In memoriam: "Macassar se eie Lady Di het tragies tot ruste gekom."

  • 2

Foto van Kirvan Fortuin: verskaf

Kirvan Fortuin was iemand se seun, en nie net iemand nie, maar die seun van Steven en Charlotte Fortuin. Hy het ’n familie gehad met ’n adres in “Volksmond”, Macassar. Kirvan was nie net ’n identiteitsnommer nie.

Sy dood op Vrydag 13 Junie 2020 het ons weereens laat besef dat die wonde van Apartheid baie diep en nog vir generasies by ons sal bly. En weereens besef ek dat ons land ook ’n wonderwerk is, want geniale persone soos Kirvan – die danser, intellek, voor-vir-sy-tyd – ook ’n Afrikaan is. Die rede hoekom ek na hom in die hede verwys, is omdat sy dood nog so onwerklik is.

Sy ouers, opregte, eenvoudige mense is mense met waardes, mense wat alles in hul vermoë doen om hul vier seuns net die beste te gee. Gedurende die COVID-19-pandemie is sy pa werkloos. Kirvan was in inperking in sy geliefde Macassar, in hul eenvertrek RDP-huis. Macassar is een van die gebiede wat ver van die stad is, ver van geriewe en wat geskep is deur die Apartheidsisteem. En een van die uitdagings vir jongmense in sulke gebiede, was dat die kunste nooit as prioriteit in die skoolstelsel gedien het nie. En dit is waar my pad met Kirvan begin het.

Hy het by die Field Band Foundation aangesluit, ’n musiek- en dansprogram wat jongmense blootstel om deel te wees van positiewe denke en deel te wees van ’n groep om musiek saam te maak en ook om jou danspassies uit te oefen. Die talentvolle Belinda Jackson was die bestuurder van die projek en ek was deel van die direksie. Dit is nog voordat ek by Kunste Kaap beland het. Kirvan was vanaf twaalfjarige ouderdom deel van hierdie program en het jaarliks Johannesburg toe vertrek met ’n bus vol jongmense om deel te neem aan die Nasionale Field Band Kompetisie. Kirvan het altyd ’n indruk gemaak en altyd met sy groot persoonlikheid gewys: “EK IS HIER”.   

Een jaar het hy besluit hy gaan die gay vlag deel van sy vertoning maak. Die land was toe nie reg vir so ’n jong man wat homself en sy identiteit so voluit leef nie. Ek kan nog onthou hoe die beoordelaars gevra het, watter vlag is dit? Weereens – Kirvan was voor vir sy tyd.

In graad 11 het Kirvan besluit ballet is wat hy wil doen, en so het Belinda Jackson gaan pleit vir die balletonderwyser om hom ’n kans te gee. Want dit was op ’n laat onderdom. En so is Kirvan UCT toe, en daar het hy ook besluit hy gaan sy sê, sê. En toe Codarts (Rotterdam se Kunste Akademie) kom talent soek, was Kirvan gekies en die hele Macassar was saam met Kirvan op die vliegtuig. 

Ek wil hier eer betoon aan sy ouers, veral sy ma Charlotte, wat haar seun so met alles omarm het. Sy het so geglo in sy talent en vir wat hy staan in die lewe. En hier kon mens sien dat Kirvan sy styl en sy elegansie van Charlotte Fortuin gekry het. Wat ’n vróú.

Macassar het tot stilstand gekom. Alle strate was gevul met mense (en dit tydens die inperking, onthou!). Sy ouers se klein huis en die sypaadjie was gedrapeer met wit en pienk chiffon. Mense het hul laaste geld geneem om blomme voor die huis te sit. Jongmense, veral seuns, het openlik gehuil en kranse kom lê. Jy kon letterlik die liefde, deernis en ongeloof voel. Macassar se eie Lady Di het tragies tot ruste gekom.

Foto: verskaf

Ek sal ook nooit vergeet toe ek Codarts toe gegaan het om hulle te bedank vir die groot rol wat hulle in sy opleiding en visie gespeel het nie – Kirvan het kiertsregop, met sy kenmerkende hoë bolla en hoëhakskoene, my op ’n fiets kom haal. Ek het natuurlik op die sypaadjie gaan lê en skree soos ek lag. En so is ek in Rotterdam van die beroemde Markhthal na die Jamie Olivier-restaurant, een van Kirvan se gunstelingplekke, geneem. 

Die rede hoekom ek hierdie insidente noem, is omdat Kirvan ’n fynbesnaarde persoon was. Wat in moeilike omstandighede uitgestyg het. En wat bomenslike dryfkrag gehad het om sy talent te bevorder en wat ook ’n moeilike pad gekies het om openlik gay en homsélf te wees. Hy het ook altyd gepraat van sy “bruin”-wees, en was altyd op soek na sy ware identiteit en hoe hy dit in sy werk kan aanspreek.

Elke jaar op 27 April – Vryheidsdag in SA, vervaardig Kunste Kaap met Suidoosterfees, ’n konsert van Hoop. So drie jaar terug het ons die konsert opgedra aan Desmond Tutu. Ek het vir Coenie de Villiers en Kirvan gevra om deel te wees van die konsert. En so het die legendariese projek, ontdekkingsreis van identiteit en huis-toe-kom vir Kirvan begin – met die skepping van die lewensverhaal van Ouma Katriena: Die Dansende Taal.  Saam het die gevestigde komponis en vervaardiger, die beroemde Coenie en die opkomende visionaris, magiese danser met vele talente, mekaar se paadjie begin stap. Saam het hulle Suid-Afrika en haar kompleksiteit ontdek. Die kruising van twee wêrelde het nog net begin.

Hierdie woorde kom uit die diepste kamers van my hart, wat ek met groot hartseer sedert die afsterwe van Kirvan ervaar. Kirvan se toegewydheid was uitsonderlik. Soveel van ons jong talentvolle Suid-Afrikaners vestig hulle oorsee. Nie Kirvan nie. Hy het teruggekom en teruggegee. Hy was ’n rolmodel vir soveel jongmense om hom. Hulle het na hom opgekyk, iemand waarmee hulle kon assosieer, maar meer nog, na aspireer. Die leemte wat Kirvan laat is onmeetbaar groot. Kirvan se nalatenskap, soveel groter. Regdeur hierdie jong man se lewe het hy sy passie, sy talent met ander gedeel en nog meer gemotiveer en geïnspireer. Hy was ’n bewys dat jy iets van jou lewe, ondanks jou agtergrond en omstandighede, kon maak. Dat jy ’n sukses kan wees.  

Kirvan was soveel meer as ’n suksesvolle kunstenaar. Hy was ’n ware aktivis vir menseregte en die vryheid om jouself te wees. Sy werk in die LGBTIQ-gemeenskap laat ’n groot leemte. Kirvan het ’n positiewe impak op soveel mense gehad. Kirvan het waarlik sy naaste liefgehad.

Foto: verskaf

Te midde van die hartseer en verlies kan ons net ons meegevoel betoon en die aangename herinneringe koester. Ons sou so graag aan nog projekte wou werk en nog ’n keer saam lag. Mag sy nalatenskap voortleef in die jongmense se lewens wat hy met passie en entoesiasme aangeraak het.

Jou voetstappe, jou woorde, jou lag het stil geword. Weet net dit, liewe Kirvan, jy word gemis.  

Lees ook op Voertaal

"Kirvan Fortuin was soos ’n seun vir my"

Kirvan Fortuin: Huldeblyke vanuit Nederland en Suid-Afrika

  • 2

Kommentaar

  • Groete Marlene en baie dankie vir die ragtige in memoriam.

    Ek's eerstens baie BAIE immers jammer en diep seer vir die tragiese heengaan van Ons eie Kirvan... Onse eie Kind.. Onse eie Vriend.. Onse eie Seun... en iemand wat waarlik homself toevewy het vir sy passie vir die kreatiewe en gemeenskaps ontwikkeling. Elke moment was golden...

    My hart die afgelope paer weke is swaar en diep getref. Eks selfs bewus, vir 'n jongmens wat ook grootword op die Kaapse vlakstes dat om bo uit te styg ten spyte van omstandighede kos meer as net wildskrag. En boonop in sy geval, voluit te staan in sy identiteit, eerstens as 'n volle mens wat nie net bewus was van sy eie waarde, maar ook die van alle mense... Totaal gemaklik was hy in sy eie vel en as dèel van die LGBTIQ-gemeenskap...

    Ons is dankbaar vir jul ondersteuning oor die jare en kan aflei hoe trots sy familie, gemeenskap en almal wat deel uitgemaak het van sy ontwikkeling...

    Hoe meer ek kyk na Kirvan se lewe en hoe hy te werke gegaan het, hoe meer besef ek dat hy was/is beslis nie net 'n Champion of His Craft nie, maar ook beslis 'n "Colossal Genuis".. Jammer vir die Engels... Gesoek na die Afrikaanse woorde om die beskrywing uit te druk. Sy werk veral in ons gemeenskappe was besonders en het my weereens laat besef hoe belangrik dit ook is om terug te ploeg. Ja, hy kon beslis besluit het om sy lewe in bv Europa uit te leef, maar hy het spesifiek besluit om sy arht te volg, net soos in alles wat hy gedoen het. Sy fondasie, begin en einde, was maar altyd gegrond rondom sy mense, onse mense; wat selfs nie altyd bewus is van onse eie waarde en die dieptes enbBreedtes van oneindige talente nie. Gawe wat Ons almal het. Hy het dit geweet, gesien en als in sy vermoe gedoen. Veral om ons jongmense se talente to bevorder met inspirasie en nodige ondersteuning...

    Onse werk is Groot en in die tye waarin Ons nou leef, kos dit vir almal van Ons om seker te maak dat Ons niks terug hou nie.. dat Ons strewe vir Absoluut Excellence in Als wat Ons doen.. Dat Ons meer begin kyk na Collaborations across various disciplines and industries...

    Dat Ons 'n Wereld en Gemeenskappe bou wat veilig is.. en wàar Mense hul kan uitleef; ongeag.. Kleur.. Taal.. Kulturele Orientasie.. Seksualiteit.. Spirituele Perspektief en Rituele..

    Ons werk, hoe meer ek kyk na die situasie van ons land en wêreld, het maar nou eers begin en ons moet seker maak ons vat nodige wyshied en òok, selfs belangriker, die nodige kiefde van Kirvan se lewe en dit wat hy nagelaat het om 'n verskil te maak waar ons ookal is en met wat ons ookal doen.

    Maak asb kontak indein U ondersteuning benodig rondom werk wat u doen met jongmense. Eks 'n Singer-Songwriter en Freelance Facilitator/Wilderness Guide wat vir afgelope 15 jàar betrokke is in jeug- en gemeenskapsontwikkeling. My werk is spesiek gerond in die natuur en hoe dit persoonlike en groepsbemagteging bevorder.

    Ek dink beslis aan die familie, vriendekringe en die LGBTIQ en Creative Community wat nogsteeds diep seer getref is met Kirvan se heengaan en hoe dit net nooit weer dieselfde gaan wees nie. En tog vertrou en hoop ek dat ons almal sy legacy sal honor.

    Long live the memory and light of Kirvan in the hearts of the many lives that he has impacted!
    Groot Liefde,
    💛❤💚🙏🙏🙏🌈🌈🌈
    Reu

  • Avatar
    René Mitchell

    Mag Kirvan se siel rus in vrede .Ek het hom nie persoonlik geken nie, maar sjoe wat 'n inpak het die jong seun gemaak en diep voetspore gestap. Ek volg nou al van sy dood sy talent en wat 'n inspirasie was hy. Sterkte vir sy familie en vriende vorentoe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top