Ek wonder wat dit is met ons, dat ons so hewig reageer oor seks? Sodra daar ’n sekstoneel in ’n film of boek is, is daar ’n oproer. Fifty shades of Gray het trefferstatus behaal, maar so iets in Afrikaans in onaanvaarbaar.
In onlangse Afrikaanse geselskap waarin ek was, is gesê: “Ek hoor daar is ’n nuwe Afrikaanse reeks op TV, Tuiskoms, maar die seks is erg!”
Ek het die eerste twee episodes van Tuiskoms gekyk, maar dit was nie (myns insiens) vulgêr of lelik nie. En allermins, erg.
LAPA se RomanzaStoom-boekies is kort-kort in die hoof se kantoor oor die sekstonele. Die skrywers se name word uitgespoeg en nie genoem nie.
My ma vat gereeld boeke na ’n aftreeoord, dan neem sy soms een of twee van die boeke om te gaan lees. Daar was al verskeie boeke waarin daar waarskuwings geskryf is, soos dat dié of daai boek vieslike seks in het. Soms word die bladsye selfs uitgeskeur sodat dit tog net nie versprei kan word dat mense hierdie gruweldaad pleeg nie! Die woord orgasme jaag enige “ordentlike” mens se hand na voor die se mond!
Wat is dit met ons? Is ons almal aangenome kinders? Sover ek weet, is seks nogal belangrik om kinders te verwek. En statistiek bewys dat die gemiddelde gesin uit twee ouers en ongeveer twee en ’n halwe kinders bestaan. So, as daar uiters suksesvolle sperms en eierselle was, het die gemiddelde Afrikaanse paartjie ten minste twee en ’n halwe keer seks gehad.
Ons gesels maklik oor goed wat lekker is, soos kos, sport en stokperdjies. Maar o wee, net nie seks nie! Dit mag blykbaar nie geniet word nie. Sies, man!
Hoekom nié? Dis een van die beste godgegewe aktiwiteite wat daar is. En dit is hemels, misterieus en gevul met ’n lekker en satisfaksie wat met bitter min ander goed vergelyk kan word, indien enige. Die voordele van gesonde en gereelde seks is boonop legio.
Dis goed vir jou gesondheid. Dit verdiep jou verhouding met jou lewensmaat. Hierdie mooi verhouding kring uit na al jou ander verhoudings. Jy kyk met sagter oë na die wêreld en sy mense om jou. Seks verlaag stresvlakke, wat die moontlikheid van minder geïrriteerde, snaarstywe dikbek mense kan meebring.
In hierdie chaotiese, lelike wêreld is mooi seks dalk net wat ons nodig het.
As jy omgekrap raak oor sekstonele in boeke en films, moenie dit kyk of lees nie. As die “18+” op lees- of kykstof jou gaan ontstel, bly dan ver weg daarvan en ook van ander “SNLV”-gemerkte media. Moenie dit koop of kyk nie. Dit gaan jou ontstel.
Daar is ’n wêreldse verskil tussen erotika en pornografie. Dit sal nie wys wees om albei in een kraal te jaag nie.
Jy mag dalk nou dik die dinges in wees vir my, maar ek wil jou aanraai om jouself toe te laat om een (verkieslik meer) heerlike, fantastiese, allesoorweldigende orgasme te hê.
Blykbaar is pienk kleintoontjies ’n sigbare teken van ’n goeie sessie lakenvastrap. Dit mag dalk net jou uitsig op die lewe ook rooskleurig laat.
Lees ook:
Romantiese en erotiese fiksie in Afrikaans: variasies op ’n wenresep?
Kommentaar
Was nouriedag daar by die Adam Small boekefees, toe daar 'n bekende professor van Stellenbosch die hoofrede lewer. Hy sê toe hy het baie boeke geskryf in sy lewe. Maar hy is ook getroud en het twee dogters. So hy het darem nie die hele tyd geskryf nie, sê hy.
Waarom sou iemand hoegenaamd belangstel in ander se lakenvastrapdinge?
Liefde kom eerste, lakenvastrap is 'n uitvloeisel daarvan, nie andersom nie.
Is voorhuwelikse lakenvastrap 'n vereiste vir lewenslange getrouheid?
Nou lê dié daar in die leunstoel, bed of beach en lees lakenvastrapdinge en word versadig, ou dae se bloufilms in donkerkamers, deesdae vryelik op die internet, enige bloomin fliek is paar maal besmet met sulke erotika, sodat hy gekyk moet word.
Ek dink dis 'n ernstige geval van minderwaardigheid, tekortkominge en dies meer.
Jy raak verlief en dan lief, ou siel, en dan kom daardie dinge vanself - natuurlik.
Om aan films, internet en erotika verslaaf te wees is 'n gat in jou selfsisteem, eina!