Freek Robinson ontvang Silwerskermfees-toekenning vir lewensbydrae as joernalis

  • 1

kykNET het einde Junie die TV-benoemings vir die eerste Silwerskermfees-toekennings vir film en televisie aangekondig. Freek Robinson ontvang ’n toekenning vir sy lewensbydrae as joernalis by die Silwerskermfees-toekennings vir film en televisie 2023.

Naomi Meyer gesels met Freek Robinson oor sy toekenning vir lewensbydrae as joernalis.

Foto: Hanneri de Wet

Baie geluk met jou toekenning, Freek!

Watter hoogtepunte staan vir jou uit deur die jare dat jy ’n joernalis is en was? En wat was van die moeilikste aspekte van jou werk, as ek enkeles kan uitsonder?

’n Hoogtepunt was ongetwyfeld my betrokkenheid by uitsendings oor die Kodesa-onderhandelings waar die nuwe Suid-Afrika gestalte begin kry het. Terselfdertyd het die SAUK spesiale verkiesingsprogramme uitgesaai. Dit was regstreekse uitsendings vanuit elk van die nege provinsies. Ek was die voorsitter van vyf van die uitsendings. Britse uitsaaikenners van die BBC en die Thompson-stigting het gedink ons was van ons sinne beroof. Een van hulle het gesê dit het gelyk asof ek ’n leeutemmer was wat die heeltyd die sweep moes klap om orde te behou. Hulle het gereken sulke sendings was gewaagd en dat hulle dit nooit sou aanpak nie.

Tydens die uitsendings met ’n groot buite-uitsendingseenheid moes ek telkens ’n skare van omtrent ’n 1 000 mense beheer plus ’n stuk of 10 deelnemers van politieke partye. Dit was ’n adrenalien rush. Dit was ook die eerste keer dat mense wat onder apartheid uitgesluit was van die politiek, die kans gekry het om openlik en vry in die openbaar op TV oor hulle standpunte te redeneer. Die kersie op die koek was my optrede as voorsitter van die Mandela/De Klerk-debat wat glo deur sowat 800 miljoen mense wêreldwyd gekyk is. Als het glad afgeloop.  

Die hele tydperk van Mandela se vrylating in 1990 tot einde van sy bewind in 1999 was eintlik die goue jare vir joernaliste. Ons het van ’n tydperk van inperking beweeg na ongekende vryheid.

So in die verbygaan, kan ek net noem dat my eerste ontmoeting met Mandela ook ’n besonderse hoogtepunt was – maar dis ’n lang storie vir ’n ander dag.

Die moeilikste ervarings was die talle beperkings waaronder joernaliste in die ’80’s moes werk.    

Wat beskou jy as die belang van ondersoekende joernalistiek in ’n land soos Suid-Afrika? Wat is die belangrikste: Om van vandag se groot nuusstories of van elke klein verhaal uit te wys, en hoe doen ’n mens dit met integriteit? Ook: Hoe dink ’n mens op jou voete as ’n mens die vrae moet vra?

Joernaliste, meer so as enige ander tak van die samelewing, het ’n deurslaggewende rol gespeel om korrupsie aan die kaak te stel. Dis die media en die burgerlike samelewing saam wat die grootste bydrae gaan lewer om die land uit die verknorsing te lei. Dit is noodsaaklik dat die land se morele kompas aan die gang gekry word gebaseer op die waardes van die grondwet soos respek, gelykheid, openheid, waardigheid, medemenslikheid, verantwoordelikheid, verantwoordbaarheid, regverdigheid, eerlikheid, integriteit, nie-rassigheid, nie-seksisties en wet en orde. Deur my hele loopbaan het ek uit my pad gegaan om mense se stories te vertel, altyd met die doel om deernis te hê ongeag ras en status.

Om op jou voete te dink is die gevolg van deeglike voorbereiding. Gary Player het gesê: Hoe meer jy oefen, hoe gelukkiger word jy. Ek kan sê: Hoe meer jy voorberei, hoe flinker dink jy.

Wat is die belang van so ’n toekenning vir jou?

Ek het besonderse waardering daarvoor. Ek het die hele proses deurgemaak van voor TV in Suid-Afrika gekom het tot vandag se verstommende tegnologiese vooruitgang in die media. Ek is seker die enigste lewende TV-joernalis wat die ontwikkeling van TV vanaf die begin meegemaak het – en ook oorleef het te midde van groot politieke veranderinge oor 48 jaar. En steeds is ek aan die gang, en sal ek steeds bly, solank ek ’n bydrae kan maak tot die skepping van ’n beter lewe vir almal.

Dankie kykNET vir die eerbewys en dankie vir die geleenthede my gegun.

En als is moontlik gemaak met die steun en liefde van my vrou Liza, my kinders en familie.   

Lees ook:

Persverklaring: TV-benoemings vir die eerste Silwerskermfeestoekennings vir Film en Televisie

Op die man af – Freek Robinson lig die sluier oor ’n vol, opwindende lewe

Die burgerlike samelewing in beweging

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top