Kanaän deur Barend Vos: ’n boekresensie

  • 4

https://www.nb.co.za/en/view-book/?id=9780796323002

Kanaän deur Barend Vos
Uitgegee deur Lux Verbi
ISBN: 978-0-7963-2300-2 (Sagteband)
ISBN: 978-0-7963-2302-6 (e-pub)

Koop Kanaän by Graffiti.

Kan jy een ervaring identifiseer wat jou geheelbeeld van ’n Christelike roman verander het? Dit is wat die skrywer Barend Vos met sy boek Kanaän my in staat gestel het om te doen. Die betekenis  van die naam Kanaän weerspieël die belofte van God dat sy volk die ewige lewe sal hê. Die skrywer bly so na as moontlik aan die feite van die Bybelverhaal, wat hy in ’n pragtige en aangrypende roman omskep het.

.........
In hierdie boek daag Vos die leser uit om dieper as die oppervlak te kyk. Die hart van hierdie boek is die verhaal van gewone mense met hulle eie drome, twyfel en begeertes.
..........

In hierdie boek daag Vos die leser uit om dieper as die oppervlak te kyk. Die hart van hierdie boek is die verhaal van gewone mense met hulle eie drome, twyfel en begeertes.

Vos begin die verhaal met Itamar, ’n onwillige hoëpriester wat die verhaal vertel – gesien deur sy oë. “Daar moet ’n lewe na die tabernakel wees” (bl 6). Selfs hy sien dat die offers minder word en dink ook aan ’n lewe buite die tabernakel.

Na 40 jaar van swerf en trek deur die woestyn se onherbergsaamheid, is die Hebreërs (volk van Israel) uiteindelik op die drumpel van die beloofde land. Na Aäron se dood is Josua aangewys as die opvolger van Moses om die volk te lei en was hy dus ’n verteenwoordiger van God. Hy het die murmurerende volk die beloofde land ingelei, ’n heenwys na Jesus wat die volk na ewigheid inlei.

Terwyl die 12 families wag om die beloofde land in te neem, bly Josua vir hulle sê dat hulle geduldig moet wag vir Moses se wolk as teken. Die ongeduldige volk murmureer saans  wanneer hulle om hulle kampvuurtjies sit en praat oor die stad met die hoë mure. Wanneer  Josua wag op die wolk van Moses, besluit hy om vir Itamar en Pinehas te stuur om die stad te gaan verken. Op pad na die stad met sy hoë mure spog Pinehas by Itamar dat hy alreeds ’n paar keer uitgegaan het na die stad en dat daar geen poort sigbaar is nie. Hulle sou daarna moes soek. Josua moes in wese bang gewees het vir hierdie groot taak wat hy van God af ontvang het, om die volk te lei. Tog het hy in geloof opgetree en die tweede generasie die beloofde land ingelei.

In die stad is daar terselfdertyd vrees vir die onbekende Hebreërs wat mense doodmaak. Ragab, die prostituut, woon aan die agterkantste muur van die stad. Ook sý het die verlange na ’n ander lewe. Wanneer sy uit geloof vir Itamar en Pinehas skuiling gee in haar woonplek, vind die owerste van die stad daarvan uit. Tog kon sy dit regkry om  genoeg inligting aan Itamar en Pinehas te gee voordat hulle terugkeer na hulle kamp. Die ontmoeting het haar lewe verander, want sy en haar geliefdes is gespaar. (Ons kan ons indink dat sy tot geloof gekom het, daarom dat sy in Jesus se geslagregister is.)

In hierdie brutale en realistiese verhaal, waarby die slagtings van Jerigo en Ai ingesluit is, gee Vos ’n baie goeie geheelbeeld van die onbegryplike verskil tussen verskillende gelowe. Wat hier uitstaan, is waar ons lees van Akan van Juda, wat goud wat vir die tabernakel bedoel was, gesteel het (212). As straf vir dié sonde word hy hier deur die Juda-vroue met klippe doodgegooi (214).

Vos skryf met deernis en empatie ’n hartroerende verhaal van ’n volk wat die beloofde land sal ingaan, maar is dít wat hulle verlang en verwag het? “Al wat oorbly Josua, is dat hulle moet onthou … Dat hulle altyd sal weet – hulle is die Hebreërs  wat uit Egipteland gekom het” (268).

Barend Vos is duidelik goed taalvaardig en gebruik ryke beskrywings kwistig: “Die paar kaalgestroopte bome versper nie die uitsig op die kamp nie – oop en uitgesprei, soos landerytjies wat slordig bewerk is. Onewe toevallige patrone. Dun rokies. Flarde van ’n saamgeraapte bestaan …” (23).

Ek het die verhaal, met ’n sterk skryfstyl, indrukwekkend, gemaklik en boeiend gevind. Die leser se verbeelding word aangewakker deur die lewens van elke karakter. “Bokke peul tussen die bome uit, spelerig … Agter hulle kom ’n seuntjie met ’n stok in sy hand – in sy ander hand het hy ’n klip waarmee hy mik na die balhoriges wat wil omspring” (37). Die behendige wyse waarop hy die teks implementeer, dui daarop dat hy sy navorsing deeglik onder die knie het en sy onderwerp goed verstaan. “Dis anders, Josua. Die diere die berge …” (245).

...........
Hierdie roman is ’n geloofwaardige verhaal wat enige leser sal verslind en geniet, veral omdat dit geskryf is binne die parameters van die karakters se godsdienstige en lewensoortuiginge.
.............

Die skrywer bied ’n leeservaring wat so baie perspektiewe en wendings aan die leser bied. Die bepaalde leefstyl van die Hebreërs in die geskiedenis van toe wat die skrywer vasgevang het, is noemenswaardig. Lesers kan oopkop daarna kyk en moet onthou dat hierdie verhaal vanuit ’n gelowige perspektief geskryf is. Hierdie roman is ’n geloofwaardige verhaal wat enige leser sal verslind en geniet, veral omdat dit geskryf is binne die parameters van die karakters se godsdienstige en lewensoortuiginge.

  • Barend Vos was ook die skrywer van die boek getiteld Rut en Boas.

 

  • 4

Kommentaar

  • 'n Puik resensie waaruit mens direk kan aflei wie die doelgehoor is en hoe die skrywer met die onderwerp en sy karakters omgaan, om 'n nuwe demensie aan 'n minder bekende Ou-Testamentiese verhaal te verleen, sonder om afbreek te doen aan die geloofwaardigheid daarvan.
    Ook sien mens dat die skrywer voortbou op sy ervaring om aan Bybelse karakters, binne die perspektief van sy Christelike geloofswaardes en die van sy doelgroep, 'n nuwer perspektief te verleen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top