Goudveld Hoërskool se eerstespankaptein onthou Theo Kleynhans

  • 0

Theo Kleynhans deur Ilza Roggeband, rugbybal deur Clker-Free-Vector-Images van Pixabay

Ek en my Goudveld Hoërskool-liefde en -bruid het, soos gewoonlik elke langpouse by mekaar gaan sit om kosblikke te deel, ogies te maak en sommer net bietjie te prit. (Dit is Welkom-slang vir bietjie k@kpraat.)

Die een spesifieke pouse, in die middel van ’n koue winter, het ek besluit om gou eers saam met ’n paar manne die houtboiler te gaan besoek om ’n Paul Revere-toppa te double clutch. So kom ek toe ’n paar minute laat vir my pritsessie met my seatcover, soos die cb-radio-ouens jou vaste girl daai tyd geroep het. En wie sien ek te styf langs my bruinoognooi sit? Die einste Kuifie Kleynhans met sy aansteeklike gelag en fyn handgebare. So gaan hy mal met sy geselsie, vriendelik soos kan kom, ’n regte don’t care-houding. Kyk, toe begin ek voel soos daai boiler wat goed gestook is. “Wat dink die man doen hy?” flits deur my gedagtes. Hy weet mos wie ek is, hy weet baie goed sy’s myne, ’n verbode vrug, ’n bly-ver-weg-of-jy-kry-op-jou-moer! Hy sien toe daai klaargepraatstaar soos ek opgeblaas aangesuiker kom.

“Jy speel nou op Avbob se stoep!” snou my kras, nikotiengelaaide woorde die lang man toe.

My dreigende “war shout” het skaars op sy oordromme geland, toe counter hy my vriendelik, spontaan en vlymskerp, so ... so dat ek ’n baie skaars skaam in myself kon vind: “Glo my, jy moenie oor haar bekommerd wees nie. Sy moet oor jou bekommerd wees,” dig hy ons toe. Hy snoer toe my wil net daar. Tjoepstil, sprakeloos is die windgat eerstespankaptein.

Alles is blitsig ontlont deur ’n verdwaalde, verwerpte siel wat eintlik maar net bietjie met sy soort innerlike selfbeeld meisiekindpraatjies wou klankbord. My eie verdwaalde siel het begryp.

Ek het dit verdraagsaam ontmoet toe hy die moed gehad het om die binnekant van sy kas uit te dop. Ek het dit respekteer, nie saamgestem nie, wel gerespekteer, en glo my Celeste het my van daar af beslis beter opgepas, maar ek self ook!

Rus in vrede, Theo. Jou littekens het ook diep merke op ons gelos.

Bertus Human

(Eerstespankaptein in 1984, Goudveld Hoërskool)

Lees ook:

Theo Kleynhans: ’n beer van ’n mens

’n Matriekvriend van Goudveld Hoërskool onthou Theo Kleynhans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top