
Fotobron: Unsplash
Kirvan Fortuin was ’n force of nature. Jonk, talentvol, gedrewe, larger than life.
Wanneer hy gedans het, was dit asof die reëls van swaartekrag nie meer gewerk het nie. Ek het hom die eerste keer sien dans in Amsterdam, in ’n vertoning waarvan hy die choreografie ook gedoen het. En toe ons agterna gesels, kom ons agter ons ken baie van dieselfde mense. Toe hy terugkom Suid-Afrika toe, het hy dadelik begin met projekte om jongmense deur dans op te hef.
Hy was gay, en ’n aktivis vir gay-regte. En as die inligting wat in die dae na sy moord korrek is, het hy sy lewe verloor omdat hy gay is, aan die hand van ’n veertienjarige meisie.
Daar is bitter min inligting oor haar bekend, anders as haar ouderdom. Sy is assertive genoeg om in ’n argument met ’n man twee keer so oud soos sy betrokke te raak. Sy’t geen probleem daarmee om die argument met geweld te beëindig nie. Sy’t skynbaar geen probleem daarmee gehad om hom vir ’n moffie uit te skel voor sy hom aangeval en met ’n mes doodgesteek het nie. Vir haar het als wat hy beteken het, als wat hy gedoen het, niks beteken nie. Sy identiteit, sy menswees, was gereduseer tot net een ding: moffie.
Wat onbekend is, is hoe ’n jongmens wat haar hele lewe in ’n demokrasie deurgebring het, nog kan vashou aan so ’n outdated lewensuitkyk.
Maar selfs voor demokrasie was dit in bruin kultuur nie ’n skande om ’n moffie te wees nie. Vandat ek maar kan onthou, was daar altyd flambojante, kunstige mans wat moffies genoem was. Woorde soos gay of transgender of crossdressing het nie bestaan nie. En moffie was nie ’n skeldnaam nie.
’n Klompie jare terug was ek met my ma en ’n paar van haar vriende in Montagu. Hulle besluit toe hulle wil hul hare laat mooimaak, maar ons ken niemand in die dorp nie. Dit was nog nooit ’n probleem nie. Ons ry toe na die bruin area. Montagu, soos soveel ander dorpe, se woongebiede is nog grootliks langs rasselyne geskei. Die prosedure is eenvoudig. Jy ry tot jy iemand sien wie se hare netjies gedoen is en vra hulle aanbeveling vir ’n hairdresser.
Die eerste vrou by wie ons stop gee vir ons twee aanbevelings. Die een is vir ’n vrou wat ’n salon in die besigheidsarea het, die ander is vir ’n moffie wat van sy huis af werk. Daar was nie eens bespreking oor die besluit nie. Almal weet tog moffies doen beter hare. En toe ons by sy huis aankom en begroet word deur ’n persoon met lang, skelpienk naels, ’n stywe rompie en hoëhakskoene wat my kop laat duisel het, het ons geweet ons is op die regte plek. Die anties saam met my het hulle gate uit geniet vir elke kwinkslag uit sy mond.
En hulle het gelyk asof hulle uit die beste salonne wat die stad kan bied kom, toe hulle daar uitstap.
Vir jare daarna het my ma elke paar maande spesiaal Montagu toe gegaan om haar hare te laat doen.
In my tuisdorp, Grabouw, was daar ’n ouer vrou wat altyd netjies geklee in ’n pak klere, met das en mansskoene, gaan werk het. Almal het haar so aanvaar. Ek weet nie of sy ooit teenkanting of negatiewe kommentaar gekry het oor haar drag nie. Vandat ek my verstand gekry het was sy maar daar, in haar suit, hare netjies gebrylcreme. Ek was al in hoërskool voor ek besef het sy is nie ’n man nie.
By partytjies was dit nooit snaaks om twee vroue met mekaar te sien dans nie – en nie almal was gay nie. As daar nie ’n man beskikbaar is om mee te dans nie, dan dans jy met jou vriendin.
Vooroordele gegrond op seksualiteit was nog altyd raar in ons gemeenskappe, selfs tydens apartheid, toe vooroordele op alle en enige gronde aangemoedig was. Moffies was ons allies in die poging om mans beter te verstaan, ’n bron van inligting wat veilig en nie-bedreigend was.
Hoe verklaar mens dan hierdie meisie? Waar kom haar vooroordeel vandaan?
’n Vriendin van my is oortuig daarvan dat iemand die kind moes opgemaak het. Kinders van daardie ouderdom het eenvoudig nog nie sulke hatige gedagtes en vooroordele nie, reken sy.
Ek is minder oortuig. Kinders het agency. En op veertien is sy nie regtig meer heeltemal kind nie.
’n Ander vriendin sê daai kind se lewe is nou vernietig. Watter kind dra ’n mes, wonder ek? En hoeveel van haar lewe was nie reeds vernietig nie, lank voordat sy besluit het om ’n mes te gebruik om iemand van wie sy verskil, stil te maak? Sy het hom tot net een ding gereduseer. In die proses het sy haarself gereduseer tot een ding: moordenaar.
Twee dae nadat ek gehoor het van Kirvan se sterfte, kom ’n groepie meisies by my huis verbygeloop. Hulle lyk omtrent dertien, veertien. Hulle is vasgevang in hul eie wêreldjie, van musiek en make-up en ouers wat te streng is. Hulle giggel toe ’n seun bietjie ouer as hulleself verbyloop. Die gefladder om hare en klere reg te trek, laat my lag kry.
Hoe gaan ’n kind van dit na moord? Hoe gebroke is ons samelewing as kinders moor?
En wanneer het “moffie” ’n licence to kill geword?
Maak dit regtig saak? Dit maak nie Kirvan minder dood nie. Dit verander niks aan die manier hoedat sy potensiaal, dit wat hy tot die samelewing kon bydra, kortgeknip is nie.
Maar dalk kan ’n behoorlike gesprek oor ons vooroordele en ons gebroke samelewing keer dat ander jong mans en vroue hulle lewens verloor omdat hulle nie aan die norms voldoen nie.


Kommentaar
Ek is ’n gay wat die m-woord haat omdat ek daardeur as tiener en jongman verneder is en jare baklei het, selfs in die media, om die haatlike woord uitgeroei te kry, maar jy is vergewe, omdat dit ’n uitstekende skrywe is en soveel te meer Kirvan se gaywees verheerlik. Dankie, ons was almal baie lief vir Kirvan.
Dink dit kom uit die Bybel uit? Dat gays doodgemaak moet word? Vandaar dit... afgryslik hey...
Die Bybelteks; Dit kom nou daarvan as jy alles glo wat in die Bybel staan.
Daar is geen bewys dat die Bybel die woord van God is nie, behalwe die Bybel self.
'n Mens noem dit sirkulêre logika. (circulus in probando)