Het die waarheid ook grense, of is dit absoluut?

  • 1
............
Die begrenste waarheid versus die absolute waarheid. Dit is waaraan ek oplaas gedink het toe ek gevra is om iets te skryf oor die relletjie rondom die Winckler-egpaar se beplande optrede by die Breytenbach Sentrum te Wellington.
...............

Die begrenste waarheid versus die absolute waarheid. Dit is waaraan ek oplaas gedink het toe ek gevra is om iets te skryf oor die relletjie rondom die Winckler-egpaar se beplande optrede by die Breytenbach Sentrum te Wellington.

Die geleentheid gaan oor die bekendstelling van hul onderskeie leefstylboeke, Lewensgids vir mans (deur Heinz) en Lewensgids vir vroue (deur sy vrou, Aletté-Johanni) by die sentrum. Kritici wou hê die sentrum moes hul deure vir die egpaar sluit.

Die beswaardheid gebeur teen die agtergrond van die Wincklers se kritiek op toegewings wat gemaak is aan ’n transseksuele kind by ’n skool in Somerset-Wes. Die Wincklers het ’n protes namens ouers wat kinders by die skool het, laat opklink.

Was hierdie ’n geval van sosiale onverdraagsaam en ongevoeligheid deur die Wincklers, in ’n tyd wat gelyke regte benadruk? Die Winckler-kritici dink so.  Hulle dink dubbeld so, want die sentrum is boonop vernoem na ’n aktivis vir gelyke menseregte, die nou ontslape skrywer en digter Breyten Breytenbach

Maar is die beswaardes wat om hierdie verbanning vra, nie deel van ’n kanselleeerkultuur nie? Met al die selfingenome selfgeregtigheid wat daarmee saamhang? Het konserwatiewe mense nie gelyke reg op vryheid van spraak nie?    

..............
Die Wincklers is alom bekend vir hul begeesterde godsdienstige oortuigings. En wat word makliker met absolutisme en onverdraagsaamheid verbind as juis godsdiens, en dan boonop godsdiens met ’n behoudende, terugkykende inslag?
..............

Die Wincklers is alom bekend vir hul begeesterde godsdienstige oortuigings. En wat word makliker met absolutisme en onverdraagsaamheid verbind as juis godsdiens, en dan boonop godsdiens met ’n behoudende, terugkykende inslag?

Vergun my ’n aanloop om die horison waaruit die beswaardes kom, sowel as die horison waaruit die Wincklers en hul aanhangers kom, kortliks te skets.

Godsdienstige oortuigings het ’n geneigdheid tot absolute uitsprake. Dink maar aan die ikoniese Bybelvers oor Jesus wat die enigste Weg is. Of ’n ander uitspraak van Jesus in die Bybel: “Wie nie vir My is nie, is teen my.”  Daardie twee aanhalings toon die absolutistiese (of verabsoluterende) denkaard wat dikwels in die Christelike denke voorkom.

Dit is juis die absolutistiese aard van sommige godsdienstige opvattings binne die Christendom (en ook ander gelowe) wat die “progressiewes” die hoenders in maak. En met reg.

Daar is egter vele ander uitsprake in veral in die Nuwe Testament wat juis waarsku teen die verabsolutering van opvattings oor die waarheid. Dink maar aan die uitspraak oor die koei wat in die put geval het op die Sabbat, en dat dit verkeerd sou wees om die koei daar te los omdat jy nie werk moet verrig op die Sabbat nie. Die Bybel sowel as die aanhangers daarvan is dus vol teenstrydighede – ’n feit wat die onus vir die goeie lewe  op onverpoosde hervertolking plaas en nié op vaste, ewigdurende essensies nie.

Die punt is, die waarheid hét grense; dit is nié absoluut nie. Dit is juis die begrenste aard van die waarheid wat dit “waar” maak. Ek noem dit graag die Aristoteliaanse aard van die waarheid. Waarhede wat as absoluut paradeer, slaan byna altyd in die teenoorgestelde om, naamlik ’n leuen.

............
Die punt is, die waarheid hét grense; dit is nié absoluut nie. Dit is juis die begrenste aard van die waarheid wat dit “waar” maak. Ek noem dit graag die Aristoteliaanse aard van die waarheid. Waarhede wat as absoluut paradeer, slaan byna altyd in die teenoorgestelde om, naamlik ’n leuen.
............

Die absolute weg is gewoon nie versoenbaar met die idee van waarheid nie, en tog het jy geen groter vaandels van die waarheid in die geskiedenis gekry as juis absolutismes nie.

Die teendeel lyk egter meer waar, naamlik dat “waarheid”, of die strewe daarna, veel te make het met ’n relatiewe of relativistiese weg. En die instrumente van die morele bewussyn (ten minste in die Westerse tradisie) – of dit regspraak of wetgewing of die kunste is – is regstreekse erfgename van die relativistiese aard van die waarheid. Die Christendom het in ’n groot mate die antieke filosofie en sy opvattinge nageboots, en die invloed van die filosoof Aristoteles, hy van die goue middeweg,  was nog altyd óók ten grondslag van die Christelike godsdiens, wat in die derde  eeu nC sy beslag gekry het. Dit het gebeur ondanks die absolutismes wat histories in die Christelike godsdiens werksaam was. Daar is ’n groot deel van Jesus wat suiwer Aristoteles is. (En ’n ander deel wat suiwer Plato is.)

Die Aristoteliaanse siel van die Christendom op sy beste word maklik deur sy “progressiewe” kritici misgekyk.    

Dit is opvallend dat die neiging tot verabsoluterende denke nie tot religie of gelowiges beperk is nie. Jy kry dit ook onder politieke aktiviste, stryders van elke geur en opvatting, onder wetenskaplikes, en selfs onder groot kunstenaars.

Die onderliggende behoefte by absolutisme is om ’n finale antwoord af te dwing sodat folterende lewensvrae eens en vir altyd te ruste kan kom. (Wie ken nie die refrein “om gered te wees" nie?)

Vandaar, ironies genoeg, ook die hedendaagse woke- en kanselleerkulture. Dit is formasies wat hulself progressief waan, maar veel meer met die historiese, verabsoluterende rol van godsdiens – veral soos dit in Suid-Afrika in die apartheidstyd gemanifesteer het – gemeen het as met die wik-en-weeg van sekulêre, redelike denke.           

Ek moet bieg, my eie refleksoordeel in die “Wincklers by die Sentrum”-sage was om te sê: Moenie hulle daar laat optree nie. Ek het selfs in ’n Facebook-kommentaar gevra dat die sentrum moet herbesin. Dit is teen die gees van Breyten Breytenbach, die persoon na wie die sentrum vernoem is, om reaksionêre standpunte aan die sentrum te bevorder, het ek (soort van) geredeneer. Dit is eers toe ek onder die stort by die gym staan, besig om skoon te kom, dat ek dieselfde herbesinning van myself verwag het. Koue water is ’n duiwel.   

Om na die been te sny: Die beginsels wat in die Winckler-rel in stryd verkeer, is die reg op vryheid van spraak (wat deur die Wincklers verteenwoordig word, dalk ironies) en die reg van diversiteit om geakkommodeer te word (wat deur die verdedigers van genderdiversiteit verteenwoordig word).

Ja, genderdiversiteit. Dis mos waaroor die rel gaan. Die kind by die skool.

Die kern van die misnoeë met die Wincklers wentel om ’n standpunt  wat die egpaar ingeneem het in die saak van die leerder aan die Bolandse skool, wat volgens geboorte ’n seun is maar op sy en sy ouers se versoek deur die skool toegelaat is om as ’n meisie skool te gaan. Anywaaays, die Wincklers het toe ’n drukgroep gestig wat probleme aangedui het met die skool se skynbaar progressiewe besluit om die kind as ’n meisie te akkommodeer. Dit is hoe ek Heinz se selfverdediging verstaan.

Kritici van die Wincklers het toe hul eie krete van stapel gestuur, wat die egpaar daarvan beskuldig dat hulle trans mense, en boonop onskuldige trans kinders, haat en probeer om hulle uit samelewingstrukture te hou.

Haat die Wincklers trans mense? Heinz Winckler het teruggekap en dit ontken. Die drukgroep word verkeerd aangehaal en verstaan, sê hy.

Ek gaan hom die voordeel van die twyfel gee. Daarmee verstaan ek dat hy probeer sê: As ’n trans kind toegelaat word om hom- of haarself binne die skoolstelsel as trans uit te lewe, ontstaan daar praktiese spanninge wat die deur die skoolowerheid onder die mat gevee word. En ’n bewustheid van daardie spanninge (ek vertolk nou) het niks noodwendig te doen met die ontsegging van ’n trans persoon om as trans te lewe en geakkommodeer te word nie. (Ek stel myself voor dat dáárdie dinosourusse ook in die drukgroep sal wees, maar ’n mens oordeel ’n groep aan sy beste kant, nie sy slegste kant nie. Ons dink aan die bevrydingstryd as Mandela, nie Zuma en Lesufi nie, reg?)

..........
Praktiese probleme, ja. Ek stel my ’n situasie voor: die kleedkamer. Daar is baie praktiese situasies hier wat “kommer” kan  skep. Oënskynlik. Om die saak te besleg, moet mens ten minste ’n gesprek hê.
............  

Praktiese probleme, ja. Ek stel my ’n situasie voor: die kleedkamer. Daar is baie praktiese situasies hier wat “kommer” kan  skep. Oënskynlik. Om die saak te besleg, moet mens ten minste ’n gesprek hê.

Kom ek kies sommer lukraak ’n voorbeeld. Ek suig nou aan my duim, maar duime kan waarheidspene wees.

Sekere ouers mag begaan wees oor wat hulle sien as die “skending” van hul dogters se reg op “privaatheid” in die kleedkamer. Daar is dan nou ’n “seun” wat in die teenwoordigheid van hul dogters aan- en uittrek, alles onder die dekmantel van dat “hy kamstig ’n meisie is”.  

...........
Die punt hier is dat konserwatiewe mense vanuit ’n bepaalde sosiale horison kom. En die feit dat hulle dalk “agter die tyd” is – beteken dit hulle verloor hulle reg om gehoor te word? Ek dink tog nie so nie. Hulle vra nie dat die historiese gebruik om kinders te offer herstel moet word nie.
...........

Die punt hier is dat konserwatiewe mense vanuit ’n bepaalde sosiale horison kom. En die feit dat hulle dalk “agter die tyd” is – beteken dit hulle verloor hulle reg om gehoor te word? Ek dink tog nie so nie. Hulle vra nie dat die historiese gebruik om kinders te offer herstel moet word nie.

So, oukei, wat van die problematiek van aparte kleedkamers vir aparte genders? As daar nog altyd twee was, waarom mag daar nie drie wees nie? En as drie kleedkamers moreel verkeerd is, omdat dit trans mense soos “freaks” sal laat voel, waarom nie net een kleedkamer vir alle kinders hê nie? Kom ons gesels daaroor.

Gepraat van eerlikheid: Wat van die “privaatheid” van die nagenoeg tien persent meisies met ’n selfgender- seksuele oriëntasie (gay, lesbies), wat volgens statistiek nog altyd in daardie kleedkamer aanwesig was? Was hul privaatheid nie nog altyd geskend deur hulle te dwing om in wat ontspanne oomblikke behoort te wees, in die seksuele spanningsveld van hul oriëntasie te opereer asof daardie spanning glad nie bestaan nie? (Dieselfde in die geval van die seuns.)

Hierdie is die soort teenstrydige gewaarwordings wat oopgekrap kan word in ’n eerlike gesprek. Die blote feit van ’n drukgroep wat om nuansering van ’n geproblematiseerde situasie vra, al is dit vanuit ’n raamwerk wat deur sommiges as agterlik beskou word, kan nie goedsmoeds as ’n kreeftegang beskou word nie. Dis nie soseer die inhoud van die uitlewing van ’n reg wat dit ’n reg maak nie, maar die uitoefening van die reg self wat progressief is. En hier praat ons van die reg om gehoor te word.

Ek het na ’n video op YouTube van Heinz Winckler en ’n godsdienstige gespreksgenoot gaan kyk en was nogal verras gelaat. Die onderwerp was “godsdiens en vryheid van spraak”. Die video is in April of Mei vanjaar gelaai.

Dit is hier:

Die gespreksgenote het oor die nuwe haatspraakwetgewing ter tafel in Suid-Afrika gepraat en hoe sulke wetgewing die gevaar sal loop om mense se vryheid van spraak te skend.     

’n Paar punte het my opgeval. Winckler lewer sy pleidooi vir vryheid van spraak namens alle godsdienste, nie net die Christelike nie. Dit is progressief.

Die gespreksgenoot was op sy beurt ewe progressief op ’n punt of twee. Hy wys op ’n twyfelagtige geval van skuldigbevinding van haatspraak wat  iewers buite Suid-Afrika gebeur het, en wat dalk ons voorland sou kon word. ’n Straatprediker is skuldig bevind omdat hy op straat gepreek het. Hy het sommige verbygangers geaffronteer. Die beginsel wat toe in die hof gegeld het, was die verontwaardiging van ’n verbyganger. En hierdie verontwaardiging is deur die hof vertolk as ’n teken van haatspraak. Niemand mog verontwaardig voel nie, sien.

Kyk weer: Die verontwaardigde persoon het slegs so gevoel het omdat hy of sy besluit het om nie aan te loop nie. Hy of sy het nie hul reg op vrye beweging uitgeoefen nie. Hulle was die moedswillige argitek van hul eie verontwaardiging. Winckler en sy gespreksgenoot was reg om hierop te wys. Wat gebeur het, ten onregte, is dat die hof gelykberegtiging bo die beginsel van vryheid geplaas het. En boonop die subjektiewe ervaring van iemand se verontwaardiging vertolk het as dié beslissende teken dat sy gelykheid geskend is!

Met ander woorde, as ek ’n fobie oor Marxistiese uitlatings het, en ek voel tot in my mik gekrenk om sulke uitlatings op straat te hoor, kan dit volgens daardie hof geneem word as teken dat my reg op gelykheid geskend is. Weg met Marxistiese uitlatings op straat?   

Dit bring ons terug by die probleem van absolutisme en waarheid.

Gelykberegtiging funksioneer in die genoemde voorbeeld as ’n absolute beginsel, en nóg vryheid nóg gelykberegtiging behoort absolute beginsels te wees. Absolute beginsels is die dood in die pot vir moraliteit. Omdat godsdiens histories gesproke by uitstek die fout van absolutisme begaan het, is dit te maklik vir ’n nuwe absolutistiese subkultuur om godsdiens aanhoudend tot sondebok te maak.

Maar Winckler en sy gespreksmaat was allesbehalwe in die program deurgaans reg. Wat opgeval het, is dat Winckler en sy gespreksgenoot die meerderheidsbeginsel gebruik as legitimasie vir die regverdigbaarheid van ’n mening. Die meerderheid Suid-Afrikaners is Christene, dus moet hulle op grond hiervan reg wees. Dit is nie korrek nie. Meerderhede het al van die grootste gruweldade in menseheugenis gepleeg en is nie per definisie met die goeie of die beste te verbind nie. “Meerderheid” is juis ’n beginsel wat na absolutisme neig soos min ander absolutismes. Vra maar die Suid-Afrikaanse politiek.  

.............
Ek wil dit duidelik maak dat ek nie hier die Wincklers se sienings oor die lewe verdedig het nie. Ek wil net sê dat die saak komplekser blyk te wees.
...............

Ek wil dit duidelik maak dat ek nie hier die Wincklers se sienings oor die lewe verdedig het nie. Ek wil net sê dat die saak komplekser blyk te wees.

Dit is juis vryheid van spraak wat mens oor hierdie dinge laat nadink. En die Wincklers het gevra vir vryheid van spraak. Dit is die beswaardes van die Wincklers in hierdie geval wat die erfgename van Koot Vorster is, nie die Wincklers nie. En dit sluit my in vóór daardie koue stort.    

Ons is nou drie “stortgevalle” in Suid-Afrika: Jacob Zuma, Louis Liebenberg en die uwe. Maar ek glo wel my stortkraan is die bedagsaamste van die drie.

Om op te som: Die groot probleem bly die mens se strewe na absolute waarhede. En godsdienstige groepe sowel as sekulêre leeflinge maak hul hieraan skuldig.

Absolute waarheid is ’n weerspreking. Die “waarheid” se modus is iets anders. Dit is in die middel, Cyril.

Lees ook:

The Charlie Seminar

Showers of belly laughs in Zapiro's Don't Mess with the President's Head

Wat sê Bettina? Oor vryheid van spraak en die reg om aanstoot te gee

’n Krities-narratiewe begripsverheldering van biologiese aspekte van die transgenderverskynsel

Perspektiewe op "self" en "identiteit"

“Ek is ...”: Oor die problematiek van enkelvoudige en meervoudige identiteit

Whose voices matter? Trans erasure in public discourse

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Die aantyging dat Haains transseksuele mense "haat", het my ook destyds gepla. Dit was 'n cheap shot. En niks anders as vuilspel van die woke brigade nie. Ek het daai tyd so bietjie gaan oplees oor Haains, en op 'n interessante berig afgekom uit Haains se jare tydens Idols. In die berig, geskryf deur ene Waldimar Pelser, laat Haains homself as volg uit ten opsigte van gay mense, let veral op die laaste sin van Haains:

    "Everyone knows I'm not gay, but I'm also not homophobic. If people support me and buy my CD, I'm happy. Everyone is equal and should be treated with love."

    Hier is die artikel:

    https://www.news24.com/news24/everyone-knows-im-not-gay-20020703

    Haains is baie dinge. 'n Lastige pastoor.'n Steurende sanger. Maar 'n monster, nee, die glo ek nie.

    Nou ja mense sal argumenteer dis al meer as twee dekades terug en dit was voor hy pastoor was, en die berig gaan oor homoseksualiteit, nie transseksuele mense nie, miskien so, maar ek het net die gevoel gekry dat hier 'n stuk onreg skuil. Mense word stil geskree. En die implikasies van die ekstreme neigings, is in kort, dat niemand mag verskil nie. Enige ander opinie as die eie is onaanvaarbaar en mag nie geduld word. En dit kom uit die hoek van mense wat spog oor hoe "inklussief" hulle is.

    Mens het dieselfde gesien met die 2024 verkiesing in die VSA, waar al die miljoene mense wat vir Trump gestem het, reg deur die bank as Nazi's beskou word deur sommige. Sonder enige inagneming van ander faktore wat die uitslag beinvloed het, soos beleid.

    So ek hou self nie juis van Haains of sy musiek nie. Maar as Haains 'n saal huur om sy boekies te smous, gaan ek nie inmeng en die saaleienaar se besigheid saboteer nie.

    Christene het vir eeue hulle bepaalde posisie gehad ten opsigte van genderrolle. Is ons werklik besig met godsdiensvryheid, as ons vir Christene wil voorskryf hoe hulle moet dink?

    Het jou artikel baie geniet.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top