Gay is oukei

  • 2

Nou die dag gesels ons oor ’n Zoom-oproep met my suster, swaer en hul agt jaar oue seuntjie, Mika. Mika is die coolste agtjarige op die planeet. Ja, ek weet ek is bevooroordeeld, maar waarvoor het mens ’n tannie as dit nie is om te dink jy is die beste nie?

Ons gesels oor wat hulle alles aanvang tydens lockdown, met Mika by die huis en nie by die skool nie. Hulle vertel dat hulle gister vir Mika toegelaat het om saam met hulle ’n episode van Modern family te kyk. Na afloop daarvan vra Mika uit oor Cam en Mitch, die gay paartjie in die reeks, se verhouding. Sy ma en pa verduidelik toe vir hom wat die verskil tussen heteroseksuele en homoseksuele verhoudings is en dat party mense lief is vir iemand anders van dieselfde geslag. Voor hulle verder gaan, vra hulle hom wat hy dink en of hy enige vrae het. Sy antwoord was eenvoudig: “Ek dink gay is oukei.” My hart swel van tannietrots toe ek hierdie mooi storie hoor. Sy pa vertel hoe trots hy in daardie oomblik gevoel het en sê hy wil sommer “gay is oukei”-T-hemde laat maak. Ek dink dis ’n briljante plan.

Terug by ons Zoom gesprek: Ek roep vir Mika nader en sê ek hoor hy het geleer wat gay is. “Ja, ek het. En ek dink as enige van my maatjies gay is, is dit oukei. Jy kan mos lief wees vir wie jy wil. Ek sal nog steeds hulle maatjie wees en lief wees vir hulle.” Ek sê vir hom hy moet probeer om altyd te onthou hoe hy vandag gevoel het en vashou aan hierdie gevoel, want dit is reg en dit is wat omgee beteken. Die wêreld gaan jou dalk later van vooroordele probeer oortuig, maar onthou dat jy liefde kies.

Hierdie ongefiltreerde aanvaarding en eerlikheid, vry van oordeel en diskriminasie, het op ’n stadium vir ons almal bestaan. Maar die wêreld probeer ons leer dat daar iets fout is met twee mans of twee vrouens wat mekaar lief het. En baie van ons het dit ongelukkig geglo. Ek wonder waar daardie omkeerpunt plaasvind en hoekom ons dit soms toelaat. En wat meer is, hierdie verskynsel is waar vir alle vorme van diskriminasie. Dalk dink jy ook, soos Mika, dat gay oukei is en dat ons as die mensdom lankal verby die punt van wonder hieroor moes gewees het. Maar die realiteit is dit dat almal nie saam met jou op daardie bladsy is nie. Te veel gay mense in Suid-Afrika en die wêreld word steeds verwerp en uitgeworpenes gemaak oor wie hulle lief het. Mika het my inspireer om ’n aktiewe, publieke standpunt in te neem as iemand wat ten volle glo “gay is oukei”, dat gay-wees nie ’n keuse is nie en dat God gay mense gemaak het presies soos hulle is. Ek glo dit volkome en ek dink elkeen wat dit ook glo, moet dit uitleef.

Mika se uitkyk en niediskriminerende menswees verstom en inspireer my gereeld. Mika is van kleins af gewoond aan diversiteit en het dit nog altyd ten volle uitgeleef, selfs voor hy geweet het wat dit beteken. Mika se pa is bruin en sy ma is wit. Mika se pa is Engels en sy ma is Afrikaans. En Mika se pa is ’n Moslem en sy ma ’n Christen. Hy is sedert geboorte geleer dat diversiteit die norm is. Hy ken geen ander wêreld nie. Van kleins af is Mika net so gemaklik in Durbanville as in Athlone, en by Eid as by Kersfees. Dus moes dit my nie verbaas het dat hy nie diskriminasie toon teenoor homoseksualiteit nie.

Maar ek weet dat, ten spyte van Mika se lewenservaring tot dusver, hy nog gekonfronteer gaan word met die harde realiteite van die wêreld. Met die feit dat ons soms geleer word om te diskrimineer op grond van ras, seksualiteit, geslag, geloof ... die lys gaan aan en aan. Hierdie leerproses is so subtiel dat mens dit nie aldag raaksien nie. Jy skrik dalk eers wakker iewers op jou “grootwordreis” en besef daar is baie om te verleer en jy kan nie jou vinger sit op presies waar jy jou oortuigings vandaan gekry het nie. Ek hoop van harte dat Mika sal vashou aan wie hy is in daardie oomblikke en dat sy menswees ons sal aanhou inspireer. Ek hoop dat hy homself en sy maatjies die verlering sal spaar en die weg sal wys as die tyd kom. Ek hoop dat hy ’n bewustheid sal dra in die subtiele oomblikke. Daardie oomblik wat iemand moet opstaan om die gay seuntjie in die klas te verdedig, hoop ek dit is Mika wat sterk staan en sy oortuigings uitleef.

Hierdie interaksie met Mika het my laat wonder hoekom ons in die eerste plek soms oortuig is dat mense wat anders as ons glo, dink, doen of lyk, nie oukei is nie. Ek wonder of dit nie eintlik te doen het met ons wat nie altyd oortuig is dat óns wel oukei is nie en probeer kompenseer deur te diskrimineer? Dis net ’n gedagte.

Ek sluit af deur te sê: Nie net is gay oukei nie, maar jy is ook oukei. Maak nie saak wie jy is en wat jy van jouself dink nie. Jy is meer as oukei.  

Lees ook

"Dit is ’n vreeslose daad om eienaarskap van jou identiteit te neem"

Is "moffie" nou ’n licence to kill?

  • 2

Kommentaar

  • Dankie dat jy hierdie hartroerende en inspirerende storie met ons gedeel het, Lidia. Ek glo kinders soos Mika gaan 'n positiewe verskil in en bydrae tot die wêreld maak.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Dit is geen geheim waar dit alles vandaan kom nie. Dit is die Christelike nasionale geskiedenis van ons land, wat heteronormatief was, en steeds is. Wat genders steriotipeer. Die Bybel, lees die Bybel! Dis 'n boek gelaai met meerwaardigheid. Dit loop oor daarvan. Israel, spesiaal uitverkies deur god, wat hulself rein hou.

    Daar is altyd meer hoop vir die jonger geslagte ja. Dat hulle iets nuut sal kan bou. Wonderlik!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top