Grondhervorming: Onteiening sonder vergoeding?

  • 0

Skielik het die gronddebat in Suid-Afrika vuurwarm geword. Die land is in twee kampe verdeel: die “hulle”- en die “julle”-kampe – “hulle” (die populiste) wil net “gryp en vat”; en “julle” (die wit mense) het “ons grond gesteel”. Die katalisator vir die nuwe debat was die uitsprake van Cyril Ramaphosa tydens sy verkiesing by Nasrec as nuwe leier van die ANC in Desember 2017. Die spesifieke uitspraak was: “Onteiening sal sonder vergoeding plaasvind, mits dit nie voedselsekuriteit en ekonomiese ontwikkeling benadeel nie.” (Kyk waar die komma is.)

Die eerste helfte van bostaande stelling impliseer Grondwetwysigings (artikel 25), wat vereis dat twee derdes in die Nasionale Vergadering en 51% in die Nasionale Raad van Provinsies – met die steun van minstens ses provinsies – hierdie artikel kan wysig. Soos die wind tans waai, is dit moontlik as die ANC en EFF saamwerk. Dan kan benadeelde belange volgens Art 34 hulle steeds op die howe beroep, wat ingevolge Art 167 ook die Konstitusionele Hof insluit. Wysiging is steeds moontlik, maar dit word ’n lang en uitgerekte proses wat veel langer as 2019 kan duur.

’n Korter pad om te “onteien sonder vergoeding” vir Ramaphosa, die ANC en EFF sou wees om nie die Grondwet te probeer wysig nie, maar om dit as ’n saak van “openbare belang” ingevolge algemene wetgewings te probeer regverdig. Dit vereis gewone meerderhede in die Nasionale Vergadering (50% plus een vir wetswysigings), wat impliseer dat die ANC dit selfs sonder EFF steun in die parlement kan deurvoer.

Daar is twee stelle wetgewings ter sake.

Die betrokke wetgewings is eerstens die onteieningswet van 1975 (en die konsepwysigingswet van 2015) en tweedens die wet op die herstel van grondregte (die sogenaamde restitusiewet) van 1994 (wat reeds een keer, in 2014, gewysig is om privaatgrond te onteien, maar steeds teen vergoeding).

Dis egter onwaarskynlik dat die restitusiewet gebruik sal word, want dit het alreeds uitgedien geraak. Dié wet is eisgedrewe en het reeds altesaam 223 000 eise volgens sekere bronne en 369 000 eise volgens ander bronne opgelewer, waarvan 75% in stedelike gebiede en slegs 25% in landelike gebiede was. Dit het ook uitdruklik betrekking gehad op eiendom wat ná 1913 deur byvoorbeeld die groepsgebiede en/of tuislandbeleide van swart, bruin en Indiërmense ontneem was. Dan bied die restitusiewet ook nog ’n keuse aan eisers: kontantvergoeding of die herstel van grond.

Die gevolg hiervan was dat 90% van suksesvolle eisers kontantuitbetalings verkies het teenoor slegs 10% vir die herstel van grondregte. In beide gevalle het die staat vir alles betaal. ’n Gesaghebbende soos Ruth Hall bereken dat dit teen hierdie tempo nog 178 jaar sal duur om die restitusieproses in landelike gebiede af te handel. Dis duidelik nie wat die ANC en Ramaphosa in gedagte het nie.

Grondoordragte het ook nie met titelaktes gepaard gegaan nie, wat ’n belangrike rede vir die mislukking van die proses was. Dit het beteken dat suksesvolle grondeisers selde oor “kollateraal” beskik het; maw hulle kon nie sekuriteit vir byvoorbeeld banklenings verskaf nie. Derhalwe het kapitaalgroei nie in die restitusiesektor plaasgevind nie.

Op ’n bisarre manier is daar tog persone wat voordele getrek het, naamlik die restitusiekonsultante. In 2005–2008 is R1,4 miljard aan konsultante uitbetaal. Vanjaar se begroting by Landelike Ontwikkeling en Grondsake beloop R331 miljoen vir dergelike konsultante.

Die restitusieplase het meestal misluk en is daarom vandag onproduktief. Soos ondertoe aangetoon word, is dit juis onproduktiewe grond wat vir “onteiening sonder vergoeding” geteiken sal word. Omdat ’n groot gedeelte hiervan reeds staatseiendom is, is onteiening wat ook op nasionalisering neerkom, nie ter sake nie, want dis reeds genasionaliseer.

Die ander – meer waarskynlike – opsie is ’n nuwe weergawe van die onteieningsontwerp van 2015. Dit sou kon bepaal dat die onteiening van produktiewe landbougrond nie in nasionale belang is nie, maar wel in die volgende gevalle: verlate geboue, onbenutte landelike en/of stedelike grond in munisipale en/of staats- of in private besit. Die teiken sluit dus onproduktiewe voormalige restitusieplase in wat “sonder vergoeding onteien” kan word, spesifiek omdat die staat reeds voorheen daarvoor betaal het.

Ook kommunale of stamgronde sou hiervoor in berekening kon kom. Die onlangse gebeure rondom die Zoeloekoning Goodwill Zwelithini en die Ingonyamatrust in KwaZulu-Natal het dié opsie waarskynlik gekanselleer.

Die aanloop hiertoe was die aanbevelings van die “hoëvlakpaneel” van oudvisepresident Kgalema Motlanthe wat die Ingonyamagrond (2,8 miljoen hektaar) onder die gesag van die koning en stamkapteins wou uitfaseer en die trust wou ontbind om uiteindelik met titelaktes te vervang vir diegene wat daar woon. Tans betaal diegene wat besitreg het, huurgeld aan die trust.

Vir die koning het dit op onteiening neergekom. As enigste begunstigde van die trust (sprake van R96 miljoen) het die koning verontwaardig gereageer. Dit het uitgeloop op Cyril Ramaphosa se politieke bollemakiesie toe hy die koning onlangs om verskoning gaan vra het.

Dit was byna onvermydelik dat Ramaphosa dit sou doen met die oog op die algemene verkiesings van 2019 waarin die Zoeloefaktor (met Jacob Zuma as die “olifant-in-die-slaapkamer”) nie in Ramaphosa – ’n verstedelikte Venda – se guns is nie.

Die geskiedenis sal dalk nog toon dat die gierigheid van die Zoeloekoning die begin van die einde van die “onteiening sonder vergoeding”-narratief in stamgebiede was. Dis in elk geval nie ’n opsie vir die Royal Bafokeng Trust digby Rustenburg in Noordwes nie, want hier is ook gewone stamlede begunstigdes.

’n Laaste faktor waarvan iemand soos Cyril Ramaphosa goed behoort te weet – en sal weet – is dat onteiening sonder vergoeding van produktiewe landbou- en bosboubates nie net boere en agribesighede sal benadeel nie, maar ook – en veral – die banksektor.

Die tersaaklike statistiek vir 2016 is dat die ongeveer 35 000 kommersiële boere in Suid-Afrika totale bates ongeveer R400 miljard besit, waarvan R250 miljard die waarde van vaste bates/grond is, met ’n verdere ongeveer R150 miljard vir roerende bates/toerusting. Die landbouskuld beloop ook R150 miljard – selfs meer – wat beteken dat landbouskuld 33% (of meer) van totale landboubates beloop.

Die grootste blootstelling hiervan is aan handelsbanke (53%) en die Land Bank (30%), vir ’n totaal van 83%. Die punt is: onteiening sonder vergoeding in die landbousektor sal die banksektor feitlik onherroeplik beskadig. (En moenie vir my sê oom Cyril weet dit nie. Hy boer mos self daar by Badplaas.)

Hopelik sal die rakleeftyd van hierdie onstuimige debat ná die verkiesing van 2019 verstryk. Grondhervormingsplanne kan dan in alle erns voortgesit word, met onproduktiewe bates veral in stedelike omgewings as fokus. Soos voorgestel in hoofstuk 6 van die Nasionale Ontwikkelingsplan (waarvan Ramaphosa ’n medeskrywer was), kan dit op distriksvlakke in oorleg met alle belanghebbendes begin word. Hopelik sal dit die “hulle”- en “julle”-kampe tot groter wedersydse verdraagsaamheid stem.

Die geheim lê in waar die komma was. Die prognose is dus dat “grondeiening sonder vergoeding” enige tyd ná die 2019-verkiesing sal plaasvind, maar dit sal nie produktiewe private landbougrond insluit nie. En soos hier bo gestel is, is geen vergoeding in elk geval betaalbaar op enige eiendom wat reeds in staatsbesit is nie.

Stellenbosch
23 Julie 2018

Lees ook:

Onteiening sonder vergoeding: voorvereiste vir suksesvolle grondhervorming of populisme?

Is onteiening sonder vergoeding werklik die antwoord?

Onteiening van grond sonder vergoeding: implikasies vir die definiëring van politiek in Suid-Afrika

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top