Titel: Dinosourus, ’n docket en die dood
Skrywer: Bernadette Small
Uitgewer: Ns. Skrywershuis
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
“Hierdie uitsonderlike boek – Dinosourus, ’n docket en die dood – is nie geskryf vir taalpuriste nie, maar is neergepen uit die hart van ’n wonderlike vrou wat nederig bly in haar strewe na berusting en vir AJ tog op haar eie manier rus bied. So bly die nagedagtenis aan hierdie kindjie ook lewend.” (Voor die voorwoord, Nico Schamrel)
’n Mens se lewe kan deur trauma meteens ’n slagoffer word van ’n diep, donker en koue spelonk met ’n bodemlose put – meer spesifiek depressie/bipolêre gemoedsversteuring. Dit is deels deur hierdie versteuring waar jy magtelose en afgestompte emosies ervaar. Jy haal asem, maar strompel soos ’n wandelende lyk hulpeloos en rigtingloos voort.
“Jy het oor AJ gery!”
Hierdie vyf woorde het Bernadette se hele wese en lewe laat intuimel. Die media en sosiale media het haar verdoem. Gevoellose uitsprake wat haar beskuldig, veroordeel en aanspreeklik bevind het nog voordat daar ’n hofsaak was.
Ek haal graag Bernadette se woorde in die voorwoord aan: “Deur die skryf van hierdie gebeure wil ek net vooraf sê, ek soek nie bejammering uit hierdie insident nie …” EN: “… maar mag God se grootheid en goedheid hier uitstraal, want Hy het my hierdeur gedra tot waar ek vandag is.”
Bernadette vertel haar verhaal met raakvat sielswoorde uit haar eie foltering. Sy beskryf met ruwe eerlikheid hoe haar lewe verander het. ’n Mens lees, met ’n knop in die keel, oor hulle swaarkrydae met AJ wat dikwels siek was. Bernadette is ook met bipolêre gemoedsversteuring gediagnoseer. Dus is sy dikwels opgeneem in die hospitaal en so ook AJ wat maklik siek geword het.
Hoe voel ’n ma wat oor haar kind gery het? Sy lewelose liggaampie op ’n hospitaalbed.
Vir die eerste keer is ek en AJ alleen. Hier lê my driejarige ou seuntjie leweloos voor my. Daar is pype by AJ se neus en mond wat met pleisters in plek gehou word en EKG-plakkers op sy borsie. Oral is daar stukkende plekke op sy lyf. Dit lyk of my kind gesleep was.
Wat nou? Sonder om te huiwer tel ek hom op my skoot, met sy beentjies wat beide kante van my heupe afhang en ek druk hom styf teen my bors vas. Ek hou hom net vas en wil nie los nie.
Ek is so jammer, AJ. (bl. 16)
In 2017, ’n maand ná AJ se 3de verjaardag, word hierdie gesin se lewens letterlik omgekeer en tot stilstand geruk. Haar lieflingseuntjie wat so baie van sy dinosourus gehou het, is dood. Syself was ’n wrak, in so ’n mate dat sy in ’n psigiatriese inrigting opgeneem is. Sy het gehunker na die dood, om naby haar kind te wees. Haar huwelik het ’n knou gekry. Sy moes met soveel emosies stoei, insluitend die feit dat sy en Pieter geskei het.
“Vanaand maak ek myself ook dood, dink ek. Ek verdien nie om te lewe na wat ek vandag gedoen het nie.” (bl. 18)
Daar is nie regtig stappe vir ’n rouproses nie. Elke mens ervaar dit anders. Bernadette stel dit so in haar eie woorde:
Nee, die rouproses is ’n vreemde ding, dit gooi jou all over the place. Moenie dat enige iemand jou vertel jy moet deur sekere stappe gaan in die rouproses nie. Dit is een proses wat jou rondruk soos ’n vrot vadoek. Jy dink nog jy is by aanvaarding, dan is jy ewe skielik weer terug by ontkenning.
Small deel ook haar intieme briefies wat sy graag vir AJ geskryf het wanneer die verlange te erg was. Sy hou ook niks terug van haar eie verlede nie – dít op sigself is ’n pad wat geen vrou ooit wil stap nie. Haar kennismaking met drankmisbruik, die wangebruik van medikasie en ander verdowingsmiddels bring haar tot op die punt van selfvernietiging.
“Ek wou net so graag saam met hom dood wees.” (bl. 26)
Hierdie boek wek verskillende emosies by die leser; ’n diep hartseer oor die trauma waardeur Bernadette moes gaan. Ek het selfs woede ervaar deur die skokkende realiteit van ons onbevoegde polisiemag se onvermoë en kennis om hierdie saak behoorlik te ondersoek. Veel erger, dat die docket en bewyse uit die lêer verdwyn het. Daar is soveel vrae en so min antwoorde.
Bernadette se verhaal is ook ’n verhandeling vir ander om hieruit te leer. Is daar berusting? Hoe hanteer jy jou skuldgevoelens? Is daar vergifnis? Kan jy vergewe? Hoe neem jy afskeid van jou kind as jy hom lewend wil hou? Wat is daar om voor te lewe?
Small skryf oor die saak, die teorie agter die bevindings en plaas selfs ’n brief gerig aan die skuldige.
“Ek vergewe jou, en nee, ek sê dit nie net nie. Ek bedoel dit uit my hart.” (bl. 38)
Small se skryfstyl is gemaklik en ongekompliseerd. Die omslag is kleurvol en trek die leser se aandag onwillekeurig. Ek glo die boek sal byval vind by ’n wye gehoor. Dit bevat soveel kosbare lewenslesse waarby almal kan baat.
Kommentaar
Baie goeie lesersindruk. Ek het 'n onderhoud met haar gevoer vir 'n ander publikasie. Regtg roerend geskryf.