Fingernails: ’n filmresensie

  • 0

’n Toneel uit die film Fingernails (2023) met Jessie Buckley en Jeremy Allen White (IMDb)

Wie sal ooit weet of verstaan wat in die toekoms gaan gebeur? Motors word geëlektrifiseer en gaan bestuurderloos wees. Waarom kan liefde nie ook geoutomatiseer word nie?

In Fingernails waai die naels letterlik. ’n Liefdessanatorium word geskep waarin die held en heldin (albei in gelukkige verhoudings) diens verrig. Paartjies, wat onseker is oor hul gevoelens vir mekaar, (lees: of die een party die ander verkul, of maar bloot verdra) laat elk een vingernael lewend trek! Ja, jy het reg gelees. ’n Knyptang word op ’n vingernael geplaas en dit word uitgepluk. Daarna word die man en vrou (of man en man, of vrou en vrou) se nael in ’n masjien, wat soos ’n mikrogolfoond lyk, geplaas en aangeskakel. Die vonke spat, en die masjien registreer uiteindelik 0%, 50% of 100%.

Indien die uitslag 0% is, dui dit daarop dat die paartjie nie geskik is vir mekaar nie en liefs moet skei. 50% beteken slegs een helfte van die egpaar is verlief, of dat die ander hom/haar verneuk, terwyl 100% beteken dat albei ewe lief is vir mekaar en dat ewige geluk, volgens die masjien se uitslag, wag. Geen huweliksberaders of sielkundiges nie. Twee vingernaels en ’n masjien!

.......
Die vraag word ook gevra: Kan twee mense vir die res van hul lewens getrou aan mekaar wees, of is monogamie onmoontlik?
.......

Die vermoede bestaan dat hierdie tema in ’n televisiereeks omskep kan word! Maar die Griekse regisseur Christos Nikou verskraal die potente storie tot ’n rolprent met hiérdie kinkel. Die twee personeellede, uitstekend uitgebeeld deur die altyd betroubare Jessie Buckley en die talentvolle Riz Ahmed, besef gaandeweg dat hulle warm is vir mekaar. Is dit blote wellus? Of raak hulle gaandeweg werklik verlief op mekaar?

Indien hulle werklik gevoelens vir mekaar ontwikkel, wat word van elk se pasmaat? En kan hulle voortgaan om hul pligte nugter en onbevooroordeeld uit te voer?

Die rolprent bied stewige speelkans vir Buckley en Nikou, maar die ondersteunende akteurs, Jeremy Allen White, so goed in die heerlike kopsmokkel-The Bear op televisie), en Luke Wilson in beheer van die instituut, se karakters verdwyn tussen die knersende tande, die bloedige vingernaels, en die verlangende stare. Veral White se aansienlike talente word onderbenut wat ’n jammerte is. Sy karakter word ook afgeskeep wat karakterisering betref. Wat ’n vermorsing van talent!

........
Veral White se aansienlike talente word onderbenut wat ’n jammerte is. Sy karakter word ook afgeskeep wat karakterisering betref. Wat ’n vermorsing van talent!
........

Maar die rolprent verdien aandag, nie net omdat dit ’n unieke nuwe invalshoek bied op ’n swart komedie nie, maar omdat dit liefde en die aantrekkingskrag tussen mense tegnies in ’n distopiese wêreld ontleed. Daarom verwonder kykers hulle steeds aan die kompleksiteit van die liefde en bekyk dit dalk opnuut onder ’n persoonlike vergrootglas. Kan ’n formule of ’n masjien werklik bepaal of mense geskik is vir mekaar? En of hulle liewer moet skei? Gevaarlik! (Soos uit die rolprent blyk wat ’n mens nie hier kan verklap nie.)

Feit bly staan, AI (of KI – Kunsmatige Intelligensie) verstaan steeds nie die verwikkelde landskap van die liefde nie. En ’n mikrogolfoond, of dan liefdesmasjien, kan ook net op sekere impulse reageer, terwyl die liefde hom/haar nie laat hokslaan of ontleed nie.

Fingernails (2023) met Jessie Buckley, Riz Ahmed en Jeremy Allen White (IMDb)

Intussen is die rolprent nogal snaaks, soos Eternal Sunshine of the Spotless Mind en Being John Malkovich was. Dit skommel die kyker rond en plaas sy/haar brein én emosies in ’n melkskommelmasjien. Kyk bietjie na hierdie rolprent en maak jou eie afleidings oor die wenslikheid al dan nie van so ’n liefdeseksperiment. Dis soos hierdie blitsige I.K.-toetse waarvan die internet en YouTube deesdae wemel. Beantwoord 50 maklike vrae en bepaal jou I.K. Trek twee naels en verstaan mekaar se diepste en intiemste gevoelens.

Terloops, die rolprent verklaar onomwonde aan die begin dat hartkwale, siektes, en selfs sake van die hart neerslag in menslike vingernaels vind!

.......
Dit wat nié gesê word nie, is belangriker as woorde. Dus daardie onuitgesproke gevoelens en versugting en dikwels wellus waaroor nie gepraat kan word nie, is belangrik.
.......

Fingernails is koddig. Ook dikwels onstuimig en andersins vrypostig. Dit stuur die kyker van bakboord na liefdesboord. Maar die regisseur konsentreer veral op subteks. Dit wat nié gesê word nie, is belangriker as woorde. Dus daardie onuitgesproke gevoelens en versugting en dikwels wellus waaroor nie gepraat kan word nie, is belangrik. Veral Jessie Buckley, so goed in die sieldodend-skokkende Men (2022), blink uit wanneer sy genuanseerde gesigspel lewer wat meer as woorde sê.

Buitelandse resensente het hierdie rolprent ook al met die onthutsende The Lobster (2015) van Yorgos Lanthimos vergelyk as aanduiding van hoe onverhoeds die gegewe kykers kan betrap. Die vraag word ook gevra : kan twee mense vir die res van hul lewens getrou aan mekaar wees, of is monogamie onmoontlik?

Fingernails beweeg tydsaam. Hier is geen romantiese komedie-kwinkslae of blitswoorde wat sidder van komedie nie. Dit is eintlik ’n stadige besinning oor die aard van liefde, getrouheid, en die oorgee aan drange of begrip van liefde. Of! Is dit moontlik dat twee mense vir 20 jaar gelukkig saam kan lewe en dan eers die ideale lewensmaat kan ontmoet?

Kyk daarna op Apple+ en besluit self!

Kyk die lokprent hier:

Lees ook:

Talk to me: ’n filmresensie

Sound of freedom: ’n filmresensie

Oppenheimer: ’n filmresensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top