Geheime op Philadelphia deur Riaan Grobler: ’n lesersindruk

  • 1

Geheime op Philadelphia deur Riaan Grobler (Uitgewer: Luca, 2024)

Titel: Geheime op Philadelphia
Skrywer: Riaan Grobler
Uitgewer: Luca (2024)
ISBN: 9781779880086

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Beskikbaar op Libby, die biblioteektoepassing.

Riaan Grobler is ’n bekende akteur, radio-omroeper, TV-aanbieder en sanger wat alreeds sewe musiekalbums gemaak het. Sy eerste album het in 2006 die lig gesien ná sy deelname aan Supersterre

Dis nou die tweede manlike skrywer wat my die afgelope jaar verras met sy debuut. Die eerste een was Jaco Versfeld met Sinkplaatpad na liefde (Romanza). Dis vir my verfrissend om in hierdie genres iets te lees wat deur mans geskryf is, en boonop agter te kom dat hulle siening oor die liefde nie noodwendig anders as vrouens s’n is nie. 

Met Helene de Kock, Elsa Winckler en Ena Murray as drie van sy vier gunstelingskrywers, kan ek verstaan waarom hy sy hand aan ’n roman gewaag het. Vir dié wat wonder – sy vierde gunstelingskrywer is Deon Meyer.

Baie geluk, Riaan! Ek sien uit na jou volgende boek. Daar is ’n karakter of twee uit Geheime op Philadelphia wat gerus ook hulle eie storie kan kry. Mense is immers nooit te oud (tant Gerda) of te jonk (Dieter) vir die liefde nie! 😉

Met sy debuutroman, Geheime op Philadelphia, bring hy sy skryf- en sangwêreld bymekaar om sy hoofkarakter, Reghardt du Toit, te skep. Reghardt is ’n bekende sanger met die wêreld aan sy voete. ’n Ernstige motorongeluk wat hom gehoorgestremd laat, verander sy hele lewe omdat hy nie meer kan sing nie. 16 jaar later sukkel hy steeds om aan die stilte gewoond te raak. 

Hy verlaat Pretoria en beland op die Wes-Kaapse dorpie, Philadelphia, waar hy vir hom ’n hele nuwe lewe skep en ’n boetiekrestaurant oopmaak. San help hom in die restaurant en saam met sy buurvrou, tant Gerda, versprei hulle nuus soos ’n veldbrand op die dorp. 

Die plaaslike dominee se modeldogter, Charlotte, maak al sedert sy aankoms op die dorp jag op hom en hy sukkel steeds om haar ná 16 jaar te laat verstaan dat hulle slegs vriende kan wees. 

Dan kry die dorp nuwe intrekkers: ’n dokter van Malmesbury met sy gesin en hulle geheimsinnige au pair wat vanaf hulle eerste ontmoeting vir Reghardt ’n bietjie “omkrap”. Dis duidelik dat Charlotte nie ’n moontlike vriendskap tussen Reghardt en die au pair, Angelique, goedkeur nie.

’n Skokkende tragedie bring ’n nuwe wending in die plaaslike inwoners se lewens, maar veral in Reghardt se lewe. Sal al die geheime wat nou ontrafel word, Reghardt weer laat terugtrek in sy dop? Of sal vergifnis, liefde en geluk seëvier? 

Lees ook:

Dinosourus, ’n docket en die dood deur Bernadette Small: ’n lesersindruk

Die duiwel is in die detail deur Marizka Coetzer, ’n lesersindruk

Kanaän deur Barend Vos: ’n boekresensie

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top