Fietsry vir dommies by die Welgemoed Kunstefees 2024: ’n onderhoud met Eldon van der Merwe

  • 0

Eldon van der Merwe in Fietsry vir dommies: Donderdag, 29 Augustus by die Welgemoed Ouditorium

........
Fietsry vir dommies laat ons toe om vir ’n oomblik ’n toeskouer te wees in die lewe van iemand wat almal dalk nie elke dag mee in kontak kom nie, al is dit die realiteit van baie mense in ons onmiddellike omgewings.
........

Die Welgemoed Kunstefees vind vanaf 23 Augustus tot 8 September in die noordelike voorstede van Kaapstad plaas. Eldon van der Merwe praat met Naomi Meyer oor die eenmanproduksie Fietsry vir dommies waarin hy die hoofrol vertolk en wat by hierdie fees op die planke gaan wees.

Eldon, jy het by ander Afrikaanse kunstefeeste opgetree in die produksie Fietsry vir dommies en tree nou binnekort by die Welgemoed Kunstefees ook met hierdie produksie op. Vertel my asseblief heel eerste van jou, Eldon: Wie is jy en wat is jou agtergrond?

Ek is gebore op Piketberg en is op die ouderdom van 12 deur my Afrikaanse juffrou aanbeveel om te oudisie vir ’n nasionale produksie van Fiela se kind. Ek is goedgekeur en gekies as Tollie Komoetie. Dis waar alles begin het. Jare later en ek bevind myself nou in die diepkant van die bedryf en het al met gesoute kunstenaars soos David Kramer, June van Mersch, Margit Meyer-Rödenbeck (Dowwe Dolla), Frank Opperman en Sandra Prinsloo gewerk, om net ’n paar te noem. Ek het onlangs in my eerste eenmanstuk Fietsry vir dommies geopen, en is reeds ’n paar keer vir verskeie toekennings genomineer, waarvan ’n kykNET Fiësta vir beste manlike speler een van hulle is. 

Vertel my asseblief van jou karakter in Fietsry vir dommies. Wie is hy? 

In Fietsry vir dommies vertolk ek die rol van Carl Brits, ’n bruin tienerseun uit die buitegeleë area van Oudtshoorn, naamlik Rose Valley. Hy vertel hoe moeilik dit is om uit sy gemeenskap iets te bekom in die lewe. Sy ouers, Karel en Johanna Brits, maak dit ook nie veel makliker nie en laat ’n mens vinnig besef hoe belangrik ’n ouerfiguur is vir enige kind. Ek vertolk ook die rolle van beide ouers in die produksie, so al is ek al akteur op die verhoog, sien gehore wel nog ander karakters wat deel vorm van die storie.

Ek dink in hierdie land ken ons nie altyd mekaar se stories nie. Ons elkeen dink oor ons eie stories en daar is so baie om te hanteer: stygende inflasie en pryse, ons eie werke, ons families en gesinne ... mens voel skoon uitgeput om oor ons eie stories te dink. Dink jy Fietsry vir dommies gaan mens vir ’n rukkie ook laat vergeet van ons eie probleme? Wat geniet jy van hierdie produksie?

Ek dink dis baie belangrik dat ons na mekaar se stories luister; dit gee ons perspektief en laat ’n mens soms dankbaar voel vir dit wat in jou eie lewe gebeur. Fietsry vir dommies laat ons toe om vir ’n oomblik ’n toeskouer te wees in die lewe van iemand wat almal dalk nie elke dag mee in kontak kom nie, al is dit die realiteit van baie mense in ons onmiddellike omgewings. Iets wat ek die meeste geniet in die produksie, is die feit dat daar Afrikaanse rymklets bygevoeg is. My regisseur, Dean Balie, het klanke geskep om die storie met musiek te begelei wat die gedagtegange soomloos tussen die karakters en die storie laat vloei.

Hoekom is kunstefeeste belangrik, en ook feeste wat nog groei en die kuns na mense in hulle eie omgewing neem, feeste soos die Welgemoed Kunstefees?

Ek dink alle feeste is belangrik omdat dit geleenthede skep vir mense van verskillende agtergronde om tyd saam te geniet en om hier en daar in gesprekke te deel wat hulle insig en wêreldkennis kan verbreed. Feeste kan ook ’n groot bydrae lewer tot gemeenskaplike ontwikkeling en baie mense sien vir die eerste keer hoëgehalte-teaterproduksies wat op ander plekke in die land aangebied word.

Waar kan mense kaartjies koop vir Fietsry vir dommies? En waar speel die produksie as dit by die Welgemoed Kunstefees is?

Alle kaartjies vir die Welgemoed Kunstefees is beskikbaar by Webtickets en feesgangers kan selfs kaartjies koop wat verskeie items op die program insluit. Daar is net een vertoning van Fietsry vir dommies op Donderdag 29 Augustus om 19:30 by die Welgemoed Ouditorium. Kaartjies beskikbaar by Webtickets of jou naaste Pick n Pay.

Lees ook:

Welgemoed Kunstefees 2024: ’n onderhoud met Marieta Nel

Eldon van der Merwe van In Slavenhuis 39 opgewonde oor tweede speelvak by Woordfees

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top