Die duiwel is in die detail deur Marizka Coetzer, ’n lesersindruk

  • 1

Die duiwel is in die detail
Marizka Coetzer
Te koop by NS. Skrywershuis

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

“Elke liewe daad het ongelukkig die steenkool en stoker voorsien vir my eie runaway trein, en hierdie een het nie remme nie.” – Marizka Coetzer

Die duiwel is in die detail openbaar die verhouding van Marizka wat ’n opskudding in die media teweeg gebring het. Haar minnaar was die berugte Le Roux Steyn, gekoppel aan die Krugersdorp-moorde. Sy, die joernalis. Hy, die moordenaar. Die boek is geskryf ten doel om die belangrikste onvermelde stories en die waarheid te ontbloot.

Die leser kan dalk onder die indruk wees dat hierdie verhaal net nog ’n tranetrekker is. Wat is daar om nog te vertel as wat die media reeds gedek het? Inteendeel, Marizka vertel eerlik en met rou emosies hoe hierdie buitengewone verhouding hulle albei amper vernietig het. Marizka is haar werk as joernalis by ’n bekende tydskrif kwyt. Sy is gebrandmerk, veroordeel en na verwys as die “hoernalis”. “My voorbladtronkromanse het vinnig in ’n tragiese treurspel van teleurstelling en ’n moerse verantwoordelikheid ontaard.”

Dit was nie net die media wat haar geknou het nie, maar Le Roux het haar ook wetend of onwetend geknak.

Sou daar iets goeds uit hierdie verhouding kon kom?

En op een of ander stadium het die liefdetowerspel wat my eens omhul het, verval en stadig maar seker het ek die waarheid besef en daarvolgens begin lewe. Dit was die eerste stap in die regte ... of verkeerde ... rigting. Want, soms is dit wat goed is vir een persoon, nie altyd goed vir ’n ander persoon nie.

Marizka het met oop oë in hierdie verhouding ingestap, min wetend hoe toksies dit sou wees. Ten spyte van talle vriende en kollegas se waarskuwings het sy steeds daarmee voortgegaan.

Was Le Roux Steyn ’n aandagvraat? Hy wou, so lyk dit, in beheer wees. Ek glo hy het sy sjarme, en die feit dat Marizka ’n joernalis was, goed gebruik om haar te manipuleer. Sy moes letterlik alles waarmee sy besig was, veral haar werk, los om sy oproepe vanuit die tronk te beantwoord.

Die noodlot slaan toe in die vorm van die grendeltyd. Gedurende hierdie maande van afsondering is besoeke aan die tronk verminder. Dit het Marizka genoop om introspeksie te doen. Sy het besef dat sy haar eie tronk geskep het deur verlief te raak op ’n moordenaar. Sy het ook besef dat ’n tronkverhouding nooit sou werk nie. Sou sy werklik 25 jaar vir Le Roux kon wag?

Die verhaal stuur rillings teen jou ruggraat af. Coetzer vertel ook brokkies oor die res van die Krugersdorp-reeksmoordenaars. Dit is ’n donker storie wat Marizka gemaklik en boeiend vertel. Die intensiteit waarmee Marizka die gebeure ontbloot, is prysenswaardig en dapper. Dit gee die leser ’n goeie beeld van wat tydens die Krugersdorp-moorde gebeur het; die ondersoeke en inhegtenisneming. Dit is duidelik dat veral momente van spanning en konflik in die verhaal intens, emosioneel en ideologies gelaai is.

Marizka gee ook erkenning aan almal wat agter die skerms gewerk het om die skuldiges te vang. Sy huiwer ook nie om liefdesbriewe te plaas en om intieme oomblikke te ontsluier nie.

Die omslag is deur Nico Schamrel ontwerp en spreek boekdele. Dit versinnebeeld ’n teerheid uit die boek  – ’n besonderse edele daad wat Le Roux gereeld toegepas het. Maar die bloed van onskuldiges sal altyd aan sy hande kleef.

’n Keurige, goedversorgde boek wat die moeite werd is om te lees.

Lees ook:

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 1

Kommentaar

  • Snotjan vannemerwe

    'n Mens het waardering vir Marizka. Haar energie en passie wat sy uitstraal in haar werk as joernalis, is soos 'n vars briesie wat rondtrek deur die lug. Haar boek kompeteer egter met berge en berge boeke waaroor 'n mens se mond behoorlik water. Ons is werklik so bevoorreg om hierdie ryke stroom van Afrikaanse boeke te sien. Ek hoop ek kry iewers die tyd en geldjie om ook die een te kan lees.

    Dankie vir jou indruk van die boek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top