Foute in vraestelle: Sal die kinders vir die gelag betaal?

  • 0

Die media het onlangs oor foute in sommige departementele matriekvraestelle berig. Sekere van die flaters was lagwekkend, soos die periodieke tabel wat verkeerdelik en foutiewelik in Afrikaans vertaal is. Belangrike vrae oor gehaltebeheer van die vraestelle behoort egter gevra te word – en die sielkundige effek van foute in ’n eksamenvraestel kan nie buite rekening gelaat word nie. Rolspelers van Fedsas en SAOU gee hul menings.

Jaco Deacon van Fedsas praat met Naomi Meyer oor vraestelle in kinders se moedertaal en gehaltekontrole van dieselfde vraestelle.

Jaco, ek sien in ’n onlangse berig op Netwerk24 van ’n paar flaters wat in matriekvraestelle voorgekom het. Hier word geskryf dat vrae in ’n graad 12-Chemievraestel onverstaanbaar was omdat elemente op die periodieke tabel verkeerdelik in Afrikaans vertaal is. Ter illustrasie: ’n Afkorting op die tabel soos nobelium – "No" – is vertaal na "Nee". Arseen se “As” is vertaal na "Soos". Mens wil daaroor lag en die kop skud, maar is hierdie dalk ’n groter probleem as net woorde wat verkeerd (en verkeerdelik) vertaal is? Wat is die waarde daarvan om in Afrikaans ’n vraestel te mag beantwoord, maar die vrae wat jy moet beantwoord, is nie werklik verstaanbare Afrikaans nie?

Ek is ’n regsgeleerde en nie ’n opvoedkundige nie, maar ek is ook ’n ouer en hoor die besware by ons eie kinders en kan sien hoe ongelukkig hulle is indien hulle in ’n eksamen hiermee gekonfronteer word. My kinders verkies dat hulle eie opvoeders die vraestelle opstel, omdat hulle die vrae baie beter verstaan en die skool se kwaliteitbeheer blykbaar baie beter as die provinsiale departement s’n is. Dit is ’n voordeel om in jou moedertaal onderrig te ontvang en ook eksamen te kan skryf, maar dan moet die taalgebruik reg wees.

........
Dit is ’n voordeel om in jou moedertaal onderrig te ontvang en ook eksamen te kan skryf, maar dan moet die taalgebruik reg wees.
........

Ons is terug by die kwessie van moedertaalonderrig en die belang daarvan as onderrigtaal. As mens kennis neem van flaters soos hierdie, wil mens vra: Is dit nie maar net beter om ’n vraag in Engels te vra en dan moet die kinders dit in Engels beantwoord nie? Wat is beter: die moedertaal wat verstaanbaar is, of ’n tweede taal wat ewe moeilik verstaanbaar is, of ’n ander soort inspanning verg? Is dit die regte vrae om te vra?

’n Ouer en leerder kies ’n skool op grond van die taal van onderrig en leer en kan dan van die skool verwag word om dit so aan te bied. Dit is dan die taak van die departement, skool en opvoeders om ’n professionele opvoedkundige diens te lewer. Dit sluit natuurlik goeie kwaliteitbeheer in. In dié geval behoort die gesprek eerder te fokus op die interne prosesse by die departement eerder as op moedertaal.

Paul Sauer, uitvoerende beampte van die SAOU, het die volgende vraag beantwoord:

Paul, hoe lyk die gehaltebeheer ten opsigte van vraestelle? Die tweede kwartaal se eksamens is nou amper verby. Die matriekeksamen lê voor.  

Hierdie probleme hang af van provinsie tot provinsie, maar die Vrystaat se onderwysdepartement het dit as volg hanteer.

Gedurende die Junie-eksamen, veral vir graad 12, stuur die provinsiale onderwysdepartemente ’n gemeenskaplike eksamenrooster uit. Skole word dan voorsien van gemeenskaplike vraestelle wat per e-pos en met ’n wagwoord aan skole gestuur word, gewoonlik die skoolhoof, wat dan die elektroniese vraestel oopmaak, dit druk en uitdeel aan die leerders.

Hierdie vraestelle word deur die onderskeie vakdissiplines binne die kurrikulumafdeling van die provinsiale onderwysdepartement hanteer en gaan gewoonlik nie deur die normale kanale van moderering en kwaliteitsversekering nie, wat in daardie vakdissipline rus. Die vertaling word dan blanko gedoen en ek glo in hierdie geval met een of ander KI-program. In die Vrystaat se onderwysdepartement gedurende die September-eksamen word daar gewoonlik gedrukte vraestelle deur die departement by skole afgelewer om ook dan die stelsel te toets vir die einde van die November-NSS-eksamen wat afgelê word.

Skole word, veral vir die Junie-eksamen, geboelie om hierdie as “verpligtend” te ag, maar die SAOU is op rekord dat daar geen beleid rakende verpligte gemeenskaplike eksamens is nie en dat skole self kan besluit om hulle eie vraestelle te skryf, maar indien hulle van die gemeenskaplike vraestelle skryf, kan daar van die onderwysdepartement verwag word om dit op standaard te gee en ook die nodige sekuriteit toe te pas sodat die vraestelle nie lek nie.

Hier is Maryna Besseling, SAOU professionele adviseur, VOO-fase en -kurrikulum (graad 10 tot 12), se reaksie – én eksamenraad:

........
Daar is ’n sekere emosionele ingesteldheid wat van leerders verwag word wanneer hulle vraestelle beantwoord. In die verlede (veral met DBO-vraestelle) is daar opgemerk dat as ’n vraestel begin met ’n vraag wat ’n fout het, as die aanhegsels nie in dieselfde formaat is (soos in die geval van die voorgeskrewe-formule-blad) soos wat dit aan leerders verskaf word nie, of as daar ’n Wiskunde-vraag is waarvan die berekeninge nie uitwerk nie, het dit ’n demoraliserende uitwerking op leerders, tot so ’n mate dat leerders nie by daardie spesifieke vraag kan vorder nie.
........

Daar is ’n sekere emosionele ingesteldheid wat van leerders verwag word wanneer hulle vraestelle beantwoord. In die verlede (veral met DBO-vraestelle) is daar opgemerk dat as ’n vraestel begin met ’n vraag wat ’n fout het, as die aanhegsels nie in dieselfde formaat is (soos in die geval van die voorgeskrewe-formule-blad) soos wat dit aan leerders verskaf word nie, of as daar ’n Wiskunde-vraag is waarvan die berekeninge nie uitwerk nie, het dit ’n demoraliserende uitwerking op leerders, tot so ’n mate dat leerders nie by daardie spesifieke vraag kan vorder nie. Hulle verloor selfvertroue en raak so gefikseer op die spesifieke vraag dat hulle nie kan aanbeweeg nie. Dit het onder meer in ’n NSS-Wiskunde-vraestel gebeur waar een vraag nie ’n antwoord gehad het nie.

As eksaminatore word onderwysers opgelei om te verseker dat vraestelle ’n logiese volgorde het, dat ’n vraestel altyd begin met ’n "makliker" vraag en dat vrae van daar progressief moeiliker word, met moeilike of tydrowende vrae aan die einde van die vraestel. Die moraal van die kind moet opgebou word om ’n volgende vraag te kan beantwoord. ’n Kind wat ’n negatiewe ervaring het van ’n vraag of vraestel, begin in sy eie vermoë twyfel, en dit is moeilik om weer die vertroue te herstel. Hulle begin dan ook in hulle vermoë om die November-eksamenvraestelle af te lê bevraagteken.

........
As eksaminatore word onderwysers opgelei om te verseker dat vraestelle ’n logiese volgorde het, dat ’n vraestel altyd begin met ’n "makliker" vraag en dat vrae van daar progressief moeiliker word, met moeilike of tydrowende vrae aan die einde van die vraestel. Die moraal van die kind moet opgebou word om ’n volgende vraag te kan beantwoord. ’n Kind wat ’n negatiewe ervaring het van ’n vraag of vraestel, begin in sy eie vermoë twyfel, en dit is moeilik om weer die vertroue te herstel. Hulle begin dan ook in hulle vermoë om die November-eksamenvraestelle af te lê bevraagteken.
.........

Dit is daarom baie belangrik dat matriekkinders se ouers moet toesien dat hulle kinders toegang tot vorige vraestelle het en dat hierdie vorige vraestelle lank voor die eksamen uitgewerk word. Dit gee kinders insig in hoe die vrae gevra word, watter terminologie in vraestelle gebruik word, hoe vrae gestruktureer word en hoe die ideale antwoord lyk. Hierdie "eksamenafrigting" gee veral vir matriekkinders die nodige selfvertroue om vraestelle anders as dié van die klasonderwyser te kan aanpak.

Onderwysers (al word hulle nie hiertoe verplig nie) verkies soms om distriks- of provinsiale gemeenskaplike vraestelle te skryf, omdat dit kinders ’n voorsmaak gee van ’n ander styl van vraagstelling, stelwyse en woordeskat as waaraan hulle by die vakonderwyser gewoond geraak het. Dit gee ook vir kinders ’n idee van die moeilikheidsgraad wat in die eindeksamen verwag kan word.

Dit is daarom kardinaal dat vraestelle (of dit deur die onderwyser, distrik of provinsie) verskaf word, nie net goed opgestel moet word nie, maar ook deeglik gemodereer, vertaal en taalversorg moet word. Gehaltebeheer van hierdie vraestelle kan nie afgeskeep word nie. As ’n instansie hierdie vraestelle wil verskaf, moet dieselfde kwaliteit as einde-van-die-jaar-vraestelle verwag word. Vir ’n instansie om aan te dui dat "goedpresterende" skole nie hierdie vraestelle hoef te skryf nie, is nie ’n verskoning nie, want veral kinders in onderpresterende skole moet op elke gebied die beste moontlike geleentheid gebied word om voor te berei.

Laksheid in die versorging van vraestelle is onaanvaarbaar! Dit is nie net onverantwoordelik nie, maar is demotiverend vir die kinders wat ’n volgende vraestel moet skryf.

Vraestelle van die DBO, SACAI en die IEB word aan herhaalde prosesse onderwerp waar elke fase van die opstel van vraestelle noukeurig nagegaan word. In provinsies wat reeds in besit is van veral die uitdeelstukke, is dit noodsaaklik dat die regte dokumentasie voorsien word. Provinsies moet, as hulle gemeenskaplike vraestelle wil skryf, aanspreeklik gehou word deur ouers en taalorganisasies om te verseker dat die beste moontlike produkte gelewer word. Die Afrikaanse gemeenskap verdien die nodige respek om ten minste te verseker dat vraestelle behoorlik vertaal en taalversorg word.

Wat staan ouers te doen?

  1. Verseker dat jou kind verskillende vraestelle deurwerk.
  2. Praat met jou kind oor tydbestuur in vraestelle. Vrae wat vreemd of moeilik lyk, kan uitgestel word en aan die einde van die vraestel beantwoord word.
  3. Bou aan jou kind se veerkragtigheid. As jy ’n bloutjie in een vraestel loop, is dit nie die einde nie. Berei goed voor vir die volgende vraestel.
.........
As jy ’n bloutjie in een vraestel loop, is dit nie die einde nie. Berei goed voor vir die volgende vraestel.
.........

Lees ook:

Indeks: notas, toetse en vraestelle

Die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel en Afrikaans-kurrikulum: ’n Afrikaans-onderwyser van die Kaapse Vlakte deel sy ervarings

Sosialemedia-wetgewing: verskansing, foltering of verheffing?

Te min geld vir onderwys: ’n onderhoud oor die regering se plig en ouers se taak

Onderwys se begrotingsprioriteite

VVA-Leeskonferensie: "Elke kind wil lees"

Loeriesfontein hou ’n skole-expo en skep geleenthede: ’n onderhoud

’n Wenslysie vir onderwys in Suid-Afrika: Alana Bailey soek na oplossings

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top