Ek was besonder entoesiasties oor die nuus dat Heartstopper se derde seisoen beskikbaar is op Netflix. As ’n aanhanger van Alice Oseman, wat onder meer grafiese romans in die Heartstopper-reeks geskryf het, het ek ’n voorliefde vir enigiets te make met Heartstopper. Die Netflix-reeks is op Oseman se werk gebaseer. Seisoen 3 het nie teleurgestel nie.
Vir diegene wat nog nie Heartstopper gekyk het nie, gee ek ’n kort opsomming van wat aan die gang is in die eerste twee seisoene. Ons ontmoet vir Charlie Spring (Joe Locke), ’n gay tienerseun wat uit die kas is. Hy is die jaar tevore vreeslik geboelie omdat hy gay is. Hy ontmoet in sy registerklas vir Nick Nelson (Kit Connor), wat ’n tipiese rugbyspeler is. Charlie raak, soos hierdie stories gaan, smoorverlief op Nick maar hy is nie seker oor Nick se seksuele oriëntasie nie. Nick begin deur die loop van die verhaal sy oriëntasie bevraagteken, wat lei tot konflik in seisoen 1 tussen hom en Charlie se pel, Tao Xu (William Gao). Tao doen alles in sy mag om Charlie te beskerm, maar die beste bedoelinge het soms nie die uitkomstes waarvoor jy gehoop het nie.
........
Die reeks, nes die boeke, probeer om aan vele van die minder bekende oriëntasies ook ’n bietjie lugtyd te gee, soos mense wat aromanties of aseksueel is.
........
Daar is hope intrige en vele ander stories wat saamgeweef word, soos Charlie se suster Tori (Jenny Walser) wat altyd vir Charlie ondersteun, en Tao wat verlief raak op sy vriendin Elle (Yasmin Finney). Nick se ma (Olivia Colman) se reaksie toe Nick uitkom, is ’n meesterklas in hoe jy jou kind moet hanteer.
In seisoen 2, waar Truham Boys en Higgs Girls saam ’n toer na Parys, Frankryk neem, is daar beslis nie minder drama nie. Seisoen 2 gee leidrade oor wat in seisoen 3 gaan gebeur sonder dat dit té blatant is. Ons word ook bederf met nog ’n lekker sekondêre verhaal van twee onderwysers, Ajayi (Fisayo Akinade) en Farouk (Nima Taleghani), wat in Parys ’n bed moet deel. Ons ontmoet ook Nick se pa in seisoen 2, wat in Parys woon en bitter min sy kinders in Engeland sien.
Seisoen 3 is eintlik besonder swaar in vergelyking met die vorige seisoene, juis omdat die tematiek oor moeilike onderwerpe handel, soos eetversteurings en geestesgesondheid. Seisoen 3 is ook ietwat langsamer as die vorige twee seisoene, juis omdat die kyker saam swoeg deur hierdie probleme met die karakters. Moet dit jou nie laat afsit nie, want dit is beslis genotvolle kykstof. Die wyse hoe hierdie temas benader word, is op ’n sensitiewe wyse aangepak. Een van die wyses wat hierdie temas aangepak word, is deur byvoorbeeld Tao wat ’n film of twee maak. Ek probeer jou soveel moontlik vertel sonder om die storie weg te gee (veral as jy nog nie die boeke gelees het nie).
Diegene, soos ek, wat die grafiese romans verslind het, sal weet dat daar besonder baie verskille is tussen die boeke en die reeks. Die reeks het sy eie identiteit gekry, maar gee beslis die gees van die boeke weer. Oseman se betrokkenheid by die reeks het ook gesorg dat dit so bly. Waar ons in die boek te make het met Aled wat die stil pel in die vriendekring is, het ons in die reeks vir Isaac wat konstant sy neus in ’n boek het. Die reeks, nes die boeke, probeer om aan vele van die minder bekende oriëntasies ook ’n bietjie lugtyd te gee, soos mense wat aromanties of aseksueel is.
.........
’n Vriend van my het op ’n dag Heartstopper daarvan beskuldig dat dit soetsappig is. Ek sien eintlik niks fout daarmee nie. Ek dink ons het almal heeltemal genoeg gehad van die tragiese gay karakter wat nooit meer kry as ’n moontlikheid aan die einde van die film of reeks nie.
.........
’n Vriend van my het op ’n dag Heartstopper daarvan beskuldig dat dit soetsappig is. Ek sien eintlik niks fout daarmee nie. Ek dink ons het almal heeltemal genoeg gehad van die tragiese gay karakter wat nooit meer kry as ’n moontlikheid aan die einde van die film of reeks nie. Dit is waarom iets soos Will and Grace so revolusionêr was op sy tyd. Daar is natuurlik ander reekse sedertdien, soos Never have I ever en Umbrella Academy, waar LGBT+ karakters wel meer kry as net ’n belofte aan die einde.
Tussen die soetsappige oomblikke is daar beslis teer, hartseer en selfs donker oomblikke. Dit maak die kontras tussen die lig en die donker nog meer treffend. Dit is eintlik ’n besonder goeie weergawe van wat ’n LGBT+ tiener dalk mag ervaar, ongeag van wat hul etiket is. Dit is ook iets wat ek graag sou wou gehad het toe ek ’n tiener was.
Ek dink dit is waarom daar vele jong volwassenes is wat ook hierdie reeks kyk. Daar was nie so iets toe ons kinders was nie. In die Engelse klas was daar dalk homo-erotiese ondertone tussen Antonio en Bassanio in The merchant of Venice (wat ek dalk myself verbeel het, bygesê). Ons het ook kennis gemaak met gay karakters in Skilpoppe van Barry Hough, waar een gay karakter dood is en die ander nie eers ’n belofte kry aan die einde nie. Die naaste wat ek gehad het aan iemand soos ek (in 2006) was Pieter Cilliers met ’n Kas is vir klere. Ongelukkig was daar ook net soveel ooreenkomste, omdat ek nie ’n gay man is nie.
Met die verskeidenheid karakters in Heartstopper (hetsy die boeke of TV-reeks) is daar beslis iets vir almal. Of jy cis of trans, gay of straight, bi, wit of swart, aseksueel of nie-binêr is, daar is ’n karakter wat jou verteenwoordig. Daar is iemand met wie jy jou kan vereenselwig.
Ek sien uit na die finale Heartstopper-boek, wat volgende jaar sy verskyning sal maak. Ek sien ook uit na die reeks wat gebaseer is op die boeke wat nog nie verfilm is nie. Maar voor jy dit geniet, moet jy beslis hierdie seisoen kyk. Begin sommer van voor af en kyk die hele ding regdeur.
Lees ook: