...
Laat my mense speel. Die reeks Queen’s Gambit het skaak weer ’n bietjie populêr gemaak. Ons sal moet sien wat gebeur ná hierdie besluit.
...
Ek hou daarvan om skaak te speel. Destyds toe my gunsteling-pub nog oop was, het ek en ene Kim lekker gesels, skaak gespeel en net ’n bietjie vergeet van die slegte dinge in die wêreld. Dit was ’n lekker tydverdryf, maar dit lyk my nou dat skaak die volgende slagveld is vir transgender mense.
Transgender vroue mag nie teen cisgender vroue speel in FIDE-toernooie nie. Die Internasionale Skaakfederasie (FIDE) het in die nuutste weergawe van die FIDE Handboek erkenning gegee aan die feit dat transgender mense in sport ’n kwessie is wat steeds ondersoek word. Daar is maniere om jou gender te laat wysig sodat jy kan kompeteer, maar dit kan tot twee jaar neem vir FIDE om jou gender te wysig. FIDE hou ook die reg om organiseerders en relevante partye in kennis te stel van die verandering in jou gender, “as far as it is necessary for efficient operations of FIDE [...]”. Hulle sal dit nie in die publiek bespreek nie, maar sulke dinge het ’n manier om verklap te word.
Dit raak nog meer bonkers: As jy ’n transgender man is, word al jou vrouetitels weggeneem, maar jy behou al jou titels as jy ’n transgender vrou is wat voorheen teen mans gekompeteer het. Ek begryp nie die logika daaragter nie. Dis byna, en ek mag verkeerd wees met my analise, asof FIDE probeer om te erken transgender mense bestaan, maar dit aanpak op ’n manier waar spelers altyd herinner sal word aan die feit dat hulle trans is.
Hierdie reëls, soos ek dit verstaan, is nie van toepassing as jy in die ope afdeling deelneem nie. Nou hier is vir my die groot vrae: Waarom het FIDE hierdie reëls gemaak en waarom is skaak volgens gender geskei in die eerste instansie?
FIDE is die nuutste internasionale sportliggaam wat reëls gemaak het oor transgender deelnemers. Reuters berig FINA (oftewel Wêreld Watersport) het in 2022 enige transgender vrou effektief verban uit die sport as die vrou deur “manlike” puberteit gegaan het. Transgender mans mag wel teen cisgender mans kompeteer. Vele kritici het hierdie reëls, en die diskrepansie tussen die behandeling van mans en vroue, bestempel as diskriminasie. ’n Oop kategorie word glo steeds ondersoek. Daar is ook beweer dat FINA se besluit ander sportliggame sou dwing om soortgelyke besluite te neem.
Daarenteen het die Wêreld Gewigoptelfederasie (IWF) duidelike riglyne vir hoe jy mag kompeteer as jy transgender is. Laurel Hubbard is ’n Nieu-Seelandse gewigopteller en die eerste transgender vrou wat deelgeneem het aan die Olimpiese Spele. Sy het die IWF se reëls nagevolg en is toegelaat om deel te neem.
Jones, Arcelus, Bouman en Haycraft het in 2017 ’n studie gedoen waarin hulle probeer vasstel het of transgender deelnemers ’n onregverdige voordeel het: “Currently, there is no direct or consistent research suggesting transgender female individuals (or male individuals) have an athletic advantage at any stage of their transition (e.g. cross-sex hormones, gender-confirming surgery) and, therefore, competitive sport policies that place restrictions on transgender people need to be considered and potentially revised.” Is dit waar die storie moet end kry? Natuurlik nie. Wetenskap moet altyd ondersoek instel. Dis wat tans fout is met beide FINA en FIDE se benadering: Geen wetenskap beaam hul standpunt nie. Dit blyk alles polities te wees, maar kom ons fokus nou op die wetenskap.
Die IWF se riglyne is nie onredelik nie. Dit vereis dat ’n deelnemer vir ten minste twee jaar op hormoonbehandeling is voordat hulle mag deelneem. Lekker. Dit skakel enigiemand uit wat in die vrouekategorie wil deelneem om geld te wen of titels te oes, soos die (ver-) regse politici jou wil laat glo. Dit beteken ook dat die hormoonvlakke van die deelnemer dieselfde sal wees as ’n cisgender vrou s’n. Dalk moet FINA en FIDE ’n bietjie meer tyd bestee aan wetenskap liewer as politiek. Al wat enige atleet wil doen, is deelneem aan die sport waarvoor hulle lief is.
In swem en gewigoptel speel die fisieke ’n kardinale rol in deelname. Ons kan nie dieselfde sê van skaak nie. Skaak is ’n spel waar iemand wat nie fisiek sterk is nie, kan kompeteer en wen. Dit gaan oor die kognitiewe. So waarom dan die skeiding in skaak tussen man en vrou, ongeag van jou status as cis of trans?
Die kort antwoord blyk te wees dat vroue nie aangemoedig word om skaak te speel nie. Hercules Chess beweer dat vrouetoernooie en die skeiding van die genders juis mik om meer vroue betrokke te kry by die sport. Skaak is nog altyd deur mans gedomineer, soos eintlik maar elke ander sport, so ’n manier moet gevind word om vroue (ongeag van ouderdom) geïnteresseerd te kry in skaak. Maass, D’Ettole en Cadinu het in 2008 bewys dat genderstereotipes inspeel op hoe vroue skaak speel en hoe dit tot ons nadeel is.
’n Mens moet wonder hoe die uitsluiting van transgender vroue in skaak ander vroue gaan aanmoedig om deel te neem aan die sport. Helaas het ek nie ’n antwoord op daardie vraag nie.
Ek hoor al die stemme wat vir my skree: “Dit gaan oor regverdigheid in sport!” Ek hoor jou. Die probleem is sport is inherent onregverdig. Usain Bolt word bewonder omdat hy beter is as enige van sy tydgenote. Enige afrigter kies die beste spelers vir die span, want die idee is om te wen: Om ’n kompeterende voordeel te hê bo die opponent. Hoe kan ek wen? Dis tog die doel. Anders kan ons net sowel geleef het in die wêreld van Harrison Bergeron, soos in Kurt Vonnegut se meesterlike kortverhaal.
FIDE se reël lyk dalk ’n bietjie abstrak, maar ek onthou ’n oudkollega het my vertel van die polemiek wat vir weke aangehou het. Personeellede wou ’n meisie wat skaak gespeel het, aanwys as sportspersoon van die jaar by die skool waar sy werksaam was. Daar was twee groot probleme gewees: Die feit dat sy ’n meisie is en die feit dat dit skaak is. Ons moet tog nie die fokus van rugby af verskuif nie! Skaak is mos nie ’n sport-sport nie. Dis presies wat hier aan die gang is, maar op ’n veel groter skaal.
Een van die belangrike bevindinge van Jones et al wat misgelees word, is dat transgender deelnemers diskriminasie teëkom wat eintlik maak dat ons nie wil deelneem nie. Dit is vir my dus teenintuïtief dat ’n sport wat desperaat is vir vroue om deel te neem, ’n hele gemeenskap van vroue gaan uitsluit. Die ope afdeling is regtig nie die motiverende faktor wat FINA en FIDE dink dit is nie.
Laat my mense speel. Die reeks Queen’s Gambit het skaak weer ’n bietjie populêr gemaak. Ons sal moet sien wat gebeur ná hierdie besluit.
Lees ook:
Is diskriminasie teen transgender en interseksatlete veroorloof?