
Rafael Rex Felisilda op Unsplash
...........
Die enigste sportbesering wat ek ooit op skool opgedoen het, was tydens ’n skaakwedstryd wat ons teen ’n skool in die Paarl gespeel het.
.............
Die enigste sportbesering wat ek ooit op skool opgedoen het, was tydens ’n skaakwedstryd wat ons teen ’n skool in die Paarl gespeel het.
Skaak was nie een van die “cool” sportsoorte nie, dalk omdat dit nie juis opwindende toeskouerbywoning gelok het nie. Daar was destyds, as ek reg onthou, selfs ’n debat óf dit ’n sportsoort eerder as ’n kultuuraktiwiteit is. Uiteindelik is daar besluit dat dit inderdaad ’n sportsoort is, maar wat hierdie sportsoort anders as ander gemaak het, was dat seuns en meisies teen mekaar kon meeding. Dit was nie ’n besonder feministiese oorweging nie; daar was bloot nie genoeg belangstelling om aparte spanne te kon saamstel nie. Ek was die enigste meisie wat daardie jaar skaak gespeel het, en die skool teen wie ons gespeel het, het glad nie meisies in die span gehad nie. Geen probleem nie; ek speel teen ’n seun. Toe ek die knaap in skaakmat sit, het hy my onder die tafel op my maermerrie geskop. Hard. My enigste sportbesering op skool.
Anders as rugby byvoorbeeld was daar geen spiervoordeel waarop seuns kon staatmaak wat hulle vinniger of sterker maak nie. (Ek gebruik hier die argument wat in ander sportsoorte gebruik word as rede hoekom mans en vroue nie kompeteer nie, sonder om kommentaar te lewer op die meriete van die argument.) Die enigste spier wat in skaak relevant is, is immers jou brein.
Ek weet nie of skaak hoegenaamd nog as sport by my ou skool aangebied word nie. Die televisiereeks The Queen’s Gambit het belangstelling in skaak wêreldwyd laat opvlam. Nou is daar genoeg spelers dat daar aparte mans- en vrouewedstryde aangebied word, iets wat vir my nog altyd vreemd en kunsmatig gevoel het. Maar Fide, die grootste skaakfederasie in die wêreld, het nou selfs een stap verder gegaan. Trans vroue word nou verbied om in die vroueliga te speel totdat daar ondersoek ingestel is of hulle ’n onregverdige biologiese voordeel bo cisgender vroue het.
Die redenasie, lyk dit my, is dat mans van nature meer logies as vroue is, en ’n natuurlike aanleg vir strategiese spele soos skaak het wat by vroue ontbreek. Dis ’n redenasie wat alreeds in die 1950’s as onsin bewys is, maar hier sien ons dit opvlam in 2023. Dis nie meer genoeg dat vroue se regte op soveel ander gebiede beperk word nie, nou moet daar ook nog van voor af bewys word dat vroue nie mans se mindere is wat breinkrag betref nie.
Fide se besluit stoot nie net transgender regte terug na die vorige eeu nie, dis ook besig om vroueregte met dekades terug te skuif. Dis ’n besluit wat glad nie op enige wetenskaplike basis berus nie, maar erger nog, dit ontbloot die vooroordele waaraan die skaakgrootkoppe nog steeds vasklou.
............
Nou mag transgender vroue vir minstens die volgende drie jaar, of hoe lank hierdie belaglike ondersoek ook al duur, nie in die vroueliga deelneem nie. Wat die ondersoek behels, is boonop ook onseker. Gaan hulle nou die omtrek van vroue se koppe meet teen dié van mans? Gaan hulle die grootte en massa van vroulike breins bepaal en daarvolgens afleidings maak oor hoe die brein funksioneer?
..............
Nou mag transgender vroue vir minstens die volgende drie jaar, of hoe lank hierdie belaglike ondersoek ook al duur, nie in die vroueliga deelneem nie. Wat die ondersoek behels, is boonop ook onseker. Gaan hulle nou die omtrek van vroue se koppe meet teen dié van mans? Gaan hulle die grootte en massa van vroulike breins bepaal en daarvolgens afleidings maak oor hoe die brein funksioneer?
As KI ons ooit oorneem, sal dit nie wees omdat rekenaars so slim geword het nie. Dit sal wees omdat menslike intelligensie so drasties afgeneem het. En ons sal verdien om onder Skynet se hak te sit, want met redenasie soos Fide s’n is ons blykbaar alreeds ons titel as kroon van die skepping kwyt.
Kommentaar
In 'n artikel op SkySports (https://www.skysports.com/more-sports/other-sports/news/29877/12942115/transgender-women-temporarily-banned-from-female-chess-events-as-fide-undertakes-thorough-analysis) word een van FIDE se amptenare aangehaal. Volgens ene Dana Reizniece-Ozola van FIDE, is die besluit geneem om die regulasies te bestudeer en te herskryf. Ek twyfel dus of FIDE die omtrek van mense se koppe gaan meet om hulle besluite te neem. Hierdie idee dat mense se skedels gemeet moet word, speel skynbaar terug op die uitsprake van karakters soos die voormalige skaakkampioen Bobby Fischer (en ook andere soos onder meer Gary Kasaprov), wat by geleentheid opgemerk het dat vroue minder intelligent is as mans. Mens moet dalk daarby aanlas dat Fischer baie jonk was toe hy hierdie opmerkings gemaak het, en later jare skynbaar anders begin dink het oor vroue. As mens alle mense moet gyselaar hou oor foute wat hulle in die verlede gemaak het, dan kan mense maar gerus ophou om met mekaar te praat. Want dan is die gesprek verby. Die mensdom is in elk geval skynbaar reeds by daai punt, lyk dit my. En verkies om mekaar eerder dood te skree en venynige klappe uit te deel.
Die feit dat skaak 'n ope kategorie het, veronderstel ook sekerlik dat die verskillende geslagte en genders eintlik as gelyk beskou word deur die owerhede.
Histories was daar slegs "opes". Dit skyn dat hierdie afsonderlike afdelings vir mans en vroue ontwikkel was met die uitsluitlike doel om juis vroue se betrokkenheid by skaak te bevorder. Dit was dus 'n bewustelike toegewing wat gemaak was deur die owerhede van skaak, en wat nou in hulle eie gesigte ontplof het.
Die logiese opsie sal dus wees om die spesiale afdelings vir mans en vroue af te skaf en om dan maar ander maniere te soek om vroue se betrokkenheid by skaak te bevorder. Alternatiewe, want tot op hede was alle pogings grootliks onsuksesvol, en word skaak totaal deur mans oorheers.
Ek wonder egter of die besluit nie geneem was deur FIDE om hulleself juridies te beskerm nie. Daar is altyd klagtes teen transseksuele sowel as interseksuele vroue in sport. Hierdie klagtes kom vanaf vrouedeelnemers wat voel dat hierdie soort atlete 'n onregverdige voordeel het. Sportliggame het gevolglik teen sulke atlete begin diskrimineer en hulle aan hormoonbehandeling onderwerp. En volgens die Internasionale Olimpiese Kommittee is skaak ook 'n sport. Hoe sal 'n hof dus hieroor besluit? Sal 'n hof ook in ag neem dat biologiese verskille soos hormonale verskille nie op skaak van toepassing is nie? Of sal die hof op 'n tegniese punt in die klaer se guns beslis? Interpretasie - een se sonde kry altyd 'n swaarder straf as die ander se sonde ...
Mens sal nou maar moet kyk of FIDE koppe gaan meet en of hulle, soos hulle beweer, die regulasies en wetgewing gaan bestudeer en waarmee hulle dan vorendag gaan kom.
Ek kry egter nie die indruk dat FIDE en die skaakgemeenskap oor die algemeen 'n standpunt handhaaf dat vroue minder intelligent is as mans is nie. Daar is natuurlik altyd individuele uitsonderinge, maar praat hulle names die hele FIDE? Trouens, daar is bewustelike pogings om uit te reik en meer vroue by skaak te betrek. Die Britse skaakowerhede het glo reeds aangedui dat daar in hulle kompetisies geen van hierdie regulasies sal geld nie, aangesien dit sal bots met Britse wetgewing. Dit is dus duidelik dat dit hier gaan oor klarigheid ten opsigte van wetgewing. Nie oor die omtrek van mense se skedels nie. Ander nasiestate se skaakowerhede, soos Duitsland en Frankryk, het ook laat blyk dat hulle nie FIDE se nuwe regulasies sal navolg nie.
Die saak gaan dus glad nie eintlik oor vroue se intelligensie of die omtrek van mense se skedels nie. Die persone wat gewoonlik beswaar maak teen transgendervroue se deelname aan sport, is die vroue teen wie hulle kompeteer, en wat ontevrede voel dat persone wat biologies manlik is, aan vrouesport deelneem. Dit skyn egter asof vroue in skaak baie simpatiek staan teenoor transgender vroue. Miskien maak dit die deur finaal oop vir transgender vroue om aan vroueskaak op die hoogste vlak te kan deelneem.
Wel, alles in ag genome, bly dit 'n voldonge feit dat die algehele wêreldskaakkampioen nog nooit 'n vrou was nie. Nie waar nie?