Hoe verklaar jy dit? Met Jana Marx en Stefaans Coetzee by Momentum Beleggings Aardklop 2023

  • 0

Jana Marx gesels met Stefaans Coetzer oor haar boek, Kultusse in Suid-Afrika by Momentum Beleggings Aardklop 2023.

Met die Momentum Beleggings Aardklop 2023 Kunstefees om die draai het Yolanda Wessels meer gaan uitvind by die bekroonde joernalis, waremisdaadskrywer en vervaardiger Jana Marx. Sy vertel in Kultusse in Suid-Afrika oor die verskil tussen ’n sekte en ’n kultus, wie word in ’n kultus ingetrek, en die kenmerke van ’n kultusleier.

Waaroor handel dit?

Dis bewys dat met elke ramp wat die wêreld tref – of dit nou ’n resessie, ’n oorlog, ’n natuurramp of die Covid-pandemie is – daar ’n oplewing van kultusse is. Mense wat onseker en getraumatiseerd is, soek iets om aan vas te klou, en kwaksalwers weet dit en buit dit uit. Hierdie boek wil mense paraat maak en toerus met die inligting wat hulle nodig het om hierdie bedrieërs en kultusse, wat onder die dekmantel van ’n kerk of selfs ’n werkgroep of vriendekring handel, uit te ken. Die boek sluit ook riglyne deur kenners in oor wat om te doen as iemand vir wie jy lief is, in ’n kultus vasgekeer is. Dis nie so maklik om net uit te klim nie.

Hoe het jy aan die idee gekom om hierdie navorsing te doen?

Ek het in my teologiese studies oor godsdienstige kultusse geleer, en in die sielkunde oor persoonlikheidsteorieë en psigopatologie. Ek is nog altyd baie geïnteresseerd in wat van ’n persoon ’n goeie of slegte leier maak en wat maak dat mense hulle volg. Ek is dus al jare lank bewus van die gevare van kwaksalwers en hoe hulle goeie, opregte mense indoen en mislei. Toe die Krugersdorp-moordsaak oor my pad kom, kon ek ’n bietjie dieper delf in die sielkunde van ’n kultus. Ek het in die proses ook besef ’n kultus is nie outomaties iets wat met godsdiens te doen het nie. Kultusgedrag kan sy kop uitsteek in vriendekringe en selfs by die werk. Ná Devilsdorp het ek ontsettend baie vrae gekry van mense wat wonder oor die gevaartekens – hoe om te weet of jy reeds deel is van so ’n groep en ook hoe om mense te help wat daarin vasgevang is. Dit het dus 100% vir my sin gemaak om navorsing daaroor te doen en daaroor te skryf toe die geleentheid hom voordoen.

........
Devilsdorp het ek ontsettend baie vrae gekry van mense wat wonder oor die gevaartekens – hoe om te weet of jy reeds deel is van so ’n groep en ook hoe om mense te help wat daarin vasgevang is.
........

Wat het jou die idee gegee om die boek te skryf?

Ek het ’n paar maande ná Devilsdorp opgetree by een van Stephan Joubert se eKerk-geleenthede, waar ek vanuit my navorsing met predikante oor kultusse en kultusgedrag gepraat het. Die voorlegging het – aan die hand van verskillende kultusse – probeer wys dat ’n kultus nie noodwendig net ’n ekstreme geval is wat die hoofnuus haal nie. Dis meer alledaags as wat ons dink. Ons het ’n bietjie ingezoem op ’n kultusleier se karaktereienskappe en hoe algemeen manipulasietegnieke eintlik toegepas word – iets wat natuurlik nie in gesonde geloofsomgewings moet gebeur nie. Die terugvoer was positief. Die uitgewer, Susan Jordaan, het die praatjie bygewoon. Sy het my agterna gekontak vir ’n boek oor die tema.

Wat was uitdagings in die skryfproses / hoogtepunte in die ervaring?

Tyd! Tyd is maar altyd ’n kwessie as jy vir jouself werk. Ek het wel ontsettend baie deur my navorsing vir hierdie boek geleer. Die kenners wat ek in die boek aanhaal, is almal uitmuntend en ek het vreeslik lekker saam met hulle gewerk om die inhoud vir die boek bymekaar te kry.

Het jy ’n spesifieke tyd/roetine as dit by skryf kom?

Ek wens! Ek het al soveel keer probeer om daai 500 woorde of 1 000 woorde per dag te skryf waaraan soveel skrywers glo, maar ek kry dit nog nie reg nie. My kop dink in tonele eerder as in woordtellings en ek moet in die zone wees voordat ek sinvol kan skryf, wat moeilik gebeur as ek onder ander werksdruk is. Ek sal dus eerder volle dae, naweke of ’n week uitblok waarin ek byvoorbeeld ’n hele hoofstuk skryf, of ’n hele act wat uit ’n paar hoofstukke bestaan. Dis ook vir my belangrik om ’n eerste draft te herskryf (soms tot ’n paar keer) totdat ek gelukkig is. Ook dít breek ek in dele op en doen dit oor ’n tydperk. Ek glo teks moet ’n bietjie “asemhaal” om beter te word.

Hoe is dit om voor ’n feesgehoor oor jou boek te kom praat?

Ek sal jou sê ná die gesprek. 😊 Ek was nog net in die gesprekvoerder se stoel en dit was vir my nog altyd lekker. Die feesgees tree as demper op ’n mens se senuwees op en maak dit makliker vir ’n gesprek om te vloei. Ek sien daarna uit om met Stefaans Coetzee te gesels. Nie net was hy ’n waardevolle bron vir my boek nie, maar hy is so ’n lekker, inspirerende mens en ek glo ons gaan lekker klets.

Skryf is maar ’n alleen besigheid, so hoe voel dit as jy by ’n fees opdaag en besef jy ontmoet sommige van jou lesers? Is dit lekker, of uitdagend?

Dis altyd lekker om met mense te gesels wat jou werk ondersteun – en selfs dié wat dit nié ondersteun nie. Ek is ’n sucker vir ’n konstruktiewe debat. Omstrede onderwerpe soos kultusse is geneig om mense aan die praat te kry, wat vir my positief is. Dis belangrik om nie stil te bly oor onreg nie.

Is dit lank sedert jy laas voor ’n gehoor moes praat met Covid wat soveel besprekings in die wiele gery het?
Glad nie. Daar was dalk nie geleenthede om in persoon by te woon nie, maar toe die land onder slot en grendel geplaas is, het alle besprekings of praatjies waaraan ek moes deelneem, eenvoudig aanlyn geskuif en voortgegaan. Die een of twee keer wat ek in persoon by ’n TV-opname moes wees, het ek dit bloot met ’n mediapermit bygewoon.

Wat is die doelwit wat jy graag met die boek wil bereik – wat wil jy graag hê die leser moet saamneem/onthou?

Ek hoop die boek bemagtig die leser om kultusleiers of mense wat ander vir hul persoonlike gewin uitbuit, uit te ken, en waar moontlik ook verantwoording te laat doen. Ek het hartverskeurende stories gehoor van mense met geliefdes in sulke kultiese omgewings. Ek hoop die boek bemoedig hierdie familielede of vriende en maak dalk die oë oop van dié wat in so ’n groep vasgevang is, en dit dalk nie weet of wil glo nie.

........
Devilsdorp het ek ontsettend baie vrae gekry van mense wat wonder oor die gevaartekens – hoe om te weet of jy reeds deel is van so ’n groep en ook hoe om mense te help wat daarin vasgevang is.
........

Dit blyk dat omstrede, diep onderwerpe wat uitgebreide en dikwels opspraakwekkende navorsing behels, jou kos is. Waar het jou honger na joernalistiek begin en lêplek kom vind in die skryf van jou navorsing in boekvorm?

Ek is geensins op soek na omstrede onderwerpe om oor te skryf nie. Dié onderwerpe kom maar soos baie ander oor my pad, en dan druk die joernalistieke verantwoordelikheid my om nie stil te bly oor die onreg wat ek raaksien nie. Ek skryf al vandat my skoolopstelle fantasiekortverhale geword het – tot my taalonnies se frustrasie. My liefde vir die joernalistiek het by die laer- en hoërskool se skoolkoerante begin. Ek kan eintlik nie ’n tyd in my lewe onthou wat ek nié geskryf het nie, of dit nou fiksie vir my eie vermaak, akademiese skrywes, niefiksie, kopieskryf, nuus, features of Carte Blanche scripts is. Soms is ’n onderwerp in die niefiksiegenre doodeenvoudig so interessant en layered dat hy hom leen tot ’n boek.

Waarna kan feesganger uitsien in jou gesprek oor kultusse?

’n Op die man af gesprek oor kultusse en kultusgedrag, wat selfs by jou werk of romantiese verhoudings kan insluip.

  • Jana Marx is ’n bekroonde joernalis, waremisdaadskrywer en vervaardiger. Met ’n fokus op misdaad en hofjoernalistiek en ’n groot belangstelling in sielkunde en menslike gedrag, bring sy ’n unieke perspektief na plaaslike misdaadsake. Sy glo in slagoffergedrewe storielyne wat aan slagoffers en hul families ’n stem gee. Jana skep inhoud vir gedrukte, digitale en televisiemedia, sowel plaaslik as internasionaal.

Lees ook:

Momentum Beleggings Aardklop 2023: ’n onderhoud met kunskurator Dineke van der Walt

Momentum Beleggings Aardklop 2023: ’n onderhoud met Erla Diedericks

Persverklaring: Drie van die bestes | Momentum Beleggings Aardklop 2023

Momentum Beleggings Aardklop 2023: Silwerdoekdisse – an interview with Nathan Robinson

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top