Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Hoe COVID-19 ons herinner het aan wat ons nooit moes vergeet het nie

  • 0

’n Eerste weergawe van hierdie lesing is gelewer op uitnodiging van Van Rensburg Patoloë binne die kader van mediese personeel se voortgesette professionele opleiding by die Naval Hill-planetarium, Bloemfontein, 7 September 2023.

Die Vrystaatse landskap lê onder hom uitgestrek so ver as wat die oog kan sien. Vanaf hierdie hoogte kan hy min ander detail uitmaak as die skakerings van geel, bruin en groen, ’n ongewone groen meegebring deur die buitengewone onlangse reëns. Die motore van die ligte vliegtuig dreun egalig. Dit was miskien tog alles die moeite werd, ondanks sy oorlede pa se sinisme oor wat hy van sy lewe sou maak. Met brute harde werk oor dekades heen kon hy sy pa weldra verkeerd bewys, al het hy nie die dag aanskou toe sy seun die vliegtuig uiteindelik kon koop, of sy eerste volmaakte vlug daarmee onderneem nie. Sy gefrustreerde pa wat lewenslank van vlieg gedroom het, maar wat nooit verder gevorder het as ’n vliegtuigwerktuigkundige op die Bloemfonteinse lughawe nie. Terugskouend was dit uiteraard die rede vir sy pa se sinisme oor wat hy van sy lewe sou maak, en is dit ook ongetwyfeld die rede waarom nie eens sy kwalifisering as internis sy pa tot ’n bietjie erkenning kon beweeg nie. Dit het ook oplaas die dood van sy pa gekos vir hom om in te sien dat sy droom om die vliegtuig te koop, eintlik maar met sy pa te doene had. In ’n sin wás dit sy droom, en ook nie. En tog, met die oneindige landskap onder hom maak dit nie meer saak nie. Dit was veel moeiliker om die dood van Emil te verwerk, skaars 16 jaar oud, en veral die feit dat internis wat hy was, hy nie sy eie seun kon deurtrek nie. En nog minder Mara se selfdood kon verhoed. Vir haar was Emil se dood een te veel. Verskriklike verliese, ja, maar alles in ag genome is dit wat sy lewe geword het, tog nie onbevredigend nie. Ná Mara se dood het hy hom teruggetrek in sy werk en sy solovlugte, selfs mettertyd geleer om die vliegtuig self te versien. As hy dan nou nie sy eie seun kon deurtrek nie, kon hy ten minste die vliegtuig in die lug hou.

.........
Glo jy in engele, Dokter?”
........

Glo jy in engele, Dokter?”

Die dringendheid waarmee die verpleegster met die muisgesiggie die vraag deur haar masker vra, ruk hom terug na die werklikheid. Wat vir ’n vraag is dít dan nou waar hy oorkant haar staan, hulle twee weerskante van die bed van die man wat nou al hoeveel weke lank met die hoogste moontlike vlak van suurstof hier in Intensief lê?

Sy leun momenteel nader aan die man, verstel sy suurstofmasker effens. Selfs onder die latekshandskoene wat sy dra, is haar slank polse en die vloeiendheid van haar gebare opvallend. Hoe is dit dat hy dit nou die eerste keer raaksien in al hierdie maande wat hulle om die uur wanhopig met ’n kombinasie van chirurgiese higiëne, suurstof en wat nog mense aan die lewe probeer hou sonder die geringste mate van voorspelbaarheid oor wat die uitkoms sal wees? Dit het laas so gevoel met Mara se dood. Ja, dít is die gewaarwording waarop hy nou al maande lank sy vinger probeer lê. En noudat dit eensklaps duidelik is, is dit die laaste ding op aarde waarvan hy bewus wou word.

Verskoon my, Dokter, ek het nie probeer aanstoot gee met my vraag nie. Dis net iets waaroor ek self al hoe meer wonder, hierdie laaste paar maande. Engele.”

Nee, Suster,” hou hy sy latekshande lomperig op. “Nee, dis alles reg. Ek weet nie eintlik wat ek vir jou moet sê nie. Al is my van nou ook Engelen, gee dit my nie juis meer insig in die wêreld van die glimmende gevlerktes nie.”

Ek het gedink jy sou dalk een gesien het wanneer jy naweke so alleen vlieg, Dokter.”

Is die vrou ernstig of probeer sy die somber situasie met ’n misplaaste kwinkslag verlig?

Sonder om iets verder te sê draai sy om en stap na die volgende bed om die man daar se lewenstekens te begin nagaan.

Hy kyk terug na die man voor hom. Blote gesonde verstand dikteer dat die man se gestel nie veel langer kan hou nie. Dis nou ... wat ... ’n goeie twee weke wat hy nou al van die virus genees is, maar sy swak suurstofabsorpsie lyk al hoe meer of dit noodlottig kan wees. Daar is dus geen keuse nie – hulle sal sy vrou moet laat kom vir wat waarskynlik die laaste waak gaan wees. Engele? Hy snuif ergerlik en draai om om aan te sluit by die suster en die pasiënt langsaan.

*

Sy laat die warm water oor haar liggaam stroom. Anders as soveel van haar jonger kollegas het sy ten minste nie die ekstra spanning dat sy ná haar skof so gou moontlik onder die stort moet kom in ’n poging om seker te maak sy steek nie haar kinders aan nie. Lafras en sy Maria is al 17 jaar gelede Australië toe. Vir die kinders se toekoms, Ma weet. Ja, my kind, Ma weet. Dit was nie maklik om hom alleen groot te maak nadat Frank haar vir die ander vrou gelos het nie, en sy kon hom en Maria ook nie vir hulle besluit verkwalik nie. Almal se geloof is nie sterk soos hare nie, en die jongmense het ander prioriteite as dié wat sy en haar geslag met moedersmelk ingekry het: diensbaarheid, jou naaste soos jouself, jou roeping vervul. Dit is so dat die versoeking soms daar is om bitter te raak by die gedagte dat die jongmense skynbaar net aan hulle heel naastes of aan beroepsukses kan dink. Maar wat weet sý nou? Sy wou net van altyd af verpleeg, vanaf daardie dag wat sy as kind op haar oupa se plaas die afdruk bo die bed in die gastekamer gesien het van die twee benoude kindertjies op ’n smal houtbruggie bo ’n afgrond, angstig onbewus van die engel wat bo hulle hang en sy vlerke beskermend om hulle hou. Glo sý in engele? Sekerlik, ja, want hoe moet sy anders verklaar waarom sy ’n verpleegster geword het? En sekerlik ook genoeg dat dit haar nog al die jare staande hou, veral sedert die doodsengel sy verwoesting ook in hulle verafgeleë stad hier in die leegtes van die binneland kom saai het.

........
Glo sý in engele? Sekerlik, ja, want hoe moet sy anders verklaar waarom sy ’n verpleegster geword het? En sekerlik ook genoeg dat dit haar nog al die jare staande hou, veral sedert die doodsengel sy verwoesting ook in hulle verafgeleë stad hier in die leegtes van die binneland kom saai het.
........

En dokter Adamus, het hy regtig nie aanstoot geneem toe haar oog vandag langs daardie man se bed op sy naamplaatjie val – Engelen, swart gedruk op die silwer metaalbalkie – en sy vir ’n oomblik so wanhopig en oorweldig te midde van al die dood en asemnood en verkrummelende longe gevoel het nie? Maar was dit ál? Was dit die enigste rede waarom sy hom die vraag gevra het? Dit is miskien beter om nie te veel daaroor te tob nie. Briljante internis en professionele kollega wat hy is, is dokter Adamus al vir jare vir haar en haar kollegas ’n raaisel. Al wat hulle van hom weet, is dat een of ander tragedie hom lank gelede oorgekom het en dat hy sedertdien ’n kluisenaarsbestaan voer. Dit, en dat hy ’n kranige solovlieënier is wat ure in die lug deurbring. Wat haar betref, is daar ook ’n hartseer wat hom omgeef, ’n hartseer wat in die loop van die afgelope maande al hoe tasbaarder geword het.

Maar wat kan sy daaraan doen waar sy nou gewikkel in ’n handdoek hier voor die half toegestoomde badkamerspieël haar verdunnende, slierterige haartjies netjies gekam probeer kry? As daar een ding is wat die afgelope maande sekerder as ooit geword het, is dit dat ’n bykans kliniese, afstandelike fokus op wat die situasie vereis, noodsaaklik is. Daarsonder sal jy soos ’n Petrus van ouds sink, en of daar ’n engel sal wees om sy vlerke betyds om jou te vou, is ’n vraag wat genoeg is om jou keel toe te laat trek, jou benoud te maak soos al daardie mans wat uur ná uur in Intensief sukkel om asem te kry.

Sy sit die kam terug in die badkamerkassie, draai weg van die spieël en stap met die handdoek om haar lyf kamer toe. Sy trek haar ligblou flenniepajamas met die beertjies onder die kussing op die enkelbed uit. Geoefend trek sy die handdoek van haar af en drapeer dit oor die droogreling aan die voetenent van die bed. Sy stap terug na die koppenent van die bed, skakel die radio werktuiglik aan. Binne ’n oomblik is haar pajamabroek aangetrek en gaan sit sy op die rand van die bed om haar pajamabaadjie toe te knoop. Haar geoefende vingers knoop die laaste knopie toe. Wat hét haar dan besiel om die dokter so ’n persoonlike ...?

Wat is dan nou hierdie engelagtige musiek wat uit die radio kom? Hoe is dit dan dat die pianis se vingers op die klawers so hoorbaar is dat sy dit kan sien? Lang, wit vingers wat ritmies die klawers druk, ritmies soos wat sy self van kapsule na kapsule saam met dokter Engelen beweeg, die suurstofmaskers verstel, seker maak die druppe is nog vol, die bloeddruk stabiel?

........
Wat is dan nou hierdie engelagtige musiek wat uit die radio kom? Hoe is dit dan dat die pianis se vingers op die klawers so hoorbaar is dat sy dit kan sien? Lang, wit vingers wat ritmies die klawers druk, ritmies soos wat sy self van kapsule na kapsule saam met dokter Engelen beweeg, die suurstofmaskers verstel, seker maak die druppe is nog vol, die bloeddruk stabiel?
........

Onder die prieel langs die rivier wat die agterste grens van die erf is, het hy haar die eerste keer gesoen. Dit was ook die eerste keer wat sy gesoen is. Dit was een van daardie Mediterreense someraande wat nooit eindig nie en op die berg Olimpus, in die verte, het ’n silwer wolk op die kruin gelê toe sy haar oë toemaak en haar aan hom oorgee. Oorgawe soos waarmee sy die afgelope weke dag in en dag uit met die gebedeboek voor haar oop voor die ikoon van die Moeder van God kniel, die moeder wie se oë met soveel emosie uitgebeeld word omdat hulle sê sy het geweet wat eendag sou kom vir die baba in haar arms. “Heilige Moeder van God, bid tot u Seun vir Michael se genesing.” Oor en oor bid sy dit deur haar trane, soos dit ook vanoggend was toe die oproep kom wat haar na sy bed opgeroep het.

En hier staan sy nou, haar hande om sy hande gevou. Hoe het dit dan so gekom? Alles was beplan. Nog ses maande en hulle sou terugkeer na die huis met die prieel en die rivier vir ’n grens. Skaars sewe maande gelede het hy die opleiding van sy opvolger, vader Lukas, voltooi. En hier lê hy nou met sy baard afgeskeer soos daardie aand onder die prieel. Op sigwaarde sal niemand eens kan sien dat hy ’n priester is nie. Hy was altyd net ’n bietjie langer as sy, net genoeg dat sy haar kop teen sy bors kon lê, maar nou lyk dit asof hy onherkenbaar weggekwyn het, asof sy hom in haar arms sal kan vashou soos die Moeder van God haar Seun.

Is daar nog iets wat ons vir u kan doen, Mevrou?” Deur haar trane sien sy die skraal, klein suster, haar blik van agter haar masker so vol emosie soos die oë van die Heilige Moeder. Sy sluk, snuit, slaag net-net daarin om die woorde uit te kry: “Vader Lukas ... Die laaste rite ...”

As sy weer haar oë oopmaak en hy sy lippe van haar lippe terugtrek, val daar agter hom ’n oranje gloed deur die skitterende blare van die prieel. Is dít hoe dit is om ’n engel te sien?

*

Dit was so hittete of hy het in die harwar sy gebedeboek by die huis vergeet. Dié klem hy nou styf in sy linkerhand vas, asof dit ’n saak van lewe en dood is, terwyl hy benoud agter sy masker na sy asem snak en sukkel om met sy bewende regterhand die besoekersregister in te vul. Wanneer hy uiteindelik daarin slaag, word hy na die derde vloer van die hospitaal begelei, tot by Intensief. Die beskermende klere wat bo-oor sy swart priestersgewaad vir hom aangetrek word, is onthutsend. Het die priesters op siekebesoek tydens die plaag in Venesië dieselfde beskermende drag as die dokters gedra? Hy moet seker dankbaar wees dat hy nie ook nog een van daardie pakke moet dra wat hom soos ’n ruimtevaarder sal laat lyk nie. Stilswyend word hy dan die saal ingeneem. Dit is die eerste maal in sy oorwegend gesonde lewe dat hy hom in ’n intensiewesorgeenheid bevind. Die tien kapsules in ’n sirkel wat hy tel, elkeen skynbaar gevul met ’n man op suurstof – of is dit ventilators? – lyk soos iets uit ’n wetenskapfiksiefilm waar die passasiers kunsmatig op ’n baie lang reis aan die slaap gehou word.

Vader Lukas?” wek ’n stem hom uit sy afgetrokkenheid. Die man wat hom aangespreek het, is grys om sy slape, lank en skraal, sonder dat dit onder sy beskermende kleredrag moontlik is om enigiets meer van hom uit te maak.

Ja, dis ek. Is u die internis?”

Dokter Engelen, ja. Verskoon my dat ek nie onder die omstandighede u hand skud nie.”

Dis te verstane, Dokter. As ek mag, dink u hy het enige kans op oorlewing?”

Die dokter ontwyk sy blik ’n oomblik, sê dan: “Dis seker nie onmoontlik nie, maar as ek eerlik moet wees ...” Hy breek af. Dis nie nodig om meer te sê nie. “Suster Benadé sal u nou na hom en sy vrou neem. Ek wil u nie aanjaag nie, maar dit mag wees dat hoe langer u hier in die hospitaal is, hoe groter is die risiko vir u.”

Ek verstaan,” knik hy en voel die suster se sagte aanraking op sy skouer terwyl sy dan vir hom beduie in watter kapsule sy mentor lê. Hy trek sy asem in en tree dan die kapsule binne. Liewe hemel, die suurstofmasker sit soos ’n reuse-insek op sy mentor se gesig. Elvira sien hom nie onmiddellik waar sy langs die bed met vader Michael se hande in haar hande geklem kniel terwyl haar skouers ruk soos sy sag dog onbedaarlik snik nie. Dit voel onbehoorlik om haar te steur, asof hy ’n indringer in die laaste wagkamer is. Liewer fokus op die gebed, op die laaste rite. Wie sou ooit kon gedink het dat die eerste keer wat hy die laaste rite moet bedien, so sou wees? Dis puur verniet: Vanweë die kombinasie van die bewing in sy hande en die latekshandskoene kry hy eenvoudig nie na die regte bladsy geblaai nie.

Kan ek u help, Vader?” Die skielikheid van die stem so naby hom laat hom ruk van die skrik.

Ekskuus, Suster, u is stiller as ’n engel. Ek het nie besef u is ook hier nie. Ja, as u asseblief vir my die gebedeboek kan oopslaan op bladsy 205.”

........
Sy knik, neem die boek sekuur uit sy hande asof sy dit al ’n duisend maal vir oorweldigde siekebesorgers moes doen, en reik dan die boek weer stilswyend vir hom aan.
........

Sy knik, neem die boek sekuur uit sy hande asof sy dit al ’n duisend maal vir oorweldigde siekebesorgers moes doen, en reik dan die boek weer stilswyend vir hom aan.

Heilige God, Heilige Magtige, Heilige Onsterflike,” begin hy, maar dan word sy stem uitgedoof deur Elvira se rou weeklag. Dit vul die hele saal: “Michael ... Michael ...” Nogmaals trek hy sy asem diep in, kruis homself, en begin weer: “Heilige God, Heilige Magtige, Heilige Onsterflike ...” As hy ’n oomblik van die gebedeboek af opkyk, sien hy momenteel ’n oranje gloed op sy mentor se gelaat val, tot selfs die suurstofmasker sag verkleur.

*

Hy moes ’n rukkie ingedommel het, want die koffie wat voor hom op die wit melamientafeltjie in ’n kartonglasie staan, is yskoud. Hy leun terug in sy stoel, vryf oor sy oë. Die vrou se rouklag word oorverdowend. Hy het so iets net een keer tevore gehoor: die dag toe hy vir Mara die nuus oor hulle seun moes gee. ’n Geluid wat hom eers ná baie solovlugte verlaat het. En nou is dit weer hier. En Mara. En Emil, sy jong sterwensgelaat afgeëts onder die helder ligte van die operasietafel. Vervaard maak hy sy oë oop, fokus op die groot skerm in die hoek van die verlate kafeteria. Namate hy fokus, verskyn ’n lang, blonde vrou wat langs ’n swart klavier sit, in beeld. Dit lyk asof iemand buite beeld haar ’n vraag gevra het, want sy knik haar kop en begin praat. Dit neem hom ’n tydjie om te besef dat hy volg wat sy sê, ondanks die feit dat die klank afgedraai is, maar danksy onderskrifte op die skerm. Dit moet dan seker ’n voorafopgeneemde onderhoud wees. “Die musiek het na my gekom ná ’n tyd van intense persoonlike verlies,” lees hy. “Ek was nie in staat om oor my verlies te praat nie. Ek kon bloot voor my klavier sit en nie veel meer nie as om aanvanklik onsamehangende klanke te maak, weliswaar van ’n sekere stemming. Op ’n dag het ek ’n deurbraak gemaak. Dit het niks met die klanke self te make gehad nie, maar met my klavier. Dit was asof ek net nie my klavier kon hoor nie. Dit kom toe by my op om die boonste paneel, die een voor die snare, te verwyder, om die snare te stroop soos wat die verlies my gestroop het. En toe hoor ek vir die eerste keer wat ek moet speel.”

Steur ek?” hoor Engelen ’n stem vra. Hy skeur sy moeë oë weg van die skerm en kyk op. Dis suster Benadé. Sy dra ook nie meer haar masker nie. Sy hou twee kartonglasies stomende koffie vas, een in elke hand, sonder latekshandskoene. Hoe het hy nooit voorheen haar fyn hande opgelet nie? Hy knik, beduie haar na ’n stoel langs hom.

Sy neem plaas, reik vir hom ’n koffie aan. Voor hy hom kan keer, raak sy hand aan hare. ’n Prikkeling skiet deur sy lyf. Wat gaan met hom aan? Dit moet wees weens sy intense afgematheid ná al hierdie maande en al hierdie herinneringe.

Waarna kyk jy?” vra sy sag en beduie na die skerm, waarna hy ook nou weer kyk.

Die album wat toe ontstaan het,” lees hy die onderskrifte, “het ek toe laat in 2019 opgeneem in die loop van twee dae in ’n manjifieke konsertsaal waarvan die stilte en die leegte my oorweldig het toe ek die eerste keer daar opgetree het. Ek was gereed om met die album op toer te gaan. En toe breek die pandemie uit.”

........
Nes al daardie mense het ek ook ervaar hoe die tyd tot absolute stilstand gekom het. Nes al daardie mense moes ek opnuut besef dat ondanks al ons tegnologie, ondanks die wetenskap, ons nie verstaan wat ons oorval het nie. En ek het vir myself gesê, al kan ek nie voor ’n gehoor sit nie, kan ek deur die album voor te speel in hierdie saal vol stiltes en leegtes, oor die kloof tussen mens en mens strek [...]
........

Die pianis swyg ’n oomblik terwyl sy oënskynlik haar emosie onder beheer probeer kry. Sy keer weer na die kamera en vervolg: “’n Jaar later, kort voor die eenjarige viering van die album, was dit steeds nie moontlik om te toer nie. Maar toe kry ek weer ’n soort epifanie, soortgelyk aan die dag wat ek die boonste paneel van die klavier afgehaal het. Wat sou my verhoed om die album in geheel in daardie selfde saal voor te speel en aanlyn te stroom? Ek sou alleen wees, sonder ’n gehoor, ja, alleen soos miljoene der miljoene mense, gegrendel in hulle huise, of agter hulle maskers in hospitale. Nes al daardie mense het ek ook die aanraking van ander ontbeer. Nes al daardie mense het ek ook ervaar hoe die tyd tot absolute stilstand gekom het. Nes al daardie mense moes ek opnuut besef dat ondanks al ons tegnologie, ondanks die wetenskap, ons nie verstaan wat ons oorval het nie. En ek het vir myself gesê, al kan ek nie voor ’n gehoor sit nie, kan ek deur die album voor te speel in hierdie saal vol stiltes en leegtes, oor die kloof tussen mens en mens strek, nes Adam teen die dak van die Sistynse kapel na God strek. Ek speel dus nou die album vir u.”

Die pianis swaai behendig op die klavierstoel voor haar swart klavier in. Die kameraskoot verwissel en wys die ontblote snare van die klavier wat in ’n oranje, selfs amber, lig gebaai is. Nogmaals verwissel die kameraskoot en toon nou die pianis van die kant terwyl sy diep asemhaal, haar oë sluit. Haar hare, wat oor die kant van haar gesig val, glinster in dieselfde lig.

Uit die hoek van sy oog sien Engelen ’n vinnige beweging. Dis suster Benadé wat uit haar stoel vlieg en in ’n ommesientjie by die skerm is om die klank harder te draai. Asof versteen bly sy by die skerm staan, haar oë toe, die halogeenlig van die kafeteria wat haar muisgesiggie verlig en verander in iets wat Engelen nog nooit gesien het nie.

Wanneer die musiek wegsterf, stap suster Benadé asof in ’n beswyming terug om weer langs hom te kom sit. Die pianis verskuif effens op die klavierstoeltjie, die gekraak daarvan hoorbaar soos dié van ’n geliefde ou meubelstuk.

Ek kan dit nie glo nie,” sê sy.

Wat bedoel jy?”

Dis nie net dat ek hierdie musiek ken nie, dis dat die pianis presies lyk soos ek haar gisteraand in my slaapkamer gesien het.”

Hy kyk ’n oomblik terug na die skerm, sien hoe die pianis weer ’n keer diep asemhaal en haar lang vingers op die klawers laat rus voor sy die volgende snit speel.

Verwonderd kyk hy terug na suster Benadé. “Jy het my gister gevra of ek in engele glo. Ek sal jou graag die naweek saamneem op my vlug. Miskien sien ons een.”

Haar blik ontmoet syne, sy plaas haar hand op syne. En dan klink die eerste note van die volgende snit op in die verlate kafeteria. Wie sou kon gedink het dat een hand op ’n ander hand ná soveel tyd so kon voel?

In memoriam. Vader George Tsiftsis (5 Junie 1964 – 22 Januarie 2021). Ewige gedagtenis.

Lees ook:

"Maar wat ek nou vir jou sê kan ek nie in die openbaar sê nie": Notas oor die groeiende metafisiese oorlog van ons tyd

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: in gesprek met René Girard oor die apokalips van ons tyd

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: ’n onderhoud met Chantal Delsol oor die apokalips

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top