"Dit is ’n vreeslose daad om eienaarskap van jou identiteit te neem"

  • 0

..............

“Daar is ’n lewensgevaarlike, verstikkende greep rondom baie queer-identifiserende individue. Dit kan nie gesien word nie, maar agtervolg ons soos ’n skaduwee wat teenwoordig is vanaf geboorte.” 

..............

Kirvan Fortuin was ’n Suid-Afrikaanse danser, choreograaf en LGBTQI-aktivis. Kirvan is die oggend van 13 Junie 2020 in Macassar gesteek en is onderweg na die hospitaal dood. Kirvan se dood het opslae gemaak, en die akteur Roberto Kyle vertel meer oor wat dit verg om jouself – anders – te wees in ’n wêreld en gemeenskap wat net wil oorleef. 

Kirvan Fortuin (Foto: YouTube)

Kirvan Fortuin het konstant stelsels gekonfronteer wat opsetlik geformuleer was om die ware uitdrukking van hulle identiteit, en eintlik ook hulle lewe, te versmoor. Vir die gemeenskap van Macassar was Kirvan ’n weerspieëling van ’n vryheid wat selde ondersoek en ervaar word. Hierdie is ’n tipe vryheid wat nie altyd gesig wys in sukkelende, gemarginaliseerde gemeenskappe nie. Kirvan het dit geweet, en het met ’n vasberadenheid daarna gestreef om hulle gemeenskap te bevry. Hierdie vasberadenheid kom teen ’n hoë prys; daar is ’n gevaar wat jou agtervolg wanneer jy stelsels van onderdrukking konfronteer. Dit is dus hartverskeurend dat die gemeenskap waaraan Kirvan soveel van hulleself gegee het, ook die gemeenskap sou word waarin hulle sou sterf.

Daar is ’n lewensgevaarlike, verstikkende greep rondom baie queer-identifiserende individue. Dit kan nie gesien word nie, maar agtervolg ons soos ’n skaduwee wat teenwoordig is vanaf geboorte. Ons ouers, die eerste mense wat ons bekendstel aan hierdie  geweld, het ook nie juis die vermoë of taal om ons te beskerm teen ’n wêreld wat ons, sonder om te huiwer, sal vermoor nie. In arm bruingebiede is daar eenvoudig nie die ruimte of tyd om onderhandelinge na te gaan oor identiteit nie, want te midde van swaarkry wil mense eenvoudig net survive. Om te “survive” moet jy ’n “man” wees. Net soos vrouens hul “plek moet ken” om te survive. Dis hoe jy jouself veilig hou in ’n gemeenskap wat daarin slaag om “manlikheid” aan lewenswaardigheid te koppel.

Roberto Kyle (Foto: Nathan Kruger)

Ek het, soos baie ander van die LGBTQI+-gemeenskap, grootgeword in ’n wêreld wat nie baie ruimte gemaak het vir ’n outentieke identiteit nie. Dit is aanvaar dat die toepaslike geslagsrolle weerspieël sou word. Dit is aanvaar dat ons die kinders sou word waarin ons ouers hulself kan sien. Om hierdie te bevraagteken, was gevaarlik, en ek het stemloos gevoel as gevolg hiervan. Toe ek jonger was, het ek dit ook nie verstaan nie, en ek het nie die vermoë gehad om die kompleksiteit rondom my queerness en seksuele oriëntasie te ondersoek of te navigeer nie. Wat wel duidelik was, was dat die toepaslike uitdrukking van manlikheid jou veiligheid gewaarborg het.

Ek was baie uitgeroep oor hoe ek praat, loop, en selfs omdat ek baie met meisies gespeel het. Toe ek ’n kind was, was hierdie konfrontasies, hierdie geweld, sporadies. Ek kon dit darem navigeer, alhoewel dit seergemaak het. Kinders is nie juis gepla met die kompleksiteit rondom geslagsrolle wanneer hulle eintlik maar net met mekaar wil speel nie. Dit raak egter wel meer sigbaar met die ouers. Ouers leer hulle kinders hierdie geweld.

Dit neem verskeie vorme aan hoe ouer ons word. Hierdie geweld word meer gelaag en openlik (dalk was dit nog altyd so, maar my kinderlike onskuld het my daarteen beskerm). Dit daag ons uit om dit in die openbaar te konfronteer, maar verwag eintlik dat ons dit nie sal doen nie. Queer-persone weet van hierdie geweld, maar ten spyte van dit smag ons steeds om ’n kennis en taal te skep wat hierdie geweld konfronteer. Deur taal te skep, bewapen ons onsself.

..............

“In arm bruingebiede is daar eenvoudig nie die ruimte of tyd om onderhandelinge na te gaan oor identiteit nie, want te midde van swaarkry wil mense eenvoudig net survive. Om te ‘survive’ moet jy ’n ‘man’ wees. Net soos vrouens hul ‘plek moet ken’ om te survive. Dis hoe jy jouself veilig hou in ’n gemeenskap wat daarin slaag om ‘manlikheid’ aan lewenswaardigheid te koppel.”

..............

As ’n queer-persoon is dit gevaarlik om hierdie geweld – homofobie –  te konfronteer. Dit is ook gevaarlik om op te daag met die vermetelheid om, sonder twyfel, jouself te wees. Ons probeer konstant om ons identiteit te onderhandel in spasies en gemeenskappe waar ons as stereotipes, sonder menslike ervaringe, verlaag word.

Foto: Dale Sylvester

Daar is wel mense soos Kirvan wat ongeag alles, as hulself opdaag – ’n vreeslose gebaar. Vir die LGBTQI+-gemeenskap was Kirvan se bestaan ’n skuiling teen haat, maar dit was ook ’n padkaart na vryheid. Kirvan was in verskeie dele van die lewe gesement. Hulle het bo haat uitgestyg en het as gevolg hiervan plaaslik en internasionaal presteer as aktivis, leerder, opvoeder en kunstenaar. Kirvan het alle onderdrukkende stelsels in hul pad verbreek, en ’n weg gebaan vir individue om hulself te wees. ’n Baanbreker, wie se prestasies gemeenskaplik was. Ons gemeenskappe hou hiervan – om erken te word wanneer ons presteer, net nie die tipe erkenning wat dalk hulle homofobie en haat sal blootstel nie.

Kirvan se lewe het ’n mikroskopiese lens begin word waaronder haat en diskriminasie openlik gekonfronteer was. Die LGBTQI+-gemeenskap weerspieël ’n genuanseerde spektrum van menswees waarin vryheid van uitdrukking ’n belangrike en nodige komponent is. Kirvan se lewe het dit uitgebeeld op die mees verheerlikte, magiese manier.   

Dit is ’n vreeslose daad om eienaarskap van jou identiteit te neem wanneer jy vanaf geboorte gebou en gevorm word volgens iemand anders se verwagtinge. Dit is intimiderend en verg baie moed om jou stem op te bou in spasies waar jou teenwoordigheid nie toegelaat word nie. Maar ten spyte van hierdie geweld skenk Kirvan aan baie die toestemming om hulself te wees – ’n ongelooflike, waardevolle geskenk.

Kirvan was ’n openbaring, en hulle werk sal – met trots – deur mense soos ek voortleef.

Lees op LitNet en Voertaal huldeblyke vanuit Suid-Afrika en Nederland vir Kirvan Fortuin:

In memoriam: "Macassar se eie Lady Di het tragies tot ruste gekom."

"Kirvan Fortuin was soos ’n seun vir my"

Kirvan Fortuin: Huldeblyke vanuit Nederland en Suid-Afrika

Lees ook op LitNet

Is "moffie" nou ’n licence to kill?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top