Will and Harper (onlangs vrygestel op Netflix) verfilm die reis wat Will Farrell en sy vriendin, Harper Steele, deur die VSA neem sodat Steele meer haarself kan wees. Steele is ’n transgender vrou en sy probeer kyk of sy deur Amerika kan reis soos altyd voor sy haarself as vrou kon uitleef. Die reis begin in New York, waar hulle met Saturday Night Live-kollegas gesels oor hul reaksies op Steele se brief waarin sy almal vertel het dat sy transgender is. Hulle reis deur onder andere Illinois, Iowa, Texas en Nevada, en beland uiteindelik in Kalifornië, waar hulle op die strand sit en praat oor die ervaring wat hulle gehad het op hierdie besonderse reis.
Gewoonlik wanneer Farrell in ’n film is, kyk ek dit nie (met The producers wat die uitsondering was). Steele is ’n skrywer vir Saturday Night Live, ’n program wat ek nog altyd grappig en skerp gevind het. Mens sou dink dat die kombinasie van die twee sou ontaard in chaos en lawwe dinge wat die erns van die saak ondermyn, maar dit is nie die geval nie. Die lawwe oomblikke maak die hartseer oomblikke nog meer treffend, juis omdat die twee gewoonlik so kort op mekaar se hakke is.
By ’n basketbalwedstryd in Indianapolis, Indiana, sit die twee en kyk die spel soos enige ander twee basketbalentoesiaste. Farrell ontmoet toe die goewerneur van Indiana. Die goewerneur se politieke standpunte en houdings was onbekend aan beide Farrell en Steele, dus sit hulle toe en google wat die goewerneur se sienswyses is oor dinge soos LGBT+-regte. Ek was glad nie verbaas om te ontdek dat die goewerneur wetsontwerpe onderteken het wat die lewe moeilik maak vir LGBT+-mense en in die besonder vir transgender mense nie. Darem was die mense om hulle goedgesind.
Hierdie goedgesindheid was ook te vinde in Oklahoma, waar Steele in ’n kroeg vol “Trump”- en “F* Biden”-vlae verwelkom is deur almal in die kroeg. Dit is soms moeilik om ’n gesprek aan te knoop in ’n kroeg, maar gewoonlik wanneer dit aan die gang kom, gaan dit lekker. Steele het lekker gesels in die kroeg, selfs voor Farrell die kroeg binnegegaan het.
Ongelukkig kan dieselfde goedgesindheid nie in Texas gevind word nie.
In vele opsigte is Farrell ’n buffer tussen moontlike bedreigings en vrese wat Steele beleef het. Baie van die vrese wat Steele gehad het, is teen die einde van die film nie meer ’n probleem nie. Die bedreigings mag dalk alomteenwoordig wees, maar is nie noodwendig so groot, onmiddellik of angswekkend as wat mens sou gedink het nie (behalwe op politieke vlak). Mens moet ook wonder of die teenwoordigheid van ’n televisiekamera die gedrag van die mense in hierdie plekke gewysig het of nie. Noem my optimisties, maar ek dink nie dit is die geval in Oklahoma nie.
Vele kere in die era waarin ons ons bevind, word ’n dokumentêre program gemaak om ’n sekere agenda of denkwyse te bevorder, eerder as dat dit ’n weerspieëling is van wat in die samelewing aangaan. Ek dink byvoorbeeld aan Fantastic fungi, wat ’n betoog lewer vir die gebruik van “magic mushrooms” in mediese behandeling. Will and Harper is beslis nie so ’n film nie.
Baie soos Call me Miles of Born in the wrong body – my transgender kid, fokus Will and Harper op Steele se storie. Daar is ook ’n didaktiese tipe komponent aan hierdie film wat ontbreek in ander soortgelyke films. Farrell vra baie van die vrae wat sommige mense as onvanpas sou beskou. Farrell vra byvoorbeeld oor Steele se borste of hoe sy voel oor chirurgie, wat beskou sou word as onvanpas in die meeste kontekste. Steele sê juis dat vriende haar sulke vrae mag vrae omdat sy nie bang is om daaroor te praat nie. Ek is ook van mening dat kykers uit hierdie gesprek sal kan leer sonder om noodwendig persoonlik te raak met ’n trans persoon wat hulle dalk op ’n dag ontmoet het.
Farrell se betrokkenheid is wat hierdie film uniek maak. Hy is eintlik die vergestalting van Jan Alleman in hierdie film. Jan Alleman ontdek dat Steele eintlik ’n doodnormale mens is soos ons almal. Ek dink wel omdat Farrell is wie hy is, sal die film meer aandag geniet as ander soortgelyke produksies.
Will and Harper is die moeite werd om te kyk en kan groepeer word met films soos Call me Miles, Disclosure en selfs gefiksionaliseerde vertellings soos Boys don’t cry of The Danish girl. Dit is ook ’n goeie beginpunt as jy ’n transgender persoon in jou lewe het, maar bang is om vrae te vra.
Will and Harper ’n eerlike en rou vertelling wat met humor en hoop aangepak word. Ek beveel beslis die film aan vir enigiemand wat nuuskierig is oor transgender mense of net lief is daarvoor om ’n goeie dokumentêre program te kyk.
Lees ook:
Die bevordering van gendergelykheid onder kinders: ’n onderhoud met Elma de Vries