is dit as ’n beredenering van ’n situasie met die doel om funksies toe te lig nog te universalisties om die individuele ervaringsverskille te omvat (Naudé, 42). (Sien my bespreking van fenomenologie in afdeling 11, “Sosiale verskynsel”.)
’n Ander funksionalis, Wittgenstein, sluit hierby aan. In sy kritiek op James George Frazer se kompendium oor mitologie oral in die wêreld, The golden bough, skryf hy dat die belewenis die funksie is, en belewenisse verskil van mens tot mens. Waar die wetenskappe sedert die vroegste tye ontwikkel het en steeds vooruitgaan, is die magiese (en godsdiens, en implisiet die mitiese) staties, en belewe ons dit vandag nog op dieselfde manier as mense van alle tye.10 Wanneer werkers mekaar op WhatsApp waarsku oor reuse slange in sekere strate, is dit dieselfde vorm van belewenis as oermense wat groot vure teen die “wesens” om hulle bou.11 Wat verskil, is die persoonlike inhoud, en soms sal die inhoud voorop gestel moet word as jy verby hierdie tyd-ruimte-gebonde aspekte wil kyk en ’n noemenswaardige fenomenologiese ontleding wil doen.
Iemand wat wel so iets aangepak het, is Lévi-Strauss. In die essay “The structural study of myth” stel hy ’n metode voor aan die hand van die alombekende Oedipus-mite, wat hy meen in verskeie gestaltes elders ter wêreld ook voorkom. Hy stel ’n tabel van ooreenkomste, verskille en parallelle op, maar dit vereis driedimensionele modelle, en hy eindig dan met die opmerking (die stuk is in die 1950’s geskryf): “[T]his in turn requires a spacious workshop, a commodity particularly unavailable in Western Europe nowadays … the system has to be replaced with perforated cards, which in turn require IBM equipment, etc” (Lévi-Strauss 1967:226).
Vandag word rekenaars – met datakapasiteit gelyk aan dié van dosyne werkswinkels – inderdaad in antropologie en ander geesteswetenskappe (die “digital humanities”) ingespan en speel KI waarskynlik reeds ’n goed ingeburgerde rol.
In ’n ander essay, “The effectiveness of symbols”, wat gehelp het om hom die vader van strukturalisme te maak, verskaf Lévi-Strauss groter steun aan Blumenberg: “A compilation of known tales and myths would fill an imposing number of volumes. But they can be reduced to a small number of simple types if we abstract, from among the diversity of characters, a few elementary functions” (Lévi-Strauss 1967:199).
Om mites as ’n soort konseptuele tegnologie te benader help om genoemde lastighede by Blumenberg aan te spreek. In van die vroegste grottekeninge, soos by Lascaux en ander grotte in Suid-Frankryk in dokumentêre soos dié van Werner Herzog,12 kan ’n mens die aanvang van ’n konseptuele tegnologie begin postuleer. Die mens het ontdek dat hy verskillende dele van verskillende wesens bymekaar kan voeg, in ’n taktiele, fisiese produk gebaseer op elemente in geestesoog, drome of hallusinasies. Om die nuwe kreature verder te onderskraag is stories of mites geprakseer.
Onlangs is daar ook boeiende werk oor die evolusie van die menslike brein gedoen, waarin Neandertal-skedels met dié van homo sapiens vergelyk is. Steven Mithen van Reading-universiteit se hipotese is dat Neandertals taal kon gebruik, maar net op ’n “ikoniese”, nie-arbitrêre manier – konsep, klankevorm en voorwerp het dus direk verbind gebly. Sapiens kon egter ekstra breinlobbe ontwikkel wat die maak van metafore moontlik gemaak het (of hom dan konsepte bymekaar kon laat dwing soos in die vorige paragraaf).13
5. Skrik of grap
Lévi-Strauss se denke stel ander uitdagings aan Blumenberg/Naudé. Gaan ’n mens volgens hulle terug in die tyd, kom jy dan uit by ’n soort oerreokkupasie, of oerokkupasie, of grondmite. Blumenberg probeer die noodwendige spekulasie wat so iets sou behels – want daar is natuurlik geen bronne om te raadpleeg oor die heel eerste mites nie – reduseer tot iets onteensegliks – wat Naudé, dalk ’n effe ironies, die “groot skrik” noem.
Soos wat die mens uit die woude na die savanne daal, skryf Blumenberg, word hy gekonfronteer met ’n oormaat aan eise en uitdagings, die “absolutisme van die werklikheid”, die totale ongenaakbaarheid van ons leefwêreld wat geen saak het met jou as mens se oorlewing nie en waarin jy outomaties en onbewustelik net as nog hulpbronne vir ander lewensvorme dien. Die meeste wat ’n mens met redelike sekerheid oor daardie oertye kan sê, is dat daar op die een of ander tydstip ’n gewaarwording hieroor moes ontstaan het.
Die mens het sigself as iets afsonderlik van die natuur ontdek, gepaardgaande met ’n gevoel van ontsetting en ontreddering. ’n Mens kan maar net saamstem – hetsy as gevoel of konsep is dit deel van die geestesontwikkeling van enige mens, tot vandag toe nog, iets wat jy die een of ander tyd moet oorkom om jou varkies bymekaar te hou. Volgens Blumenberg was iets nog meer basies aan die gang: Waar ons ons vandag na die bottel wend of boeke oor naarheid skryf, het dit die oermens tot bewustheid omtrent homself, en dus denke, gedryf. Timeo, ergo sum: Ek skrik, daarom is ek.
Wat ons deesdae ná Sartre, Camus, Beckett et al geredelik kan sê, is dat mense in die plek van die groot skrik hulself sus deur hul lewenservaring as deel van die groot absurde te konseptualiseer. Dit kan eweseer ’n fatalisme skep: dat daar iewers ’n verklaring sal wees, óf magies óf rasioneel, waarvoor ’n mens maar moet wag terwyl die lewe voortgaan. En wanneer die jongste weergawes te voorskyn kom, kan jy dit geniet, afkraak of oorvertel soos wat ons vandag nog maak. Blumenberg moes dus ook oor die “groot grap”, of die eerste een dan, gefilosofeer het.
Hoe dit ook al sy, volgens Blumenberg skep hierdie epogmakende “groot skrik” behoeftes aan sekere denkbeelde – die teelaarde vir mitewerking wat dan tot die skep van gerusstellende stories lei. Naudé skryf op LitNet in ’n essay gebaseer op sy PhD-studie dat die mens, nadat hy in aanraking gekom het met die absolutisme van die realiteit, oorlewing moes bedink. “Hierdie oorlewingsnarratiewe sou van plek tot plek verskil wat inhoud betref, maar almal sou een oorkoepelende funksie gehad het: om die mens se bestaan aan homself te legitimeer na die verlies aan ’n natuurlike bestaan.”14 Naudé noem dit die “verlies aan Eden”.
Hierdie prentjie strook nie met die feite soos opgelewer deur navorsing nie. In die eerste plek, soos Lévi-Strauss dit beskryf, was die oerwoud geen Eden nie. In die artikel “The sorcerer and his magic” skryf hy: “Countless perils lurk in the bush: torrential rivers, the somewhat improbable danger of encountering a wild beast – or more readily pictured … an apparently harmless animal which is the incarnation of an evil spirit of the waters or forest” (Lévi-Strauss 1967:163).
Maak dit saak waar die mens se ontsetting oor die nare natuur begin? Blumenberg dink wel so. Hy beredeneer ’n scenario waarin die horison van die savanne ’n kardinale rol speel om toekomsvrese te skep, en reken dan die mens het daarom op twee bene gekom om anderkant die horison te sien (Naudé 2023:46–7): “Uit hierdie feit kan afgelei word dat die menswese ’n uitsonderlike drang tot oorlewing getoon het”, wat dalk nuwe lig werp op dansende bere en boksende kangaroes.
Lévi-Strauss se werk, gebaseer op sy eie veeleisende navorsing, belewenisse en ontberinge en dié van ander antropoloë in die veld, stel iets gans anders voor as ’n groot skrik soos wat ’n 20ste-eeuse eksistensialis sou ervaar: ’n wêreld van die magiese, wat in die eerste plek in jou eie liggaam begin. In etlike essays in Lévi-Strauss se versameling Structural anthropology blyk dit oorvloediglik dat die grootste krisis vir “primitiewe groepe” eenvoudig siektes was, waarvan ’n groot deel psigosomaties is, die groot skrik wat jou eie liggaam is. Elke groep, hoe klein ook al, het ’n sjamaan gehad voor dit ’n leier gehad het. Genesing gaan gepaard met pyn en ontbering deur die sjamaan self en is ingebed in rites en prosedures waaraan almal in die groep soms deelneem – en waarin daar telkens ’n beroep op mites is, maar waarin hulle slegs ’n onderdeel is en nie onontbeerlik vir die genesing nie.
Teen hierdie agtergrond lyk Blumenberg se benadering erg reduksionisties; Lévi-Strauss skryf inderdaad dat die patologiese simboliek by “natives” oorvloedig is, iets wat ’n Blumenbergiaanse reddende funksionaliteit sou kelder. In Lévi-Strauss se ander opstelle sal die oningeligte leser gou onder die indruk kom van die geweldig komplekse kulture van “primitiewe” mense, waarin eksistensiële vrese wel ’n invloed sal hê, maar kwalik op die epogmakende vlak wat Blumenberg bedoel.15
........
[I]n die Eden wat Naudé oproep, het mense saam met diere geleef en een van die eerste kenniselemente wat hulle sou ontwikkel het, sou wees as deel van ’n hiërargie, nog nie aan die boonste punt van die vlesige wêreld nie, en op ’n laer rang as sommige van die magiese en bonatuurlike wesens wat deel van hul belewenisse was.
........
’n Ander saak uit die natuurkunde om te oorweeg is die mens se status as die toppunt-roofdier, hoog op in die voedselketting. Blumenberg sien dit as bydraend tot die eksistensiële krisis van die oermens: “Our ancestors ‘came close to not having control of the conditions of their existence’ because they had become – as we remain – a species without a clearly defined biological niche.” Maar in die Eden wat Naudé oproep, het mense saam met diere geleef en een van die eerste kenniselemente wat hulle sou ontwikkel het, sou wees as deel van ’n hiërargie, nog nie aan die boonste punt van die vlesige wêreld nie, en op ’n laer rang as sommige van die magiese en bonatuurlike wesens wat deel van hul belewenisse was.
Hierdie soort hiërargie (onder diersoorte) bestaan volgens bioloë al sedert die Kambriaanse tydperk, 500 miljoen jaar gelede. Daar is ook die teorie dat mense se toppuntroofdierposisie ontwikkel het omdat hulle hul diëte moes diversifiseer nadat die aanbod aan megafauna – op Blumenberg se savanne – begin verskraal het. Verdere diversifisering het gekom toe mense 40 000 jaar gelede honde begin gebruik het om mee te jag, wat sou gelei het tot die vergroting van hul breine, en dat dit die rede was vir homo sapiens se “oorwinning” oor die Neandertals.16 Blumenberg steek vas by ’n gebrek aan definisie terwyl daar eintlik eksponensiële evolusionêre sukses was wat juis aan sapiens veel groter beheer oor sy omgewings verskaf het as ander menssoorte.
6. Onbewuste/onderbewuste
Lévi-Strauss werk ook oorvloediglik in ’n veld wat oënskynlik nie regstreeks in Blumenberg/Naudé aan bod kom nie: die onbewuste/onderbewuste/voorbewuste. In navolging van Freud, toe nog relatief “nuut” en revolusionêr in die impak van sy aardverskuiwende praktyke en teorieë, praat Lévi-Strauss van die onbewuste wat strukturele wette afdwing op ongeartikuleerde psigiese elemente (Lévi-Strauss 1967:199), en ook van individuele komplekse by mense.
Laasgenoemde kan beskryf word as verpersoonlikte funksies, ook mities in wese à la Blumenberg. Elkeen van ons het sy eie stel rasionalisasies vir ons sondes en ellendes, wat ’n mens rondom bepaalde idiosinkratiese of patologiese kenmerke sou kon groepeer en wat bepaald as ’n persoonlike mitologie beskryf kan word.
Verderaan, in die essay “The effectiveness of symbols”, haal Lévi-Strauss vir Freud aan wat voorspel dat sy teoretiese bespiegelinge oor sulke patologieë mettertyd vir fisiologiese en neurologiese ontdekkings sal wyk (Lévi-Strauss 1967:197). Dit is inderdaad die geval in die moderne sielkunde, maar die huidige konsensus, soos uitgedruk in (mitewerkende?) konsepte soos spektra, is dat hierdie patologieë ’n verskeidenheid openbaar wat reeds moeilik is vir funksies soos diagnose – tot so ’n mate dat baie sielkundiges diagnose as vrugteloos en selfs teenproduktief beskou en daarvan wegstuur.17
Die oormatige klem op die “groot skrik” en die afgrond tussen die menslike bewussyn en “die absolutisme van die realiteit” herinner aan Jacques Lacan se herbewerking van Freud se filosofie/teorieë, waarin die triade van die ego, superego en id plek maak vir die triade van die Imaginêre, die Simboliese en die Reële, en ook aan Slavoj Žižek se filosofie waarin die “afgrond” dalk groter aansluiting by Blumenberg vind. Vanuit ’n Lacaniaanse hoek gesien is Blumenberg se “absolutisme” nie so absoluut nie, want dit omvat nie die voortstuwende, ongevormde, potensieel selfvernietigende, eroties onbeperkte en verorberende kragte binne elke mens nie.18
Soos Lacan en Freud aandui, is hierdie “afgrond” synsbepalend vir elke mens en het dit op sy mees basiese te doen met die trauma van die baba se verlies aan die moeder se totale versorging. Dit ondermyn die Blumenberg-scenario verder, want dit is veel eerder wat oermense met vandag se mense vergelykbaar maak: dat ons soogdiere is wie se gebroedsels in hulpeloosheid gebore word en volwassenheid in ’n rits fisiologies-sielkundige traumas bereik. Dit koppel ons inderdaad aan ander soogdiere, en dit is heeltemal moontlik dat al die ervaringe wat Blumenberg aan oermense toedig as uniek aan hulle, ook by diere voorkom. Enigiemand wat saam met ’n hond leef, sal weet dat hulle ook vele “menslike” angste en vrese ervaar.
Die menslike ego/selfbeeld/ek is ’n veel sterker kandidaat vir die oerbedding waarin mites gegroei het. As deel van die Lacaniaanse Imaginêre is die mens se ego ’n noodsaaklike fabrikasie, met die funksie om hom die optimale aggressie en persoonlike krag te gee om aan die daaglikse eise van die vorm van lewe wat hy bedryf te voldoen. Wanneer dinge psigies vir jou verkeerd loop, is die gevolg dikwels ’n grootheidswaan – in vele kultuurprodukte is die Napoleon met die hand in sy pajamas inderdaad die mitiese standaard in beskrywings van geesteskrankes.
’n Mens sou verder kon bespiegel dat ander soogdiere ook ’n selfkonsep het wat in ’n noodsituasie tot ’n buitengewone omvang moet groei om hulself in hul eie Dawid-teen-Goliat-situasies tot die dood toe te verdedig – iets wat in hul ekwivalent van drome voortgesit kan word op vlakke wat vergelykbaar sou kon wees met die mitiese by die mens.
’n Verdere nuttige denktrant van Lacan is die “ander” teenoor die “Ander”. Eersgenoemde is die ego en sy alter ego’s (soos in die siening van ubuntu as “lewe deur andere”), en laasgenoemde alle bronne van gesag, wat volgens Lacan ’n Reële aspek ook het, en sigself dus kan manifesteer as ’n skrikwekkende, onderdrukkende en afgrondelike fantasme.19 Die beste voorbeeld is waarskynlik die “big brother” wat die “Big Brother” van George Orwell word.
Die hedendaagse mites van die superheld met die dubbele lewe wat in die meeste gevalle ’n beteuterde, anoniem-magtelose lewe lei, en dan dikwels in ’n David-teen-Goliat-stryd teen ’n magtiger wese beland, is goeie voorbeelde van hierdie ander/Ander-verwisseling in miteskepping. Die groot aantal van hierdie figure wat ’n oneindigheid funksies vervul, kan wel gereduseer word tot behoeftes, à la Blumenberg, dikwels van die vervreemde en geatomiseerde enkeling van vandag, wie se grootste vrese draai om sy eie veiligheid en sy onvermoë om te voldoen aan ewe mitiese modelle van die ideale verbruikersburger. Daar is ook dikwels verwysings na vroeëre mites, soms verskuil, soms openlik, maar die wetenskapfiksionele aspekte – om maar net een groep aspekte te noem – oordonder hulle sodanig dat ’n mens net met groot moeite en intellektuele kontorsies noemenswaardige sosiale funksies vir sulke gereokkupeerde mites kan uitlig.
7. Feitewerking
Om terug te keer na Lévi-Strauss: Sy werk bring ook die hoender-en-eier-probleem na vore van wat die eerste was: die mite of die rede. Tydens genesende rites is die rol van die inkantering van mites duidelik om ’n soort kosmiese dimensie te verleen aan die intimiteite van psigosomatiese bewerkinge, maar heel verrassend, ook ’n rasionele dimensie. Lévi-Strauss beskryf in “The effectiveness of symbols” hoe die Wintu-dialek in Kalifornië ’n onderskeid tref tussen groepe werkwoorde wat “bespiegelend” van aard is en dié wat “kennismakend” is. Die bonatuurlike, wat mitewerking insluit, word met kennismakende werkwoorde verbind, en nie met bespiegeling nie (Lévi-Strauss 1967:174).
Aan die een kant sou dit steun kon verskaf vir die verstrengeling van mitewerking en redewerking, maar aan die ander kant druis dit teen Blumenberg in wanneer hy volgens Naudé aanvoer “dat die mens vanuit ’n beginsel van ontoereikende rede sy bestaan karteer” (Naudé, LitNet). Dis eerder dat hy vanuit ’n beginsel van ontoereikende mitewerking sy bestaan karteer. In “The sorcerer and his magic” blyk ’n aansluitende insig van Lévi-Strauss: dat sjamane dikwels terdeë bewus was daarvan dat hulle met hul rites en kitskure die ander mense ’n rat voor die oë draai (Lévi-Strauss 1967:174). Die uitdrukking wat so modern voorkom, “Ag, dis net ’n mite”, is so oud soos die mitiese berge. Sjamane was bedrewe manipuleerders van mites, en moes dit wees om sukses te behaal in die gesondmaking van hul “pasiënte” (Lévi-Strauss 1967:196).
Dit is onwaarskynlik dat dieper denke oor mites sou aanleiding gegee het tot “meer rasionele” voorskrifte vir vrugbare denke. Wat eerder aan die gang was, sou ek “feitewerking” wou noem. Die agnostiese sjamaan is skepties oor die mites wat hy mense laat glo, omdat hy kan sien dit kom nie in sy omwêreld voor nie en kan ook nie pragmaties verklaar word nie. Feitewerking (wat iets anders is as feitestelling, wat vandag so onbetroubaar is weens die oorvloedige vervalsing van “alternative facts”, ens) is dan die proses van konsensusontwikkeling deur die eeue en millennia van pragmatiese onteenseglikhede.
Omdat dit ’n inkrementele proses is, beteken dit geensins die einde van mites of mitewerking nie. Een manier om ’n mite aan nuwe feite of nuwe uitdrukkingswyses te laat voldoen, is deur dit aan te pas of te verwring – die ikonotropie waarvan Graves praat. Dit verklaar waarom daar so baie Griekse mites is, met so baie weergawes; vir Blumenberg is die belangrike dat die funksie dieselfde bly en dat reokkupasie plaasvind. Maar Graves bied sterk getuienis aan van feitewerking wat die funksie heeltemal verander en sydelings laat verskuif; nie net kelder dit enige reokkupasie nie, maar dit maak dit glad nie ’n faktor nie.
Graves beskryf in sy inleiding tot The Greek myths naamlik hoe nuwe berekeninge oor die maan se omswerwinge bepaalde revolusionêre ontwikkelinge tot gevolg gehad het. Dit is teen die agtergrond van antropologiese kennis oor die matriliniêre organisasie van Griekse gemeenskappe van sowat 10 000 tot 15 000 jaar gelede af tot voor die migrasie/invalle van Indo-Europese (Ariese) groepe sowat 6 000 jaar gelede. Rites gebaseer op die seisoene was veral gerig deur die bewegings en fases van die maan, en hul ooreenkomste met die menstruasiefrekwensies van vroue (rondom elke 28 dae); aanvanklik was daar byvoorbeeld 13 maande in die Grieks-Mediterreense jaar, en die Westerse week is vandag nog ’n kwart van so ’n maand, naamlik sewe dae (Graves 1973:13–20).
Die koningin van ’n stamgroep het ’n koning naas haar laat regeer, en hy moes na ’n jaar tydens ’n ritueel sterf. Dis te verstane dat mans hulle hierteen verset het. Eers is ’n seun as medeheerser aangestel, en sy offerande is mettertyd met dié van diere, veral bokke, vervang. Feitewerking het ingetree toe die verband tussen inseminasie tydens seks en swangerskappe ontdek is en mettertyd konsensus geword het. Die astronomie/astrologie is aangepas om die koning ’n langer tydperk te gee om te regeer aan die hand van die sameval van langtermynlunasies en sonseisoenale periodes. Dit is oor die millenia herhaal toe ’n opkomende bedryf, die protowetenskappe, meer akkurate berekenings gedoen het.
Na aanleiding van Graves kan ’n mens dit stel dat al hierdie sosiale maneuvers hul neerslag in die voortdurend aangepaste mites in die uitoefening van ikonotropie gevind het. Toe konings uiteindelik oorneem en hul manlike aggressie tot al beter georganiseerde strooptogte elders en uiteindelik imperiale leërs lei, was die era van die mites (die domein van die koningin en haar priesters) verby en het dié van die epiese (die domein van die digter Homeros) begin (Graves 1973:20‒1).
Feitewerking is ook ingebed in Wittgenstein se benadering. Hoewel hy dit stel dat die wetenskappe en die magiese bloot twee verskillende modusse van wees (Duits: Sein) is, is die statiese aard van die magiese afwesig by eersgenoemde. Dit is ’n ontwikkelingsproses, met geen ommekeer moontlik nie: “Science is based upon […] theories about the world, and there is thus a development inherent to science as those theories are revised in response to the world [...] [O]ver time, one gets better at working with the world [my kursivering]” (Wittgenstein 2018:151).
Waar ons die konfrontasie tussen feit en fantasie, of die werklikheid en mite, as iets modern beskou, was dit van die vroegste tye af aanwesig.
8. ’n Onredelike wetenskap
Iets waarop ’n mens moet wys – wat dalk die afwesigheid van ’n indringende behandeling van antropologiese kennis deur Blumenberg verklaar – is ’n skeptisisme teenoor die wetenskappe, weliswaar net seker aspekte, maar nogtans tekenend van gebrekkige ontleding. Blumenberg se twyfelagtige gebruik van oermense se kwansuise omstandighede herinner aan Alan Sokal se aanklag in die 1990’s teen intellektuele wat wetenskaplike materiaal in metafore en ander stylfigure gebruik sonder dat hulle dit behoorlik verstaan of navors.20
Blumenberg se gebruik van oermense se kwansuise behoeftes lyk alte veel of dit uit ’n populêre artikel in Der Spiegel kon gekom het. So ook sy gebruik van “Darwinisme” in ’n ander sleutelkonsep, “die Darwinisme van woorde”. ’n Belowende idee word gekompromitteer deur die feit dat “Darwinisme” ’n uitgediende begrip is, behalwe weer eens in die populêre pers. Voorts is Blumenberg en Naudé se toepassing gefokus op ’n eweneens mitewerkende simulakrum van sodanige “Darwinisme”, gebaseer op die “survival of the fittest”-tema, wat ook die basis van die gediskrediteerde Naziagtige leer van sosiale Darwinisme is.
Die probleem is dat die wetenskap van evolusie, as daar so iets in afsondering bestaan, reeds ver anderkant Darwin gevorder het. Lewensvorme oorleef lankal nie meer net omdat hulle die sterkste of mees geskikte vir ’n bepaalde ekologiese nis is nie – daar is ’n magdom faktore aanwesig, waaroor ’n mens jou in akademiese werk moet uitlaat eerder net as jy ’n studie van ’n hele aantal velde gemaak het, bv die genetika, ekologie, mikrobiologie, argeologie, paleontologie, ens.21
Ter verdediging van Blumenberg/Naudé sou ’n mens kon aanvoer dat ter wille van die argument daar gehou moet word by die populistiese idees van die 1990’s waaruit die Duitse filosoof put, of wanneer ook al. Afgesien daarvan dat so ’n beroep self ’n mitewerkende oorredingsfunksie is wat sake vertroebel, skep dit oorbodige werk – hoewel dit die funksie sou kon verrig om ’n skryfverblyf in Duitsland te motiveer.
Hierdie neerbuigende houding teenoor die wetenskap word selfs op die fisika toegepas in ietwat onverstaanbare beredenerings oor entropie. In ’n vroeëre weergawe van die boek praat Blumenberg/Naudé selfs van “die wet van termodinamika”, terwyl enige eerstejaar weet daar is drie sulke wette en dat die tweede wet van termodinamika ter sprake is. ’n Mens moet hier onderskei tussen die konsep soos gebruik in die fisika en die mitewerkende, onakkurate woord “entropie” van ons daaglikse taalgebruik, ’n soort emblematiese metafoor of sinekdogee vir die algemene verval wat ons lot in die lewe sou wees.
Nou moet ’n mens dadelik sê dat baie fisici, volgens die fisikus Roger Penrose, entropie ook so beskou, as te vaag om ’n fundamentele wet te wees; die tweede wet sê inderdaad in sy aanvanklike vorm dat hitte van ’n warmer na ’n kouer liggaam vloei en niks meer nie.22 Maar Penrose demonstreer dat dit tot ’n hoogs wiskundig gedrewe konsep met groot grade van presisie lei; dit is inderdaad nodig om die wiskundige en eksperimentele maneuvers van die oorspronklike “ontdekker” of “uitvinder” daarvan, Ludwig Boltzmann, stap vir stap na te gaan om ’n greep daarop te kry. Dieselfde geld vir kwantumfisika, waaromheen lekejoernaliste en skrywers ’n hele mitologie ontwikkel het wat die basis vorm vir ’n nou reeds ontsaglike korpus fantasieprodukte in die kunskultuurbedryf.
Naudé kom vorendag met vernuftige en genuanseerde redenasies wat nie onprettig is om te lees en mee te worstel nie, en wat ’n mens nie summier kan verwerp nie, maar op die ou end gaan dit mank aan dieselfde fout as hierdie mitologie: ’n geringskatting of ontkenning selfs van die muur, of afgrond, tussen die fisika/wiskunde self en die voorstellings van daardie bepaalde ontdekkings, voorstellings wat weens hul onakkuraatheid hoogs vatbaar is vir mitewerking.
In ’n andersins prikkelende stuk oor James Joyce se Ulysses maak Naudé byvoorbeeld gewag van die kwantumfisika wat ’n inkering na binne sou wees, net soos Joyce die epiese reis van ouds van Odusseus beperk tot ’n enkele dag in ’n enkele voorstad in ’n kleinerige stad (Naudé 2023:151). Maar die ontwikkeling van kwantumfisika kan kwalik los van die uiterste buitewêreld, die kosmologie, gesien word. ’n Hoogs onverstaanbare onderdeel daarvan, dat die platval van die golffunksie wat net gedeeltelik plaasvind, sigself op groot skaal fisies sal manifesteer, soos uitgewerk deur Stephen Hawking, is finaal bewys toe die eerste foto van ’n gravitasiekolk in die ruimte geneem is, met die onteenseglike “stralekrans” daaromheen van energie wat veronderstel was om net wiskundig te kan bestaan.
’n Basiese denkfout hier is om die wetenskap as “’n dissipline van die rede” (bv Naudé 2023:368) te sien ten einde dit in die binêr van logos/mythos te plaas. Hoewel dit op die oog af juis klink, en dit dikwels op mitewerkende wyse as sodanig in die geskiedenis en die volksmond beskryf word, twyfel ek of enige fisikus hom sal onderwerp aan byvoorbeeld toetse vir redelikheid in sy daaglikse werk, hetsy konseptueel of eksperimenteel. Wat tel, is eksperiment en wiskunde, spesifiek die vorme wat in die fisika dien; die res kom inteendeel soms oor as lukrake, dikwels lomp-onredelike beskrywing.
Maar is wiskunde, waarsonder die fisika nie kan leef nie, net soos die wiskunde nie sonder die fisika kan klaarkom nie, nie ’n vertakking van die rede nie? Wiskundiges soos Claire Voisin, wenner van die Crafoord-prys vir 2024, beskou dit eerder as ’n taal, selfs ’n kuns of poësie, waarmee sy nie bedoel dat dit onderworpe aan enige mitewerking sou kon wees nie – sy praat van aspekte van wiskunde buite die streng logiese. Sy voeg ook by dat aan die einde van die proses ’n wiskundige skeppings- of ontdekkingsproses, iets konkreets, oorbly, ’n voorwerp wat oor generasies heen telkens oorgedra kan word aan ander sonder bemiddeling deur enigiets anders – onafhanklik van denke, of rede- of mitewerking dus.23
Agter haar woorde lê kardinale vrae waaroor groot volumes woorde al gepubliseer is: Is wiskunde iets wat ontologies bestaan as die dinamiese ruggraat van tallose verskynsels in die natuur, of is dit bloot ’n mensgemaakte kennisvorm? Daar is ’n goeie saak voor uit te maak dat die wiskunde/fisika wel onafhanklik van die mens se subjek vergestalt is, hoewel daar ’n goeie residu abstraksie is wat waarskynlik nooit vernatuurlik sal word nie.24 Daar is honderde gevalle van wiskundige voorspellings wat in voorwerpe soos leviterende objekte of nanotegnologie bewaarheid is op maniere wat die ingenieurs nie absoluut volledig verstaan nie, maar die fondamente van miljarde van ons se hedendaagse lewens op ’n globale, selfs kosmiese skaal is.
Dit is reeds ’n bekende probleem met rekenaartegnologie en sy jongste produk, KI, dat algoritmes optree op maniere wat mense nie meer kan verstaan of monitor nie,25 maar daar bestaan geen twyfel dat dit steeds wiskunde is en nie ’n nuwe lewensvorm nie.
Net soos met die vae veld “evolusie”, speel verskeie ander faktore ’n rol in die werk van die fisikus, van intuïsie tot kollegialiteit tot algoritmes. Dis moeilik om enige mitewerking hier te identifiseer. Naudé skryf: “Dissiplines van die rede soos wetenskap, [maak] op hul beurt soms op mitewerking se reflekse staat, soos betroubaarheid, om hul redewerkende sienings te kommunikeer.” Maar as die wiskunde klop elke keer dat iemand dit weer deurwerk, sonder uitsondering, hoe is hulle bloot “sienings” wat “redewerkend” ingespan kan word? En is “betroubaarheid”, of enige ander “mitiese refleks”, dan enigsins relevant?
Voorts: Is die kommunikasie van die wetenskappe deel van die wetenskappe? Onder die talle beskrywings en vertolkings wat die rondte doen, was daar heel moontlik dié van fisici of hul goedgesinde medewerkers wat aan die buurman, of buurvrou, wil probeer verduidelik wat hulle doen. Veral omdat dit gewoonlik met die staat, en dus die belastingbetaler, se geld is.
Vele huishoudelike mites het pseudowetenskaplik ontstaan nadat fisici uit radelooosheid teenintuïtiewe onweerlegbaarhede wat deur wiskundige of eksperimentele werk opgelewer is, verwerp het. Daar is Einstein se bekende “God doesn’t play dice”, sy reaksie op “spooky action at a distance”, soos hy die raaisels van verstrengeling (“entanglement”) in kwantumfisika beskou het. Sy allegoriese troop word steeds op derduisende kansels gebruik om allerlei Christelikhede te verkondig, terwyl die Joodse genie geen erg aan godsdiens gehad het nie. Erwin Schrödinger se bekende kat was ’n middel vir die Duitse fisikus om sy ongemak uit te druk oor die kwantumformule wat hy half onwillig ontdek/uitgewerk het, en nie ’n verduideliking daarvoor soos die moderne mite dit wil hê nie. Die teorie van die “Big Bang” het sy spotnaam by die sterrekundige Fred Hoyle gekry omdat hy sy eie teorie van ’n statiese kosmos beter wou laat klink. “Big Bang” is ’n baie skewe voorstelling van die “aanvang” van die heelal, omdat daar geen klarigheid daaroor is nie en waarskynlik nooit sal wees nie, maar dit is nogtans die basis vir veroordeling van ateïsme deur sogenaamde Christelike denkers wat beweer dat dit beteken alles het uit niks ontstaan.
Dit is een ding om die geweldige aantal mites oor die wetenskap en elemente van die wetenskap te bestudeer; dit is iets gans anders om te beweer dat mitewerking deel uitmaak van wetenskaplike prosesse. Fisici se argwaan oor die intrede van stylfigure blyk uit Werner Heisenberg, wat ook ’n filosoof was, se blaffie aan Einstein en ander twyfelaars oor kwantumfisika om terug te keer na hul eksperimente en op te hou om aan God te vertel hoe hy die heelal moet bestuur.
Blumenberg praat van ’n “rationalisation of lack” (Naudé 2023:366), wat die wetenskaplike sou dwing om sy toevlug tot simbole en formules te neem – waaraan Naudé die benaming “bemiddelaars” gee. Maar die rasionalisasie van wie se “gebrek”? Die aanskouer van die fisikus, of die fisikus self? Sekerlik eersgenoemde. Die konsep van “bemiddeling” word aangebied om ’n gewaande oorbrugging tussen die aanvang en einde van ’n proses te verduidelik. In kalkulus is byvoorbeeld integrasie wel ’n kortpad, of selfs ’n ompad, as jy dan wel ’n metafoor moet hê, maar dit is te betwyfel of enige fisikus-as-fisikus dit as ’n rasionalisasie of ’n gebrek sal sien.
Eintlik is daar teenstrydighede hier. Elders praat Blumenberg/Naudé van die drang om kring te sluit as ’n sinsoekende mitiese oorredingsmotief, en Naudé noem verskeie maniere waarop die motief oor ’n wye veld toegepas word sodat ’n bepaalde stuk denke die voorkoms van redelikheid het. Maar hy het dit mis om dit toe te pas op die kwantumfisika, en deur verlenging, die fisika-wiskunde – al die voorbeelde hier bo genoem getuig van die radikale openheid van die wetenskappe. Metodologies gesien is die ganse fisika gebou op die aksiomatiese beginsel dat ’n resultaat nooit finaal is nie, en dat dit inderdaad nie fisika of wiskunde is as dit nie vervalsbaar is ingevolge Karl Popper se toets nie. En op die mees basiese vlak is daar werk soos Gödel se alom aanvaarde onvoltooidheidsteorem,26 wat vers en kapittel bewys dat geen wiskunde die laaste woord kan spreek nie.
Waar Naudé se teks werklik mitewerkend raak (dalk ’n geslotekringmotief wat ’n persoonlike behoefte by homself onthul?), is deur parallelle (nog ’n oorredingsmotief) tussen die godsdiens en die wetenskappe te probeer daarstel. Hy stel simbole en formules gelyk aan dogma in die teologie en beweer op ’n ongelukkig aksiomatiese wyse dat daar “ooglopende strukturele ooreenkomste” bestaan (Naudé 2023:367), en noem wiskundige simbole dan “gesofistikeerde metafore” wat ’n veld van belewenismoontlikhede in ons verhouding met ’n bepaalde stuk werklikheid oopmaak. Dit is nogal ’n goeie beskrywing van “fuzzy logic”, of George W Bush se “truthiness”. Of om ’n nuttelose formule met simbole op te stel: a ↝ b ∈ c. Ek weet ook nie hoe ’n eksaminator in kalkulus sou voel as ’n mens praat van sofistikasie as ’n element van ’n bewerking nie. Gewoonlik is die idee om uiteindelik die mees ongesofistikeerde getal te kry, dié een wat absoluut korrek is.
Die wyer implikasie vir Blumenberg se projek is dat die bestaan van die fisiese en wiskundige wetenskappe as onafhanklik van rede- en mitewerking ander gebiede van menslike geestesarbeid ook nievatbaar vir die rede/mite-binêr maak.
9. Metafoor en metonimie
Blumenberg en Naudé se validering van onakkuraatheid vind ’n eggo in nog ’n fundamentele begrip by Blumenberg wat allerlei moontlikhede skep om bepaalde kwessies vanuit nuwe hoeke te beskou. “Metaforologie” is sy naam vir een van die mees basiese “denkbewegings” by die mens. Omdat daar by die aanskouing van ’n nuwe stel omstandighede dikwels die woorde en maniere ontbreek om dinge te benoem, aan te spreek of uit te druk, val die mens terug op ooreenkomste met meer bekende, meer gerusstellende denkbeelde of taalelemente.
Dit is inderdaad so dat ’n groot deel van enige taal uit dooie metafore bestaan, metafore wat weens oorgebruik in die verlede deel van die alledaagse woordeskat is. Lévi-Strauss meld ook die steun op tradisie, en daar is raakpunte met filosowe soos Jacques Derrida met sy konsep van die “trace” en Giorgio Agamben met “signatuur” (handtekening). Natuurlik ook Nietzsche met sy genealogie en Foucault met sy argeologieë en die vakdissipline filologie.
Naudé lig uit dat Blumenberg die kreatiewe as ’n onontbeerlike bestanddeel van alle denke beskryf omdat ons gedurig metafories dink. “To have a world is always the result of an art,” skryf hy. Daarom dat Naudé hom die “diplomaat van die estetiese” noem, en alle kunstenaars, veral woordkunstenaars, kan onderskraging by Blumenberg vind. En dit is wel so dat by die bestuur van universiteite en skole deur hedendaagse state ’n oormatige klem op die STEM-vakke is en dat Blumenberg ’n kameraad in die digterlike stryd kan wees.
My beswaar is dat die begrip metafoor, weer eens omdat dit oënskynlik nie sekuur genoeg die linguistiese definisies volg nie, die net te wyd gooi. Dit lei daartoe dat die verskille in konsekwensies en implikasies van ’n bepaalde stylfiguur diffuus word. In die psigoanalise is die onderskeid tussen metafoor en metoniem kardinaal; wanneer dit byvoorbeeld by “droomwerk” kom, is dit vrugbaar om die psigiese paaie wat die id volg (om nou maar die Freudiaanse skema te gebruik), in terme van kondensering (metafoor) en verplasing (metoniem) te sien.27
Metonieme, konkatenasies, sinekdogees en dies meer lewer heel ander resultate as die metafoor op. Dit berei in die eerste plek die weg voor vir assosiasie en serialiteit; in die tweede plek vir gelykstaande groeperings na gelang van gedeelde eienskappe; en in die derde plek die rits, wat weer die risoïdale onderlê wat so ’n groot rol speel in die filosofie van Deleuze en Guattari. Voorts skep dit die moontlikheid van skematiese ontsnapping, soos die transendente betekende van die poststrukturalisme.
Al hierdie denkbewegings is van kardinale belang om mites te probeer verstaan. Metonimie sou ’n eenvoudige operasionele verklaring vir Graves se veelvuldigheid van soortgelyke mites kon wees, iets wat in die inhoud en narratiewe strukture van baie van die Griekse mites verskyn. Odusseus gaan byvoorbeeld van die een katastrofe na die ander, met die verskillende variasies in verskillende jurisdiksies wat hul eie metonimiese motiewe, simbole en embleme byvoeg. Hy ontsnap telkens van enige poging om hom in ’n enkele metafoor te verander, of in ’n Blumenbergse funksie te ketting; hy bly die “niemand”, die naam (Oudeis in Grieks) wat hy aan die Sikloop gee as deel van sy slinkse ontsnapping (Graves 1973:354).
Lévi-Strauss, in sy jeug ook ’n konsertpianis, vergelyk die metonimiese en metaforiese asse met die sywaartse en afwaartse/opwaartse lees van ’n orkespartituur. Maar om bloot dié twee asse te gebruik vir ’n analise is ook nie genoeg nie. Lacan word daarvoor gekritiseer deur byvoorbeeld Martin Murray, hoof van die Skool vir Media, Kultuur en Kommunikasie aan die Londense Metropolitaanse Universiteit.28 Dan is die terugval van moderne poësie op oneindige ritse kondensasies (metaforiek) of verglydings (metonimie) ’n groot irritasie vir Roland Barthes in sy kritiek daarop.29 Die punt hier is dat meer soorte “denkewerk” – noem dit matryswerk, of samevoeging, of sintetisering by die feitewerking – aan die gang is as net die binariteit van mite- versus redewerking.
Lacan se aanwysing dat sy triade ’n stel registers eerder as psigiese formasies à la Freud is, sluit hierby aan. Lévi-Strauss ag dan ook die vermoë van die mens om hierdie veelvuldige dimensies gelyktydig te ervaar, as fundamenteel vir menslike kultuur. Blumenberg kom, daarteenoor, as liniêr voor, selfs en veral wanneer Naudé skerm dat sy prentjie van die groot skrik ’n (très) longue durée is.
Ander soogdiere, sê Lévi-Strauss, maak staat op dieselfde onderskeide tussen tekens as die mens om op ’n vlug- of vegreaksie te besluit. Vandag weet ons dat ander soogdiere en natuurwesens veel wyer velde van tekens om hulle het weens hul gewoonlik meer gevorderde sintuie, wat byvoorbeeld ’n wyer spektrum van elektromagnetiese seine kan dek.30 Wat die mens onderskei, is die ontwikkeling van sy spraakfisiologie, wat die eerste mense in staat gestel het om hierdie netwerk van onderskeide in tekens analogies in fyn beheerbare klanke te reduseer tot ’n prentjie in die brein wat met of naas visuele inkledings verder bewerk kon word. Hierdie insigte het Lévi-Strauss te danke aan sy vriend Roman Jakobson se linguistiese teorieë.
Hierdie reduksionistiese aanbod van die wye veld van stylfigure ondermyn Blumenberg se poging om die wetenskappe by sy skema in te lyf. ’n Volledige behandeling sou ’n mens eerder iets soos ’n “tropologie” kon noem, maar ’n gebrekkige een. Soos in die vorige afdeling aangevoer is, is die wetenskappe eenvoudig te ontsaglik en eiesoortig om deur Blumenberg se metaforologie ondervang te word.
10. Tegnologie
Die verdere probleem vir ’n Blumenberg-gedrewe poging om metaforologies reokkupasies te probeer naspeur, is dat net enkele van die bogenoemde dimensies van die prehistoriese ervaring in die menslike argief oorgebly het, al is hierdie argief reeds so groot en sou dit nog groter gewees het as die vernietigde dele daarvan oorleef het (sien Graves se opmerking hier bo). Musiek het verdere skakels met rites, dans en woorde self – soos gesien in die terme vir skandering van ritme in die digkuns – en dit is moontlik dat hierdie vergane elemente op allerlei sekondêre en tersiêre maniere hul “traces” en “signatures” in ons huidige lewens het. Sulke verborge of verwaarlooste elemente, kan ’n mens postuleer vanuit ’n Lacaniaanse hoek, kon wel oorleef het as deel van die Simboliese.
Dit bly egter karige getuienis, te oop vir bespiegeling en denkfoute soos bevestigingsvooroordeel (“confirmation bias”). Afgesien hiervan raak die skema onbruikbaar in ’n sinchroniese opset: Daar is so ’n mengelmoes van insette van oral, met meer of minder mitewerkende gewig, en wat meer of minder identifiseerbaar is as sodanig, dat ’n mens jou net kan verlaat op die twyfelagtige “Darwinisme van woorde” om die belangrike onderskeide te kan tref – dat daardie mitewerkings en bewerkings, in samehang met hul redewerkende omvormings wat nuttig is vir die mens, dié is wat sal oorleef, of wat in ’n reokkupasie herontgin kan word.
Hiervoor sal jy egter ’n toekomsreisiger moet kan word (daar is inderdaad boeiende wetenskapfiksie om vanuit hierdie hoek te bekyk, soos die Netflix-reeks Bodies). ’n Verdere argument as sulke praktiese obstruksies is dat die afwesigheid van soveel kardinale elemente wat hierdie mite-/redewerkings sosiaal “sterk” gemaak het, in ’n bepaalde tydvak – iets wat alreeds moeilik identifiseerbaar sal wees – in elk geval ’n natuurlike seleksie as deel van ’n Darwinistiese evolusie ontoepaslik maak.
In die huidige tye raak dit nog moeiliker, omdat die vierde industriële revolusie en ons algemene postmodernistiese tydvak die aanbod van kandidate vir ’n hipotetiese Darwinistiese validasie oneindig vermenigvuldig het. Mitiese elemente en die “sterk punte” of “swak punte” wat nodig sou wees vir Blumenberg se weergawe van Darwinisme om te werk, word almal kunsmatig versterk of versprei of verswak deur ’n onbeheerste tegnologie. Dit maak Blumenberg se teses net nog minder geloofbaar of bewysbaar en meer lukraak.
As ’n mens metaforologie as ’n hoeksteen verwerp, bring dit jou uit by ’n veel minder verankerde konsep van mites en mitewerking, en/of sy verstrengeling met redewerking, hoewel hierdie aspekte van Blumenberg se filosofie nie noodwendig minder nuttig of toepaslik sal word nie.
“Lévi-Strauss would go as far as arguing that in some sense mythic thought was the mind, unveiling itself through its own impulsive workings,” soos Patrick Wilcken dit stel in ’n artikel in die TLS: “In the final chapter of the last volume, L’Homme nu, Lévi-Strauss concluded that there was only one myth – a meditation on man’s passage from nature to culture – that unfurled in multiple structural forms and variations across the Americas.”31
Lévi-Strauss oorvleuel wel hier met Blumenberg in die sin dat daar ’n breuk met die natuur was, maar aan die hand van Lévi-Strauss se uitspraak dat “myths think one another” vra Wilcken dan: “But what was the goal of this highly complex, labour-intensive yet ultimately quixotic project? [...] Each matrix of meanings refers to another matrix, each myth to other myths, wrote Lévi-Strauss, and if it is now asked to what final meaning these mutually significative meanings are referring … the only reply … is that myths signify the mind that evolves them by making use of the world of which it is itself apart. The project ultimately folded back on itself.”32
Waarby Wittgenstein sou kon aansluit: Die funksie van mites was/is die mites self, as verskynsels om te ervaar, geniet, te vrees, te internaliseer, afhangende van die bui of sensibiliteit van ’n individuele toehoorder of groep toehoorders en hul omstandighede, al is dit dan binne groepsverband, en eers dan as werktuie om gebruik te word …
Gode en verbeeldingsprodukte is geskep eenvoudig omdat mense dit kón doen. Of dit om perverse redes is, om ander om die bos te lei, of weens dieselfde opwinding en vreugde wat moderne mense ervaar deur dinge te skep en bedink, het die mens sy hand voortdurend aan nuwe dinge gewaag. Deur die Grieke “techne” genoem, behels hierdie kreatiwiteit die vergestalting van innerlike beelde aan die hand van uiterlike “gereedskap”, wat tienduisende jare gelede die beeldmateriaal van transe en chemies geïnduseerde hallusinasies sou kon insluit.
Vanuit ’n Lacaniaanse oogpunt is die Imaginêre waaruit die mens put vir sy selfbeeld en ritse sosiale simbole, iets vreemds aan hom, soos ’n ongebore kind vreemd is aan die vrou se liggaam. Mite werk in hierdie sin ook met uiterlike gereedskap, en dit is ewe veel ’n tegnologie om kreature saam te flans en in ’n virtuele narratief te omskep as om ’n werktuig in die krake en voeë van ’n stuk steen of been te sien.
Wilcken se opsomming van Lévi-Strauss se siening sou ewe goed kon dien ter onderskraging van ’n mitologiese techne:
In contrast to science’s rejection of the senses and incremental approach to inquiry, the pre-literate societies used direct, sensual experience – of plants, animals, rivers, mountains, tastes, smells, the night sky, etc – to build abstract models which explained their world in its totality. Modern thought had been “domesticated” through writing, formal education and systematic inquiry; the primitive mind roamed free, combining and recombining natural elements in elaborate structural contrasts and transformations. (Wilcken 2024)
11. Sosiale verskynsel
Blumenberg se prentjie van die oermens kom oor die algemeen te veel oor soos daardie dioramas van gesinne wat ’n mens in museums kry, gewoonlik ’n variasie op die nukleêre gesin van die “Boomer”-tye in die Weste en die Wirtschaftswunder. Dit is dalk die grootste wins van ’n naasmekaarplasing van Lévi-Strauss en Blumenberg – eersgenoemde se aanname dat die eerste mense se breinwerk in ’n uitgebreide nes van sosiale tekens en insette gesetel was, lyk die juisste. Dit was veel eerder waarin die mens sy geborgenheid gevind het, blote saamleef waarin die groot skrik sy rol sou gespeel het, maar soveel ander dinge ook. Kruis en dwars oor groeperings was die lidmaatskap van verskillende subgroeperings – sport- en speelklubs, generasievlakke, geslagsgebonde werk, geheime selle, binnekringe en buitekringe, ens.33
Reeds by baie soogdierspesies, en selfs vroeëre lewensvorme, is politieke organisasie fundamenteel tot ontwikkeling en oorlewing. Frans de Waal kom tot dié gevolgtrekking oor sy navorsing met sjimpansees in Arnhem:
When Aristotle referred to man as a political animal he could not know just how near the mark he was [...] Our political activity seems to be part of an evolutionary heritage [...] [T]he roots of politics are older than humanity [...] [T]he situation is constantly in flux. The balance of power is tested daily … and a new balance [may be] established.34
Die mens was van die begin af, soos sy taal, ’n komplekse sosiale verskynsel. Dis eers met die moderne tyd dat die idee van die enkeling as die begin- en eindpunt van die gemeenskap voorop kon staan. Die idee van ’n unieke identiteit was egter nog altyd problematies, omdat die ek en die ego, soos Lacan aangedui het, van buite kom. Dit is verskaf deur die simboliese, en aangewys as ’n plek in ’n netwerk van verskille in taal, ’n sosiale plek wat dieselfde lokus vir almal het. Dit het die “ek” telkens as ’n simulakrum, ’n afskaduwing, ’n kloon laat voorkom. Dis eers met die koms van die slimfoon en die virtuele bankwese dat die ek werklik uniek word met sy eie stel nommers en algoritmes wat verbruikersvoorkeure akkumuleer en ’n mens meer van iets soos ’n “unieke identifiseerder” moet praat (“unique identifier” soos in belastingopgawes).
Naudé skryf vroeg dat Blumenberg se filosofie fenomenologies van benadering is (Naudé 2023:42) en sê dan: “Blumenberg se vraag na funksie plaas die ervaring van die mens voorop: sy soeke, sy aanblik, sy behoeftes. Vanuit die vraag na hoe ’n ervaring daar uitsien, vloei die vraag na watter funksies deur daardie ervaring vir die mens vergestalt word.”
Om funksie in terme van fenomenologie te sien, skep metodologiese probleme. (Sien die opmerkings oor “qualia” in die Engelse aanhaling hier bo.) Hoe dit ook al sy, hy vervolg na aanleiding van Husserl dat dit ’n “sistematiese besinning (is) oor hoe die bewussyn omgaan met verskynsels”; dis ewe duidelik hieruit en die woordkeuse hier bo dat dit ’n geval van redewerking is, ’n rasionele ondersoek, pleks van byvoorbeeld ’n fiksionele of digterlike oefening. Sentraal hiertoe is die rasionele, analiserende subjek.
Binne ’n prehistoriese groepsopset met sy verstrengelde representasies en belewenisse is ’n fenomenologie egter gans anders as vir die moderne enkeling, indien dit enigsins moontlik is. Immanuel Kant se onderskeid tussen noumena en phenomena, waaroor Naudé verder uitwei (Naudé 2023:43), val weg. Om Wilcken weer aan te haal: “Modern thought had been ‘domesticated’ through writing, formal education and systematic inquiry; the primitive mind roamed free, combining and recombining natural elements in elaborate structural contrasts and transformations.”
Die moderne subjek of “ek” is gestroop, weens blootstelling van kleins af aan die winste en verliese van feitewerking deur die eeue, van die oormaat aan “magiese impulse” van vroeër tye; die blootstelling daaraan tydens jou opvoeding word versigtig en met groot suinigheid bestuur aan die hand van feëverhale of “veilige” storietjies, waarvan die mitiese aard op kritieke en deursigtige tye aan die kind onthul word – Vader Krismis steek nie baie goed weg dat hy jou boepens-oom is nie.
Vir “primitiewe” mense was (en is) hallusinêre verskynsels ewe werklik as die materiële omwêreld. Naudé skryf elders: “[D]ie neiging by mitemaking, wat die mens se oerreaksie is, is […] om die omringende met onderskeid te vul: met vele gode wat op vele plekke woon. Mite ‘versprei die geboortes en dade van sy gode oor die landskap heen,’ skryf Blumenberg, en beheer die skrik van die omringende deur verskillende gode oral teenwoordig te maak” (Naudé 2023:165). Maar dit is meer waarskynlik dat hierdie goddelike verskynsels alreeds aanwesig was in die oermense se Dasein sodra hulle oud genoeg was om hul omwêreld te verstaan.
Om Gili Kluger weer aan te haal:
Totems were not “good for eating”, as the functionalists held, but “good for thinking”. Lévi-Strauss was [...] making a philosophical argument: this concrete way of thinking was the universal mode of thought. And it suggested that the world around us is vested with a power to shape our sense of self, rather than the other way around. (Kluger 2019)
Hierdie alternatief tot die “Dasein” sou waarskynlik ook ’n “Drinnensein” moes insluit. Soos hier bo genoem, moes die gereelde uitbreek van siektes vir die vroeë mense ’n veel groter preokkupasie as enige eksistensiële angs gewees het. Groepe is gedurig daardeur uiteen gebreek en moes dan weer by ander inskakel, iets wat ’n gedurige onderhandeling oor en aanpassing van rites, gebruike en mites geverg het. Lévi-Strauss se essay “Dual organisation: Does it exist?” gee ’n gevoel hoe hierdie inskakelings volgens bepaalde protokolle kon plaasgevind het, en tot tweërleie (“dual”) organisasie gelei het wat weer hipoteties die oorsprong van aristokratiese lae in moderne gemeenskappe sou kon wees (Lévi-Strauss 1967:128‒60).
Al hierdie maneuvers, waarvan heelwat na aanleiding van De Waal hoogs waarskynlik al sedert voormenslike tye bestaan het, kan onder die sambreelwoord “politiek” versamel word, en die politieke kry gans te min aandag in Naudé en Blumenberg se werk. Ritualistiese en dus protomitiese momente kan oral by ouer en “primitiewer” oermense as sapiens opgemerk word.35 By sapiens was organisatoriese aksies wat polities van aard moes gewees het, ook vroeg reeds in die argeologiese rekord aanwesig, soos die vroegste vermoedelike massamoord, sowat 20 000 jaar gelede.36
’n Politieke vertrekpunt is veel meer vrugbaar om die redes vir en ontwikkeling van mitemaking te ondersoek. Een kardinale aspek van mites word selde in enige studie aangespreek: hul gebrekkigheid en swakheid, soos gemanifesteer in hul fabrikasies, arbitrariteit,37 tipiese teenstrydighede, neiging tot raaisels, handomkeer aanpasbaarheid, ens. Die bedrewe politikus van prehistoriese tye, of magswedyweraar – soos vandag se manipuleerders van samesweringsteorieë – het hierdie lae vlakke van sofistikasie nodig gehad ten einde vlugvoetige aanpassings vir hul bepaalde gehore te kon doen. Dit verklaar ook Graves se ikonotropie.
Lévi-Strauss lê in die essay “The effectiveness of symbols” groot klem op die sjamaan se bedrewenheid om mites te manipuleer ten einde die organe van die siek mens te manipuleer.
Een van die heel eerste literêre werke, redelik onlangs geïdentifiseer as dié van die Mesopotamiese digter Enheduanna, is dan ook ’n aanpassing van ’n mite in haar stryd as priester teen ’n mededinger.38 Eweseer is Homeros se ironiese gespot met die gode in die Ilias en die Odusseia deel van ’n politieke spel.
Allerlei verdere postulasies kan opgestel word: dat die kenmerkende verrassingselement van antieke mites die “swart swaan”-dryfvere van ’n vroeë politiek opvang; dat hul tydloosheid gedien het om die mites in modelle vir moontlike oplossings te verander; dat hul ontvanklikheid vir variasie die weg berei het vir kompromittering; dat die klem op alledaagse take en gebruike verseker dat hul eweknieë in die werklikheid gehad het en die moontlike strukture à la Lévi-Strauss hulle toegelaat het om hul rituele belangrikheid te behou; ens.
Dit is nie dat mites ontwerp is as politieke werktuie nie, en so iets sou net deel wees van ’n magdom maneuvers en manipulasies van etlike ander sosiale en/of rituele elemente. Maar op die ou end ondermyn dit die gedagte dat die mitewerker altyd terugkeer na ’n vorige, meer gerusstellende situasie. Die rede om terug te val op oorlewering is eerder appropriasie van die tradisionele om sinrykheid te fabriseer.
Dit is in sy funksionaliteit meer toekomsgerig, ’n voortdurende komplottery met toekomstige winste – ’n mens kan dalk praat van ’n preokkupasie. Hierdie lens onthul verder die konserwatisme wat Blumenberg se filosofie onderlê, die gewig van die geskiedenis wat alles neertrek, en daarmee saam al die filosofiese en metodologiese probleme van die geskiedenis. Sy filosofie kan dien om ’n aanvegbare ontologiese begronding vir konserwatisme te bewerk.
12. Onluste
........
’n Voorbeeld van kontradiksies in ’n poging om reokkupasie te vind te midde van politieke dryfvere, is Naudé se opmerkings oor die 2021-onluste. Sy instinkte was korrek dat hierdie grootskaalse dog oënskynlik ongekompliseerde uitbarsting van kommunale stropery mitewerkende elemente kon dra
........
’n Voorbeeld van kontradiksies in ’n poging om reokkupasie te vind te midde van politieke dryfvere, is Naudé se opmerkings oor die 2021-onluste. ’n Mens moet onmiddellik onderstreep dat hulle voorlopig was, en meer bedoel is as ’n voorbeeld van ’n werkswyse (Naudé 2023:471). Sy instinkte was korrek dat hierdie grootskaalse dog oënskynlik ongekompliseerde uitbarsting van kommunale stropery mitewerkende elemente kon dra – al was hulle van ’n gans ander aard as wat hy dit bedoel het, geoordeel aan die verslag van die Menseregtekommissie van Suid-Afrika (MRK), wat ten tye van die publikasie van In die rede geval nog nie vir Naudé beskikbaar was nie.39
Naudé herlei die skielike uitbarsting van die kommunale rooftogte na die nomadies/halfnomadiese geskiedenis van swart mense voor kolonialisme, waarin voorwerpe kommunale besit was, en hul motivering mitewerkend word as ’n reokkupasie van hierdie houdings. Hy sien die verhouding van die stropers met die moderne ekonomie as “neuroties”, iets wat gevoed is deur die antikapitalistiese inslag van die antiapartheidstryd (Naudé 2023:472). Hierteenoor staan die pragmatiese verklaring dat dit eenvoudig die gevolg van armoede en grootskeepse honger van die townshipbewoners in die COVID-19-jare met sy drastiese grendelinge was, en die snellerreaksies wanneer die woord uitgaan dat ’n geleentheid ontstaan vir diefstal waarin die kanse op arres heelwat kleiner is weens die massa-optrede.
’n Mens sou eerder kon aanvoer dat ideologiese oorwegings grootskeeps afwesig was onder die halfopgevoede, halfingeligte bevolkings van KwaZulu-Natal se townships. Wat wel in alle waarskynlikheid teenwoordig was, was ’n kognitiewe dissonansie waarin inwoners hulle aan die grendelregulasies moes onderwerp – te midde van die voortgesette totale aanslag van mitewerking via bemarking en die advertensiewese. Hierdie totale aanslag verheerlik privaatbesit, die redusering tot die monetêre van elke enkele aspek van menswees, en die atomisering van gemeenskappe tot verbruikers met ritse kammakeuses van utopiese lewenswyses. Dit is veel meer van ’n neurose wat die status quo op arm townshipinwoners afdwing as enige antikapitalistiese oorblyfsels van die bevrydingstryd.
Die feit dat dit hoofsaaklik die taxibedryf was wat die onluste laat bedaar het, soms met gewelddadige teenoptredes, druis verder in teen Naudé se opvatting van historiese reokkupasie. As daar enige terugval op vroeëre mitiese strukture was, sou ’n mens verwag het dat ander aspekte van so ’n vroeëre vorm van lewe, soos die magiese of rites, aanwesig sou gewees het. Daar was geen teken daarvan nie.
Om die saak vanuit die gesigspunt van die eiendomlike status quo te sien, impliseer ’n etiek waarin die besit van verbruikersware deur ’n maatskappy wat ingestel is op winsbejag ten alle koste, die hoogste waarde sal hê. In ons laat-kapitalistiese bestaan waarin ons behoeftes vir ons meganies geproduseer en verteenwoordig word in hewig gekodifiseerde dog vervreemdende produkte, sal jy aan ’n erge vorm van wat Lacan ’n histerie genoem het, onderhewig moet wees om lojaliteit aan sulke waardes op te eis.
Trouens, om soveel goedere weg te dra, vestig op grondvlak ’n hele etiese dimensie in ons ongelyke samelewing wat van stropers helde maak, en belangrike aanvullings in die informele townshipekonomie doen. Om kos in die hande te kry kan kwalik as neuroties afgemaak word. Dit is nog ’n voorbeeld van ’n toekomsgerigtheid wat indruis teen Blumenberg se historisisme en herinner aan Albert Camus se diktum dat nuwe waardes by wyse van rebellie geskep word.40
Die enigste ongetwyfelde mitewerking kom agterna, en uit ’n onverwagse oord: Suid-Afrika se president, Cyril Ramaphosa, is deur die MRK gedaag om getuienis te lewer. Die MRK-verslag versuim om te verduidelik wat hy bedoel het deur die onluste as “a failed insurrection” te beskryf.41 Dan som die verslag deel van sy getuienis so op (July Unrest Report, bl 202): “The President referred to the symbolic significance of the Heart of darkness novella and drew parallels between the impact of Western imperialism and the events of July. He discussed the humiliation experienced by the colonised.”
Die verslag self het die titel July’s people, die roman van Nadine Gordimer van 1981, en begin die “executive summary” met ’n kort beskrywing van die intrige van die “astounding prognostic tale”, voor dit opmerk: “As powers and roles are forced to change, the interpersonal relationships expose the difficulties of transitioning out of an old order towards an imagined new society. …. The themes invoked … starkly resemble those arising out of democratic South Africa’s people of July 2021.”
Daar is vele vlakke van betekenis van hierdie twee komplekse werke, en die vraag is na watter van hulle die President en die MRK verwys, en vanuit watter gesigspunt. Was die President skaam as ’n Afrikaan, of as ’n verwesterste lid van die regerende elite, ’n soort swart weergawe van Marlowe, beide die verteller en ’n kardinale karakter van Joseph Conrad se The heart of darkness? Het hy verwys na die bekende uitspraak dat die beskrywings van Afrikane in die roman rassisties is, of na die raam waarin Conrad die verteller Marlowe plaas, vir sy uiteindelike gevolgtrekking dat alle mense, hetsy op die Teemsrivier in Londen waar Marlowe sy storie sit en vertel, of the Kongorivier, barbaars is? Was dit ’n uitdrukking van Afropessimisme, en as dit dit was, was dit weens die stropers se optrede of die gebrekkige optrede van die staat?
Eweneens loop die roman July’s people uit op ’n bevestiging van die sterkte van rasse- of etniese bande wanneer die oorlewendes van die Smale-gesin, wat in ’n daad van die uiterste altruïsme deur hul tuinwerker onderdak geneem is tydens ’n fiksionele revolusie teen ’n wit staat, verkies om na die weermagshelikopter te hardloop wat hulle kom “red” het. Die MRK maak dit glad nie duidelik met wie in die roman die skrywers van sy verslag identifiseer nie: die staat of die opstandiges, die gereddenes of die stropers se slagoffers?
Ek gaan nie antwoorde waag nie. Die punt is dat hier veelvuldige mitewerkings is, en die vraag is: Watter van hulle is geldig en hoe? Die mitewerkings word gekompliseer deur ander sfere wat mities kan raak. Die lede van die paneel van die MRK was byvoorbeeld almal die een of ander tyd verbonde aan die ANC – kaders, dus, wat moontlik aangestel is deur Ramaphosa self, die man wat hulle ondervra het, as hoof van die keuringskomitee ingevolge die beleid van “kaderontplooiing”, iets wat reeds deur oorgebruik sy eie mitiese vlakke van betekenis verkry het.
Dan is daar die elders gepubliseerde verduidelikings van die aanhitsers en hul apologete. Daar is die kwasimarxistiese verwringings van “white monopoly capital”, die ideologiese konstruksie wat die Zuma-faksie aangegryp het ter wille van sy subgroeperende teenaksie teen Zuma se opvolger, Ramaphosa. Vir townshippolitici en sakelui is die massiewe skure van multinasionale maatskappye se verskaffingskettings die simbool van hul onmag – nuwe ondernemings op die vlak van spazakettings staan min kans teen hierdie vaartuie van globalisering.
Dit was dalk die grootste enkele ideologiese boodskap: die weke lange verlamming van die kleinhandel en die kapitalistiese opset oor die algemeen. Om een kritieke resultaat uit te lig: Wit, swart en Indiërlede van die middelstande moes skielik worstel met die siektetoestande wat normaalweg by wyse van die voortdurende voorsiening van medisyne van oraloor, so ver as Japan en Noorweë, behandel is. Dit het dit uitgespel hoe uitgelewer die ANC, en die mense wat hy verteenwoordig, nog was aan die ekonomiese, en dus ook politieke, magte van buite, ’n aanklag wat een van die pilare is van die kwasiideologie van die Radical Economic Transformation-faksie in die ANC.
Dit is potensieel die vrugbaarste grond vir ’n reokkupasiebenadering tot analise. Die onluste het almal in die ANC só terug geneem na ’n “makliker” tyd, sonder die “difficulties of transitioning”, toe moraliteit swart-en-wit was en daar een gemeenskaplike vyand met mitiese afmetings was: “WMC”/kapitalisme/kolonialisme/rassisme/Eurosentrisme/globalisering. Hierby sou ’n mens kon voeg dat die onvermoë van die polisie, intelligensiedienste en die twee ondersoeke agterna om die aanhitsers vas te trek, moontlik te doen gehad met ’n soort kollegiale lojaliteit: “A brother/comrade does not shaft a brother/comrade.” Hierdie lojaliteite sou dan weer kon gesteun het op ’n verlange na ’n tyd toe “die revolusie” nog nie as blote mite ontmasker is nie.
Maar selfs al sou ’n mens al die mitewerkings kon ontrafel, moet ’n mens dan praat van botsende reokkupasies, of nog erger, botsende kandidate vir reokkupasies? Die uiteindelike punt is dat veral in ’n land soos Suid-Afrika daar soveel hoeke, relativismes, geheimhoudings, paradigmas ens is wat almal tegelyk aanwesig is in ’n soort epistemologiese orgie van die postmoderne dat alles gesuspendeer is in ’n enigma binne ’n misterie – wat dan ook die uitslag van twee ondersoeke na die onluste is.
Sulke amptelike en hipotetiese pogings soos dié van die MRK en Naudé om die onluste in ’n geskiedenis te veranker steek af teen die een proses wat wel in die dae van sosiale media ’n soort eindpunt bring. Gaan ’n mens die kommentare na van lesers op berigte oor die twee verslae, skyn daar ’n statistiese konsensus te wees dat “half an acre of social media posts” bewys dat die onluste deur die Zuma-faksie aangedryf is.42 Dit is ’n vorm van feitewerking.
Naudé wys meer effektief wat gedoen kan word met ’n Blumenbergiaanse bril in sy behandeling van die rel tussen die argivaris en skrywer Dan Sleigh en die ANC-aktivis Patric Mellet oor die status van die handelsplekke aan die Kaapse Skiereilandkus voor die landing van Jan van Riebeeck. Hy spreek sy begrip uit vir die behoefte van Mellet en sy generasie om ’n nuwe stel mites te ontwikkel wat dan aan die Darwinisme van woord onderwerp kan word (Naudé 2023:390‒403).
’n Uitstekende stuk werk word egter bederf deur ’n onnodige jukstaponering van Mellet en kie se dekolonialisasie met die geskiedenis van die Christendom in die Bisantynse Ryk, ’n erge kategoriefout.
13. Toepassing en etiek
In die lig van bogenoemde besware: Kan Blumenberg se denke tog help om hedendaagse krisisse, dié van die hier en nou, op te los? Wikipedia haal ’n kritikus van Blumenberg aan om daarop te wys dat ’n mens nie analise met voorkoming moet verwar nie, en dat sy dekonstruksie perke het.43 Maar so ’n rasionalisering kan nie keer dat Blumenberg se werk self kan dien om mitewerking, ook dié wat kwaad verrig, te bevorder nie. Voorts: Die ongeluk met ’n validasie van iets soos Mellet se werk soos in die vorige afdeling genoem, is dat dit alle mitewerking relativeer. Naudé wys self op die gevare:
Die verkeerde teoretiese verpakking van mite kan egter katastrofale gevolge hê, omrede mite so ’n kragtige effek op die mens se emosies het. Eweneens kan die nalating van ’n vertaling na teoretiese begrip verarmend en gevaarlik wees, want mites bevat lewenswaarhede wat ons teen afgronde wil beskerm. (Naudé 2023:144)
Aanvaar jy eers dat mitewerking weens die kollektiewe funksie wat dit verrig om ’n behoefte by ’n groep mense, hetsy georganiseer of ongeorganiseer, te vul, of weens die reokkupasie van vroeër “suksesvol gedarwiniseerde” mities strukture ’n groter waarde kry, word etiek vervang deur funksionaliteitswaardes en uiteindelik blote performatiwiteit. Die valsheid onderliggend aan alle vorme van mite, die fabrikasie daarvan, word so ’n waarheidsgestalte gegee wat net op sigself aangewese is.
’n Goeie illustrasie van hierdie problematiek is Blumenberg se kritiek op Hannah Arendt se geroemde/berugte uitspraak oor die “banaliteit van die bose” in haar verslag oor die Adolf Eichmann-hofsaak in 1961 (Naudé 2023:460). Nadat veral Joodse en Israelse kritici haar verdoem het vir haar gewaande trivialisering van die saak en dus van die Holocaust, was Blumenberg se argument dat daar ’n diepe psigiese behoefte by Joodse mense bestaan om die trauma te verwerk en dat singewing deur mitewerking noodsaaklik vir hulle is.
Dit is so dat feitewerking soos geproduseer deur die hofsaak, die trauma vir baie Joodse mense in alle waarskynlikheid net vererger het, ook die onverkwiklike getuienis dat dit Eichmann se grootste motivering was om sy taak doeltreffend uit te voer. Arendt self het waarskynlik ’n mitiese rol bekom in hierdie psigiese drama as ’n voorbeeld van hoe gou analitici kwansuis die volksmoord as “business as usual” kan afmaak. Dit was egter ’n teenproduktiewe rol wat aan haar openbare persona opgedwing sou gewees het: Die verlies aan die wyshede van een van die eeu se voorste filosowe weeg nie op teen die gemoedsrus wat hierdie verwringing kon verskaf het nie.
Die agtergrond vir hierdie stelling is die reusagtige psigiese kompleks van Holocaust-ideologie wat uit Joodse, en veral Israeliese, mitemaking gegroei het, en wat uiteindelik in die huidige tydsgewrig gelei het tot die volksmoord teen die Palestyne van Gaza. Hierdie ideologie en sy apparatuur het aan ’n akteur soos Benjamin Netanyahu die sambreel van voorkomende (“pre-emptive”) selfverdediging gegee om sy en sy soldate se dade goed te praat en te bemoontlik.44
.........
Alle mites is fabrikasies, skryf Slavoj Žižek, of namaaksels, en steun dikwels op vroeëre materiaal juis weens hierdie valse aard.
........
Blumenberg se reaksie op Arendt ontlok ander vrae: Behoort hy (of dan Naudé) nie meer oor die Nazi-regime en die Holocaust te geskryf het nie? Ten spyte van bogenoemde opmerkings bly dit onteenseglik waar dat sentraal tot hierdie ramp der rampe die grootskeepse mitifisering van Jode was – van binne Blumenberg se raamwerk gesien ná talle moontlike reokkupasies deur die eeue heen – as die groot verderf wat uitgeroei moes word, asook die Ariese rasmites van die Nazi’s. Is dit omdat Blumenberg se skema van reokkupasie of “nodige mites” self banaal sou voorkom? As mitewerking sulke ontsaglike afmetings aanneem dat dit tot die dood van tien miljoene lei, is ’n herleiding daarvan tot uiteindelik die “groot skrik” oor die absolutisme van die werklikheid iets wat hoogs asimmetries is, iets wat ons “natuurlike” eksistensiële angs die alibi vir enige vergryp sal maak. Uiteraard sou dit enige etiek onmoontlik maak.
Die groot vraag is sekerlik nie net hoe dit in die geval van die Duitsers tot die Nazi-nagmerrie gelei het nie, maar waarom die uitspeel van hierdie mitewerking gevolge van sulke uiterste omvang gehad het. Groter vergrype kan ’n denkverskynsel nie hê nie – dit is na aan ’n absolute grens. Bloot hierdie feit verdien veel groter aandag as wat Blumenberg/Naudé daaraan wy, veral met subtitels soos “Laatmoderniteit en die problematiek van skaal” (Naudé 2023:472).
Waarna ’n mens soek, is ’n omskrywing van mitewerking wat verduidelik hoe dit lei tot die vorming van mites wat los van hul ontstaansbedding raak en oral aangewend kan word en skade aanrig, mites wat as mites unieke kenmerke het. Alle mites is fabrikasies, skryf Slavoj Žižek,45 of namaaksels, en steun dikwels op vroeëre materiaal juis weens hierdie valse aard. Tweedens is alle mites te swak om gedurige aanpassing te ontduik, ingevolge die werkinge van Graves se ikonotropie. Derdens is hulle omhul deur ’n aura van nagemaakte tyd- en plekloosheid, terwyl hulle telkens hul geboortemerke van tyd en plek saamdra. Vierdens word hul inhoud en vorm deur die grootste gemene deler bepaal.
14. Tirannie
Van Arendt gepraat, die ander groot uitdaging in hierdie geskiedkundige verband is die uitgebreide en deurdringende infrastruktuur van wetlike, normatiewe en etiese verordeninge wat na die Nazi-Götterdammerung die basis is van wat demokrasie genoem word. Dit is vandag dwarsdeur die wêreld in verskeie vorme gevestig, en dis van groter omvang as enigiets wat Hitler se bewind kon bewerkstellig. Hierdie response word gewoonlik gerubriseer onder ’n tegnies stel vereistes of wette vir demokrasie, maar eintlik is ’n meer getroue beskrywing iets soos “kontramitewerking” – ’n verskuiwing waartoe Blumenberg op antitetiese wyse ’n bydrae sou kon lewer.
Die hokslaan van tirannie sou deur ’n lens van “kontramitewerking” veel meer organies wees as die stel wettiese riglyne wat iets soos burgerregte of grondwetlike argitekture impliseer. Die doeltreffendheid al dan nie daarvan behoort dan vrugbaarder binne die raamwerk van die biopolitiek,46 waartoe Arendt ’n bydraer is, gedoen te kan word. In hierdie benadering is politiek nie ’n vorm van serebrale werk nie, maar ’n “vorm van lewe” (’n begrip wat van Wittgenstein af kom). Dit steun op Aristoteles se onderskeid tussen bios en zoe, onderskeidelik die oorsprong van woorde soos biografie en die Engelse woord zoo
Bios is die sinryke lewe – weens ’n goeie skoot mitewerking – wat die stemgeregtigde burger lei, en zoe die blote lewe wat aan die redelike immorele huishouding oorgelaat word – op sy beurt weer die grondslag van die onderskeid tussen bios en oikos (wat heelwat later in die 15de eeu vir ons die woord ekonomie gegee het).47 Vandag word ons demokratiese bestaan gekenmerk deur die fyn burokratiese bestuur van lewe by wyse van instrumente soos biologiese aanwysers op massaskaal, en is die hewig ingeperkte soewerein van die nasiestaat nie veel meer as ’n hoofadministrateur nie. Plaas ’n mens dit alles in die konteks van politiek as die grondslag van die groepslewe van nie net ons “primitiewe voorvaders” nie, soos hier bo behandel, maar ook ons primatebiologie, kry mitewerking ’n heel ander posisie as wat Blumenberg voorstel.
Die soewerein wil soewerein speel, soos die alfamannetjie in ’n sjimpanseetroep. Sommige van die konsepte van Arendt se The origins of totalitarianism verskaf die motiverings vir die projek van die grondwetlike beheersing van die soewerein as potensiële tiran, met meganismes soos verkiesings, handveste van menseregte, deursigtige regering, perke op termyne en al die institusionele stappe wat gedoen word om te verhinder dat die soewerein in ’n broeikas of kokon kan beland waarin sy persoonlike mitewerking kan handuit ruk. In Lacaniaanse terme gestel: om te verhinder dat sy ek-posisie in die imaginêre van sy denke sodanig sonder beletsel en met aanmoediging van sikofante groei totdat dit verwoestende krag binne die simboliese/reële simbiose kry en sy tirannie gevestig raak.
Die krisis van die huidige tydsgewrig is dus nie soseer die verskyning van illiberale bewinde nie, as dat hierdie begrensinge van mitewerking drasties ondermyn is deur nuwe tegnologie wat deur globalisering gedra word. Dit is ’n biopolitieke verandering eerder as ’n ideologiese een.
15. Trump en ander Big Men
Die wêreld se politeite is vandag deurtrek met mite, veral onder meer konserwatiewe of reaksionêre bewinde, telkens met die potensiaal tot apokaliptiese gevolge vir die mensdom en die planeet. Wladimir Poetin hou miljoene Russe in bedwang onder die waan van Moeder Rusland; China is op ’n onomkeerbare pad wat Taiwan betref weens sy demonisering van Tsjiang Kai-sjek, waarmee hy honderde miljoene van sy burgers in ’n kwasi-oorlogstaat hou. Palestynse organisasies word gemotiveer deur mites rondom Jode; Israel skuil agter Holocaust-mitologie. In al hierdie gevalle staan kernwapens gereed vir die volgende militêre stommiteit of ongeluk.
Die doktrine van Mutually Assured Destruction, dalk die mees omvangryke vorm van feitewerking, hou egter almal tot dusver aan kant wat die gebruik van kernwapens betref. Dit is nie die geval in Amerika nie, waar ’n paar keer vermenigvuldigde kritieke massa van stemgeregtigdes volgens meningspeilings ’n diktatuur deur Donald Trump sou aanvaar. Sy durende gewildheid wat hom met publikasie hiervan die voorloper in die presidentsverkiesing maak, geskied ondanks sy alom aanvaarde rol in die bestorming van die Kapitool in Washington op 6 Januarie 2021 en ritse uitsprake oor sy gewilligheid om diktator te speel.
Die spektakel van die Q Shaman, die selfaangestelde verteenwoordiger van die QAnon-samesweringsteoriebeweging tydens die bestorming van die Kapitool in Washington in Donald Trump se poging om sy vorm van diktatorskap te vestig in 2021, was die onderwerp van navorsing en teoretisering deur Nicolas Guilhot, professor in intellektuele geskiedenis in die Departement van Geskiedenis en Beskawing aan die Europese Universiteitsinstituut in Switserland, wat ’n essay hieroor in die Boston Review gepubliseer het.48
Sy ontleding bied steun vir die Blumenberg-soektog na reokkupasie deur die Q Shaman, wat reeds ’n lokale bekendheid verwerf het in die area waar hy by sy ouers gewoon het voor hy Washington toe is, en wat ’n memoir en ’n roman selfgepubliseer het – wat Guilhot tot sy krediet deurgeworstel het. Hy plaas die Q Shaman in ’n raam van apokaliptiese gevoelens waarvan hy meen dat dit wyd onder Amerika se samesweringsteoretici voorkom en die basiese strukturende beginsel vir hulle geloofsmaneuvers is. Die ooreenkomste met die “groot skrik” van Naudé val op, maar ’n mens moet dadelik byvoeg dat eksistensiële en apokaliptiese gevoelens drasties kan verskil.
Teen die verwagting in blyk die Q Shaman nie bloot ’n aanhanger te wees van die soort heupvuurkonserwatisme wat Trump se uitsprake kenmerk en wat hy nou weer probeer inspan om aan die bewind te kom nie. Die Q Shaman-denke, in die mate waartoe dit enigsins as denke beskryf kan word, is ’n hutspot van samesweringsteorieë en apokaliptiese vrese waarin ekologiese doembeelde, gewoonlik die terrein van “progressiewes” of “linkse sosialiste” in die Amerikaanse nomenklatuur, ’n groot rol speel. Guilhot merk op dat die idees van QAnon-deelnemers aan die 6 Januarie-stormloop inderdaad oor die politieke spektrum strek:
Reporting on the events of January 6 for the New Yorker, Luke Mogelson observed that many participants who had been to previous anti-lockdown protests “saw themselves as upholding the tradition of the civil-rights movement”, some even comparing themselves to Rosa Parks. Some QAnon followers were former centrists or liberals who had become disillusioned: some had voted for Obama, others came from households of Hillary or Bernie [Sanders] supporters.
Is hierdie ’n geval van reokkupasie à la Blumenberg? Guilhot verskaf self getuienis hiervoor deur die werk van die godsdiensantropoloog Ernesto de Martino te kanaliseer:
He saw a world poised on the brink of nuclear annihilation, which the exhaustion of the ideologies of progress and the decline of religion left ill-equipped to deal with the possibility of catastrophe. ... Religious ceremonies, secular rituals, progressive or revolutionary ideologies mitigated the idea of a final collapse and disclosed anew the possibility of a collective and meaningful existence. Apocalyptic cultures allowed people to keep calm and carry on.
De Martino skryf oor sjamane dan dat hulle in oertye hierdie apokaliptiese gevoelens aangegryp en in bedwang gebring het, wat weer eens soos Blumenberg die veeldimensionaliteit van die sjamaan se wêreld tot ’n veel geringer funksie reduseer.
Maar vind hier nogtans ’n reokkupasie plaas? Indien wel, het dit nie gewerk nie. Soos hier bo genoem, kon dit nie ontkom aan die swakgehaltekenmerk van mite, die ingeboude onsinnigheid daarvan nie. Waar dit ten minste die funksie sou kon gehad het om ’n behoefte aan Amerikaners te onthul, is Guilhot se eie reaksie waarskynlik tekenend van die meeste aanskouers van die spektakel by wyse van die tegnologie van televisie: “Chansley’s phony shamanism is risible. His noisy antics and self-conscious accoutrement are as culturally genuine as Venetian waterways in Las Vegas. His psychotropic experiences are private trips that have no connection to any meaningful traditions.”
Op die ou end het hy net gedien as nog materiaal vir die industriële-vermaak-kompleks in die VSA, soos die rubriekskrywer Kat Rosenfield in die webjoernaal Unherd skryf oor die reaksies op die Gaza-slagting:
A particularly American tendency (exists) to treat whatever is happening in the world like a months-long entertainment event, equal parts melodrama and spectator sport. Having identified the players on the stage ‒ the heroic underdog, the corrupt superpower, the villain with a soft side ‒ progressives are watching the war in Gaza like it’s a Marvel superhero film. ...
Maybe this facile, emotionally-driven logic is an inevitable feature of the digital age, where fact and fiction alike are flattened into the same familiar mould, distributed across the same platforms, consumed on the same screens. In this world, it’s increasingly hard to know the difference between news and narrative, an advertiser and an influencer, the prescriptive and the descriptive; even the lines between these things begin to blur as they all tumble around in the same giant bucket labelled with just one word: “content”.49
Die tuimelende emmer is die mitiese breinskandeermasjien wat ’n versugting na die familiêre onthul, en ’n mens sou ’n spoor na ’n reokkupasie kon vat (van Rosenfield se “the heroic underdog, the corrupt superpower, the villain with a soft side”). Die dryfveer is egter nie die een of ander metaforologiese substraat van denke nie, maar die verbruik van die tegnokulturele in al sy formate – die reokkupasie is van die rusbank voor die TV. En Trump met sy geskiedenis as deelnemer aan grootste-gemene-deler-, goedkoop programme soos The apprentice is die aangewese politieke vermaaksopsie. Soos ’n sjamaan uit Lévi-Strauss manipuleer hy al die kru, maklike mites wat deel uitmaak van die Amerikaanse politieke simbole-ekonomie om die illusie te skep dat van samesweringsteorie tot aksie oorgegaan kan word op ’n veel makliker manier as wat konvensionele aktivisme kenmerk. Guilhot konkludeer:
The Q Shaman reflects something that permeates and possibly defines QAnon and all the contemporary movements capitalizing on conspiratorial thinking: by gaining traction, conspiracy theories avert the fall into individual paranoia and seek to turn apocalyptic feelings into the building blocks of alternative cultural and political communities.
Die psigodinamika is hier nie bloot die “groot skrik” nie – al sou ’n mens Guilhot se “apocalyptic feelings” daarby insluit – maar om weg te kom van die gevoel dat die swak gehalte van mitewerking beteken dat jou paranoia bloot aan jou eie swakhede te wyte is, terwyl ’n gesamentlike aksie, hoe ongestruktureer ook al, en ondanks die twyfelagtige doeleindes van die organiseerders, alles kan sublimeer in alternatiewe vorme van saamleef. Dikwels is die amplifikasies van die tegnologiese – “Look Mom, I’m on TV” – genoeg om as simulakrum van aksie te dien.
Ewe belangrik is dit dat die kanse om ’n alternatiewe gemeenskap te bou op ’n samesweringsparanoia op nasionale skaal gering is. Elders in die Boston Review wys Daniel Williams, dosent aan die Universiteit van Sussex, oortuigend dat die verbruik van misinformasie deur Amerikaners gering is.50 Voorts is die aantal verbruikers wat spesifiek samesweringsteorie verbruik ’n geringe breukdeel van hierdie kohort. Dit herinner aan Blumenberg en Naudé se oorskatting van die impak van die “groot skrik” soos uiteengesit in afdeling 5, “Skrik of grap”.
.........
Trump het gekom waar hy is nie omdat sy manipulasies op sigself suksesvol was nie, maar omdat sy Republikeinse partygenote ingekoop het in die illusie dat hulle weer eens ná die overwagse sukses van sy verkiesing tot president in 2016 suksesvol sou kon wees – hulle tree op soos Lévi-Strauss se subjekte wat maak of hulle in die sjamaan se magte glo.
.........
Trump het gekom waar hy is nie omdat sy manipulasies op sigself suksesvol was nie, maar omdat sy Republikeinse partygenote ingekoop het in die illusie dat hulle weer eens ná die overwagse sukses van sy verkiesing tot president in 2016 suksesvol sou kon wees – hulle tree op soos Lévi-Strauss se subjekte wat maak of hulle in die sjamaan se magte glo. Sonder die siniese en gewetenlose steun van die Republikeinse establishment sou Trump die mediaspektakel gebly het wat hy was en is.51
Die huidige krisis in Amerika en hier te lande is een van feitewerking wat aan die faal is. Oor die afgelope 20 000 jaar of so het ons gevorder in ons verontabsolutering van die werklikheid, om Blumenberg se terme te gebruik, by wyse van eeue en millennia se konsensus oor “feite” soos die inseminasie van vroue deur mans of die rondheid van die aarde. Hierdie feite is vandag dooie feite, en het opgestapel soos die lae rommel wat ’n ziggoerat gevorm het. Die jongste tegnologie het egter van hierdie dooie feite laat herleef by wyse van die oneweredige amplifikasie van enkelinge se impulsiewe verbeeldingsvlugte, sonder enige belemmerings van selfs die estetiese. Hulle word aangebied as ten minste ewe gewigtig, maar dikwels as verskeie male meer gewigtig as feite wat deur byvoorbeeld die wetenskappe bewys kan word maar nog nie deur openbare konsensus “begrawe” is nie.
Blumenberg, en deur hom Naudé, lig die prosesmatigheid uit van hierdie verval deur nuttige terme soos redewerking en mitewerking te skep, terme wat as analitiese instrumente in die filosofie kan dien om te help vaspen hoe hierdie verval gebeur, en ook die gedagte van die onherstelbare verstrengeling van hierdie denkmodusse – mits ’n mens uit die staanspoor herkenningsvooroordeel probeer vermy. Dieselfde kan gesê word oor sinrykheid en die oorredingsfigure wat mense inspan in hul rasionaliseringsprosesse. En dan laat die Afrikaanse semantiek ’n mens toe om ’n gelykvormige denkvorm soos “feitewerking” voor te stel wat saam met Blumenberg se binêr en ander vorme geteoretiseer kan word.
Terme soos reokkupasie en grondmites sou moontlik kon werk as instrumente mits hulle gesien word as oorredingsfigure self, om ’n etiese dimensie te versterk wat lank reeds in die volksmond gevestig is in clichés soos “patriotisme is die toeverlaat van die skurk”. Ook nie te onderskat van Blumenberg se werk nie, is dat dit die onvoltooide werk van geeste soos Barthes, Lévi-Strauss en Graves verder kan voer.
Dit is egter so ver as wat Blumenberg se idees kan dien vir ’n ingrype in die huidige krisis. Dit verklaar nie hoe hoogs uiteenlopende mites so los van hul oorspronge kan raak dat hulle kan dien vir enige lukrake funksie nie – trouens, die eis dat reokkupasie en metaforologiese begronding in ’n vooraf tyd gesoek moet word, werk so iets teen.
Die gevaar bly ook dat filosofie deur Blumenberg se lens groter gewig en ’n histories-ontologiese begronding aan moderne vorme van mites, mitewerking, propaganda, disinformasieveldtogte en politiekgedrewe leuens kan verleen wat onjuis en onverdiend, en op die ou end erg teenproduktief, kan wees.
Eindnotas
1 Naudé (2023:21–36).
2 Boshoff (2023).
3 Barthes (1980).
4 Graves (1973, 1974).
5 Armstrong (2006).
6 Aangehaal in Lévi-Strauss (1967).
7 Pears (1971:12).
8 Language games, Wikipedia.
9 Levin (2023).
10 Wittgenstein (2018).
11 Hierdie opmerking is gebaseer op ’n persoonlike mededeling deur ’n werker op pad huis toe.
12 Herzog (2010). Hierdie esteties hoogs gevorderde tekeninge lyk of hulle baie min met enige skrik te doen het – eerder met die estetiese plesier van tekeninge self, wat hulle laat tel onder die beste wat ooit gemaak is.
13 Mithen (2024).
14 Naudé (2023b).
15 Bv: “A primitive people is not a backward or retarded people: indeed it may possess, in one realm or another, a genius for invention or action that leaves the achievement of civilized people far behind.” (Levi-Strauss 1967:98)
16 Apex predator, Wikipedia.
17 Sien byvoorbeeld die werk van Martin Seligmann en Ian Parker, en vroeër RD Laing.
18 Johnston (2024).
19 Johnston (2024): “The lower-case-o other designates the Imaginary ego and its accompanying alter-egos. By speaking of the ego itself as an ‘other’, Lacan further underscores its alien and alienating status. [...] Additionally, when relating to others as alter-egos, one does so on the basis of what one ‘imagines’ about them (often imagining them to be ‘like me’, to share a set of lowest-common-denominator thoughts, feelings, and inclinations making them comprehensible to me). These transference-style imaginings are fictions taming and domesticating the mysterious, unsettling foreignness of one’s conspecifics, thereby rendering social life tolerable and navigable [...] The Symbolic big Other also can refer to (often fantasmatic/fictional) ideas of anonymous authoritative power and/or knowledge (whether that of God, Nature, History, Society, State, Party, Science, or the analyst as the ‘subject supposed to know’ [sujet supposé savoir][...] [T]here also is a Real dimension to Otherness. This particular incarnation of the Real [...] is the provocative, perturbing enigma of the Other as an unknowable ‘x’, an unfathomable abyss of withdrawn-yet-proximate alterity.”
20 Weinberg (1996).
21 ’n Suggestie hiervan is te vinde op Wikipedia: “In the early 20th century, competing ideas of evolution were refuted and evolution was combined with Mendelian inheritance and population genetics to give rise to modern evolutionary theory. In this synthesis the basis for heredity is in DNA molecules that pass information from generation to generation. The processes that change DNA in a population include natural selection, genetic drift, mutation, and gene flow.” (Evolution, Wikipedia)
22 Penrose (2004:689).
23 Cepelewiz, J (2024).
24 Sien die behandeling hiervan deur Penrose (2004:17–23).
25 Sien as voorbeeld MIT Technology Review (2017).
26 Penrose, (2004:370): “No set of pre-assigned trustworthy mathematical rules can encapsulate all the procedures whereby mathematical truths are ascertained.”
27 Wilden (1984).
28 Murray (2016).
29 Barthes (1983:58).
30 Sien bv Yong (2022).
31 Wilcken (2022).
32 ’n Verdere verfyning is hier nodig, soos verskaf deur Gili Kluger in die Boston Review: “Lévi-Strauss argued that the rituals and beliefs surrounding the totem were the means by which individuals expressed fundamental ideas about their relations to each other and the environment. The stories and practices involving the totem were the concrete embodiment of abstract thought. Totems were not ‘good for eating’ as the functionalists held, but ‘good for thinking’. Lévi-Strauss was not just making the case that anthropologists reexamine long-held interpretations. He was also making a philosophical argument: This concrete way of thinking was the universal mode of thought. And it suggested that the world around us is vested with a power to shape our sense of self, rather than the other way around.” (Kluger 2022)
33 Sien bv die essay “Do dual organizations exist?” in Lévi-Strauss (1967:128–59).
34 De Waal (1982).
35 Berger (2024).
36 Reader (1998:143).
37 Lévi-Strauss verskaf ’n goeie opsomming van mite as totaal arbitrer, waarin “any conceivable relation can be found” in die essay “The structural study of myth” (Lévi-Strauss 1967:204)
38 Pryke (2019).
39 South African Human Rights Commission (2024).
40 Camus (1978:28): “In our daily trials rebellion plays the same role as does the ‘cogito’ in the category of thought: It is the first clue. But this clue lures the individual from his solitude. Rebellion is the common ground on which every man bases his first values. I rebel – therefore we exist.”
41 South African Government News Agency (2021).
42 Davis (2024).
43 Evolution, Wikipedia.
44 Sien Pienaar (2024:7).
45 Žižek (2001:26): “The notion of a faked immitation of the myth should be radicalized ito the notion that myth as such is a fake” (sy kursivering).
46 ’n Goeie inleiding tot die biopolitiek is die artikel deur Lebovic (2011).
47 Sien die werk van Giorgio Agamben, veral Homo sacer, en the Power and the glory.
48 Guilhot (2021).
49 Rosenfield (2023).
50 Williams (2023).
51 Sien Pienaar, H. 2020 Donald Trump, die koronavirus se beste vriend, Litnet, https://www.litnet.co.za/donald-trump-die-koronavirus-se-beste-vriend/, 16 April 2020. (geraadpleeg op 23 Junie 2024).
Bronnelys
Apex predator. Wikipedia. https://en.wikipedia.org/wiki/Apex_predator (31 Mei 2024 geraadpleeg).
Armstrong, K. 2006. A short history of myth. Edinburgh: Canongate.
Barthes, R. 1980. Mythologies. St Albans: Granada.
—. 1983. Selected writings, Londen: Fontana.
Berger, L. 2024. Cave of bones. Lesing voor The Explorers Club, https://www.youtube.com/watch?v=cIrV_fgfrs8 (9 Junie 2024 geraadpleeg).
Boshoff, H. 2023. In die rede geval– waarom die mens mites maak, deur Charl-pierre Naudé: ’n resensie. https://www.litnet.co.za/in-die-rede-geval-waarom-die-mens-mites-maak-deur-charl-pierre-Naudé-n-resensie (11 November 2023 geraadpleeg).
Camus, A. 1978. The rebel. Harmondsworth: Penguin Books.
Cepelewiz, J. 2024. The rest of the world disappears: Claire Voisin on mathematical creativity. Quanta, 13 Maart. https://www.quantamagazine.org/a-mathematician-on-creativity-art-logic-and-language-20240313 (14 Maart 2024 geraadpleeg).
Davis, R. 2024. Human Rights Commission finds violent July 2021 riots stoked by agitators not poverty. Daily Maverick, 29 Januarie 2024. https://www.dailymaverick.co.za/article/2024-01-29-sa-human-rights-commission-finds-violent-july-2021-riots-stoked-by-agitators-not-poverty (21 Februarie 2024 geraadpleeg).
De Waal F. 1982. Chimpanzee politics. Londen: Unwin Paperbacks.
Evolution. Wikipedia. https://en.wikipedia.org/wiki/Evolution (26 Mei 2024 geraadpleeg).
Graves, R. 1973. The Greek myths, Volume 1. Harmondsworth: Penguin Books.
— . 1974. The Greek myths, Volume 2. Harmondsworth: Penguin Books.
Guilhot, N. 2021. Bad information. Boston Review, 23 Augustus 2021. https://www.bostonreview.net/articles/bad-information (21 April 2024 geraadpleeg).
Hans Blumenberg. Wikipedia. https://en.wikipedia.org/wiki/Hans_Blumenberg (19 April 2024 geraadpleeg).
Herzog, W. 2010. Cave of forgotten dreams. Toronto: History films, creative differences. Ministère de la Culture et de la Communication, Arte France, Werner Herzog Filmproduktion.
Johnston, A. 2024: Jacques Lacan. The Stanford encyclopedia of philosophy (Summer 2024 Edition). Edward N Zalta en Uri Nodelman (reds). Forthcoming URL: https://plato.stanford.edu/archives/sum2024/entries/lacan (17 Februarie 2024 geraadpleeg).
Kluger, G. 2019. A hidden order of reality. Boston Review, 17 April.
https://www.bostonreview.net/articles/gili-kliger-deep-structure-social-reality (21 Januarie 2024 geraadpleeg).
Lacan J. 1984. Speech and language in psychoanalysis. Vertaal en ingelei deur Anthony Wilden. Vierde druk. Baltimore: Johns Hopkins University Press.
Language games. Wikipedia. https://en.wikipedia.org/wiki/Language_game_(philosophy) (15 April 2024 geraadpleeg).
Lebovic, N. 2011. A history of life. Mafte’akh 2e.
Levin, J. Functionalism. The Stanford encyclopedia of philosophy (Summer 2023 Edition) Edward N. Zalta & Uri Nodelman (reds.). plato.stanford.edu/archives/sum2023/entries/functionalism (25 November 2023 geraadpleeg).
Lévi-Strauss, C. 1967. Structural anthropology. Garden City, New York: Anchor Books.
MIT Technology Review. 2017. The dark secret at the heart of AI. https://www.technologyreview.com/2017/04/11/5113/the-dark-secret-at-the-heart-of-ai (31 Mei 2024 geraadpleeg).
Mithen S. 2024. How Neanderthal language differed from modern human – they probably didn’t use metaphors. The Conversation, 20 Mei 2024. https://theconversation.com/how-neanderthal-language-differed-from-modern-human-they-probably-didnt-use-metaphors-229942 (26 Mei 2024 geraadpleeg).
Murray, M. 2016. Jacques Lacan, a critical introduction. Londen: Pluto Press.
Naudé, C-P. 2023a. In die rede geval. De Kelders: Naledi.
—. 2023b. Hans Blumenberg se filosofiese antropologie. LitNet. https://www.litnet.co.za/hans-blumenberg-se-filosofiese-antropologie (11 Februarie 2024 geraadpleeg).
Pears, D. 1971. Wittgenstein. Londen: Fontana.
Penrose, R. 2004. The road to reality. A complete guide to the laws of the universe. Londen: Jonathan Cape.
Pienaar, H. 2020 Donald Trump, die koronavirus se beste vriend. LitNet. https://www.litnet.co.za/donald-trump-die-koronavirus-se-beste-vriend (23 Junie 2024 geraadpleeg).
—. 2024. Why we must support South Africa’s action against Israel. Business Day, 9 Januarie 2024, bl 7.
Pryke, L. 2019. Hidden women of history: Enheduanna, princess, priestess and the world’s first known author. The Conversation, 12 Februarie 2019. https://theconversation.com/hidden-women-of-history -enheduanna-princess-priestess-and-the-worlds-first-known-author-109185 (9 Junie 2024 geraadpleeg).
Reader, J. 1998. Africa: a biography of the continent. Londen: Penguin.
Rosenfield, K. 2023. Hamas aren’t Hollywood villains. Unherd. Desember 2023. https://staging.unherd.com/2023/12/hamas-arent-hollywood-villains (8 Januarie 2024 geraadpleeg).
South African Government News Agency. 2021. President Ramaphosa: Attempted insurrection failed to gain popular support. 17 Julie 2021. https://www.sanews.gov.za/south-africa/president-ramaphosa-attempted-insurrection-failed-gain-popular-support (17 Junie 2024 geraadpleeg).
Weinberg, S. 1996. Sokal’s hoax. The New York Review of Books, 8 Augustus 1996. https://www.nybooks.com/articles/1996/08/08/sokals-hoax (23 November 2023 geraadpleeg).
Wilcken, P. Claude Lévi-Strauss: science, myths and the mystical. The Times Literary Supplement. https://www.the-tls.co.uk/regular-features/footnotes-to-plato/claude-levi-strauss-science-myths-mystical (17 Maart 2024 geraadpleeg).
Wilden A. 1984. Lacan and the discourse of the other. In Lacan 1984.
Williams, D. 2023. The fake news about fake news, Boston Review, 7 Junie 2023. https://www.bostonreview.net/articles/the-fake-news-about-fake-news (20 Junie 2024 geraadpleeg).
Wittgenstein, L. 2018. The mythology in our language. Remarks on Frazer’s golden bough. Vertaal deur Stephan Palmié. Chicago: Hau Books.
Yong, E. 2022. An immense world. How animal senses reveal the hidden realms around us. New York: Random House.
Žižek, S. 2001. Did somebody say totalitarianism? Londen: Verso.
Lees ook:
LitNet Akademies-resensie-essay: Interaksie met Hans Pienaar oor In die rede geval


Kommentaar
Simply an outstanding, utterly absorbing review of scholarship 'uit die boonste rakke.'
One is obliged to re-read Barthes, Graves and the rest to do it justice. But the main take-away is its relevance to the politics of today and myth as a weapon in the hands of someone like Trump and half a dozen other leading politicians in a dozen other democracies one can think of - France, Hungary, Italy et al. The list is a long one already. Is democracy, as we know it, doomed?
Ek bedank Hans Pienaar vir sy reaksie op my boek oor die filosofie “In die rede geval: Waarom die mens mites maak”.
Ek het begin lees hieraan met die indruk dat dit wonderlik is dat die gewone joernalistiek so passievol in gesprek met die filosofie wil tree.
Gou het my indruk verdof. Hierdie kommentaar is ’n moedswillige en self-geabsorbeerde verduistering van Blumenberg se denke; van my eie voortwerking en kommentare daarop; en van die filosofie in die algemeen.
Die stuk wemel van vergesogte en ondeurdagte gevolgtrekkings; van ’n verkeerde lesing van basiese uitgangspunte in my boek en van Blumenberg se filosofie; buite konteks gelese aanvalle op sommige van my boek se argumentasies; en lukraak uit die lug gegrepe verwysings wat uiters geforseerd as kritiek aangewend word.
Die publikasie van Pienaar se “resensie-akademies” plaas ’n vraagteken oor LitNet se keuringsproses van resensies.
Dit lyk of die “resensie” so geskryf is om gesprek tussen my en die resensent uit te lok. Maar om op sulke swak formulerings en vergesogte analise te reageer is die sous nie werd nie.
Beste Charl-Pierre
In Junie verlede jaar het ek jou Blumenberg-artikel op hierdie platform gelees en verlede week Hans Pienaar se stuk. Vandag jou respons met die verwerping van Pienaar se kommentaar. Laat ek my verstout om namens al die lesers van bg. drie stukke, asook ter wille van toekomstige belangstellendes te vra (nie slegs weens my eie geprikkelde nuuskierigheid nie) of jy asb. een of twee voorbeelde kan gee ter verheldering van enige van die volgende vyf punte van kritiek wat jy teen Pienaar gebruik:
1. vergesogte en ondeurdagte gevolgtrekkings 2. verkeerde lesing van basiese uitgangspunte van jou boek 3. verkeerde lesing van uitgangspunte van Blumenberg se filosofie 4. lukraak uit die lug gegrepe verwysings 5. swak formulerings.
Sedert ek gelukkig was om Hannah Arendt se "The Life of the Mind, v. 1 Thinking" (1978) te kon lees, stel ek in hierdie onderwerp belang.
Groete
Waldemar
In die kommentaar hierbo verwerp Charl-Pierre Naudé uiteindelik Hans Pienaar se resensie maar ek let op Pienaar het darem aan die einde van Afdeling 1 van sy resensie die volgende voorbrand gemaak:
"Ek skryf as een van daardie studeerkamerleke, ’n slordige outodidak wanneer dit by filosofie kom ... Ek verwag ten volle om iewers Sancho Panza se kat aan die stert beet te hê."
Charl-Pierre Naudé, ook in onvriendelike private boodskappe aan my, is hoogs ontsteld oor my essay oor sy boek. Dit is ten spyte van my oorvloedige aanprysings, wat ek hier opsom as ’n aanbeveling: Koop die boek by Naledi, jy sal nie spyt wees nie.
Die caveat is egter ’n waarskuwing: terwyl sy uiteensetting van Blumenberg se filosofie vir my as absoluut briljant voorkom, raak Naudé verskeie onsinnighede kwyt in sy toepassings daarvan. Aan die een kant is dit prysenswaardig dat hy die moed het om dit te waag, maar die gevaar is daar dat skadelike mites ’n nuwe lewe kry met Naudé se Blumenberg-stempel daarop.
Onder wit mense is daar hardnekkige gelowe en sienswyses spruitende uit ons koloniale verledes. Een van hulle het opgeduik in sy siening dat die Julie 2021-onrus terug te voer is na swart mense se historiese kommunale lewenswyses, terwyl enigiemand kon sien dat Zuma-politiek die vernaamste dryfveer was.
Sy ontsteltenis spruit ook daaruit dat hy dieselfde sikofantisme van my verwag het as wat omtrent al die ander resensente betuig het in die skouerkloppende groepswoeps wat die Afrikaanse literêre wêreld is. Hy behoort te sien dat dit hulle is wat hom die onguns aandoen, nie ek nie.
Ek is heeltemal ontvanklik vir regstellings en aanbevelings. Hoewel ek ’n skryfgenoot van die Johannesburg Institute for Advanced Study is, wil geen universiteit my toegang tot hul digitale hulpbronne gee sonder yslike subskripsiegelde nie. Ek het ook geen akademiese bystand nie en moes dus maar staatmaak op my eie boekery en skryfsels wat ek gemaak het uit my eie dekadelange belangstelling in mites en mitologie. As Naudé met “self-absorberend” bedoel dat ek my eie kop volg en nie syne nie, mea culpa.
Een van Naudé se twyfelagtige, dog hoogs vermaaklike, toepassings is dié van die skrywer se postuur. Die verband met Blumenberg oortuig my nie, maar op sigself het die konsep meriete. Een so ’n postuur, wat Naudé self soms aanwend, is dié van die “objektiewe” resensent, wat dan met allerlei retoriese truuks – soos “damning with faint praise” – stekies inkry na die geresenseerde skrywer. Hierdie skrywers is natuurlik dikwels mededingers in die Facebook Eisteddfod wat die Afrikaanse letterkunde is.
Wel, ek het ’n ander postuur aangeneem omdat ek en 99% van denkende mense nie glo ’n objektiewe resensie is moontlik nie. Ek vind dikwels dat ek met ’n satiriese “edge” skryf en het op 68 lankal opgehou om verskoning daarvoor te vra. Miskien is dit wat Naudé bedoel met “moedswillig” – ek is (emoji: thumbs-up) daarmee. Sommige van die idees in Blumenberg leen hulle tog duidelik tot humor, soos wat ek wil noem die “meerkat-hipotese” oor die sprong in menslike denke nadat hy die horison raakgesien het. Hopelik lei dit daartoe dat meer mense die volledige essay – en uiteindelik Naudé se boek – sal lees.
Dit is een ding waarvoor ek jou dubbeld en dwars moet bedank, Hans – jy het my boek lugtyd gegee. En hierdie aspek is ek voor dankbaar.
Hans Pienaar, die probleem met jou resensie is nie dat jy dit hier aanprys of daar daarop kritiek het nie. Die probleem is dat beide jou aanprysings en jou kritiek op sulke wankelrige filosofiese bene staan, dat slegs een woord dit kan beskryf: belaglik.
En dit is geensins waar dat jy net probleme het met my toepassings nie. Gaan lees weer jou eie stuk. Jy raak regdeur onsinnighede kwyt oor basiese beginsels van die filosofie. Jy is die kluts kwyt hier. Punt.
Jürgen Habermas het aangetoon dat hermeneutiek vir die lees en verstaan van 'n geskrewe teks van onskatbare waarde is. Hermeneutiek beteken om tot verstaan te kom. Dit is 'n voorwaarde vir enige resensie. Van Wyk Louw se insigryke woorde help elke leser. "... my enigste stryd my lewe lank, was die vraag: 'Wat is waar? Wat kan ek weet, wat kan ek glo? Waaraan kan ek vashou?" Charl-Pierre Naudé slaag in sy uitmuntende boek, In die rede geval, om Van Wyk Louw se kwellende vrae te beantwoord. Die begrippe mites en metafoor is van sleutelbelang. Die resensent maak beswaar teen Naudé se beligting van die begrip metafoor. Dit is jammer dat die resensent nie die meester van die metafoor, Paul Ricoeur se toeligting van die metafoor gelees het nie. Die funksie van die metafoor is onder andere om spanning te skep en verwante werklikhede te verbind. Ricoeur toon aan dat die primêre eenheid van betekenis die sin is, en nie die woord nie. Daarom gaan dit nie net om die funksie van woorde nie, maar om die totale (kon)teks waar binne woorde en frases gebruik word. Naudé het aan die vereiste voldoen. In 'n verskuiwende wêreld kry die metafoor steeds nuwe betekenismoontlikhede. Charl-Pierre Naudé het ook met onderskeiding aan die mitewerkende modus aandag gegee. In die Griekse mitologie was Afrodite die dogter van Zeus. Sy is die godin van vrugbaarheid, liefde en skoonheid. In ons tyd kry Afrodite 'n ander betekenis. Dit het TT Cloete in 'n gedig aangetoon.
Afrodite sit vrypostig sonder eggenoot
- sy is glo darem verloof -
met 'n kind op haar je táime skoot
en 'n kontant oureool om haar hoof.
Charl-Pierre het in sy voortreflike boek die denke van Hans Blumenberg insigryk aan aan die leser bekendgestel.
En intussen wag ons nog steeds op Naudé se antwoorde op Waldemar Gouws se belangrike vyf vrae. Maar al wat daar is, is 'n doodse stilte.
Petra Pienaar-Nel
Die skakel van my repliek op Hans Pienaar se "resensie-essay" verskyn onderaan sy artikel: LitNet Akademies-resensie-essay: Interaksie met Hans Pienaar oor In die rede geval.