Vir solank as wat ek kan onthou, assosieer ek Frankryk met vrypostigheid, vryheid van spraak en robuuste debat. Die Franse letterkunde en filosofie het ’n eeue lange geskiedenis van figure wat die heersende magte en waarhede uitdaag, dikwels vreesloos en met panache. Dit is nie om dowe neute nie dat die slottoneel van die rolprent Cyrano de Bergerac, met Gérard Dépardieu in die hoofrol, so aangrypend is nie – in watter ander land en kultuur sou dit so geloofwaardig en so roerend wees indien die sterwende hoofkarakter se laaste woorde is dat die een ding wat niks en niemand hom kon ontneem nie, “mon panache” is?
Oor die afgelope jare is baie geskryf en gepraat oor die opkoms van die woke godsdiens wat die Christelike waarde van naasteliefde tot in die uiterste sekulariseer – alles en almal se “waarhede” móét aanvaarbaar wees; vir alles en almal móét plek gemaak word – maar wee die een wat dié radikale inklusiwiteit bevraagteken, want dié sal aan uiterste sensuur onderwerp word, sensuur beter bekend as “kansellering”. Vir die Engelse cancel culture stel ek in Afrikaans skrapbewind voor. Soos enige vorige skrikbewind wat geen teenstand verduur nie, is ook die woke godsdiens een wat sy teenstanders sonder meer verban as skuldig aan die doodsondes van onverdraagsaamheid en bekrompenheid.
Miskien het niemand die aard van die woke godsdiens beter opgesom as die Katolieke filosoof René Girard nie – die slagoffers het die vervolgers geword, sê hy.
Wat in die afgelope jare oor die woke godsdiens gesê is in die Afrikaanse gesprek, was dikwels in reaksie op gebeure in die Anglo-Amerikaanse wêreld. Nooit, ooit het ek gedink dit gaan ’n vastrapplek in die land van insolence en panache kry nie. Hoe verkeerd was ek nie.
*
In Junie vanjaar was dit die eerste keer sedert Julie 2019 vir my moontlik om Frankryk te besoek; voor Julie 2019 was my laaste besoek in 2009, en voor dít was daar meer besoeke aan en verblywe in Frankryk as wat ek kan onthou. Dit het Frankryk in my gemoed gevestig as ’n soort geestelike vaderland – en die Franse taal as ’n soort aangenome moedertaal. As die Afrikaanse taal ’n uitsonderlike seggingskrag het omdat dit so soepel is, het die Franse taal ’n uitsonderlike seggingskrag omdat dit so presies is. Geen ander land en taal het my eie denke so uitgedaag en my gees so verruim soos Frankryk en die Franse taal nie.
Miskien verklaar die feit dat ek slegs daardie drie kort besoeke (in 2009, 2019 en nou in Junie weer) in die loop van amper 15 jaar aan Frankryk kon bring waarom ek nie die opkoms van die woke godsdiens daar gesien of gesien kom het nie. Hoe ook al, tydens hierdie laaste besoek het ek dit in sy volle afgryslike omvang gesien. Enkele voorbeelde word hier onder verskaf voor ingevra word op die implikasies hiervan vir ons tyd.
*
Op die oog af het dit niks met die woke godsdiens te doen nie, maar ’n eerste skok het gewag in tekens van verval:
1. Aangekom op Charles de Gaulle-lughawe buite Parys ontdek ek dat die vervoermiddel wat die meeste mense gebruik om van die lughawe na die stad te reis, die RER-trein, “nie vandag loop nie”. Oplaas is dit nodig om nie minder nie as drie verskillende amptenare op die lughawe te vra vir aanwysings na waar ’n plaasvervangende bus gehaal moet word.
Uiteindelik op die bus, wat na ‘n paar kilometer naby ’n RER-stasie langs die Parys-lyn ons passasiers met ons bagasie aflaai – sonder aankondiging, sonder verduideliking. Mettertyd blyk dit dat die RER wel vanaf hierdie stasie na Parys loop. Terwyl ek my tas kry van een van ’n leërskare jong mans wat die bus se bagasie aflaai – die laaste een ooglopend van emigrante-afkoms – wonder ek hoe die oorgrote meerderheid buitelandse aankomelinge op die lughawe wat nie Frans magtig is nie en almal bydra tot Frankryk se reuse-toerisme-inkomste, veronderstel is om hulle weg na die stad te vind.
Die RER haal uiteindelik die Gare du Nord-stasie, waar ek afklim om ’n paar moltreinkaartjies te koop en met die moltrein verder te reis na die herberg waar my verblyf bespreek is vir die duur van die jaarkongres van die vereniging gewy aan die studie van Girard se werk, die Colloquium on Violence & Religion. Dog slegs één van die etlike kaartoutomate werk. Nes op talle moltreinstasies etlike van die metaalhekke waar jy jou moltreinkaartjie kontroleer, gewoon buite werking is.
Wanneer ek die volgende oggend die wêreldberoemde sneltrein, die TGV, op die Gare du Lyon-stasie haal, gebeur iets wat ek nog nooit beleef het nie: Pas buite die stasie kom die trein onverklaarbaar tot stilstand, uiteindelik vir ’n volle 18 minute. In Suid-Afrika is so iets alledaags, maar in die Frankryk waar ek van 2001 tot 2003 nagraads studeer het, was ’n vertraging van enige aard van ’n TGV totaal ongehoord.
Dog nog is het einde niet. Omtrent twee derdes in die reis na die suidwestelike Franse grens met Spanje kom die trein nogmaals tot stilstand – hierdie keer op ’n stasie, waar dit vir amper twee ure staan. Die rede? Volgens die kondukteur, wat ten minste eerlik in sy aankondiging was (“Mesdames, messieurs, ek is nou ter see ...”), het die masjinis sonder sy trein verder gery en moes hy by die eersvolgende stasie omdraai en terugkom vir sy trein.
........
Brandstof is byvoorbeeld amper 50% duurder per liter in Frankryk as in Spanje – iets wat altyd geregverdig kon word met die uitstekende openbare diens van die Franse staat in ruil vir al die belastings wat op die brandstofprys gehef word, insluitend vir die finansiering van die oorgang na groen brandstof.
........
Te midde van hierdie absurde situasie raak ek aan die gesels met my medepassasiers, ’n ooglopend gegoede paartjie van iets in die sestig wat te vertelle het hulle is eintlik op pad na hulle Spaanse vakansiehuis, waar hulle verkies om die meeste van hulle tyd deur te bring, aangesien die lewenskoste in Spanje ’n koele 30% goedkoper as in Frankryk is. Brandstof is byvoorbeeld amper 50% duurder per liter in Frankryk as in Spanje – iets wat altyd geregverdig kon word met die uitstekende openbare diens van die Franse staat in ruil vir al die belastings wat op die brandstofprys gehef word, insluitend vir die finansiering van die oorgang na groen brandstof. Maar ja, te oordeel aan my belewenis van die Franse openbare vervoerstelsel die voorafgaande 24 uur kry die Franse belastingbetaler allesbehalwe diens vir die hemelhoë belastings. Meewarig beaam die paartjie dit.
Kan dit wees dat dit alles wel iets met die woke godsdiens te make het? Dat terwyl politieke en ekonomiese hulpbronne in Frankryk toenemend bestee word aan allerlei simboliese dade en gevegte (waaroor meer hier onder), konkrete dinge soos die instandhouding van infrastruktuur wat veral vir die armer dele van die bevolking noodsaaklik is, eenvoudig agterweë bly?
2. ’n Volle twee ure ná die geskeduleerde tyd van aankoms haal ek uiteindelik Beziers, die stad waar my oudste Franse vriend en medefilosoof hom in die ouderdom van 62 ná sy aftrede twee jaar tevore bevind. Daar is op die oog af niks vreemds of ironies of opvallend omtrent hierdie gegewens nie – tot ’n mens ’n paar feite in ag neem.
Beziers het naamlik ’n bekende burgemeester, Robert Menard, wat in een van die armste buurte van die stad deur ’n enkelmoeder grootgemaak is, agt jaar gelede die eerste keer as kandidaat van die “verregse” Rassemblement National tot burgemeester verkies is, en drie jaar gelede as onafhanklike kandidaat herkies is met ’n meerderheid van 68% in die eerste van die tradisionele twee verkiesingsrondes. In my vriend se jeug was die verkiesing van Frankryk se eerste sosialistiese president, François Mitterrand in 1981, in daardie stadium die grootste politieke gebeurtenis van sy lewe. Intussen het hy kennelik ’n politieke kentering ondergaan – terwyl hy my met trots op ’n begeleide toer deur die stad neem om my al die openbare opgraderings aangepak onder leiding van Menard te wys, wys hy my ook die duisend jaar oue Katolieke katedraal waar hy Sondae die stampvol Mis bywoon, en waar ’n toestroming van jong gesinne aan die orde van die dag is. Met ewe veel trots vertel hy my van die geskiedenis van die Jode, die Moslems en die Kathare in Beziers, en ook hoe hy danksy sy familie se verbintenis met die streek oor geslagte heen oplaas so tuisgekom het in die stad. Oor la gauche (die linkses) kan hierdie eertydse sosialis egter nie genoeg kritiek uitspreek nie. In die een ná die ander Franse stad onder linkse beheer, vertel hy, het die linkses afstand gedoen van hulle tradisionele verbintenis tot maatskaplike gelykheid, werkskepping en die versorging van die armer deel van die burgery, terwyl hulle hul terselfdertyd nou besig hou met die woke godsdiens – so “inklusief” as kan kom, maar wat brood-en-botter-sake betref totaal abstrak en niksseggend.
Oor ete vra ek uit oor hoe dit gekom het dat hy die vorige jaar die pos verlaat het van direkteur van ’n hoëre skool vir die beeldende kunste wat onder sy leiding gevoer is tot een van die drie bestes in die land. Dit het alles in 2020 begin, sê hy, toe ’n jong damestudent na afloop van een van sy lesings hom kom inlig het sy sal nou nie die volgende week in sy klas wees nie. Seker maar ’n mediese afspraak of ’n ander verpligting, het hy aanvanklik naïef gedink, tot hy kort daarna van die polisie verneem dat ’n jong manstudent ’n klag van seksuele teistering aan huis teen hom ingedien het.
Om ’n lang storie kort te maak: Die polisie het kort voor lank bevind die klag is vals en die saak gesluit. Die betrokke student het erken hy was opgesteek om die vals klag te lê. En toe blyk dit ’n woke faksie sit agter die aksie – dieselfde faksie waarvan die damestudent ’n lid was, en wat sy lesings eintlik nie meer sou bywoon nie omdat dit “aanstoot gee”.
In die voorgeskrewe daaropvolgende dissiplinêre ondersoek van die Franse hoëronderwysdepartement het die voorsittende beampte my vriend volledig onskuldig bevind en die woke faksie gevra of hulle geen skroom het om ’n man wat sy ganse beroepslewe aan die Franse Republiek gewy het, so skandalig tot sondebok te maak nie. ’n Skikking is bereik, sy naam is in ere herstel, maar hy is onomkeerbaar in sy eer gekrenk – dít het ek sit en dink toe ek na die verwese 62-jarige eertydse lewensgenieter oorkant my sit en luister.
Daar was nog ’n dringende saak waaroor ek my vriend wou uitvra, naamlik sy ontleding van die oorlog in Oekraïne – hy was immers ’n student van die onlangs ontslape groot Hélène Carrère-d’Encausse, wat die val van die Sowjetunie weens spanning tussen die volkere daarvan al in 1978 voorspel het; en hy het danksy sy spesialisasie in die politiek van die Sowjetunie se satellietstate in verskeie lande van die Oosblok gedien.
Afgesien daarvan dat die Russiese president met die inval van Oekraïne na sy oordeel ongetwyfeld die internasionale reg geskend het, blameer hy die leidende Europese moondhede in die eerste plek vir die oorlog, omdat hulle nie die nodige druk op Oekraïne uitgeoefen het om die Minsk-verdrae van 2015 te respekteer nie, wat op sy beurt enorme spanning met Rusland geskep het. Hy het geen twyfel dat die VSA baat vind by die oorlog nie, want dit pas hulle agenda van wêreldhegemonie dat Europa en Rusland nie in bondgenootskap gaan nie. Dat Oekraïne die Donbas en die Krim gaan herower, is wensdenkery – nie net weens die militêre magsbalans in die konflik nie, maar ook omdat Rusland met sy anneksasie van die tradisionele Russies-oorheerste Krim een van sy eeue oue strategiese swak plekke kon oorkom, naamlik om met die Krim-hawe van Sevastopol vir sy vloot toegang te kry tot ’n see wat nie vir maande elke jaar bevrore is en so sy vloot lamlê nie.
........
“Maar wat ek nou vir jou sê, kan ek nie in die openbaar sê nie,” sê hy, my einste vriend wat my die woord insolence geleer het, en wat van vrypostigheid en uitgesprokenheid oor idees en die krag van idees ’n loopbaan gemaak het. En hier sit ons oorkant mekaar in sy woonstel, ver van die markplein van idees waar hy sy beroepslewe gelei het. Gekanselleer. Geskrap.
........
“Maar wat ek nou vir jou sê, kan ek nie in die openbaar sê nie,” sê hy, my einste vriend wat my die woord insolence geleer het, en wat van vrypostigheid en uitgesprokenheid oor idees en die krag van idees ’n loopbaan gemaak het. En hier sit ons oorkant mekaar in sy woonstel, ver van die markplein van idees waar hy sy beroepslewe gelei het. Gekanselleer. Geskrap.
Wanneer ek die volgende oggend die trein moet haal, merk ek dat die sentrum-regse dagblad Le Figaro afgelewer word by hom wat vir dekades ’n leser van die sentrum-linkse Le Monde was. “Eh, oui, dis ook ’n teken van die tyd,” merk hy lakonies op as ek hom daaroor vra. Uit nuuskierigheid koop ek op die stasie die eerste Le Figaro van my lewe.
Niks is toevallig nie, want die betrokke uitgawe bevat ’n dossier oor die opkoms van die woke agenda in Frankryk, tien jaar sedert die Académie Française, wat oor die hoër funksies van die Franse taal waak, die gebruik van sogenaamde niebinêre Frans erken het. Franse selfstandige naamwoorde is tradisioneel manlik of vroulik; “niebinêre” Frans beteken (skynbaar) om deurgaans selfstandige naamwoorde te gebruik asof dit tegelyk sowel manlik as vroulik is. ’n Voorbeeld: Op die laaste aand van my Franse besoek stap ek en ’n vriendin in Parys terug van die kongresdinee. Dis “Pride”-maand en my oog val op ’n enorme plakkaat van die Paryse munisipale owerheid teen die kant van die hokkie van ’n bushalte: “Paris est fier·e.” Letterlik vertaal, “Parys is trots”, maar die “fier” word tegelyk sowel manlik (“fier”) as vroulik (“fiere”) geskryf om die tradisionele manlike geslag van die naam Parys taalkundig te omvorm (te vervorm?) tot “niebinariteit”, tegelyk manlik en vroulik, onsydig.
Volgens Le Figaro gebruik sowat ’n derde van Franse universiteite “niebinêre” Frans in hul amptelike kommunikasie; kan studente in sowat ’n kwart van Franse universiteite kies om hul eksamens in “niebinêre” Frans af te lê, en het ’n vyfde van Franse tieners in ‘n amptelike peiling in 2020 as transgender geïdentifiseer.
Ek is geen kenner van die ingewikkelde transgenderkwessie nie, maar die bietjie wat ek daarmee te doene gekry het, het my genoeg geleer van watse ontsettende uitdagings transgender persone moet trotseer, en watse ontsettende pyn dikwels daarmee gepaardgaan – en dit nie net omdat hulle ’n baie klein minderheid is nie. ’n Mens kan ruimte laat vir die vloeibaarheid van ‘n tiener se identiteit, maar een uit vyf?*
Die trein neem my na Aix-en-Provence, waar ’n Franse vriendin in haar jeugdige tagtigs my inwag. Ook sy het haar loopbaan gewy aan die gesprek tussen kulture, met name deur die organisering oor 40 jaar van ’n jaarlikse fees van wêreldletterkunde, daardie amorfe kategorie wat geskep is om eiesoortige plaaslike letterkundes met ’n groter konteks in gesprek te bring, en waarin die literêre vertalers ’n absoluut wesenlike rol speel.
.......
Tog is haar onvergenoegdheid met wat Frankryk geword het, nie minder as my vriend s’n nie – die steeds groeiende gaping tussen opeenvolgende regerings en die burgery, ’n gebrek aan konkrete stappe om aardverwarming hok te probeer slaan, en veral die agteruitgang van die Franse literêre gesprek.
.......
Soos my vriend in Beziers is ook my vriendin van huis uit ’n sosialis, maar miskien is haar idealisme meer en haar wonde minder as syne, want sy hou nog aan die sosialistiese ideaal vas, ten minste wat die openheid vir ander tale, kulture en letterkundes betref. Tog is haar onvergenoegdheid met wat Frankryk geword het, nie minder as my vriend s’n nie – die steeds groeiende gaping tussen opeenvolgende regerings en die burgery, ’n gebrek aan konkrete stappe om aardverwarming hok te probeer slaan, en veral die agteruitgang van die Franse literêre gesprek. Vanjaar sal sy haar laaste jaarlikse wêreldletterkundefees hou, en jy kan aanvoel dit is die einde van ’n era. As sy terloops en doodnatuurlik verwys na kommunikasie met “Salman” (Rushdie), “Philip” (Roth) of “Orhan” (Pamuk), wat almal onder vele andere gaste op haar feeste was, staan jy nie net verstom nie, maar voel dit vir jou asof iéts onherroeplik ten einde geloop het. “Maar wat ek nou vir jou sê, kan ek nie in die openbaar sê nie,” besluit ook sy.
*
Die kongres breek aan. Tydens die eerste gesamentlike sessie, vroegaand, neem ons almal sitting vir ’n onaangekondigde spreker. Uiteindelik blyk dit Girard se bekendste oudstudent te wees, die tegnomiljardêr, waagkapitalis en vroeë belegger in Facebook, Peter Thiel.
Dis moeilik om hom te lees. Afgesien van kritiek (waarvan die motivering my ontglip) op die “stagnasie” van Silicon Valley, kom die man wat Facebook volgens sy eie erkenning gesteun het omdat dit Girard se teorie van mimese in menslike gedrag sou bevestig, ietwat styf en gespanne voor. Hy weier om vrae oor sy politieke sienings te beantwoord en ’n gevoel van ongemak by die aanskoue van ’n eietydse tegnobelegger met soveel mag is tasbaar. (Later sou iemand vir my sê dat Thiel onlangs deur ’n moeilike persoonlike tyd is.)
Aangesien dit die honderdjarige herdenking van Girard se geboorte is, het die organiseerders duidelik moeite gedoen om sy bekendste medewerkers en volgelinge aan die woord te stel. En so kom dit dat die legendariese psigiater Jean-Michel Oughourlian ’n gesamentlike sessie die Donderdagaand toespreek. Diep in sy tagtigs is hy so vars soos pietersielie, vol spitsvondighede en lyk hy of hy in 1981 se Springboktoer deur Nieu-Seeland ’n slotmaat van Louis Moolman en Moaner van Heerden kon gewees het. Hy was saam met Guy Lefort ’n gespreksgenoot van Girard waaruit sy derde groot boek, Things hidden since the foundation of the world, in 1978 ontstaan het, en daarna het hy Girard se teorie op die psigiatrie toegepas. Hy vertel van die dag in die 1990’s toe Girard hom uit San Francisco geskakel het om hom reeds die volgende dag te laat kom vir ’n ontmoeting met ’n navorsingspan wat neurologiese getuienis vir die mimetiese aard van die brein, en dus kritieke wetenskaplike stawing van Girard se teorie, ontdek het. Ook vertoon hy ’n redelik tegniese tabel van hoe hy verskillende psigiese versteurings aan die hand van mimetiese teorie kategoriseer.
In vraetyd wil ’n jong Katolieke studentepriester van hom weet wat die kans is dat die ongekende hoë voorkoms van transgenderidentifikasie vandag as ’n soort mimetiese identiteitsversteuring verklaar kan word. Die gehoor sluk gesamentlik wind; Oughourlian beantwoord die vraag met ’n staaltjie van ’n voormalige Spaanse pasiënt wat gedink het hy is Napoleon Bonaparte en op ’n dag eensklaps genees is, en dis moeilik om uit te maak wat vir ’n antwoord op so ’n netelige vraag dit is.
Tydens die laaste gesamentlike sessie, die Saterdagoggend, is nog twee swaargewigte aan die woord: die politieke filosoof Chantal Delsol (lees haar lesing hier en ’n opvolgonderhoud daaroor met haar hier) en die tegniekfilosoof, Jean-Pierre Dupuy.
In haar lesing gee Delsol ’n boeiende ontleding van hoe in ’n toenemend post-Christelike Europa die Joods-Christelike tema van die apokalips oorgeneem word deur sekulêre, ateïstiese denkers wat veral aan die hand van die ekologiese krisis die apokalips voorspel. In vraetyd stem sy saam dat die feit dat terwyl die Weste besig is om metafisies te verarm en ander wêrelddele se metafisiese tradisies springlewendig is, dit beslis bydra tot die verhoging van interkulturele spanning en gewelddadige konflikte.
Dupuy was in die 1980’s die eerste voorsitter van die raad wat die Franse regering oor etiese kwessies met betrekking tot kernkrag moes adviseer, en hy het ’n leeftyd se studie van kernwapens agter die rug. Aan die hand van ’n ontleding van die oorlog in Oekraïne – en na sy oordeel die onwaarskynlikheid dat Oekraïne veel grondgebied sal herower – kom Dupuy tot twee opspraakwekkende gevolgtrekkings: Eerstens kan die bloedvergieting in die oorlog nie uitsluitlik op Rusland geblameer word nie; tweedens het hy geen twyfel dat indien die Russiese president militêr vasgekeer voel, hy nie sal huiwer om ’n taktiese kernwapen te gebruik nie. En hy herinner sy gehoor daaraan dat hy slegs een politieke leier in sy loopbaan teëgekom het wat verklaar het dat indien sy land met ’n kernwapen aangeval word, hy nie met ’n kernwapen sal terugslaan (en so die klassieke nagmerrie van kernoorlogscenariobeplanning, naamlik wedersydse vernietiging deur eskalasie, te vervul) nie, naamlik Valérie Giscard d’Estaing, wat van 1974 tot 1981 die Franse president was.
*
Die groot romansier Milan Kundera, wat op 11 Julie vanjaar in die ouderdom van 94 oorlede is, het haas 40 jaar gelede in sy beroemde opstel “The tragedy of Central Europe” oor die toekoms van Europa bespiegel. Hy voer aan dat die eenheid van Europa eerstens in die Christendom gesetel was en toe vervang is deur kultuur, wat volgens hom in die proses was om sy verenigende krag in Europa prys te gee. Dan wonder hy wat hierna sal kom (aangehaal uit Edmund White se Engelse vertaling):
.......
Just as God long ago gave way to culture, culture in turn is giving way.
.......
Just as God long ago gave way to culture, culture in turn is giving way.
But to what and to whom? What realm of supreme values will be capable of uniting Europe? Technical feats? The marketplace? The mass media? (Will the great poet be replaced by the great journalist?) Or by politics? But by which politics? The right or the left? Is there a discernible shared ideal that still exists above this Manichaeanism of the left and the right that is as stupid as it is insurmountable? Will it be the principle of tolerance, respect for the beliefs and ideas of other people? But won't this tolerance become empty and useless if it no longer protects a rich creativity or a strong set of ideas? Or should we understand the abdication of culture as a sort of deliverance, to which we should ecstatically abandon ourselves? Or will the Deus absconditus return to fill the empty space and reveal himself? I don't know, I know nothing about it. I think I know only that culture has bowed out.
Haas 40 jaar nadat Kundera hierdie vrae gestel het, wil dit voorkom asof ’n leë verdraagsaamheid in die vorm van die woke godsdiens een van die kragte is wat die vakuum vul. Hierdie leë verdraagsaamheid moet myns insiens verstaan word as ’n regstreekse erfgenaam van die afgang van die Christendom in die Weste: As dit te ondenkbaar is om in niks te glo nie, dan word nog in absolute inklusiwiteit geglo. Maar as al wat identiteit is (insluitend dié wat nog uitgevind gaan word) per definisie ingesluit moet word, het ’n geheel wat alles insluit hoegenaamd nog enige betekenis?
Die woke godsdiens vorm skynbaar die teenhanger van nog ’n krag wat die vakuum vul, ’n krag wat sê dat as my teenstander alle grense wil uitwis, ek sal reageer deur harde grense te trek. In dele van Sentraal- en Oos-Europa, asook Rusland, tree plek-plek ’n verstaatlikte Christendom na vore wat radikaal uitsluitend is.
........
Die woke godsdiens vorm skynbaar die teenhanger van nog ’n krag wat die vakuum vul, ’n krag wat sê dat as my teenstander alle grense wil uitwis, ek sal reageer deur harde grense te trek. In dele van Sentraal- en Oos-Europa, asook Rusland, tree plek-plek ’n verstaatlikte Christendom na vore wat radikaal uitsluitend is.
........
Kortom, die onweerswolke van ’n metafisiese oorlog tussen twee teenhangende opvattings van die goeie het uitgebreek in die vakuum wat deur die afgang van die Christendom in die Weste gelaat is.
Die Afrikaanse wêreld sal nie deur hierdie metafisiese oorlog gespaar word nie, want sedert die ontstaan van die Afrikaanse wêreld staan dit in simbiose met wat in die Weste gebeur, ten goede of ten kwade, ten regte of ten onregte; ongeag.
In die Christelike tradisie bestaan die neiging om te goed en te seker te wil wees vanaf die vroegste tye. Ook sedert die vroegste tye het die Christendom ’n antwoord op hierdie versoeking gevind, en wel in die vorm van die asketiese mistici, hulle wat tegelyk diep bewus is van hul eie feilbaarheid en dat dit slegs deur die radikale selfontlediging van kenose in die aangesig van die Onpeilbare Goeie, Mensliewende oorkom kan word.
Die heel vroegste wortels van hierdie stroming in die Christendom lê in die vierde eeu, toe die Moeders en Vaders van die Woestyn in Egipte uit die stede van ’n polities al hoe magtiger Christendom teruggetrek het in die onmeetlike leegtes van die woestyn om deur die onmeetlike leegtes van die gees sigself leeg te maak op reis na gemeenskap met die Onpeilbare Goeie, Mensliewende.
........
Vir hierdie asketiese mistici word die hardste oordeel vir die self gespaar, word eerder geswyg as gepraat, en word ’n nuwe gemeenskap moontlik – radikaal inklusief vir álmal wat bereid is om die self af te lê en hulle aan hierdie biddende dissipline te onderwerp, en terselfdertyd radikaal ontoeganklik vir diegene wat eerder met die self besig wil wees.
........
Vir hierdie asketiese mistici word die hardste oordeel vir die self gespaar, word eerder geswyg as gepraat, en word ’n nuwe gemeenskap moontlik – radikaal inklusief vir álmal wat bereid is om die self af te lê en hulle aan hierdie biddende dissipline te onderwerp, en terselfdertyd radikaal ontoeganklik vir diegene wat eerder met die self besig wil wees.
Wil ons in die Afrikaanse wêreld die woke godsdiens met sy oneindige vermenigvuldiging van variasies op die self besig wees? Wil ons harde grense rondom ’n nuwe gestolde mitologiese groepsidentiteit trek? Of het ons die moed om te doen wat die uitgeworpe, afgesonderde skaapwagter naby die einde van Die uur van die engel doen (ble 327–8)?
Die spruite is leeg, uit die oog druppel die water in ’n modderige poel, waar moet die skaap gaan suip? God die Here is daar, in die water, in die modder, in die sand. Kloof die hout en Hy loop saam in die grein, kap die klip oop en Hy is daar. Eens toe ek jonk was, het ek op ’n teken gewag, ligte of stemme en gesigte, en die Here het dit vir my gegee soos mens vir ’n baba melkkos gee, maar later het Hy dit weggeneem en daar het niks oorgebly nie. Jy moenie tekens soek nie, jou kop wegdraai om vir die teken te kyk of te luister nie. Hier en nou, God die Here is oral, en jy moet jou kop nie wegdraai nie, want Sy heerlikheid en genade omring ons. ’n Handvol mieliepitte het Hy my gegee om op te kou, ’n handvol pampoenpitte; ’n handvol modderwater het Hy my gegee, druppelend uit die oog. Dit is genoeg. Stroop die blare van die mielie af, sny die pampoen oop, breek oop die heuningkoek. Maal die koring tussen die klippe fyn, in die meel is Hy nog altyd.



Kommentaar
Baie interessante bespreking. Dankie!
Briljante bydrae. Gelukkig is Afrikaanse selfstandige naamwoorde gender-neutraal. Of gaan die anti-wokers mense wat dit beweer, kanselleer?
Briljant. Baie dankie.
Baie goed geskryf, Johann. Ek kon wel nie alles lees nie, te besig by die werk, maar sal later.
Terloops, viva vir ’n sekere mate van vryheid van spraak wat darem nog in die Weste geld. Ek lees vanoggend op CNN en skud my kop: Indonesia jails woman who recited Muslim prayer before trying pork on TikTok.
Hierdie artikel van Johann Roussouw sal ek vir altyd bêre. Hy wys as't ware vir ons, wat met grensloosheid en harde grense sukkel, 'n Derde Weg.
Die oomblik as jy die term "woke" gebruik, verloor jy my. Dis nie 'n ding nie. Relax tog, asb. 🙄
Baie dankie vir hierdie fakkel. Soos u sê, die skrapfascisme vul 'n historiese leemte.
Jislaaikit, dis wanneer epistomologie en metafisika ná enkele glasies konjak in die greep van die Götterdämmerung-koeterwals op die trappe van 'n Rennaisance-kasteel té verstrengel raak, veral dan eindig die prediker sy betoog met die Here van die leërskare so onsamehangend en onheilig in die modder. Oi(nk). Maar wat ek nou sê, kan jy nie in die openbaar sê nie.
Ek moet my onkunde bieg. En vra vir verheldering: verduidelik asb in gewone taal, in verstaanbare metafore, in duidelike voorbeelde wat beteken "woke"?
Die skrywer van die “reisartikel” deur 'n veranderende Frankryk is verbaas oor die impak van die woke godsdiens op sy Franse vriende en die Franse intelligentsia. Tog is dit nie 'n vreemde verskynsel nie. Eintlik is dit 'n onafwendbare ontwikkeling van 'n gemeenskap wat hul rug op die Joods-Christelike tradisie gedraai het, eksistensialisme aanbid het, dekonstruksie van taal en waardes aangehang het, en nou onder die tirannie van “niebinariteit” gebuk gaan. Die skrywer noem dit 'n “metafisiese oorlog.”
Tog is die saak meer kompleks, maar ook meer eenvoudig. Die spul draai om die ontwikkeling van die mens se waardesisteem asook die menslike bewussyn. In die jare Sestig het Clare W. Graves, 'n Amerikaanse Professor in Psigologie, ontdek dat mense se waardesisteme ontwikkel wanneer die omstandighede reg is. Don Beck en Chris Cohen het Graves se denke verder ontwikkel wat bekend staan as “Spiral Dynamics.” Mense beweeg van die mees egosentries vlak tot 'n hoër postrasionele en mistieke vlakke.
Don Beck het sedert 1981 63 keer Suid-Afrika besoek, want hy het, met Graves se aanmoediging, gesien dat Suid-Afrika die smeltpot van die wêreld verteenwoordig. Dit was tydens Beck se besoeke aan Suid Afrika dat hulle die kleursisteem ontwikkel het, om weg van rasseklassifikasie te beweeg.
Die gonswoord wat Beck en Cowan vir die vlakke gebruik is “waardememe” of “value meme” en word so geskryf, vMEME. Beck en Cowan omskryf dit in hul boek, Spiral Dynamics so: “Such a vMEME reflects a world view, a valuing system, a level of psychological existence, a belief system, an organizing principle, a way of thinking or a mode of adjustment.” Dit verteenwoordig 'n kernintelligensie, het 'n invloed op alle lewenskeuses, en so 'n vMEME kan in gesonde en ongesonde vorms voorkom, is 'n diskrete struktuur vir denke en dit kan verhelder of verdof na gelang die lewensomstandighede verander.
Die verskillende vMEME en hulle kleure word so beskryf: i) Instinktiewe beige vMEME, ii) Stampers vMEME, iii) Egosentriese rooi vMEME. (Die eerste drie vlakke is egosentries en kom voor by babas, jong kinders en by Kaapse vlakte bendes) iv) Doelgerigte blou vMEME, (godsdienste) v) Strategiese oranje vMEME, (die begin van die rasionele en doelgerigte strategieë) vi) Relatiwistiese groen vMEME, (teen enige vorm van hiërargie solank hulle bo is.) vii) Sistemiese geel vMEME, (Hier begin die tweede of te wel die mistieke laag.) viii) Holistiese turkoois vMEME. Die probleem is dat mens nie outomaties weet op watter waardesisteem (vMEME) jy op funksioneer nie alvorens dit nie vir jou uitgewys word nie. Dit is gewoonlik hier waar gespreksgenote se oë omdop. (Vir verdere inligting lees Beck, DE & Cowan, CC. 2006. Spiral dynamics: Mastering values, leadership, and change. Malden, MA. USA. Blackwell Publishing.)
Die woke godsdiens in Frankryk is niks anders as wat Ken Wilber die “mean green meme” noem. Die woke lidmate wil almal omsluit maar net hulle is reg. Hulle slagspreuk is: “Daar is geen absolute waarheid nie.” Hier skiet hulle hulself in die voet. Die stelling is 'n absolute waarheid. Konfronteer jy hulle daarmee, sê hulle dat jy 'n rassis is, of iets dergeliks.
Spiral Dynamics se uitgangspunt is dat alle fases of vlakke het reg om te bestaan en ons moet dit erken en gesonde vMEMEs bevorder. Dit is egter net diegene op die tweede laag (geel en turkoois) wat die waarde van die ander ses vlakke kan erken en waardeer. Min politieke of godsdienstige leiers is op die tweede laag om die werk te doen nie en 'n mens kan nie 'n probleem met dieselfde waardesisteem wat die probleem veroorsaak het, oplos nie. Kyk maar na die getjommel by metro’s en munisipaliteite en die gebrek aan vordering.
Volgens Spiral Dynamics is daar ses voorwaardes geïdentifiseer voordat permanente verandering van 'n mens se waardesisteem kan plaasvind:
Eerstens: die potensiaal vir verandering moet teenwoordig wees.
Tweedens: indien daar enige onopgeloste probleme van die laer vlak teenwoordig is, kan groei na die volgende vlak nie plaasvind nie.
Derdens: daar moet 'n voelbare dissonansie op die huidige vlak of vMEME wees voordat verandering verwelkom kan word.
Vierdens: daar moet genoegsame insig in die oorsake van die dissonansie en ʼn bewustheid van alternatiewe moontlike oplossings vir die ongelukkigheid teenwoordig wees.
Vyfdens: die spesifieke versperrings vir verandering moet korrek geïdentifiseer wees en dan geëlimineer, verbygegaan, geneutraliseer of in iets nuuts herontwerp word.
Sesdens: wanneer belangrike verandering plaasgevind het, volg 'n tydperk van verwarring, lang leerprosesse en ongemaklike assimilasies terwyl konsolidasie plaasvind. Indien daar nie 'n ondersteunende kultuur tydens die transformasie is nie, sal die vMEME selde ontkiem, wat nog te sê van blom.
Nie almal wil ontwikkel nie en volgens Don Beck wil die ANC Spiral Dynamics nie ernstig opneem nie want mag en geld speel belangriker rolle op hulle rooi, egosentriese vlak. Daar is 'n politieke party in Suid Afrika wat hulle openlik met rooi identifiseer waar hulle geen aanspreklikheid vir hulle optrede aanvaar nie.