Onteiening sonder vergoeding: voorvereiste vir suksesvolle grondhervorming of populisme?

  • 2

Agtergrond

Die nuutverkose ANC-president, Cyril Ramaphosa, het die afgelope maand, sedert sy nuwe ampstoetrede, op verskeie geleenthede uitsprake ten gunste van die onteiening van grond sonder vergoeding, binne ’n bepaalde raamwerk, gemaak. Sodanige onteiening kan naamlik plaasvind slegs indien (a) dit geen nadelige uitwerking op landbou het nie; (b) voedselsekerheid nie bedreig word nie; en (c) ekonomiese sekerheid in beide private en openbare sektore ongeskonde bly.

Hierdie uitlatings en die raamwerk waarbinne dit moet plaasvind, laat verskeie vrae ontstaan, onder meer: Wat behels onteiening? Wat is die wesenselemente daarvan? En wat is die grondwetlike en ander – verreikende – implikasies van so ’n stap? Op ’n oorhoofse vlak is die eintlike vraag: Is dit werklik nodig om onteiening sonder vergoeding daar te stel ten einde suksesvolle grondhervorming te bewerkstellig? En eindelik: is hierdie uitlating van Cyril Ramaphosa werklik so drasties, gegewe die voorwaardes wat hy self daaraan koppel, of gaan dinge grootliks maar onveranderd voortgaan?

Links bo: Cyril Ramaphosa (foto: YouTube)

Die huidige grondwetlike bedeling

Voordat die nuwe beleidsrigting en die vrae wat hier bo geïdentifiseer is, oorweeg word, is dit belangrik om eers te verstaan waar ons huidige grondhervormingsprogram vandaan kom, hoekom dit juis ’n bepaalde formaat aanneem en wat die rol van die bestaande eiendomsklousule, artikel 25 van die Grondwet, is.

Daar is in die wêreld geen ander grondhervormingsprogram wat soos die Suid-Afrikaanse program lyk en funksioneer nie. Dit is werklik uniek, om veral twee redes: (a) dit is die resultaat van ’n vreedsame oorgang wat op onderhandeling fundeer was; (b) grondhervorming is in die Grondwet, meer spesifiek in die eiendomsklousule self – art 25 – gesetel. Die feit dat dit in die Grondwet gesetel is, het sekere belangrike implikasies. Dit beteken onder meer dat bepalings, wetgewing en beleide op ’n bepaalde manier benader en interpreteer moet word; dit plaas pertinente verpligtinge op die staat; en veral deurslaggewend: dit verleen grondwetlike gesag aan grondhervorming. Dit beteken ook dat die grondhervormingsprogram aan die vereistes van die Grondwet in die algemeen, maar veral ook aan die eiendomsklousule self, moet voldoen. Die eiendomsklousule bied dus tegelykertyd die raamwerk en die toetse/kriteria vir grondhervorming in Suid-Afrika.

Die eiendomsklousule is ook taamlik uitsonderlik. In die breë bestaan dit uit twee afdelings of gedeeltes: die eerste gedeelte (art 25(1), (2) en (3)) is veral daarop gerig om bestaande regte te beskerm; die tweede gedeelte – die grootste deel – bestaan uit art 25(4), (5), (6), (7), (8) en (9). Hierdie gedeelte is gerig op die transformasie van regte en eintlik die eiendomsbestel in die algemeen, asook natuurlike hulpbronne (waaronder grond, water en minerale). Daar is dus ’n inherente spanning tussen die twee dele van die eiendomsklousule: regte word beskerm, maar terselfdertyd moet daar ook hervorming plaasvind. Dit verg gevolglik ’n kreatiewe en ingrypende manier van dink om dit te kan doen, wat ’n moeilike en uitdagende taak daarstel vir wetgewers, howe en ander rolspelers wat betrokke is. Wat egter kristalhelder is, is dat die bestaande bestel direk na 1994, en na die afskaf van apartheid, nie net onveranderd kon voortduur nie. Die hervormende of transformerende fokus van art 25 kan dus geensins oor die hoof gesien word nie.

Soos verduidelik, word bestaande regte in eiendom tans pertinent in art 25(1)–(3) beskerm. Dit beteken egter nie dat bestaande regte nie beperk, ontneem of heeltemal weggevat – onteien – kan word nie. Inteendeel, eiendomsreg kan beperk en onteien word, maar binne die grondwetlike raamwerk soos tans uiteengesit in 25(1) en (2).

Onteiening is dus heeltemal moontlik en grondwetlik, in die volgende omstandighede: as dit vir ’n openbare doel of in openbare belang is; en teen die betaling van billike en regverdige vergoeding.

Die eiendomsklousule gaan dan verder en lys die faktore wat oorweeg moet word ten einde te bepaal of die bedrag van vergoeding, asook die tyd en wyse van betaling, regverdig is. Dit moet verder ook ’n billike ewewig toon tussen die openbare belang en die belange van diegene wat geraak word, met inagneming van die volgende faktore (art 25(3)):

  • die huidige gebruik van die eiendom
  • die geskiedenis van die verkryging en die gebruik van die eiendom
  • die markwaarde van die eiendom
  • die omvang van regstreekse belegging en subsidie deur die staat ten opsigte van die verkryging en voordelige kapitaalverbetering van die eiendom
  • die doel van die onteiening.

Omdat onteiening nog altyd moontlik was vir openbare doeleindes, ook in die voorgrondwetlike en apartheidsbestel, is die frase “in openbare belang” pertinent in die eiendomsklousule ingevoeg. Om nog meer duidelikheid te bring, bepaal art 25(4) verder dat die openbare belang vir doeleindes van art 25 ook die nasie se verbintenis tot grondhervorming insluit, asook hervormings om billike toegang tot al Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne te bewerkstellig. Eiendom is verder vir doeleindes van art 25 ook nie tot grond beperk nie. Om saam te vat: dit is dus tans moontlik om verskillende vorme van eiendom te onteien om byvoorbeeld paaie te bou en vervoerinfrastruktuur daar te stel, skole en hospitale te bou, en elektriese en waterinfrastruktuur daar te stel of te verbeter – alles voorbeelde van openbare doeleindes. Dit was spesifiek ook reeds sedert 1994 pertinent moontlik gewees om eiendom – nie net grond nie – te onteien vir grondhervormingsdoeleindes en om toegang vir Suid-Afrikaners tot grond en ander natuurlike hulpbronne te bewerkstellig en te verbreed. Helaas, hierdie meganisme is tot op hede geensins optimaal ingespan nie.

Wesenselemente van onteiening

Tot op hede was dit belangrik om tussen ontneming van eiendom en onteiening van eiendom te onderskei. Die onderskeid was nie net van akademiese belang nie, hoewel verskeie akademiese publikasies en doktorale studies hieroor handel – sien byvoorbeeld die verskeie publikasies van AJ van der Walt, die bekende ontslape akademikus van Stellenbosch-universiteit en die navorsing van sy meesters- en doktorale studente. Hierdie onderskeid het ook spesifieke praktiese en finansiële implikasies, aangesien slegs onteiening die betaal van billike en regverdige vergoeding vereis. Dit was dus kardinaal om vas te stel welke vorm van staatsinmenging in eiendom in ’n bepaalde geval ter sprake was. Terwyl alle onteienings terselfdertyd ook ontnemings is (die sogenaamde FNB-benadering), is alle ontnemings nie noodwendig onteienings nie. In die geval van ’n onteiening is die somtotaal van alle inhoudsbevoegdhede – en nie net slegs enkele daarvan nie – weggevat. Sulke inhoudsbevoegdhede sluit byvoorbeeld in die bevoegdheid om eiendom te geniet, te gebruik, daaroor te beskik, dit te besit en dit te vervreem. Van der Walt lys verder die wesenselemente van onteiening as volg: (a) slegs die staat kan eiendom onteien (b) vir bepaalde openbare doeleindes of in die openbare belang (c) wat lei tot staatsverkryging van eiendom (d) uit hoofde van spesifieke magtigende wetgewing wat (e) die magtiging, die strekwydte, proses en doel van onteiening duidelik belyn (sien byvoorbeeld Van der Walt en Marais 2012, LitNet). Wesenselement (c) – verkryging van eiendom deur die staat – is ietwat omstrede, maar vorm tradisioneel deel van die kernelemente. Verder omstrede is die vraag of die betaal van billike en regverdige vergoeding ook ’n kern- of wesenselement van onteiening uitmaak en dus ’n voorvereiste vir ’n geldige onteiening daarstel en of dit eerder gewoon die gevolg van ’n onteiening is. Weens beperkte ruimte kan hierdie kwessie nie verder hier ontleed word nie. Nietemin, nadat die vraag ondersoek en bevredigend beantwoord is dat onteiening inderdaad ter sprake is, was die opvolgvraag gewoonlik wat billike en regverdige vergoeding dan sou behels. Met ander woorde, die kernvrae by staatsinmenging van eiendom, soos dit in die huidige grondwetlike bedeling uitspeel, is: (a) Was daar ’n geldige onteiening? En indien wel, (b) wat is die billike en regverdige vergoeding wat betaalbaar is?

Indien die nuwe voorgestelde beleidsrigting ’n werklikheid word, en indien dit inderdaad ’n geval is waar onteiening sou kon plaasvind sonder om die drie voorwaardes hier bo genoem te oorskry, vervaag die onderskeid tussen ontnemings en onteienings taamlik drasties omdat daar vir geen van dié kategorieë staatsinmenging vergoeding betaalbaar is nie. Maar dit is toekomsmusiek, aangesien art 25 nog geld en onteiening sonder vergoeding teenstrydig met die eiendomsklousule is.

Wysiging van die eiendomsklousule

Om die voorgestelde beleidsrigting ’n werklikheid te maak sal die eiendomsklousule verander moet word. Dit is nie ’n eenvoudige proses nie.

Art 74(2) van die Grondwet bepaal dat die Handves van Menseregte (hoofstuk 2 van die 1996-Grondwet waarvan art 25 deel uitmaak) deur ’n wetsontwerp gewysig kan word indien dit

  • deur die Nasionale Vergadering (NV) met ’n tweederde-meerderheid van die lede goedgekeur is
  • deur die Nasionale Raad vir Provinsies (NRP) met ’n meerderheidstem van 6 uit die 9 provinsies goedgekeur word.

Die Grondwet skryf ook die spesifieke tydsraamwerke van prosesse voor.

In die praktyk beteken dit die volgende: die NV het 400 lede en ’n tweederde-meerderheid, oftewel 67% van die lede, kom op 267 neer. Die NRP het 90 lede – 10 per provinsie. Lede stem onderling vir of teen die voorgestelde wysiging, waarna die resultate verwerk word om te bepaal of minstens 6 uit die 9 provinsies die wysiging steun (dit is dus nie ’n oorhoofse koppetelling van 60 stemme uit 90 nie).

Voordat die wetsontwerp egter vir stemming aan die NV voorgelê word, is daar bepaalde voorvereistes. Die wetsontwerp wat die Grondwet wysig, moet geformuleer word en in die Staatskoerant afgekondig word met ’n algemene uitnodiging vir publieke kommentaar. Hierdie kennisgewing moet gepubliseer word minstens 30 dae voordat die wetsontwerp by die parlement ingedien word. Enige kommentaar wat ontvang word, moet saam met die wetsontwerp ingedien word. Nadat die wetsontwerp ter tafel gelê is, moet daar nog minstens 30 dae verloop voordat die NV kan stem, soos hier bo uiteengesit. Dit is dus ’n omslagtige, tydsame proses wat ook openbare deelname en publieke debat en kommentaar insluit.

’n Voorvereiste vir suksesvolle grondhervorming?

Is die onteiening van eiendom sonder vergoeding werklik nodig ten einde die pas van grondhervorming te versnel enersyds en suksesvolle grondhervorming daar te stel andersyds? Navorsing op globale skaal het aangedui dat grondhervormingsprogramme waar vergoeding vir onteiening betaal is, in die algemeen beter ondersteun en dus oorhoofs meer suksesvol was as in gevalle waar konfiskering van grond of dreigende onregmatige grondbesetting as dryfvere ingespan is. Selfs gevalle waar laer as markwaarde betaal is (mits dit nie aansienlik laer was nie), was steeds aanvaarbaar en het ondersteuning van grondeienaars en gevolglik beter samewerking, bewerkstellig. (Kyk R van den Brink, GS Thomas en H Binswanger, “Agricultural redistribution in South Africa: towards an accelerated implementation” in L Ntsebeza en R Hall (reds), The land question in South Africa, 2007:152-201. Sien ook JM Pienaar, Land reform, 2014, hoofstuk 2, waar grondhervorming gekontekstualiseer word.)

Dit is verder belangrik om te beklemtoon dat die betaal van vergoeding nie noodwendig in alle gevalle onbekostigbaar en dus onvolhoubaar hoef te wees nie. “Billike en regverdige vergoeding” sluit nie net markwaarde in nie. Die hele lys faktore moet oorweeg word, waarvan markwaarde slegs een is. Dus, as die bestaande klousule (art 25) onveranderd bly, hoef dit nie onbetaalbaar duur te wees om grond te onteien nie. Dit kan meer bekostigbaar gemaak word, veral ook in die lig van ander relevante wetgewing.

Ander relevante wetgewing

Die Property Valuation Act 17 van 2014 (vrye vertaling: Wet op Eiendomswaardasie) het op 1 Julie 2014 in werking getree. Een van die oogmerke is juis om die pas van grondhervorming te versnel deur die verkryging van grond vinniger te laat geskied. Om dit te kan doen, is daar byvoorbeeld ’n definisie van markwaarde waar eiendom vir grondhervorming verkry word. In sulke gevalle word die prys wat die staat voorheen vir vergelykbare transaksies betaal het, geïgnoreer. Die rede hiervoor is dat daar aangevoer is dat pryse (en dus markwaarde) van grond opgestoot is as dit deur die staat vir grondhervorming aangekoop is. Die argument het gelui dat daar nie werklik ’n “mark” was nie, omdat die staat die enigste koper was en dit dus nie regtig ’n “vrywillige koper, vrywillige verkoper”-geval was nie. Die idee is verder ook dat ’n nuwe instansie en funksionaris, Office of the Valuer-General – Kantoor van die Waardeerder-Generaal, oor ’n tydperk data sal opbou om ’n beter aanduiding van waarde van eiendom te gee. Die samehang van die nuwe ontwikkelings sou dus ook daartoe kon bydra dat onteiening meer bekostigbaar gemaak kan word. (Van belang is egter dat markwaarde in die Eiendomwaardasiewet nie vir alle doeleindes aangepas is nie, maar slegs in gevalle waar die staat eiendom vir grondhervorming verkry. Vir ander, gewone transaksies in die ope mark, tussen privaatpersone, geld die beginsel van vrywillige verkoper, vrywillige koper dus steeds.) Hoewel ’n databasis ’n goeie idee is en daar in beginsel geen probleem met ’n laer-as-markwaarde-prys vir die verkryging van eiendom vir grondhervorming is nie (soos hier bo aangedui, maak art 25(3) in wese reeds daarvoor voorsiening), is dit egter te betwyfel of die pas van grondhervorming noodwendig met die gebruik van hierdie wet sou versnel. Dit bly steeds ’n omslagtige proses om die korrekte waarde te bepaal en die prosesse in die wet na te volg.

Die Onteieningwet van 2016 is verder ook relevant by die verkryging van eiendom – in die algemeen, maar ook vir grondhervormingsdoeleindes. Die hoofoogmerk is om die wet met die grondwetlike bepalings, soos hier bo uiteengesit, in ooreenstemming te bring. Soos verduidelik, maak die Grondwet reeds voorsiening vir onteiening in openbare belang en vir openbare doeleindes. Die bestaande wet – die Onteieningswet 63 van 1975 – is ’n ou, voorgrondwetlike wet wat nie tred gehou het met die grondwetlike bedeling nie. Dit maak byvoorbeeld nie voorsiening vir onteiening in openbare belang nie. Die nuwe wet is taamlik tegnies en kompleks en die proses vir onteiening van die begin tot die einde is lank en ingewikkeld. Hoewel dit in wese met art 25 van die Grondwet belyn is (byvoorbeeld: presies dieselfde faktore wat tans in art 25(3) gelys is, is ook in die Wet opgeneem), is daar bekommernis oor die tydsraamwerke wat in die wet verskyn en dat grondeienaars nie noodwendig genoeg tyd gaan hê om al hul voorbereiding te doen nie. Daar is in sommige kringe ook kommer oor die omskrywing van eiendom en dat dit nie net onroerende bates – soos grond – insluit nie. Soos reeds aangedui, bepaal art 25(4) van die Grondwet pertinent dat vir doeleindes van die eiendomsklousule eiendom nie net tot grond beperk is nie. Dit is ook onduidelik waar kommunale grond, dit is grond wat gewoonlik in die voormalige tradisionele gebiede of voormalige “tuislande” geleë is, onder beheer van tradisionele owerheidstrukture, in die wet inpas.

Presies hoe die Onteieningswet en die Eiendomwaardasiewet saamhang en funksioneer, is verder onduidelik. Dit is opmerklik dat die twee wette deur verskillende ministeries administreer word: die Onteieningswet deur Openbare Werke, en die Eiendomwaardasiewet deur Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming. Dit is moontlik dat verskillende departemente verskillende benaderings kan volg wat tot onsekerheid en verwarring aanleiding kan gee. Uiteraard is sinergie tussen die wette noodsaaklik, maar of dit werklik in die praktyk bereik gaan word, is onseker.

Statutêre ontwikkelings op landbou gerig

Die onlangse uitlatings van Cyril Ramaphosa het veral die landbougemeenskap en grondeienaars van kommersiële plase onkant gevang. Die rede hiervoor is dat daar die afgelope paar jaar reeds etlike ontwikkelings in die pyplyn was wat spesifiek op landbougrond gerig is en wat moontlik die indruk kon skep dat landbougrond op ’n bepaalde manier benader wou word.

Die mees onlangse ontwikkeling wat ’n daadwerklike impak op landbougrond het, is die Regulation of Agricultural Landholding Bill van 2017 – Wetsontwerp op Regulering van Landbougrondbesit. Die oorhoofse oogmerk van die wetsontwerp is enersyds om die hoeveelheid landbougrond wat persone en instansies kan besit, te reguleer en andersyds om in die toekoms, nadat die wet in werking getree het, eiendomsreg van landbougrond deur nie-Suid-Afrikaanse burgers te verhoed. Direk gekoppel aan die regulering is dat waar die grondgrootte die perk oorskry, daardie stukke grond vir herverdelingsoogmerke verkry sal word. Met ander woorde: soos wat die grond beskikbaar raak, sal prosesse intree om te verseker dat persone wat nie toegang tot grond het nie weens historiese diskriminasie en ongeregtighede, nou toegang verkry. Die wet maak in beginsel vir verskillende plafonne voorsiening, maar verskaf nie besonderhede nie, aangesien die plafonne vir elke distrik later, na konsultasie, in die Staatskoerant afgekondig gaan word. Daar kan dus verskillende benaderings in verskillende gebiede wees, afhangende van die klimaat-, grond- en ander faktore eie aan die streek en die spesifieke landbougebruike. Daardie finale reëlings moet nog getref word. Die wet maak verder vir ’n Grondkommissie voorsiening wat nou betrokke gaan wees in die opstel van registers van privaat en staatsgrond en die monitor van die registers. Enige verandering aan die status van die grond (byvoorbeeld nie meer landbougrond nie) of die eienaars daarvan (byvoorbeeld deur verkoping) moet in die register aangeteken word. Dit beteken dat daar eers ’n bestekopname gedoen moet word voordat die proses kan begin. Die wet maak voorsiening vir ’n tydperk van 12 maande na inwerkingtreding vir alle eienaars om hul besonderhede te verskaf, insluitend die ligging en grootte van die grond, die ras, geslag en nasionaliteit van die eienaar, waarvoor die landbougrond aangewend word, en enige beperkte saaklike regte (byvoorbeeld verbande of serwitute) wat teen die titelakte van die grondstuk geregistreer is.

Nadat die plafonne vasgestel is, sal ondersoek ingestel moet word na welke grond die plafonne oorskry. Dit is daardie stukke grond wat tussen die verskillende plafonne val wat verkry moet word en vir herverdeling aangewend moet word. Die proses werk kortliks soos volg: die grond moet eerstens aan swart persone (ooreenkomstig die definisie van swart in die Diensbillikheidswet van 1998) beskikbaar gestel word vir verkryging. Indien dit nie binne die voorgeskrewe tydperk en op die voorgeskrewe wyse verkry word nie (besonderhede wat nog deur regulasies verfyn moet word), moet die minister die grond verkry, ook binne ’n voorgeskrewe tydperk. As die minister en die grondeienaar nie konsensus kan bereik oor die verkoopprys nie, kan die grond onteien word.

Hoewel die nuutste weergawe van die wetsontwerp meer besonderhede as sy voorganger bevat, is daar nog steeds heelwat vrae. Omdat art 25 nog steeds deel van die Menseregtehandves uitmaak, moet hierdie bepalings dus aan art 25 voldoen. Hierdie aspek vervaag indien die beleidsrigting om art 25 te wysig of selfs te skrap, ’n werklikheid word. In die huidige bestel, terwyl art 25 nog van krag is, kom die volgende oorwegings ter sprake: beperking op die hoeveelheid grond waaroor ’n persoon of instansie mag beskik, is ’n beperking van eiendomsreg wat ooreenkomstig art 25(1) uit hoofde van ’n algemeen geldende wet moet voortvloei en nie arbitrêr mag wees nie. Ontnemings is gewoonlik arbitrêr indien daar nie ’n regsgeldige rede/basis daarvoor is nie of indien die proses onredelik is. Om dit te toets, is daar onder meer ’n “middel-doel”-toets (en ’n samehang van verskillende regte en verhoudings wat in regspraak uitgekristalliseer het. Die middel-doel-toets beteken dat daar ’n sinvolle, regsgeldige verband moet wees tussen die meganismes aan die een kant en die bereiking van ’n bepaalde einddoel aan die ander. In hierdie geval is die einddoel die oogmerke van die wet, nl verbreding van toegang tot landbougrond en die meganisme die regulering of stel van plafonne en aanverwante prosesse. Om grondwetlik te wees moet daar dus ’n duidelike korrelasie wees tussen die plafonne en kriteria om finale plafonne daar te stel, sowel as die proses hieraan verbonde. Dit gaan dus nie net oor die beginsel van plafonne nie, maar ook oor die spesifieke kategorieë van groottes, die faktore wat ’n rol speel, sowel as hoe die grond eindelik verkry en herverdeel word. Daar moet dus ’n duidelike oorhoofse korrelasie wees, op ’n rasionele basis. Op hierdie stadium is daar nog te veel onsekerhede om vas te stel of daar so ’n rasionele korrelasie is. Die wet bepaal byvoorbeeld nie hoe die grond tussen die plafonne aan swart persone beskikbaar gestel moet word nie, hoe die spesifieke stuk(kie) grond geïdentifiseer en afgebaken gaan word nie, hoe lank die proses gaan duur nie, ens. Daar is ’n werklike risiko dat die eindresultaat stukke oorskietgrond sal wees wat oor die hele land versprei is. Die vraag is of dit werklik tot effektiewe herverdeling van landbougrond kan lei – wat dus die hele beweegrede van die wet bevraagteken. Daar is ook tegniese probleme gekoppel aan die herverdeel van landbougrond, die aanpas van titelaktes en die gepaardgaande implikasies hiervan vir verbandhouers, soos banke en ander finansiële instellings. Die algemene impak wat herverdeling op geregistreerde regte het, kan ook verreikend wees. Soos in die geval hier bo is die sinergie tussen hierdie wet, die Onteieningswet en die Eiendomwaardasiewet nie uitgeklaar nie. Presies hoe die verskillende wette en die nuwe instansies wat daarin geskep is (byvoorbeeld die Waardeerder-Generaal en die Grondkommissie) saamwerk, is dus nog onduidelik. Dieselfde onduidelikheid oor kommunale grond steek ook hier kop uit. Is hierdie wet ook op kommunale grond van toepassing? Hoewel die Onteieningswet voorsiening daarvoor maak dat die relevante minister bepaalde stukke grond van die werking van hierdie wet kan uitsluit, bevat die wet tans geen kriteria vir sodanige uitsluiting nie. Dit is dus tans taamlik onduidelik op welke basis kommunale grond moontlik van die werking van hierdie wet uitgesluit sou kon word. Omdat die registers van grond, waarna hier bo verwys is, deurentyd verander, is dit ’n “lewende register” wat baie werk, tyd en aandag gaan verg om dit deurlopend in stand te hou. Of daar werklik kapasiteit is om dit te doen, is te betwyfel.

Waar staan ons nou?

In hierdie uiteensetting is na drie onlangse ontwikkelings verwys wat spesifiek op landbougrond gerig is, te wete: die nuwe Eiendomwaardasiewet, die nuwe Onteieningswet en die voorgestelde wet om grondeienaarskap te beperk. Die uitlating van Cyril Ramaphosa het ’n impak op art 25 in die algemeen en op al bogenoemde ontwikkelings, in die besonder. Tot Cyril Ramaphosa se uitlatings oor onteiening sonder vergoeding kon dit dalk met ’n eerste oogopslag gelyk het of die staat en die relevante departemente geweldig bedrywig is met beleide, wetsontwerpe en wette. Dit skep die indruk dat daar deurlopend aan die grondprobleem gewerk word en dat optrede taamlik proaktief is. As mens egter dieper delf, kom mens agter dat daar heelwat diepliggende probleme bestaan het, en op verskeie vlakke, lank voor Ramaphosa se uitlating, en uiteraard steeds bestaan. Wat die grondhervormingsprogram betref, is daar probleme op konseptuele vlak (wat grondhervorming beteken, wat die oogmerke daarvan is, die meganismes ens); op formuleringsvlak (om die spesifieke beleide of wetsontwerpe te formuleer en op te stel – duidelik en sinvol); op implementeringsvlak (om die wette in werking te stel sodat dit suksesvol funksioneer); en op interpretasie- en toepassingvlak (howe moet bepalings korrek interpreteer en in die praktyk toepas) (sien JM Pienaar 2014, TSAR (1) en (2), waar die grondhervormingsprogram volledig ontleed word). Daar is verder ook tekortkominge en kapasiteitsprobleme in die relevante departemente self. Dus is daar oorhoofs groot gapings en diskonneksies tussen die beleide, wette en departemente. Dit is dus kortsigtig en ondeurdag om te dink die krisis in grondhervorming kan gewoon aangespreek word om die eiendomsklousule te wysig enersyds en deur onteiening sonder vergoeding te bewerkstellig andersyds.

Besin nou en doen eerder ’n bestekopname: Wat is reeds gedoen en wat werk? Waar is daar gapings? Wat werk nie en hoekom nie? En waaraan moet nog aandag geskenk word – in prioriteitsorde? Onteiening sonder vergoeding is nie ’n voorvereiste vir suksesvolle grondhervorming nie. Inteendeel: die bestaande probleme en tekortkominge gaan gewoon voortduur en word geensins deur so ’n stap aangespreek nie. Behalwe dat so ’n stap geen waarborg is vir sukses nie, moet daar deeglik oor die onvoorsiene gevolge daarvan besin word en die moontlike domino-effek as banke en ander finansiële instellings nie krediet kan toestaan nie omdat hul saaklike sekerheid (verbande) nie gerealiseer kan word nie. Finansiële en ekonomiese volhoubaarheid is ’n kritieke faktor gesien in die lig van die geweldige skuldlas van veral kommersiële boere. Verdere oorwegings sluit ook in die moontlike verlies aan belegging en internasionale vertroue in Suid-Afrika in die algemeen en in landbou en verwante bedrywe in die besonder. Op kort termyn mag dit dalk na ’n vinnige en goedkoop oplossing klink, maar op lang termyn kan dit geweldig nadelig wees.

Gegewe die drie voorwaardes waaraan onteiening sonder vergoeding gekoppel is, is daar kwalik scenario’s waar so ’n stap nie voedselsekerheid, volhoubaarheid of ekonomiese stabiliteit bedreig nie.

Onvoldoende kapasiteit, onvoldoende politieke wil, ondeurdagte en onsamehangende beleide en wetgewing, oneffektiewe implementering van bepalings en onvoldoende fondse bly onderliggend aan ’n verlammende, wankelende grondhervormingsprogram. Die kanse is goed dat die bestaande benadering, met gebreke en al, kan voortduur.

Lees ook:

  • 2

Kommentaar

  • Tiny du Plessis

    Wat is die parlement se adres waarheen kommentaar rakende onteiening sonder vergoeding gestuur kan word?

  • Juanita, sou jy iets aan jou artikel wat in Januarie gesplaas is vandag, 3 Augustus, verander? Dalk iets byvoeg of anders stel?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top