FA Venter (1916–1997)

  • 2
Foto: Openbare domein

Sêgoed van FA Venter

“’n Skrywer moet ’n skerp gewete en deernis hê. Geen skrywer wat skryf sonder deernis, kan werklik ’n groot skrywer word nie.” (Beeld, 19 November 1984)

“Die hede is altyd vir my ’n verlengstuk van die geskiedenis.” (Beeld, 19 November 1984)

Hoekom skryf hy? “Baie eenvoudig. Ek skryf omdat ek moet; ek kan net nie anders nie. Om te skryf is nie ’n willekeurige proses nie. Jy kan nie voor ’n tikmasjien gaan sit en dink ek gaan vandag ’n boek maak nie. Die ware skrywer skryf omdat hy daartoe gedwing word. Dis ’n ingebore behoefte wat jy nie kan aanleer nie.” (Beeld, 19 November 1984)

“Dit is die skrywer se plig om te ontbloot, te profeteer en te onderrig. Hy moet die goeie en die slegte toelig. Die Suid-Afrikaanse skrywer – en ek is nie lid van die intellektuele establishment nie – het ’n plig ten opsigte van die geskiedenis van sy land en sy mense. Om vandag se mens werklik te ken, moet jy ook die smeltkroes ken waaruit hy ontstaan het.” (Beeld, 19 November 1984)

“’n Mens wat nie kan lag nie, sal maar sukkel om te bly lewe. Selfs in die moeilikste omstandighede en ernstigste situasies is daar altyd iets waaroor ’n mens kan lag. My vrou het sowat drie dae voor haar dood nog so lekker gelag al was sy siek. Dis maar hoe ons gelewe het. ’n Mens moet kan lag. Ook vir jouself. Man, wat sal dit nou in ieder geval help om soos ’n suurknol deur die lewe te gaan.” (Die Voorligter, Desember 1995/Januarie 1996)

“My verhouding met God is vir my ’n basiese verhouding in my lewe. Ek kan nie daarsonder nie.” (Die Voorligter, Desember 1995/Januarie 1996)

Die invloed van die koerantwese op sy lewe: “Daar word so dikwels neergesien op koerantmense omdat hulle ligsinnig of onsensitief sou wees. Vir my het die koerantlewe net meer sensitief gemaak. Dit het my skerp gemaak. Vir my skryfwerk het dit geweldig baie beteken, dit het my styl gevorm. Koeranttaal is sonder allerhande tierlantyntjies. Jy skryf duidelik en op die man af.” (Die Voorligter, Desember 1995/Januarie 1996)

“Dis nie verpletterend as jy besef jy’s sewentig nie; dis net as jy begin terugdink.” (Die Burger, 27 November 1986)

“Ek sou graag ’n groot skrywer wou wees; nou sê die mense ek is ’n bekende skrywer.” (Die Burger, 27 November 1986)

“Ons gesels graag in hierdie wêreld. Met ons gesels word sprokies, stories en legendes, die ou-ou juwele, uit die kis gehaal, opgevryf en rondgegee sodat dit lewend bly.” (In Werfjoernaal) (Volksblad, 30 September 2010)

“Dié land (waar die plaas Constantia geleë was) is soos ’n moeder met ’n groot huisgesin en min geld. Sy gee nooit alles tegelyk nie. Daarom is hier by ons so selde oordaad.” (In Werfjoernaal) (Volksblad, 30 September 2010)

“Ons lag vir droogtes, vir ellende, vir teenspoed. Ons lag vir die wêreld, vir onsself en vir mekaar. Partykeer lag ons eintlik van seerkry, maar wat lag is ons.”

“Wie kan ook eensaam of verveeld wees as jy elke dag houtkapper se kaskenades kan dophou of teen dagbreek hoor hoe kokkewiet roep?”

“Grant that no wealth of possession, or learning of mind or pride of soul, may take away our taste for lowly things, or make the song of a bird, or the friendship of a child, or humble fireside fellowship, merely boring and dull. Amid all the distractions of this complicated modern life of ours, keep our hearts childlike and simple.” (Uit sy credo) (Beeld, 10 Julie 1997)

Theunis Engelbrecht skryf dat FA Venter se heel laaste boek só eindig: “Daarom vra ek net genade, lydsaamheid. En die eenvoud van my credo (’n gebed van Leslie Weatherhead). As dít my gegun word, voel ek gevrywaar teen die besoekinge wat die lewe nog mag inhou. Ek het baie verloor – die kosbaarste. Maar ek het ook geleer om te verduur. Te aanvaar. Tevrede te wees. Anders sou dit ondraaglik wees.” (Beeld, 10 Julie 1997)

Oor sy verswakte regterarm: “Hy is so skelm dat hy bars. Hy het gemaak dat die linkerarm baie dinge aangeleer het wat hy nooit tevore gedoen het nie. So stilweg lyk dit my hy wil van ’n regs mens ’n links mens maak.”

Sy geloof: “Ek het begryp dat Hy die hele tyd dáár was, iewers onder die groot storting wat my getref het.”

Oor die moeilike verwerking van sy vrou se heengaan: “Die verlies van haar gemeensaamheid van meer as vyftig jaar ... Beskermende arms ... Van die Saterdag tot die volgende Donderdag, toe die roudiens gehou is, het ek deur hellevuur gegaan. My kinders het gekom en hul arms beskermend om my gehou. Maar nadat elkeen weer sy gang gegaan het, het die tier van verdriet my ingewag. Om my stukkend te maak.”

Sy rekenskap: “Só lyk 'n man dan wat deur die beroerte en verdriet geknou is.”

In 1970 nadat hy en sy vrou na Vredendal verhuis het: “As jy eenmaal geboer het, bly dit in jou bloed. Ek het nie geweet hoe waar dit is voordat ek dit self beproef het nie. Ek bly hunker na die grond en hier langs die Olifantsrivier gaan ek nou wynboer word.” (Dagbreek en Landstem, 7 Junie 1970)

“Om net van skryf te leef, is nie maklik nie en ’n mens word naderhand gedwing om te veel te skryf wat nie goed is vir jou skryfwerk nie.” (Dagbreek en Landstem, 7 Junie 1970)

“Dit was in die tyd op Stellenbosch dat my oë, my woorde en gewete sterker geslyp is. Ek het my al hoe meer vereenselwig met die enkeling se stryd en al hoe minder erg gehad aan die pretensie van die stad. Verbetenheid het deel van my daaglikse bestaan geword. Verbetenheid, en ’n hunkering na die wêreld waar ek vandaan kom.” (Dagbreek en Landstem, 7 Junie 1970)

“Ek glo nie ’n skrywer moet so intellektueel in sy werk wees dat hy net vir ’n paar akademici toeganklik is nie. Ek glo elke ernstige skrywer moet oor sy volk en vir sy volk skryf sodat hy ten minste verstaan kan word.” (Die Transvaler, 28 Junie 1984)

“Ek dink nie dit is nodig om gekruide taal te gebruik om ’n boek te laat slaag nie. Ons Boeretaal, voel ek, het ’n sêvermoë en ’n frisheid as hy reg gebruik word wat nie tekort sal skiet as jy iets het om te sê nie.” (Die Transvaler, 28 Junie 1984)

Gebore en getoë

Frans Alwyn Venter is op 27 November 1916 op Hopetown in die Noord-Kaap gebore, en het in die distrik Strydenburg grootgeword. Hy was die oudste en enigste seun van Herman en Nellie Venter van Botterkraal in die Beervlei van Britstown.

Frans Venter kon onthou hoe sy oupa in die Karooveld op sy klarinet “Duintjies” gespeel het, het hy in Kambro-kind geskryf. As gevolg van die vreeslike droogte van 1927 moes sy pa-hulle die lammetjies vat en trek en het hy ook help swak lammetjies dra. “As klein Karoo-seuntjie het ek ’n driedoringpyp gerook en ’n bladsak van haasvel wat hul ou skaapwagter gemaak het, gedra.”

Frans Venter het aan Marina Petersen (Sarie, 14 Desember 1988) van sy herinnering aan sy oupa Jan van Hopetown vertel: “In die dae van die donkiekar en die kosmandjie het ons dikwels vir oupa Jan en ouma Nellie op Hopetown gaan kuier. Ma-hulle het altyd vir my op die agterste bankie bed gemaak. Maar ek het nooit geslaap nie.

“Ek het geluister hoe Ma en Pa die tyd omgesels en na die suising van die ysterwiele op die grondpad. En veral gedroom van Oupa se druiweprieel wat soos ’n groen tonnel deur die hitte geloop het met die groot kristaltrosse in die koelte. Gedroom van sy rooiwangperskes en suikersoet vye.

“Ons het gewoonlik laatmiddag van die huis af gery. Halfpad het ons uitgespan, en onderweg onder die groot kareebome onderkant Gammakolk se bult koffie gemaak. ’n Ruk ná sonuit het ons by Ouma en Oupa se platdakhuis stilgehou.

“Nog vóór Pa en Oupa klaar uitgespan het, was ek by Oupa se prieel. Maar ek het aan niks geraak nie. Net gekyk. Want Oupa het niémand toegelaat om van sy druiwe te pluk nie. Op sy goeie tyd het hy dan gekom, my aan die hand geneem en gesê ek kan vir my ’n tros uitsoek. Hy het dit stadig en versigtig afgesny asof hy bang was sy druiwestok kry seer as hy daaraan sny. Want Oupa was lief vir sy tuin. Hy het sy oudag meestal daar deurgebring – op sy veldstoeltjie – om te lees, of net te sit, of om die voëls te verwilder.”

Frans Venter het op Karooplase met die name Botterkraal en Vioolkraal grootgeword en het sy skoolloopbaan op Botterkraal begin met ’n goewernante, Miss Eagleton. Toe is hy na Kalkkraal, die plaas van sy grootvader. Op Kalkkraal het Frans by tant Johanna en oom Jannie en hulle kinders Renier, Isak en klein Johanna gebly.

Volgens die bepalings van sy oupa se testament moes Botterkraal na sy dood verkoop word. Die gevolg was ’n groot verskuiwing na Nuwejaarskraal. Frans het in Kambro-kind geskryf dat hy eensaam was op Nuwejaarskraal, “want Nuwejaarskraal was ’n eensame plaas, opsy in sy kom, weg van die paaie af. Daar was ook nie bruin of swart kinders nie, want ons was ’n lang tyd sonder hulp. Die bruinman wat ons help trek het van Botterkraal af, het geloop omdat hy gehoor het dit spook op Nuwejaarskraal. Dit was net ek, Pa en Ma.”

Toe is die jong Frans na Lanquedoc op Vioolkraal tot standerd vier het hy verder vertel (Kambro-kind). “Selfs nadat Pa en Ma my op Vioolkraal in die skool gesit het, het ek eensaam gebly. Dit was ’n baie groter skool as die een op Kalkkraal, want sover ek kan onthou, was daar sowat twintig kinders. Maar ek was ’n inkennige en beskroomde mannetjie en ek het onseker en ontuis tussen al die vreemde kinders gevoel.”

Frans kon hulle ou grammofoon met sy slinger baie goed onthou. “Dié ou wêreldse ding was so maklik om te speel en so lekker om na te luister, dit het die tyd waarin ’n mens kon eensaam raak so maklik laat verbygaan (...). Ma het ons plate op ’n dag uitgepak, Pa het die ingewande van die grammofoon geolie en ek het begin speel: ‘Red River Valley’, ‘The skater’s waltz’, ‘Memories’ ...

“‘Speel dan vir my ‘Silver threads among the gold’,” sal Ma dan vra. Of so nie wil Ma ‘My Rosemary’ hoor. Wanneer ek vir haar iets moet speel, sing sy saam, want Ma het graag gesing. Daar was egter niemand met wie sy kon saamsing nie, behalwe die ou grammofoon. Wanneer sy en haar suster bymekaargekom het, het hulle saamgesing, al was hulle ook net twee bymekaar. In die ou dae was die Koortse-susters bekend daarvoor dat hulle so mooi kon sing, maar nou was Ma alleen hier op Nuwejaarskraal.

“Ek het dan maar vir Ma gespeel sodat sy kon sing en terugdink aan die ou dae, en terwyl ek gespeel het, het ek op een been by die eetkamertafel gestaan en kyk hoe die wit hondjie op die plate, met sy kop voor die tuit van die grammofoon, al in die rondte draai en kamma luister hoe sy baas sing. Ek het dit geniet, en gemymer oor ver dinge wat verby was.

“Wanneer Ma lus was om treurig te word, het sy graag geluister na Galli-Curci of Caruso, maar vir my was ‘The sinking of the Titanic’ die mooiste. Ek het my oor vlak voor die tuit gehou om te luister na die nagemaakte gehuil, geskreeu en gekerm van verskrikte mense en die gefluit van die yswind. Wanneer hulle ‘Abide with me’ gesing het, net voordat die skip sink, het ek ’n knop in my keel gekry. Wanneer dit klaar was, het ek sommer die grammofoon toegemaak en na die fontein toe geloop waar dit stil en warm was en waar die platannas in die slykwater gedryf en die lemoenduiwe in die blinkblaar gekoer het.”

Die jong Frans kon ure na sy ma se oorlogsboeke kyk. Hy was gefassineer deur die skepe wat sink, die mense wat met bajonette baklei en die perde wat skoon verwilderd tussen bomme wat bars, probeer vleg en dan met die kanonwaens in die modder vasval.

“Pragtig! Ek wou met mening soldaat word. (...) Die Duitsers was vir my so mooi met hul helms met die skerp penne bo-op, en die Skotte met hulle rokkies, maar die mooiste was die Coldstream Guards. Vir hulle móés ek namaak. Ek het stilletjies my fluit gevat wat oupa Frans my nog gegee het, my hoed onderstebo getoon sodat dit na ’n pet gelyk het, en die veld ingemarsjeer met die hanslam en Vrystaat en Flaai, ons twee rooi windhonde, agterna. Ek het my voete hoog opgetel soos ’n regte soldaat, regop gestap asof ek ’n laaistok ingesluk het en op my fluit gespeel dat die wêreld antwoord gee.”

Van standerd vyf af is hy na die middelbare skool op Strydenburg. Hy het graag vertel dat die bitsige kweperlat van die plaasskoolonderwysers hom só aangespoor het dat hy sommer standerd ses (graad agt) “gespring” het. “Toe die standerd sesse hul eksamens skryf, was daar twee vraestelle oor. Die onderwyser het die vraestelle vir my en Faan Badenhorst gegee om te skryf. Ek het 92% gekry en Faan 90%. Toe sit hulle ons oor.”

Toe het die droogte weer gekom en moes die gesin trek. Hulle het gemeen om na Namibië te gaan, maar hulle is nie daar toegelaat nie. Vandaar is hulle na Kakamas waar hulle ’n rukkie by ’n oom Muller gebly het. Maar die droogte het hulle na die Kalahari gedwing waar Dawid Kriel hulle weireg vir hulle kudde vee wat heelwat kleiner was, gegee het.

Die droogte is uiteindelik gebreek en hulle is huis toe deur ’n sopnat wêreld met die Grootrivier wat bykans sy walle oorstroom het. Ná ’n jaar het die Venter-gesin terug by die huis gekom, maar Nuwejaarskraal is verkoop en die gesin moes na Breekkierie trek waar Frans se pa as deelsaaier gewerk het.

Frans het verder vertel dat hy na die Hoërskool Hopetown is. Daar was die skoolhoof ’n “verwoestende man”. Frans het hier egter geleer om hard te werk en waar te neem. ’n Oudonderwyser het later vir hom vertel dat hy hom 8/10 vir ’n opstel gegee het, hoewel dit ’n 10/10 werd was. Dit was egter net nie gedoen om ’n kind volpunte vir ’n opstel te gee nie!

In Kambro-kind vertel hy dat hy agterna vir meneer Bekkies gevra het hoe hy moet leer as hy ’n skrywer wil word.

“‘’n Skrywer?’ het meneer Bekkies gevra ...

“‘Soos Sangiro, Meneer,’ het ek gesê. ‘Uit oerwoud en vlakte is vir my só mooi.’

“Hy het my vreemd aangekyk en agterna was ek seker hy het gemeen ek is ’n bietjie voor op die wa.”

Maar “Meneer sê toe ek moet tale leer en sielkunde. Daarom sê ek toe vir Ma ek voel my geroepe om tale te leer ... ook geskiedenis – en sielkunde, want ek wil weet hoe werk ’n mens se siel.”

Hy het toe op skool ’n boek probeer skryf na aanleiding van Uit oerwoud en vlakte (soos deur homself vertel aan Die Patriot, 25–31 Julie 1997). Die karakters was akkedisse, meerkatte, skilpaaie ensovoorts, maar hy kon nie ’n uitgewer kry nie. Die Landbou-weekblad het ’n verhaal aangeneem en hulle het hom een pond sewentien sjielings en ses pennies betaal. Hy het vertel dat die gort toe gaar was: “Ek sou skryf.”

Hy het gedink die kuns om ’n verhaal te vertel het hy by sy vader geleer: “Hy was ’n storieverteller duisend. Uit die Vryheidsoorlog, uit die Rebellie, uit die boerelewe – oral vandaan het hy stories gehaal. My moeder was ’n goewernante en baie lief vir boeke. Van haar het ek my liefde vir boeke gekry. Voorgeskrewe boeke het my kosbaarste besittings geword.”

Frans het van kleins af ’n liefde vir geskiedenis gehad. “Dis iets wat my maar net altyd vasgevat het. Ek het veral gevoel dat daar nog nie omvattend oor die Groot Trek geskryf is nie. Dit was vir my ’n ideaal om dié gebeure in ons land se geskiedenis te boekstaaf.”

Die feit dat hy op die platteland grootgeword het, het ongetwyfeld ’n groot bydrae gelewer tot sy liefde vir vaderlandsgeskiedenis. “As ’n mens op die platteland grootword, vervul die groot wêreldgebeure jou met erwondering en angs. Alles wat daar buite gebeur, is vir jou so uiters belangrik. Dit is aangrypend.” (Uit: Kambro-kind)

In die Uniale Taaleksamen het Frans tweede in die Unie gekom en in die geskiedenis-eksamen vierde. Hy het in 1934 aan die Hoërskool Hopetown in die eerste klas gematrikuleer.

In Kambro-kind het Frans geskryf dat hy meen Hopetown het hom laat verander. “Ek het Matriek geskryf, die bankbestuurder se dogter het sin in my, hier sit ek (in die trein op pad terug Hopetown toe) en rook ek ’n sigaret en ek is tog nie meer lus vir donkies en perde nie. Soos ’n mens uit jou skoene groei, so groei jy uit donkies en perde en swaarkry (...)

“In die vaalheid lê Draghoender met sy peperboom, stasietjie, winkeltjie en hotelletjie. My moed sak sommer. Daar staan motorkarre voor die winkeltjie. Miskien ... Ek sien Pa voor die stasietjie. Hy is langer as die ander wat daar wag. Toe gewaar ek die bokkie en vier donkies agter die stasie. Likkewaan en Jafta, Swartbooi en Grysbok. Dit is ons bokkiekar. Al verskil is dat hy nie meer ysterwiele het nie; hy het nou motorwiele.”

Hy het boeke vanaf Hopetown saamgebring wat hy nie kon laat agterbly nie: Chambers’s Twentieth Century Dictionary, Uit oerwoud en vlakteEothenHans die SkipperBarlasch of the Guard en nog ander. “Ek móés hulle saambring, want hulle behoort ook tot my nuwe wêreld. Hulle sal saam met my dié afgeleë eensaamheid binnegaan waaraan ek nog nie gewoond is nie. Wanneer die westewind my hartseer waai, sal ek in hulle lees en dit sal my hart warm hou.”

Verdere studie en werk

Ná sy skooljare is Frans na die Universiteit Stellenbosch, waar hy BA gaan studeer het. Hy en ’n maat is per donkiekar en trein na Stellenbosch, “bakermat van geleerdheid”, het hy aan Elmari Rautenbach vertel. (Beeld, 10 April 1989) “Toe hulle ná die lang pad daar aankom, was hulle padkos al sleg. Maar dit het nie saak gemaak nie.

“Stellenbosch was vir hom as ’n student amper té groot: die universiteit, die bome, die oorvloed water het vir hom só ryk en deftig gelyk. Tog het hy aangebly.”

Op Stellenbosch het hy in die redaksie van Die Stellenbosse Student gedien saam met tydgenote soos Ernst van Heerden, Audrey Blignault, WA de Klerk en F O’Brien Geldenhuys. “Die skrywery vir die Maties het juis daartoe gelei dat ek een etenstyd by ’n dameskoshuis, McDonald-huis, bygedam is deur ’n klomp meisies. Ek moes ’n prikkelende artikel skryf oor Stellenbosch se dames en borduur toe té prikkelend oor hul ‘dooilikheid’, gedrag en manier van aantrek. My kys en haar vriendinne het hiervan niks gehou nie en ek is lelik geborsel,” het hy aan Lillian Hudson-Erwee vertel.

Dit was die swaarkry en droogte van die dertigerjare wat veroorsaak het dat sy ouers, wat boeremense was, hom in 1938 nie meer vir die voltooiing van sy MA op Stellenbosch kon hou nie.

Van Stellenbosch af is hy in 1938 reguit in die maalstroom van die koerantlewe in. As redaksielid van die ou Suiderstem het hy saam met veterane soos Abraham Jonker en EB Grosskopf in Kaapstad gewerk. Gedurende die oorlogsjare is hy na Pretoria waar hy redaksielid van Die Volkstem geword het. Hy is later terug na Kaapstad as parlementêre korrespondent saam met Schalk Pienaar en het die skeuring tussen Hertzog en Smuts meegemaak.

Hy het vertel dat sy werk as joernalis sy vermoë om te skryf verder ingeskerp het. “Hulle leer jou op ’n koerant om eenvoudige, duidelike Afrikaans te skryf en hulle leer jou die mens ken. Nêrens leer jy die mens ken, in al sy ingewikkeldhede, soos op ’n koerant nie.” (Die Patriot, 25–31 Julie 1997)

Gedurende sy tyd by Suiderstem het hy Eenderse morge en Die gebondenes, sy kortverhale, geskryf. Dit was die enigste bundels kortverhale wat hy geskryf het en GdW (Suiderstem, 4 September 1949) het gemeen dat dit nie groot kuns genoem kan word nie, “maar hierdie verhale lê meer van die lewe bloot en verskerp meer die gevoel, maar vir sommiges mag dit dalk te veel wees. Tog skuil daar onteenseglike skoonheid in Die gebondenes en is dit ’n groot aanwins vir Afrikaans.”

In 1941 is Frans vir ’n kort tyd na Pretoria, waar hy vir Die Volkstem gaan werk het. Daar het hy by die lessenaar van generaal Piet Joubert gesit. Gustav Preller was onder andere redakteur van Die Volkstem. Dit was maar ’n gesukkel tussen Frans en die Nederlandse setters wat geglo het ’n “woord word só gespel en nie só nie”.

Terwyl hy by Die Volkstem gewerk het, het hy in 1941 afgevat om met Stella Muller van Fraserburg in die Karoo te gaan trou. Sy was “die nooi oor die straat” wat Frans in 1939 elke dag met etenstyd by haar werkplek in Burgstraat in Kaapstad sien uitkom het en later, toe hy vreeslik verlief was, deur ’n gesamentlike vriendin ontmoet het. (Sarie, 24 Mei 1995)

Die egpaar was skaars getroud, toe is hulle terug Kaap toe – vir tien pond meer by dieselfde koerant (Suiderstem) wat hom dit nie wou betaal het voordat hy na Die Volkstem toe is nie. Frans en Stella se eerste blyplek was ’n losieshuis in die Tuine in Kaapstad. Hulle eersteling, Herman, is in hierdie tyd met ’n nierkwaal gebore en die gesukkel met hom het Frans vir die eerste keer laat kennis neem van sy vrou se “onverwoesbare” geduld. As jong moeder het sy die kleintjie per bus na ’n kliniek in Claremont geneem en hom kilometers ver gedra sonder om ooit te kla. (En later, in Suidwes-Afrika (Namibië), het Stella vrou-alleen met die trein Kaap toe gery om een van Herman se niere te laat verwyder.) (Sarie, 24 Mei 1995)

In 1946 is die gesin na Windhoek in Suidwes-Afrika, waar Frans as redakteur van Die Suidwes-Afrikaner aangestel is. “Dit was feitlik nog ’n pioniersland met die naklanke van die oorlog nog vars. Afrikaners, Duitsers en Engelssprekendes het teen mekaar geskuur. Ek het Swart pelgrim daar geskryf.” (Die Patriot, 25–31 Julie 1997)

Die geskiedenis van die publikasie van Swart pelgrim is interessant. Frans had nogal ’n noue verbintenis met wyle JD Pretorius, voormalige hoof van Tafelberg Uitgewers. Winie Schumann (Rapport, 15 Desember 1974) het ’n insiggewende onderhoud met JD Pretorius gehad, met feite wat opgediep is wat ’n mens nie in Kannemeyer se Literatuurgeskiedenis aantref nie. Pretorius het die komplekse geskiedenis van Venter se Die Swart Pelgrim aan haar verduidelik: “Swart Pelgrim het die eerste keer verskyn in 1951 in die Goeie Hoop-Uitgewers se Boek-van-die-Maand-reeks in ’n oplaag van seker so 3 000. Dit was ook vir Nasionale Boekhandel aangebied, maar hulle het dit afgekeur. Toe, in 1957 rond, vra ek vir Frans: As ek nou die regte op daardie boek kan kry, sal hy weer daaraan werk? Want die boek het duidelike swakhede gehad, nè? En hy sê toe met groot plesier sal hy dit doen.

“Ek vra toe vir Blaar Coetzee-hulle: as ek die onverkoopte oplaag van daardie boeke koop by hulle, sal hulle die regte daarop aan my oordra? Hulle sê: Met groot plesier. Toe moes ek ’n sjieling of twee sjielings per eksemplaar betaal, in elk geval, ’n belaglike prysie. Maar toe is daar feitlik nog 1 700 van die oplaag van 3 000 oor. Nou moet ek dit eers verkoop kry voordat ek kan dink aan her-uitgee.

“Intussen sê ek vir Frans hy moet nou asseblief werk aan daai boek, hy moet hom dokter dat hy ordentlike literatuur word, want hy het dit in hom, nè, om dit te wees. En ou Frans, hy werk aan hom. Hy’t toe op Constantia by Vanwyksvlei geboer, hy werk aan hom, en terwyl hy aan hom werk, werk ek aan die 1 700 onverkoopte eksemplare. Al mense waaraan ek dit toe kon verkoop, was opleidingskolleges. Kyk, hulle hoef nie boeke wat deur onderwysdepartemente voorgeskryf is, te koop nie. Die dosente lees self ’n boek en skryf dit voor as dit die moeite werd is. Ek het hulle persoonlik gaan besoek. Hy was binne ’n jaar of twee heel uitverkoop.

“En toe is die nuwe uitgawe ook al op die pers. Die nuwe oplaag was seker so 2 000. Maar toe kry hy dadelik vaart en hy’t sommer so uitverkoop en toe’s hy later op skool voorgeskryf. Dis toe ’n skooluitgawe – nes Van Wyk Louw se Raka. Louw moes van Raka ’n skooluitgawe maak, iets wat hom so gehinder het. Swart Pelgrim loop nou nog.” In 1983 het die skooluitgawe vir die eerste maal as sagteband verskyn en dit is reeds in die derde sagtebanddruk. Die bemarkingsafdeling van Tafelberg het bereken dat in 1986 daar al minstens 175 000 eksemplare van Swart Pelgrim die wêreld ingestuur is.

Swart pelgrim is in 1952 deur twee bekende Afrikaanse uitgewers afgekeur omdat dit “té liberaal” sou gewees het. En dit het Venter as een van die groot faux pas in die Suid-Afrikaanse uitgewerswêreld beskou.

Frans het ’n bietjie meer uitgebrei teenoor Rykie van Reenen oor Swart pelgrim: “Eintlik is die omstandighede soos beskryf in Pelgrimvandag (1959) al weer aansienlik verouderd. Die Blikkiesdorp-dae is byvoorbeeld verby. Daardie toestande aan die Rand is aan die verdwyn. ’n Roman wat ’n mens in dié land waarlik nog moet skryf, is dié wat uitbeeld watter ontsettende omwenteling in die lewe van ons nieblanke bevolking gekom het.

“’n Mens moet natuurlik strewe om die hele ding gebalanseerd te sien. Daar is ’n baie diepe tragiek in die hele situasie, maar ’n mens moet so versigtig wees dat dit nie met jou op loop sit nie, want dan word jou werk natuurlik dadelik oppervlakkig. As ’n mens te hard praat, gaan die hele ding verlore.”

Swart pelgrim was Frans se eerste teks waarmee hy die aandag getrek het. Die roman oor die Xhosa Kolisile se traumatiese verplasing van die platteland na die stad is deur geslagte skoolkinders gelees en bestudeer lank voordat daar van regstellende aksie sprake was, skryf Leana Lategan. Want vir FA Venter, met sy verskerpte sintuig vir saam-leef met mense, is die “ander” nie ’n vreemde benaming nie.

In Ons Eie Boek (1953) het Abraham Jonker geskryf dat Venter in Swart pelgrim ’n oorweldigende tema aangepak het, en dat hy, soos dit die kunstenaar betaam, nie probeer het om oplossings te vind nie, maar hom daarmee vergenoeg het om die probleem duidelik en in regte perspektief te stel.

“In die verhaal sien ons hoe Kolisile sy ou vader, sy vrou en kinders en sy broer se vrou en kinders in die reservaat verlaat om werk en geld in die stad te gaan soek, waar sy broer weggeraak het. Hy is vas van voorneme om eendag terug te gaan om met die geld wat hy verdien het, sy grond te verbeter. Hierop volg dan wat met Kolisile in die Goudstad gebeur. Dit is ’n aangrypende verhaal wat as waar en oorweldigend in sy probleemstelling aandoen. Frans Venter het vir hom met hierdie boek en die grootsheid van die tema ’n plek losgeskryf onder die voorstes van ons moderne Afrikaanse prosa-skrywers en hy het ons roman, waaroor daar so gekla is, flink omhoog gestoot.”

In Die Huisgenoot van 27 Februarie 1953 het Gerhard Beukes geskryf dat Swart pelgrim ’n roman is wat die moeite loon om te lees, “al bring dit geen nuwe, verhelderende gesigspunte in die verhouding tussen wit en swart na vore nie. Sy grootste verdienste lê daarin dat dit sonder veroordeling of vooroordeel die reaksies en die mentaliteit van die stamnaturel [sic] wanneer hy met die onbegrepe witmensbeskawing en die revolusionêre elemente onder sy eie ras in aanraking kom, probeer uitbeeld.

“’n Oplossing bied hy nie aan nie – dis trouens ook nie sy taak nie – maar nes Mikro vra hy ’n beter begrip van hulle ‘wat pelgrims saam met ons na dieselfde oord is’. Maar ten spyte van ’n moedige poging, waarvoor ’n mens waardering het, het Swart pelgrim nog nie die openbarende roman geword van die losgerukte naturellelewe nie.”

Swart pelgrim is in 1959 deur Gerald en Walter Gordon in Engels vertaal en is deur Collins in Engeland uitgegee. Die hoof van Collins het aan JD Pretorius van Tafelberg geskryf: “I had some very exciting news last week, Twentieth Century Fox had a very good report om the mss and another person in their firm has asked to see it. The Readers Digest London office has also read the proofs and are very impressed with it and have sent a very good report to New York. One must not count on anything … but it is very encouraging.”

Swart pelgrim het ook in 1959 in Nederlands verskyn as aktuele roman van die jaar in Bosch en Keuning se jaarlikse De Dagen Onze Jaren, ’n omnibus met ’n oorsig in beeld van die belangrikste gebeurtenisse van die jaar.

Freddie Philander het in 1982 Swart pelgrim in Engels vertaal en vir die verhoog verwerk. Die Windhoek-spelers het dit in die Markteater opgevoer. Oor hierdie verwerking was Frans hoog in sy skik. In ’n brief aan Philander het hy geskryf: “Om ’n roman in ’n bruikbare drama om te skep, verg kennis, vakmanskap en ’n fyn aanvoeling. Daarom is dit vir my as skrywer verblydend dat daarin geslaag is met die verwerking, om die drama, die emosies, die karakters en die algemene strekking van dié roman so raak te vat.”

Frans het deur die koerantwese met ’n ander bril na die wêreld begin kyk. “Jy leer ken mense soos hulle regtig is. Jy kom agter die ware mens in. Jy leer mense afskil tot op die kern. Maar dit leer jou ook om eerlik te lewe.”

Hy het egter besef dat sy ambisie as joernalis besig is om “teen Suidwes se duine” dood te loop en in 1952 het hy ’n politieke skuif gemaak Johannesburg toe, as hoof van inligting vir die Verenigde Party. Dokters- en apteekrekeninge het hulle teen hierdie tyd só platsak gehad dat hulle nie eers ordentlike sitgoed vir hul woonstel in Hillbrow kon bekostig het nie. Nog minder ’n yskas in die plek van hulle “cooler” onder die doringboom in Suidwes.

Gedurende hierdie tyd het Die drosters (1952) en Die tollenaar (1955) verskyn. Oor Die drosters het Gerhard Beukes (Huisgenoot, 19 Junie 1953) geskryf dat dit een van die beste ontspanningsverhale was wat daardie tyd in Afrikaans verskyn het. “Die inhoud is pakkend en die taal en styl veel beter as die gehalte waaraan ’n mens in sulke leesstof gewoond geraak het. Dis ’n avontuurverhaal wat afgespeel het tydens ’n denkbeeldige derde wêreldoorlog tussen die Bolsjewieke en die Weste. Venter is ’n verbeeldingryke en kundige skrywer wat nie net weet hoe om sy lesers met snel-wisselende tonele en gebeurtenisse te boei nie, maar ook om sy stof só aan te bied dat hulle aan die einde iets meer bly onthou as net die grusame oorlogstonele en die avontuurlike ontsnappingspogings.”

EM Tredoux was die resensent van Die tollenaar in Sarie Marais (22 Februarie 1956). Sy het haar bespreking só begin: “Wat dit altyd regverdig om ’n nuwe boek van Frans Venter met belangstelling oop te maak, is ’n gewaarwording van heimlike, innerlike lewe, wat maar ten dele gesinchroniseer is met die duidelik afgemerkte gebeurtenisse op die gewone vlak. Daar huiwer meer tussen mense as wat in kale feite plaasvind. Sy taal kan hy laai met ’n besonderse (by tye darem melodramatiese) suggestiwiteit. (…)

“’n Skrywer met hierdie gawes wat vir sy sentrale figuur kies ’n man met tering – ’n briljante sjirurg wat sy lewe opmors en dan eers weer deur dié siekte tot ’n nuwe vergelyk met die lewe gedwing word – van so ’n skrywer kan ’n mens ’n boek bo die gemiddelde verwag. (…)

Die tollenaar klop nog maar aan die poorte van ’n werk soos Der Zauberberg (The magic mountain) van Thomas Mann, duiselend suiwer soos daardie dun droë genesende berglug. Maar die Afrikaanse boek is in elk geval een wat ongewoon van tema is, en taalgebruik met ’n gevoeligheid vir die medium.”

Ná die verkiesing van 1953 het Frans geweet hy sou ’n keuse moes maak – die politiek of sy skryfwerk. Hy het toe al twee verkiesings verloor, een in Namibië as kandidaat van die Verenigde Nasionale Suidwes-party en een in 1953 in Kemptonpark aan die Witwatersrand. “Ek was maar goddank bly toe ek uitval, want handskud met ou mense en babatjies soen om die mense te beïndruk, is nie my soort lewe nie.”

Hy het besluit om te skryf en was ryp om Blaar Coetzee, destydse eienaar van Tafelberg Uitgewers, se uitnodiging te aanvaar om vir hom te gaan werk. Charles Fryer skryf in Sarie van 24 Mei 1995 dat Blaar van Frans ’n Afrikaanse Somerset Maugham sou maak. Frans het self gesê: “Net daar val die lot toe. Ek het besluit ek wil skrywer word; tot siens politiek.”

Hy het by Blaar Coetzee se tydskrifte, waaronder Fyngoud, gewerk en die soort verhale geskryf wat jou “hare orent laat staan”.

In 1957 het Man van Ciréne verskyn, wat onder andere in Engels, Duits, Nederlands, Noorweegs en Spaans vertaal is. Om den brode het Frans ook ligte werk gelewer: twee slapbandboeke per maand, kortverhale en vervolgverhale. Onder skuilname soos Meiring Fouché en René Stegmann het hy liefdesverhale geskryf, asook titels in die Sahara-, Swerwer-speurder en Swart Luiperd-reeks.

“Stella se taak as beskermengel het toe in alle erns begin,” skryf Charles Fryer, “want ’n skryfwoede het haar man beetgepak. Hy het uiteindelik sowat sestig slapbandboeke geskryf, waarvan baie deur middel van ’n ‘praatmasjien’. Daar was glo tye dat hy van uitputting ingedut het terwyl hy gedikteer het, en as hy wakker word, praat hy nog steeds!”

Man van Ciréne het in 1991 ’n heruitgawe beleef; die roman is meer vaartbelyn gemaak, met ongeveer 100 bladsye minder as die oorspronklike 358. Danie Botha, destyds van Tafelberg Uitgewers, het die hersiening saam met Frans meegemaak. Toe Frans die hersiene manuskrip ingelewer het, was daar ’n briefie by: “Vader sy gedank! Ek skaam my dat ek op my dag só sleg geskryf het. Ek het my bes gedoen om herhaling, oorvleueling, oorbeklemtoning, sentimentaliteit, klaaglike mooiskrywery en filmiese styl so ver as moontlik uit te skakel. Die mense ‘kyk’ en ‘sien’ nie meer so baie nie. Stilisties staan die teks hopelik nou beter.” (Kerkbode, 9 November 1991)

Frans Venter het aan Rykie van Reenen in Die Burger vertel dat hy al lankal lus was om ’n Bybelroman te takel. Hy was net nie seker op watter karakter hy moes fokus nie. Hy het eers aan Ester gedink, toe aan Rut. Maar toe, een oggend tydens huisgodsdiens, het sy dogter, Elizabeth, hom gevra: “Pappie, maar hoekom moes hulle dan dié man dwing om Jesus se kruis te dra? Hy was dan self ’n Jood.” En dit was waar Man van Ciréne sy ontstaan gehad het.

AP Grové was die resensent van beide die 1957- én die 1991-uitgawe. Hy het in Huisgenoot (13 Desember 1957) geskryf: “Die romantiese verhaal, soos saamgestel uit historiese en biblistiese gegewens, oorleweringe en versinsels, kry as gevolg van sy raakpunte met die Skrif ’n buitengewone aktualiteit en aanvaarbaarheid. Hierteen is geen beswaar nie, mits ons maar insien dat dit die gevaar van dubbelsinnigheid inhou en interessanthede van hierdie soort geen deurslaggewende literêre kriteria kan wees nie. Geen roman kan hom vir sy geldigheid op Skrifwaarhede, of watter waarhede van buite ook al, beroep nie. (…)

“Om die wêreld van sy boek saam te stel, het Venter heelwat navorsing gedoen, sodat ons ’n interessante insig kry in die gees van die tyd waarin die verhaal afspeel. By die sterk storie-element is dit een van die verdienstes van die boek, en ’n mens aanvaar die skrywer se goeie reg om sy eie spekulasies te voeg by die tallose legendes wat rondom Bybelse figure gespin word. Dit is in orde, miskien selfs as Venter ons wil laat glo dat die Verbondsark in die tyd van Christus nog in die tempel te sien is. Die belangrike vraag in dié verband is net of al die kultuurhistoriese besonderhede altyd sinvol is. (…)

“Dis een van die redes waarom dié roman nie werklik ’n visie gee van ’n verbygegane tyd, soos ’n mens dit by Hugo, Flaubert of Vestdijk byvoorbeeld sal vind nie. (…) Vir hierdie tekortkoming is verskeie ander redes op te noem. In die eerste plek is daar die skrywer se onvermoë om uit te beeld. (…) Verder is die karakters veels te oppervlakkig geteken om bloeiend te wees. (…) Derdens: in sy strewe om ’n deurlopende verhaal te gee, ‘ontbrekende’ details aan die Bybelgegewens toe te voeg, vertraag die skrywer die gang van sake, vervaag hy dikwels meer as wat hy verhelder.”

Tot sover Grové se resensie van die 1957-uitgawe. In sy bespreking van die 1991-uitgawe in Insig (Julie 1991) kom hy tot dieselfde konklusie en het hy afgesluit: “Venter word wel aangegryp deur die geskiedenis, maar met sy kleinrealistiese benadering op baie plekke loop hy gevaar om sy leser uit te ruk uit daardie hewig-dramatiese wêreld wat hy met soveel inspanning en navorsing probeer skep. Dit was die geval in Die koning se wingerd; dis ook die geval in Man van Ciréne.”

Daar was ook ander sieninge oor Man van Ciréne. PC Schoonees het in Brandwag van 17 Januarie 1958 sy bespreking afgesluit: “Met die skildering van hierdie sieledrama het Venter groot hoogtes bereik. Hier toon hy sy krag, oortuig sy indringende beelding. Met Simon beleef ons die donker nag van ongeloof en twyfel, die koppige verset van die onherbore mens wat uiteindelik deur die reddende genade die lig van ’n nuwe dag sien. Hierdie bekeringsgeskiedenis is met die hart en nie met die verstand geskrywe nie. Ek sou nog op ander sterk tonele kan wys, maar ek het genoeg gesê om te bewys dat ons hier te doen het met ’n roman van uitsonderlike gehalte wat deur sy treffende boodskap baie lesers by ’n keerpunt in hulle lewe sal bring.”

Man van Ciréne is in 2017 weer deur Lux Verbi uitgegee en só het Phil van Schalkwyk sy resensie op LitNet afgesluit: “Uiteindelik is die aangewese benadering tot die lees van Man van Cirene dalk juis om dit as ’n soort Passiespel te bejeën. Hierdie roman is nie daarop gerig om nuwe insigte oor Jesus en die geloof te bring nie, maar is eerder ingestel op die bevestiging van sekerhede en die versterking van die geloof. Simon Niger is in hierdie verband verteenwoordigend van die leser: juis ook daardie leser wat skynbaar nie ‘kwalifiseer’ nie, is bestem om ’n volgeling van Jesus te wees. In Simon sien die Christen sy/haar eie pad van ongeloof na bekering, ook elke dag opnuut.

“Los van die Bybelse grootshede beskou, is Man van Ciréne egter nie ’n oortuigende roman nie. Ek kan my ook nie voorstel dat hierdie weergawe van die Bybelgebeure en die Christelike leer nuwe belangstelling sal wek by diegene wat ten opsigte daarvan oningewydes is nie.”

In 2019 is Man van Ciréne op die radiostasie RSG as middagvervolgverhaal uitgesaai. Dit is deur Eben Cruywagen vir die radio verwerk, Joanie Combrink was die regisseur met Cassi Lowers wat die tegniese aspekte behartig het.

In die agt jaar in Johannesburg het hy hom as skrywer gevestig en ná Man van Ciréne het hy met sy latere vierband-reeks oor die Groot Trek begin. Die sukses van Man van Ciréne het sy onvergenoegdheid met die tydskrif-skryfwerk op die spits gedryf.

Fryer het geskryf: “Hy het na rus en stilte verlang sodat hy op sy ernstiger skryfwerk kon konsentreer. En toe sy bejaarde vader in 1959 hom laat weet hy moet die plaas kom oorneem, was die besluit redelik maklik om te maak. Hy het besluit om Linden te verruil vir Vanwyksvlei, wat ’n geweldige aanpassing sou wees, veral vir Stella, wat gelukkig was in Johannesburg. Maar sy het hom die oop ruimtes van die Karoo gegun, al was sy bang dat sy inspirasie daar sou ‘opdroë’.”

Ook is sy plaasplanne aansienlik aangehelp deur sy skryfwerk wat hy om den brode gedoen het. Met die geld wat hy daaruit gemaak het, het hy altyd somme gemaak: soveel pond gedeel deur soveel beteken soveel hamels. “Dit was met die ouderdom saam wat ek teruggeroep gevoel het na die plaas. My pa het altyd gesê die plaas by Vanwyksvlei lê en wag.”

En so het Frans en Stella en die twee kinders in Januarie 1960 vanaf Johannesburg na Constantia tussen Vanwyksvlei en Kenhardt in die droë Noordweste verhuis – om te boer en te skryf. Hulle het daar beland midde-in ’n droogte “wat selfs die klippe laat bid”.

Venter het verder aan Charles Fryer vertel: “Daar het Stella kort voor lank soos ’n wafferse boervrou geknie, geslag en geskraap en het sy ook geleer om ’n afval te kook met ’n geur wat aards is, maar nie na kraal ruik nie. Maar die klimaat het nie met haar geakkordeer nie: die hitte het haar uitgemergel en haar weerstand teen siektes afgebreek. Sy het skaars herstel van die tering wat sy by die huishulp opgedoen het of sy kry Maltakoors van biltong uit Suidwes. Maar nooit het sy gekla om pad te gee nie, want die skryfkoors het Frans beetgepak. Geknelde landOfferland en Gelofteland is in die Karoo-stilte voltooi en so ook Werfjoernaal en Wit oemfaan.”

Hy het drie jaar lank intensief oor die Groot Trek gelees en soveel as 25 handboeke instudeer en volledige kantaantekeninge gemaak. “Toe word die meesterfeite gerangskik. Dit moes ’n menslike verhaal wees wat die geskiedenis van die Trekker-kant en Swartkant probeer sien, en wat die geweldige botsing in Afrika, dié tussen blank en nie-blank, aanskoulik maak. Ek wou veral die Voortrekkers as mense uitbeeld en mense is nie sonder foute nie; ek wou ’n geheelbeeld skep van wat voorheen met fragmentasies oor geskryf is.”

Frans het ook die nuus dat hy die Hertzogprys in 1961 vir Swart pelgrim en Geknelde land ontvang het, op die plaas per telefoon ontvang. “Oor die Hertzogprys het ek baie goed gevoel.”

FA Venter sal sekerlik veral onthou word vir hierdie vierluik van stories oor die voorgeskiedenis van die Groot Trek, die Trek self en daarna. Oor die eerste in die reeks, Geknelde land, het CW Hudson geskryf dat dit onteenseglik die beste historiese roman is wat nog in Afrikaans verskyn het. Geknelde land handel oor die boere aan die Oosgrens en hulle lotgevalle. Venter se gebruik van die taal-idioom van destyds, asook van die stoflike kultuur en die omgewing, is meesterlik. En hy blink uit in sy mensbeelding.

Oor die 2017-uitgawe skryf AJ Opperman op LitNet (14 Augustus 2017) as volg: “Dit is fassinerend om ’n storie te lees wat reeds byna ses dekades gelede geskryf is oor ’n tydperk meer as ’n 100 jaar tevore.

Die lees van ’n boek vandag wat lank gelede al staanplek op die boekrak gekry het, gee ’n duideliker beeld van hoe dit wás.

“Met die lees van Geknelde Land vandag is dit in twee opsigte so. Eerstens is dit die tyd toe die boek verskyn het. Dit maak die deur na die skrywer se eie raamwerk ook ’n bietjie oop.

“Tweedens leer ken jy tydperke en sekere gebiede van die 19de eeu in Suid-Afrika, en dit verleen ook ’n uitsig op hoe die wêreld gelyk het, en in die jaar 1834 maak die leser kennis met die Dreyer-gesin.

Rudolf Dreyer boer op die plaas Grensplaas. Die plaas en boerwees word beeldryk weergegee, byna digterlik. Die grond, die weer, die streek. Venter het nou maar net raak beskrywings wat nié as mooiskryf afgemaak moet word nie.

“Elke hoofstuk se eerste paragraaf kon eintlik die begin van die boek gewees het, want dit behou die aandag, so trek dit jou in. En lees Venter gerus vir ’n hernude woordeskat. Dis te verstane dat die skrywer (hy is in 1997 oorlede) ook ’n Hertzogpryswenner was. Hy het dit juis vir Geknelde Land tesame met ’n ander boek deur hom, Swart pelgrim, ontvang.

“Geknelde Land is ook ’n boeiende storie. Op Grensplaas word die take van boerwees vermag wanneer ’n onverwagte, ongewenste besoeker daar opdaag. Hy is ook nie ’n vreemdeling vir die Dreyers nie. Goliat Ysterbeek, ‘die fynste skelm aan die grens’, kom met nuus.

“Die jaar 1819 is lank verby, maar tog nie vergete nie, ‘toe die kommando’s voor die Amatolas deur die Xhosa-falankse gesens het’. Nou is ’n aanslag te wagte. Of die inwoners van die streek Goliat se storie en bedoelings kan glo, is hulle nie seker nie, maar die vuurseine op die berge is sigbaar. En nou het die Xhosas roers waarvoor hulle hul osse verruil het.

“Die beskrywing van die Oos-Kaapse platteland roep by my talle beelde op, aangesien dit my grootwordprovinsie is en baie van hierdie dorpe aan my bekend is.

“Terselfdertyd word die oopmaak van die geskiedenisboeke met Geknelde Land ook ’n taalkundige inspuiting, met woorde wat toe in gebruik was. Dan is daar natuurlik ook sommige woorde wat in onbruik verval het, en sommige woorde en benamings wat ’n mens nie wil noem nie.

“Met die koms van televisie het die Dreyer-gesin ook in sitkamers regoor Suid-Afrika besoek afgelê.

En dit sou stellig ook in hierdie medium goed kon werk omdat dit so ’n sterk storie is. Gewis ook ontstellend en baie goed wat ’n mens raak lees by monde van sommige karakters voel taamlik ongemaklik om vandag in te neem. Die woordkeuses van sommige karakters kan ’n mens seker nie van wegkom nie, maar dit krap aan menige mens vandag. Maar kyk verby dit. Want dit is ’n goeie, sterk verhaal dié, en op die koop toe besonder goed verwoord.”

In 1984 is Geknelde land tot ’n televisiereeks verwerk. Frans Venter self was baie in sy skik met die manier waarop die regisseur Henk Hugo die reeks aangepak het.

S Strydom het in Die Vaderland van 13 Desember 1963 geskryf dat daar aanvanklik net beplan was vir drie dele, maar daar was só baie materiaal dat daar besluit is om Offerland as tweede deel in te sluit. En waar die verhaal in Geknelde land nogal “onstuimig” was, het Offerland “stiller en breër verloop en het dit ’n sterker epiese karakter vertoon en meer diepte bereik,” aldus Strydom.

Hy het voortgeskryf: “Aan die einde van Geknelde land staan Rudolf Dreyer en sy gesin van Grensplaas op die wal van die Grootrivier met ’n nuwe wêreld voor hulle. Laat in die somer van 1836 was hulle saam met honderde ander op pad na vryheid. In Offerland beweeg die verhaal met die gesin na Blesberg (die huidige Thaba Nchu) waar hulle by die Trek aansluit. Die roman sluit af net ná die moord op Piet Retief. Hierdie is nie net die verhaal van die Dreyers nie, maar van die hele Trek.”

Volgens S Strydom in Die Vaderland (13 Desember 1963) is Offerland rustiger, “met die historiese gebeure wat makliker hanteer word en die vertelling wat vlotter is, maar dit mis die sterk sintuiglike aanskoulikheid van Geknelde land.”

Die derde roman, Gelofteland, strek vanaf die periode net na die Moord by Bloukrans tot by die oorwinning van Bloedrivier. Hierdie tydperk sluit dus figure soos Uys, Potgieter, Maritz en Pretorius in. Rudolf Dreyer bly die hoofkarakter en volgens AJ Coetzee (Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Junie 1968) word daar met weinig variasie voortgegaan met die beproewinge van Offerland. “Die karaktertekening volg dieselfde patroon, maar aangesien hierdie tydperk meer dramaties is, is die boek boeiender as Offerland en het die golwings van opstand en berusting by Rudolf met groter oortuiging gekom, hoewel die voorspelbaarheid van sy reaksies die leser gou kondisioneer. Die groot roman oor die Trekkers is nog nie geskryf nie en die werke van Venter sal slegs om die historiese gegewens daarin leesbaar wees.”

In sy resensie oor die finale deel van hierdie reeks, Bedoelde land, het FCL Bosman (Tydskrif vir Geesteswetenskappe, September/Desember 1969) geskryf dat Venter ’n historiese romanskrywer van formaat is. “Hy het ons in hierdie vier romans ’n grootse en aangrypende beeld van hierdie epiese gebeure in ons land se geskiedenis gegee. In Bedoelde land kry ons Rudolf Dreyer se verblyf in Natal, gevolg deur sy vertrek na die Overvaal en die verlies van sy laaste seun by Boomplaas. Rudolf Dreyer se lewe word die mikrokosmos van die hele Trekkergroep.”

Vir Anna van Zyl (Volksblad, 12 Desember 1968) het die geskiedenis in Bedoelde land nie roman geword nie. Daar is vir haar ’n paar hoogtepunte, maar die res gaan nie verder as die lees van geskiedenis nie.

Frans Venter het aan die joernalis van Dagbreek en Landstem (20 Oktober 1968) meer oor Bedoelde land vertel: “Ek het geprobeer om in hierdie boek ’n ekstra dimensie te gee aan die begrip vryheid. Ek het myself afgevra of dit nou genoeg is om net die mense se lyding en hul dapperheid te beskryf – wat is nou eintlik die betekenis agter die Groot Trek, soos verpersoonlik deur die hoofkarakter?

“En daar het ek die begrip probeer stel – die man het sy vryheid verloor, maar sy geloof in vryheid behou. Ek wou ook die verband tussen die historiese en die onderhawige verbeeld. Die Dreyer-gesin het gesoek na vryheid. Ons soek vandag ook na vryheid – net op ander terreine. En die hele begrip van vryheid, voel ek word die hele klimaks van die hele reeks en veral in dié boek (Bedoelde land).

“En op die end ook nog die begrip: dat die boek nie net die werklike uiteindelike betekenis van die Groot Trek behels nie, maar ook dat dit die deur na die toekoms toe oopstoot.”

Werfjoernaal word in 1965 gepubliseer en Elise Muller (Huisgenoot, 28 Januarie 1966) skryf daaroor: “Dit is net wat dit voorgee om te wees: ’n man bekyk die wêreld waarin hy hom bevind vanuit die hoek van sy plaaswerf. En in die onmeetlikheid van die Noordweste se afstande, sy afsondering en eensaamheid, is die werf ’n toevlug en ’n hawe soos dit nooit in ’n meer dig-bewoonde gebied kan wees nie. Dit is ’n boek met ’n besondere bekoring, ’n genoeglike nabetragting vir almal wat die Noordweste leer ken en liefgekry het, en ’n eersteklas bekendstelling vir dié vir wie hierdie groot lap aarde nog onbekende en onbeminde wêreld is.”

Frans het in 1965 teruggekeer na die jeugboek as genre met die publikasie van Wit oemfaan. Terwyl Frans besig was met navorsing oor die Groot Trek, het hy op die verhaal van die Voortrekkerseun Ferdinand Paulus van Gass afgekom wat oorspronklik deur Gustav Preller opgeteken is.

Wit oemfaan begin waar Paulus as agterryer saam met ’n groepie verkenners onder die bekende Hans de Lange na die Umgenirivier gestuur word om gerugte te ondersoek dat ’n Zoeloe-impi op die oorlogspad is. Deur ’n eienaardige sameloop van omstandighede word hy in die wildernis agtergelaat en begin sy lewe as ’n jong Robinson Crusoe. Later sluit hy hom by ’n groep Zoeloes aan wat voor Dingaan se impi’s vlug en keer so na sy eie mense terug.

“Aanvanklik voel die jong seun hom sterk aangetrokke tot die sorgvrye bestaan van die Zoeloes en is hy vasbeslote om een van hulle te word. Maar algaande besef hy dat dit nie kan nie, dat hy nooit werklik hart en niere iets anders kan wees as wat hy werklik is nie. Hierdie groeiende besef van die reuse-kloof wat hom van die tradisionele Zoeloe skei – ’n kloof van ongeloof en primitiewe gebruike – word baie verdienstelik deur Venter uitgebeeld,” skryf Ben de Koker. (Die Burger, 5 November 1965) “Die skrywer het ook verder uitgemunt deur die wyse waarop hy die verhoudings onderling tussen die karakters uitbeeld, veral in die geval van die Zoeloes en hulle wantroue van die blankes.”

“Die tweestryd in Paulus se gemoed oor waar hy wil wees – by sy eie mense of by die Zoeloes – word baie goed uitgebeeld,” volgens Anna van Zyl in Volksblad. “Want om waarlik Zoeloe te wees, sou beteken om die Zoeloe-bygelowe te aanvaar en sy Christelike geloof af te sterf. Wit oemfaan word ’n verhaal van diepe menslikheid en menslike verhoudinge en is ’n mooi en interessante boek wat ’n mens met genot lees.”

Op die plaas Constantia het Frans in die oggende geskryf en in die middae geboer. “Skaapboerdery en skryfwerk kombineer lekker. As boer het ek ook weer nader gekom aan die grond en die mense wat daarop woon.”

In Sarie skryf Fryer: “Maar Frans het gesien dat die klimaat besig was om sy vrou te erg te knou. Teen 1967 het hy vir haar gesê: ‘Oumens, ons moet trek. Ek gaan jou nie langer so erg moor nie.’ Dit was die eerste keer wat hy haar só genoem het; uit deernis vir haar stille lyding. Hulle het tot Stella se vreugde na die Strand verhuis, waar Frans Bedoelde land in 1967 geskryf het. Tydens hulle verblyf in die Strand het hy sukses begin behaal as skrywer van liefdesverhale – hoofsaaklik onder die skuilnaam René Stegmann.”

Oor hierdie skuilnaam het hy aan Koos Prinsloo gesê: “As dit nie ’n grênd naam is nie, weet ek nie wat is nie. As vrou het ek redelike sukses gehad en selfs op ’n keer volgens Rooi Rose se lesers bo-aan die lys van beste liefdesverhaalskryfsters gestaan.”

In Mei 1968 het AP Grové in ’n onderhoud met Rykie van Reenen in Op die randakker gesê dat Boerneef se prosa in 1961 (die jaar toe FA Venter bekroon is) “ernstiger oorweging verdien het”. In bogenoemde onderhoud het Van Reenen Grové aangehaal: “Ek was NIE in die keurkomitee toe FA Venter se Geknelde land bekroon is nie.”

Vir FA Venter het hierdie twee stellings van Grové net een ding beteken: “Die eerwaarde professor wil hom ten duidelikste distansieer van die bekroning van 1961 toe ek die (Hertzog-) prys ontvang het, nie net vir Geknelde land nie, maar ook vir Swart pelgrim, en hy wil te kenne gee dat Boerneef die prys moes gekry het.” (Beeld, 5 Mei 1968)

Venter het voorts geskryf: “Prof Grové hoef waarskynlik nie so opsigtelik te konstateer dat hy niks met die bekroning van 1961 te doen gehad het nie. (…) As prof Grové bedenkinge het oor die bekroning van 1961, waarom sê hy dit nie reguit nie? En waarom die vertraagde wroeging ná sewe jaar? (…) Waarom dit op my uithaal? Om my te harpoeneer. Kan aan die versuim niks doen nie.”

Met die Fees van die Grond het die Minister Frans gevra om ’n boek te skryf as deel van die Fees. “Ek wou eers nie, want ek skryf nie graag opdragboeke nie. Na bemiddeling van dr Willie van Heerden het ek ingewillig en Die rentmeesters was die uitskot.”

Tydens die bekendstelling van Die rentmeesters het Frans Venter as volg oor hierdie opdrag geskryf: “Dit handel oor ’n aktuele probleem wat my geweldig interesseer – die grond, die vernuwing van die platteland, die eise wat daar aan die hedendaagse boere gestel word en die resultate wat daaruit spruit.

“Dit is ’n baie moeilike onderwerp om oor te skryf. Ek het darem self eers geboer en daarom was dit vir my nie te moeilik nie. Ek het die roman so eenvoudig moontlik probeer skryf, met net ’n paar karakters daarin. Die stof van die boek spruit uit eie ondervinding waarby heelwat verbeelding gevoeg is – ek hoop net nie my arbeid was verniet nie!

“Die sentrale tema is die vernuwing van die platteland. In die boek word die grond later ’n karakter. Daaruit spruit later dat die grond die mens ‘straf’ as dit verniel word.” (Die Burger, 11 November 1969)

Annie Schumann het as volg oor Die rentmeesters geskryf: “Die grond is ’n lewende organisme en is, tesame met Ben Richter, die hoofkarakter van die boek. Wie die grond waaruit hy gebore is, waarin hy gewortel is en waarheen hy uiteindelik moet terugkeer, verniel, kleineer en negeer, loop die risiko om nie alleen sy stoflike nie maar ook sy geestelike welvaart in gevaar te stel.

“Ben Richter, geslagte lank verknog deur liefde en arbeid aan Pioniersvlei, is nederig voor God en grond, en put uit dié verbondenheid, ’n onknakbare krag, bestand teen droogte en dood. (…)

“Maar sy seun, Cas, is nie nederig nie, het nie begrip nie, het nie liefde nie, wil die grond dwing en uitmergel vir eie gewin. (…)

“Die grondige kennis en liefde vir alles wat op die veld groei, so kenmerkend van Venter se plaasboek Werfjoernaal, is hier weer op byna elke bladsy te vinde. En tog, en tog, ondanks Venter se hartstogtelike, begrypende liefde vir die grond en die naelstring-verbondenheid van God, grond en mens, groei hierdie roman nie tot die magtige epos van grond wat dit by die eerste oopslaan beloof het nie.” (Beeld, 30 November 1969)

“In 1969 het die Minister van Waterwese my gevra om ’n prestige-boek oor water te maak vir die Waterjaar. Ek het ingewillig en met al die navorsing en wat dies meer het ek omtrent ’n jaar aan die groot werk geswoeg. Wat nie oor water (op daardie stadium) in Suid-Afrika gesê is nie, is nie die moeite werd om te sê nie.”

Hy het ook dr Chris Barnard se boek oor sy eerste hartoorplanting in Afrikaans vertaal. Hieroor het Frans gesê: “Ek het voor die tikmasjien geëet en omtrent nie geslaap nie. Só dringend wou die uitgewer die manuskrip hê, dat hulle hom stuk-stuk by my kom haal het.”

FA Venter is in 1969 saam met Etienne Leroux tot volle lid van die Suid-Afrikaanse Akademie van Wetenskap en Kuns verkies.

Intussen het hy hom ook besig gehou met allerhande los goed, soos die skryf van vervolgverhale, kortverhale en artikels vir die koerant, selfs vir “Van alle kante”, die daaglikse rubriek in Die Burger, skryf Fryer verder.

Totdat Stella een môre vir hom gesê het: “Ou man, jy’s mos rusteloos. Jy het te gou afgetree. Dis my skuld.” En sy het sonder dat haar man daarvan geweet het, haar neef op Vredendal gekontak oor ’n stukkie grond daar. Die gevolg was dat hulle in 1970 na Vredendal verhuis het en op ’n plaas aan die Olifantsrivier gaan bly het. Hy het die plaas Ciréne gedoop. Daar het hulle lekker geboer, het hy aan Fryer vertel: “Stella in haar tuin en ek in my wingerde. Maar wingerdboerdery lê jou vas. Wat jy vandag moet doen, kan jy nie môre doen nie. Ek kon daar net Die middag voel na warm as klaarmaak.”

Vir Schalk Pienaar (Beeld, 31 Oktober 1974) het dit nie saak gemaak wat “hoë here” se opinie oor Die middag voel na warm as is nie – hierdie boek is die moeite werd om te lees. Dit is ’n besonder leesbare boek wat as agtergrond sy ervaringe met sy bruin werkers op sy plaas in die Olifantsriviervallei het. “Dit is ’n betrokke skrywer wat hier in deels losstaande vertellinge aan die woord is. Deels losstaande, want daar loop tog ’n draad dwarsdeur – die so min begrepe nie-blanke mense in ’n onbevoorregte alledaagse lewe op die bestaanspeil.”

Ook Abraham de Vries (Oggendblad, 27 Februarie 1975) het die boek aanbeveel en hy het Die middag voel na warm as beskryf as “merkwaardig onsentimenteel – hoewel daar telkens sprake is van ’n sagte hart, van ’n knaende gewete. En hierin lê die trefkrag. Hier is ’n boere-verteller aan die woord wat die taal praat van boere, wat die dinge doen wat boere doen, maar wat dit dan ook ronduit en in soveel woorde vertel. Dis voor die hand liggend dat die verteller nie altyd die beste daarvan afkom nie – en soms by implikasie allermins.

“Dis ’n soort ‘eerlike’ realisme waarsonder ons lank moes klaarkom in die prosa, ‘eerlik’ omdat die verteller homself nie ontsien nie, nie in mooi idees probeer toedraai nie.”

En toe, in 1971, het ’n hartaanval Frans getref. Hulle huisdokter het hom gewaarsku dat ’n man met ’n hartaanval niks op ’n wingerdplaas verloor het nie. Maar hy het aangehou, totdat Stella in 1975 deur drie massiewe hartaanvalle getref is. Toe moes hulle maar kopgee en moes hulle in 1976 die boerdery verlaat. Hulle is terug na die Strand, waar Frans sy skryfwerk voortgesit het in hulle ruim woonstel met die uitsig oor die see. En met die verterende verlange na dinge wat verby is, het Frans Kambro-kind geskryf – die boek wat baie mense as sy mooiste beskou.

In Rapport het André P Brink (Rapport, 12 Oktober 1980) geskryf dat Kambro-kind ’n boeiende en genoeglike stuk leeswerk is. “Dit verskil van die outobiografiese werk van mense soos Con de Villiers, MER en Boerneef deurdat dit nie ingestel is op kameë nie, maar ’n poging is om ’n hele uitgebreide jeugwêreld in die worp van één breed-opgesette vertelling vas te vang.”

Vir Dorothea van Zyl (Volksblad, 5 Desember 1979) is daar hinderlikhede in Kambro-kind, “maar dit bly nogtans ’n genoeglike boek om te lees. Soos die meeste van Venter se werke bevat dit heelwat vir die literêre leser, maar ook vir die breë leserskring wat hy deur die jare vir hom opgebou het. ’n Konvensionele outobiografie bly dit nie.”

Oor Kambro-kind het Hilda Grobler (Hoofstad, 26 Januarie 1980) geskryf: “Dit is ’n pragtige verhaal van ’n lewenswyse waarvan ons nie meer kennis dra nie, van ’n klompie boererate wat regtig gewerk het en wat vandag vergete is, van die soort mense van wie ’n mens nie meer hoor nie, en van vergete waardes wat sin aan soveel dinge gegee het. In hierdie vertelling is FA Venter op sy heel beste, en van al sy boeke is hierdie een die beste, die boeiendste en die interessantste. Kambro-kind is ’n boek wat ’n mens graag op jou boekrak wil hê.”

In 1984 het Die koning se wingerd, Frans se tweede Bybelverhaal, verskyn, en in 1987 Die ou man en die duif, waarin die ou man, geknou deur sy vrou se dood, verstrik raak in allerhande kwelvrae oor die hiernamaals.

Die koning se wingerd is ’n historiese roman wat hom afspeel teen die heerserskap van koning Agab van Israel, het AP Grové in Oosterlig van 15 Oktober 1984 geskryf. “Dit begin met die huwelik te Samaria van die jong prins Agab met prinses Isebel, dogter van Et-Baäl van Sidon, en eindig met die gruwelike dood van die koningin en die ondergang van die Agab-dinastie as die veldheer Jehu die teuels oorneem en ’n bloedige reinigingsproses van stapel laat loop. (…)

“Vir die uiterlike raamwerk van sy verhaal het Venter hom betreklik streng aan die Bybelvoorstellings gehou, en om romankundige substansie aan sy verhaal te gee, het hy veel moeite gedoen om die gebeure in te bed in die tyd en wêreld van Agab, met die gevolg dat die leser heelwat te wete kom van dié tyd.”

Vir Grové was daar tekortkominge in hierdie roman, maar daar is ander aspekte waarna ook gekyk moet word: “Die boek bevat mooi momente en gee ’n interessante kyk in die lewe en spanninge van ’n vervloë tyd. Dis ’n roman wat ’n mens met genot lees, al is dit ook so dat die onmiddellikheid en deurleefdheid van Kambro-kind hier ontbreek.”

Venter het aan Koos Prinsloo (Beeld, 19 November 1984) vertel dat hierdie tydperk waarteen Die koning se wingerd afspeel hom veral geïnteresseer het omdat daar interessante parallelle is met die toestand in Suid-Afrika: “Hulle het byvoorbeeld militêre diensplig gehad, hulle het gedwonge arbeid gehad – ons het weliswaar vandag (1984) nie gedwonge arbeid nie, maar op sekere vlakke kan mens dit skaars anders noem. Die baas/kneg-verhouding. Die stryd van die ortodokse Joodse godsdiens teenoor die meer verligte Fenisiese opvattinge. Maar die eintlike rede is: Daar is soveel drama in die storie.”

Hy het hoofsaaklik sy navorsing uit die Bybel gedoen, maar dit is moeilik om ’n mens in te leef in daardie tydperk – “ek is mos maar ’n ou realis; tyd en ruimte en die dinge is van belang. Dit klink nou amper belaglik, maar die Reader’s Digest het ’n baie oulike boek uitgegee oor persone in die Bybel, hoe hulle geleef het. Hulle het nou ’n studie daarvan gemaak. Dié het my geweldig baie gehelp.”

Vir Frans is die Ou-Testamentiese tydperk wat in Die koning se wingerd beskryf word, soortgelyk aan ons Suid-Afrikaanse situasie van daardie tyd. Dit dra inderwaarheid die profeet Elia se siening, soos die skrywer s’n ook, dat alle mense dieselfde geskape is.

Intussen het die Federasie van Rapportryers ’n pragtige Ruiterstandbeeld vir Kambro-kind geskenk wat tydens die Landsraad van die Rapportryers se vergadering op Vryburg in September 1979 aan Venter oorhandig is. In 1982 was Kambro-kind ook die ontvanger van die Rapportryers se toekenning vir ’n verdienstelike publikasie. En in 1981 het die Universiteit van Port Elizabeth Frans vereer met ’n eredoktorsgraad vir al sy skryfwerk. In 1993 is Strydenburg se ereburgerskap aan Frans toegeken. In 1996 het die FAK ’n toekenning aan Venter gegee vir sy bydrae tot die bekendstelling en bevordering van die Afrikaner se geskiedenis.

Tydens die toekenning van die eredoktorsgraad van die UPE (vandag Nelson Mandela-Universiteit) het Frans Venter gesê dat dit vir hom belangrik was dat die universiteit vir hom as skrywer vereer, veral omdat die Afrikaanse skrywer in daardie tyd gesien is as ’n weeskind in sy eie gemeenskap: “Black and English writers faced the same unfortunate censorship as Afrikaans writers, but their relationship with the reading public was better. This estrangement between the writer and society could be resolved if at all times the writer exposed the truth in a responsible manner.” (Eastern Province Herald, 25 April 1981)

Venter was ’n lid van die Afrikaanse Skrywersgilde, maar in 1987 het hy hom gedwing gevoel om uit die organisasie te bedank. In ’n brief aan Die Burger, Julie 1987 (presiese datum onbekend) het hy geskryf dat mense aan hom gevra het waar hy gestaan het ten opsigte van die Afrikaanse Skrywersgilde se besluit om steun toe te sê aan die (Van Zyl) Slabbert-safari se gesprek met die ANC in Dakar. “Aan hulle en dese en gene wat nie gevra het nie, maar gewonder het, sê ek dat ek uit die Skrywersgilde bedank het. Al is die Afrikaanse Skrywersgilde oorspronklik gestig om in die eerste plaas Afrikaans en die Afrikaanse skrywer ter wille te wees, beteken dit nie dat hy hom nie op die sosiaal-politieke terrein moet betuig nie. Natuurlik moet hy! Anders het die Afrikaanse skrywer geen gewete nie. Maar wanneer die Afrikaanse Skrywersgilde nou, oënskynlik op sleeptou geneem deur ’n klein radikale groep, 'n meeloper wil word van ’n roesemoes van links-liberale en verloopte politici en kerkmense wat koppig volhou om te wil praat met ’n Marxistiese geweldsorganisasie soos die ANC, dan loop die gilde ’n pad waarop ek hom nie langer kan volg nie.”

Gunther Pakendorf was Die Burger (26 November 1987) se resensent. Hy het die verhaal só opgesom: “Die uitgangspunt van dié verhaal is die smart en eensaamheid van ’n ou man, Hermanus Wiese, wie se geliefde vrou Helmien hom ná ’n kinderlose huwelik van meer as 50 jaar ontval het. Op ’n wonderlike wyse word die leemte in sy lewe deur ’n poeierblou posduif gevul wat op ’n dag haar intrek by sy huis neem. Die duif word nie net ’n aardige metgesel vir die ou man nie, maar in ’n besondere sin ook ’n plaasvervanger vir sy vrou.”

Vir Pakendorf is Die ou man en die duif met “groot deernis vir die eenvoudige geloof en liefde van ’n mens sonder veel erg in ’n gemeenskap wat maar min begrip vir hom toon. Met die streektaal wat plek-plek deurbreek, met sy oog vir besonderhede van die landskap, met sy beskrywing van die patriargale aard van dié landelike gemeenskap, besweer Venter ’n milieu, wat as dit nog bestaan, vinnig aan die verdwyn is.”

En, het Pakendorf sy bespreking afgesluit, het hy tog probleme met Die ou man en die duif: “Want ten spyte van – of is dit weens? – sy bevredigende estetiese vorm en uiterlike aanbieding kan dié novelle met sy harmonieuse en idilliese eenheid van land en mens en gemeenskap, met sy feodale en patriargale opset na my oordeel nie waar wees nie, omdat dit ekonomiese en sosiale ontwikkelinge – en die daarmee gepaard gaande konflik – nie wil waarneem nie, en dit dus doelbewus uitskakel. ’n Mens kan dit ook as ’n geloofsdaad beskou wat die wêreld van gister vir oulaas wil bevestig, voordat dit geheel en al verdwyn.”

En met hierdie siening van Pakendorf het Frans Venter ’n probleem gehad – soveel so dat hy ’n brief aan Die Burger (8 Desember 1987) geskryf het om sy misnoeë te kenne te gee, waarop Pakendorf hom ook geantwoord het.

In Beeld van 9 November 1987 het Heilna du Plooy haar resensie van Die ou man en die duif só afgesluit: “Dit is ’n pragtige verhaal, ryk aan inhoud en goed geskryf. Dit gaan hier om ’n aangrypende uitbeelding van die menslike bestaan wat so beperk is, maar ook tog tot ’n uitreik na die onsienlike in staat is, wat in tyd gevang is, maar kan weet van ewigheid.”

In September 1990, terwyl Frans skottelgoed opwas, het hy besef iets is fout. Hy het op die kamervloer wakker geword, sonder spraak en heeltemal verlam aan sy regterkant. Hy het ’n beroerte gehad.

In die hospitaal, en later in die siekeboeg, is hy dood vir die wêreld. Hy het stadig teruggekom na die lewe, maar afgesluit van kommunikasie met mense, met geen benul van wie hy is nie, skryf Charles Fryer. Tot die oggend dat Stella hom vir die soveelste keer vra wie hy is en hy oplopend antwoord: “Frans Venter, demmit!”

Hy het aan Kit Hoffmann (Rapport, 27 Januarie 1991) gesê dat hy graag oor die beroerte sou wou skryf, maar dat hy eers ’n bietjie wou wag totdat hy die regte formule vir só ’n storie bepaal het: “Hoewel beroerte ’n ernstige saak is, moet so ’n verhaal darem ook ’n bietjie humor bevat. Ek was regdeur die hele ondervinding by my positiewe en het met mense rondom my gepraat soos altyd, maar hulle kon nie ’n woord van my geradbraak verstaan nie. Ek het lang stukke met die besoekers gesels, maar aan hul kykery vir mekaar, was dit duidelik hulle kon niks van die woorde uitmaak nie.

“’n Ander gewaarwording was dat ek heeltemal passief was en nie probeer uitreik het na die lewe soos wat sterwende mense normaalweg doen nie. Die meeste mense sal vasklou as hulle weet hier kom lollery. Ek het net gelê en wag vir die volgende ding om te gebeur. Toe gebeur daar niks verder nie en ek raak al hoe beter.”

Vier maande ná die beroerte was ál sigbare gebrek wat oorgebly het, die effense verlamming in sy regterhand. Die brein was weer so skerp soos altyd, die fyn humorsin was terug en hy was heeltemal op hoogte van al die politieke dinge wat rondom om aan die gang was.

“Ek tik nog al die jare net met twee vingers. Maar ek ondervind ’n bietjie las met die tikvinger van my regterhand wat deur die aanval verlam is. Die vinger is ’n bietjie stram en verneuk soms deur die verkeerde sleutels te slaan.

“Met die kar-ryery gaan dit ook voor die wind. Almal dink dit is wonderlik dat ek met een hand kan bestuur. Maar ek ry nog my hele lewe lank kan met net een hand! Dit gaan aldag beter, danksy die terapeute, en ek dink ek sal binnekort weer volstoom kan begin werk.”

Die resultaat van die volstoomwerkery was Die keer toe ek my naam vergeet het, wat in 1995 gepubliseer is. Hierin vertel hy die storie van sy lang pad na gedeeltelike herstel en hoe Stella dit maar moes ontgeld as die terapeute se oefeninge hom ondergekry het. Al het sy haar soms bloedig vererg vir hom, en partykeer diep seergekry, het sy daarby gehou dat jy ’n beroertemens nie teengaan nie. Van elke stukkie vordering het sy ’n ophef gemaak, en sy het hom help waak teen die kwyltjies en verdwaalde krummeltjies waarmee sy skewe mond hom belas, aldus Charles Fryer. (Sarie, 24 Mei 1995)

Stella was altyd meer besorg oor Frans se gesondheid as oor hare. Maar die emfiseem wou haar nie los nie en later kon sy nie eers meer haar eie basiese versorging doen nie en moes hulle vir oulaas trek – na Altena, ’n aftree-oord in die Strand.

Frans het aan die begin nog alleen na Stella gekyk, maar hy kon dit nie volhou nie en Stella is na die siekeboeg geskuif. Op 25 Junie 1994, kort voor middernag, is sy in die hospitaal oorlede. “Ek gaan by die gordynvierkant in. Sy lê met die mond oop, asof sy nog vir laas iets wou sê. Dis net ons twee. Heeltemal alleen. Met oneindige liefde sit ek my hand op haar voorkop. Dit is nog lou. Die embuia-kissie met haar as het ek ’n maand later laat toemessel,” het hy aan Charles Fryer vertel.

“En,” het Charles Fryer geskryf, “daarna het die boek verskyn wat sy nooit sou lees nie: ’n vertelling deur ’n skrywer wat lank sy woorde kwyt was, wat sy lam hand geleidelik weer leer skryf het, eers ’n haas onontsyferbare lopende skriffie, daarna slordige en moeisame pogings, en uiteindelik ’n aanvaarbare drukskrif.”

Oor Die keer toe ek my naam vergeet het het Tom Gouws (Beeld, 5 Junie 1995) gesê as hy ’n motto vir dié boek kon kies, sou dit ’n Chinese spreekwoord wees wat sê: Hy wat doodgaan, hou op lewe; maar ophou lewe beteken nie altyd doodgaan nie: “Dit is ’n intieme verhaal, met soms te veel beuselagtighede, maar wat dalk deel is van die groter eerlikheid wat met die ouderdom kom. Hierdie boek is ’n teks wat die leser veel sal kan leer van sterwe, maar ook van lewe.”

Oor RSG het Riana Scheepers gesê dat FA Venter met Die keer toe ek my naam vergeet het iets reggekry het wat byna as ’n wonderwerk beskou kan word. “Hy het met groot moeite, en met baie geduld en deursettingsvermoë van sy tikster, daarin geslaag om weer ’n roman te skryf. Wat baie bydra tot die sjarme van die boek, is die vier bladsye met afdrukke van sy haas onleesbare handskrif waaruit die manuskrip ontstaan het, en die foto’s van die mense oor wie dit in die vertelling gaan.”

In 1996 het FA Venter die Andrew Murrayprys vir Die keer toe ek my naam vergeet het verower. Die beoordelaars (Engela Linde, Willem de Klerk en Attie van Wijk) het onder meer die volgende oor die boek gesê: “In hierdie boek is daar geen verdriet behalwe die verwerkte en versoende nie. Die universele probleem van veroudering, vermindering, aflegging, word sonder troosteloosheid en sonder ’n noodlotsmotief vanuit ’n ek-perspektief gehanteer in wat letterkundig gesproke belydenisprosa genoem kan word.

“Ook in ’n geestelike sin, egter, is dit een lang geloofsbelydenis. Oor gebed is daar al baie voortreflike dinge gesê, maar selde so nuut en vernuwend soos dit in dié boek gebeur. Genadiglik is ook die humor, die sardoniese blik en lakoniese kommentaar daar.

“Hoewel die drie gedagtelyne in die boek – die tol van die siekte, die intrek in die huis vir bejaardes en die dood van die huweliksmaat – dui op ’n tragiese triade, vind die skrywer van Die keer toe ek my naam vergeet het ’n diep geestelike berusting en vrede in die Here.

“Hierdie bied insig in die onafwendbare realiteit van oud word. Daarmee saam gee dit insig in die diepte van ’n liefdesverhouding. Onderliggend aan die werklikhede van die lewe, verkondig die werk die keuse van blywende lewenswaardes.” (Rapport, 14 April 1996)

Audrey Blignault het in Insig van Junie 1995 Die keer toe ek my naam vergeet het so opgesom: “Die grondstof van die vertelling is een mens se ervaring en verwerking van groot teenslae wat hom tref. Die wyse waarop hy vorm gee aan dié grondstof bepaal uiteindelik die waarde van wat hy geskryf het. Die belangrikste vraag wat gestel moet word, raak die egtheid van die werk. Gee dit ’n beeld van deurleefde werklikheid? Glo ’n mens wat die skrywer vertel?

“Moeisaam, sonder ontkenning of ontvlugting, vertel hy ’n verhaal wat uiteindelik op oorwinning uitloop. Hy kom nie sonder skok of lyding en wanhoop by dié oorwinning uit nie. Dit is en bly ’n stryd om aan die lewe te bly, maar ’n mens leer om te verduur, te aanvaar, tevrede te wees.

“Met dié verklaring kan die skrywer tog sy vertelling oorwinnend en geloofwaardig afsluit: ‘Uit die donker spelonk van die siekte het ek die een talent wat die Here my gegee het, gedeeltelik oorgehou. En al gaan dit moeilik met so ’n gekneusde talent, sal ek die wil om te skryf nooit verloor nie.’”

Oor die beroerte het hy aan Johan Smit vertel: “Die hulpeloosheid, die magteloosheid. Dit kan ’n mens onderkry. Maar dan moet jy net vorentoe dink, geduldig wees, moed hou. My vrou het my laat glo dat ek gaan regkom. ’n Mens moet net nie boedel oorgee nie.” (Die Voorligter, Desember 1995/Januarie 1996)

In Die keer toe ek my naam vergeet het haal Frans Psalm 90:1 aan: “Here U was vir ons ’n toevlug.” Oor hierdie geloofsbelydenis vertel hy aan Johan Smit: “Dit kan ek sê: die Here het vir ons deur baie engtes gelei. Hy was regtigwaar ’n toevlug. Daar was armoede en siekte en sommer baie ander dinge, en elke slag het die Here voorsien.” (Die Voorligter, Desember 1995/Januarie 1996)

Hy het verder verduidelik aan Smit: “Ek stel ’n baie hoë prys op kinderlike geloof en het ’n diep ontsag vir die Bybel. Enige vorm van skynheiligheid steek my dwars in die krop en ek raak ontsteld oor kerkmense wat nie in hulle normale omgang met ander mense die evangelie uitleef nie: Ek vra myself ook maar baie keer die vraag af of al die kerkmense wat ek sien, regtig gelowiges of oortuigde Christene kan wees. Vir my moet ’n man se geloof in sy manier van lewe bewys word, anders het ek vrae.”

Hy het nie die ouderdom as ’n ellende beskou nie, het hy aan Smit gesê: “Vir my is dit ’n uitdaging. Ek hou van uitdagings. Dis nie aldag lekker nie. Maar daar is altyd iets om te doen, iets waarvoor jy kan lewe. Net vanmôre stap ek hier uit en ’n ou man van 91 word deur sy dogter in ’n rolstoel hier buite gestoot. Ek vra hom wat maak hy buite en hy wys boontoe en sê: ‘Man, kan jy nie sien hoe ’n mooi dag dit is nie?’ So moet die ouderdom wees. ’n Mens moet die mooi kan raaksien, daaroor bly kan wees. Dan kan jy maar lewe. Selfs in ’n rolstoel. Daar is soveel mooi om raak te sien. En ’n mens moet maar net leer om geduldig te wees as jy oud word.”

Frans was redelik uitgesproke teenoor Johan Smit oor die Afrikaanse letterkunde van die 1990’s: “Nee, ek hou nie van sommige van die goed wat deesdae geskryf word nie. Die opsetlike kruheid steek my dwars in die krop. Wat wil die mense bewys? En dan gaan dit nie vir my daarom dat daar nie oor die dinge geskryf mag word nie. Dit is die manier waarop daaroor geskryf word. Daar is tog voorbeelde in die wêreldletterkunde waar daar op ’n ordentlike manier oor die lelike kant van die lewe geskryf word. Vir my is dit kuns om só te skryf. Ek kan maar as ’n randeier beskou word omdat ek nie met die dinge saamstem nie, maar ek gee nie om nie. Ek skryf omdat dit vir my lekker is en ek vir my taal lief is. Daarom lees ek nie die goed nie. Dis nie vir my lekker nie en dit maak my nie lief vir my taal nie.”

Frans was altyd ’n man wat nie geskroom het om te praat wanneer hy nie met iets saamgestem het nie. Aan die begin van 1989 was daar ’n polemiek in ’n Kaapse dagblad oor ’n brief wat hy geskryf het oor die toepassing van apartheid op die strande. Hy het dit uitdruklik gestel dat hy teen hierdie soort apartheid is en het aan Smit meer vertel oor die essensiële stuk lewensbeskouing wat hom gedwing het om destyds oor apartheid te praat.

“Vanuit my studeerkamer in die Strand het ek op die see uitgekyk en telkens gesien hoedat bruin en swart mense op hulle plek gesit is omdat hulle dit gewaag het om op blanke terrein te oortree. Vir my is dit onaanvaarbaar dat mense vir hulleself die reg sou aanmatig om te besluit wie in God se see mag swem of nie mag swem nie. Hoe meer ’n mens daaroor gedink het, hoe meer het dit ’n al meer onmoontlike manier van doen geword. En ek is dankbaar dat ons mense tog by die punt gekom het om dit te besef. Dit was ’n groot stap. Nou moet die mense net nie weer verkeerde perde opsaal en goeie werk ongedaan maak nie. Apartheid is verby en dit moet agter die rug bly. Ons moet nou net saam vorentoe.” 

Oor die kerk, en spesifiek die NG Kerk, in die nuwe Suid-Afrika (1996) het Frans aan Smit gesê dat hy goed voel oor die kerk, oor sy beleid en sy goeie voornemens. “Ek het in die verlede nie altyd ewe goed oor sommige kerkleiers gevoel nie, mense wat nou na my oordeel nie altyd die mas opgekom het nie. Kyk maar net hoe hulle destyds vir Ben Marais en Beyers Naudé behandel het. Maar dis juis mense soos hulle, Ben en Beyers, wat vir my hoop gee vir die kerk. In die kerk was daar nog altyd die stemme van mense wat die regte koers aandui. Hulle sal altyd daar wees. Die kerk moet net by die Woord van God bly. Dit is tog ons enigste rigsnoer.

“Ek stem saam dat kerk geloofwaardigheid ingeboet het omdat gister en vandag se beleid nie meer dieselfde is nie. Maar die kerk moet altyd die soeker na waarheid bly.”

Hy was van kleins af lief vir die geskiedenis: “Die hooflesse wat die geskiedenis vir my geleer het, is dat die hede en verlede saamspeel en dat wat ons vandag doen, eintlik ’n geskiedenis is van wat alreeds gebeur het. Daar is selfs interessante ooreenkomste tussen Bybelgeskiedenis en eietydse geskiedenis. En dis juis op grond van hierdie waarneming dat geskiedenis die manier het om herhaalpatrone te vorm dat ek hoop het vir ons land. Daar is soveel voorbeelde in die geskiedenis van mense wat opstaan na ’n tyd van swaarkry. Ons gaan deur moeilike tye, maar ons mense sal opstaan.

“Die mens en die natuur waarin hy grootword, kan nie van mekaar losgemaak word nie. Geskiedenis en geografie loop hand aan hand. Jou aard as mens word bepaal deur die omgewing waar jy grootword. Dis nie ’n aangeleerde klomp boekkennis nie. Dit kom sommer so saam met die jare.” (Die Voorligter, Desember 1995/Januarie 1996)

Met Frans se tagtigste verjaardag in November 1996 het AP Grové hoogtepunte uit die vier outobiografiese romans (Kambro-kindWerfjoernaalDie middag voel na warm as en Die keer toe ek my naam vergeet het) saamgebundel en is dit uitgegee onder die titel Van Botterkraal na Altena. Madeleine van Biljon (Die Burger, 12 Februarie 1997) het die bundel beskryf as loutere plesier om te lees, terwyl Albert Crafford (Rapport, 9 Maart 1997) gemeen het dit is ’n sieraad vir elke boekrak en dat “solank Afrikaans só geskrywe en só gelees kan word, daar nie vir die toekoms van die taal gevrees hoef te word nie”. Fanie Olivier (Beeld, 21 April 1997)het hierdie herwaardering van Venter se werke as ’n boeiende outobiografie beskryf.

Elmari Rautenbach (Beeld, 10 April 1989) het in 1989 geskryf dat Frans Venter skryf oor alles wat die mens aangaan, “ook die klein, skynbaar onbenullige dinge, soos ’n man wat ’n duif koop na sy vrou se dood. Of ’n seun wat ’n blou ‘mouterbaaikie’ belowe is, maar dit nooit gekry het nie.”

“Dit is my manier van betrokke skryf,” sê hy. “Vir my moet ’n skrywer betrokke wees by die hele mens en al sy omstandighede. Nie net by een groep, een stryd en een stel waardes nie. Die mens sal immers altyd stry teen sy eie sterflikheid, die ouderdom of eensaamheid.”

Rautenbach sluit af: “Vir Frans Venter gaan hunkering en verbetenheid hand aan hand; neem dit in sy werk sy eie loop, en verbeeld uiteindelik hoe dié besonderse man die lewe ervaar.”

Op 8 Julie 1997 is FA Venter in Medi-Clinic op Somerset-Wes weens nierversaking oorlede. Nagenoeg 200 mense het die roudiens vir Frans bygewoon in Huis Altena in die Strand, die tuiste vir bejaardes waar hy tot met sy dood ’n inwoner was. Die diens is gelei deur ds Solly Ozrovech. Derick Robertson, ’n inwoner van Huis Altena, het namens dié oord hulde aan Venter gebring. ’n Enkele roos, Venter se geliefkoosde blomsoort, het in die saal gepryk as die inwoners van Altena se finale eerbewys aan ’n besonderse inwoner wat hulle aan die dood afgestaan het.

Frans word oorleef deur sy dogter, Elizabeth Grundlingh, ’n seun, Herman, en vier kleinkinders. Sy dogter en seun was, benewens ’n skenking van R10 000 aan die UPE, die enigste ander erfgename. Die items wat sy kinders nie wou hê nie, moes aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein geskenk word.

Huldeblyke

  • Peet Joubert: “Sy statuur sal groei tot in die volgende eeu. Sy bydrae tot die uitbouing van die Afrikaanse taal en letterkunde staan uit soos ’n obelisk op die plat vlaktes tussen Britstown en Strydenburg. Frans Venter het meer as sy deel gedoen vir sy mense, sy volk, sy taal, wat hy hartstogtelik liefgehad het. Hy is in 1996 saam met HS van Blerk deur die FAK vereer vir wat hulle vir ons taal gedoen het.” (Die Patriot, 25–31 Julie 1997)
  • Beeld-hoofartikel: “Die dood van FA Venter laat ’n leemte wat beswaarlik gevul kan word. As gewilde skrywer het hy ’n belangrike deel van die Afrikaanse letterkunde se fondament gegiet. Venter is een van die mees gelese Afrikaanse prosaïste. Hy het van 1944 tot 1995 gepubliseer. Sy vroeëre werke, waarvan talle op skoolvlak voorgeskryf is, het ’n sekere tydsgees vasgevang. Hulle was beskrywend van tye toe die meeste Afrikaners op die platteland gewoon het, toe selfs dié wat in die stad gewerk het, hulself plaaskinders geag het. Al hierdie verhale, maar ook dié wat hy later geskryf het, het een ding gemeen: die storie is óór gewone mense en vír gewone mense. Sy universele, eg menslike temas het daarom by die meeste lesers aanklank gevind. Dit het van Venter 'n geliefde skrywer onder veral jong mense gemaak. Sy invloed op die letterkunde en die liefde vir die taal wat daardeur by dekades se ontdekkende lesers gekweek is, is van onmeetbare waarde vir Afrikaans. Die rak boeke wat hy agterlaat, is hopelik ’n stille versekering dat daardie invloed ook in die toekoms sal geld.” (Beeld, 10 Julie 1997)
  • Charles Fryer: “FA Venter was uit die wieg ’n vegter en ’n oorlewer. Toe hy op 27 November 1916 op Hopetown gebore is, het dit gebede en boeremedisyne gekos om hom aan die lewe te hou. Warm bokvel, penswater en hondebloed gemeng met Hollandse medisyne. Dat hy kon skryf, het vroeg reeds geblyk toe hy as agtienjarige sy eerste tjek ontvang het: een pond sewentien en ses vir ’n storie in Landbouweekblad.” (Volksblad, 11 Julie 1997)
  • Ds Solly Ozrovech: “Frans Venter was ’n goeie man. Hy was gelowig, nederig, liefdevol en het sy lewenskruis met waardigheid gedra. Net soos Barnabas in Handelinge 11 vers 24 bestempel word as ’n goeie man vol van die Heilige Gees en met 'n vaste geloof, so was Venter. Sy geloof was die stukrag van sy ganse lewe en skryfwerk. Hy was nooit oorvroom nie, en het ’n hekel gehad aan skynheiligheid. Hy het indringend belang gestel in sy medemens. Sy humorsin was sprankelend, tog het hy ’n diepe deernis geopenbaar. Nooit het FA Venter goedkoop populariteit opgesoek nie. Sy ambisies was so suiwer en edel soos die lug van die Karoo wat hy van kleintyd ingeasem het. Hy het hom nooit op prestasie geroem nie. Hy het telkemale gesê sy grootste voorbeeld was Jesus. Die gawes en talente van God aan hom het hy gebruik om te werk, te dien en te verryk. Hy het deur sy boeke vir duisende die wêreld oopgemaak en nuwe horisonne gegee. Die erfenis wat hy nagelaat het, sal baie jare nadat hy nie meer hier is nie, nog met ons praat. Heldemoed, soos dié op ’n slagveld, word oortref deur die heldemoed van gebroke mense op hul krankbed. Só was ook Frans se heldemoed.” (Die Burger, 11 Julie 1997)
  • Klaas Waarsegger II: “Met die dood van FA Venter verdwyn een van die heel voortreflikste vertellers uit die Afrikanerlewe. Sy viertal vollengte boeke oor die tyd voor die Groot Trek, die Trek self en wat daaruit gekom het, staan ongeëwenaard as Afrikaanse historiese vertellings. Ander romans van hom, Swart pelgrim en Man van Ciréne, het ’n hoë literêre standaard gestel. En twee bundels sketse en vertellings, Die middag voel na warm as en Werfjoernaal, is van die genotvolste voorbeelde van hierdie genre. Venter was ’n groot Afrikaanse skrywer.” (Die Afrikaner, 25–31 Julie 1997)
  • Danie Botha: “Ek sal FA Venter onthou vir die oorweldigende indruk wat sy romans met hul aksie en emosionaliteit op my as jong leser gemaak het, hoe hy ons daarmee vir die letterkunde gewen het. Ook vir die opwindende suiwerheid van sy outobiografiese werk. Ek sal die tye onthou wat ek hom beskou het as die ongenaakbare skrywer, macho-stroef in sy omgang. Maar toe ek eers werklik professioneel met hom te doen gekry het, het ek gou agtergekom hoe om kontak met hom te maak: vermy pretensie, valsheid; wees nugter-eerlik, hartlik, humoristies, beleef en behulpsaam, want hy is so.” (Insig, Augustus 1997)
  • Berta Smit (net voor Frans Venter se 80ste verjaardag): “Wat sal ’n mens sê oor hierdie man, die sterk, groot boerekêrel, met die ylerige hare en die breë voorkop van ’n denker? ’n Sagsinnige man. Beskeie, altyd bereid om na kritiek te luister. Trouens, hy het dit verwelkom.” (Afrikaans Vandag, September 1996)

Publikasies

Publikasie

Die geheim van die berg

Publikasiedatum

  • 1944
  • 1958
  • 1966
  • 1969

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Port Elizabeth: Unie-Volkspers
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • F van J: Mooi verhaal vir seuns. Huisgenoot, 18 Julie 1958
  • PJB: Die geheim van die berg. Die Unie, Junie 1958

 

Publikasie

Die gebondenes: kortverhale

Publikasiedatum

1949

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Unie-Volkspers

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • G de W: Boeke. Suiderstem, 4 Junie 1949
  • Tromp, Jan: Gebondenes. Suiderstem, 1 September 1949

 

Publikasie

Eenderse morge

Publikasiedatum

1950

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • FA Venter se Eenderse morgeTaalgenoot, Februarie 1951
  • Lategan, FV: Roman oor aktuele volksprobleem. Bron en datum onbekend

 

Publikasie

Swart pelgrim

Publikasiedatum

  • 1951
  • 1958
  • 1959
  • 1960
  • 1961
  • 1962
  • 1963
  • 1964
  • 1965
  • 1966
  • 1969
  • 1974
  • 1975
  • 1983
  • 1986
  • 1990
  • 2018

ISBN

  • 0624002853
  • 0624019489 (sb)
  • 9781485308072 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Goeie Hoop
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Hertzogprys 1961

Vertalings

  • Nederlands 1959 en 1967; vertaal deur D van der Stoep (1959) en J Deloof (1967)
  • Engels 1959 en 1962; vertaal deur G & W Gordon
  • Duits 1960; vertaal deur J en T Knust
  • Norweegs 196-; vertaal deur OH
  • Sweeds 1961; vertaal deur H Gustavson
  • Serwies-Kroasies 1963; vertaal deur B Pecnik Kneflin
  • Kwanyama 1978; vertaal deur P Hasheela
  • Rukwangali 1992; vertaal deur L Isala

Resensies en besprekings

  • Afrikaans writer’s moving drama of urban Native. Bron en datum onbekend
  • Beukes, Gerhard: “Mede-pelgrim in ons midde”. Huisgenoot, 27 Februarie 1953
  • Die een is sy trots. Rapport, 15 Desember 1974
  • Engels vertaling van Venter se “Pelgrim”. Bron en datum onbekend
  • Jonker, Abraham H: Swart pelgrim. Ons Eie Boek, 1953
  • JRB: Swart pelgrim hersien. Huisgenoot, 18 Julie 1958
  • Pikkie: Swart pelgrim: ’n belangrike nuwe roman. Sarie Marais, 24 September 1952
  • PRB: Geskiedenis op drie fronte [toneelstuk]. Die Transvaler, 26 Januarie 1982
  • Schumann, Annie: Frans Venter preek nie; hy vertel. Buurman, Junie 1971
  • Snijman, FJ: Swart pelgrim. Tydskrif vir Letterkunde, September 1953
  • Sowden, Dora: African life at pace of the ox. Rand Daily Mail, 30 Mei 1959
  • Sterk nuwe skrywer: roman oor die naturel in die stad. Ekstra, 13 September 1952
  • Swart pelgrim: nuwe lig op nie-blanke vraagstuk. Fleur, 28 September 1952

 

Publikasie

Die drosters

Publikasiedatum

  • 1952
  • 1978

ISBN

0624036219 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Drostdy-Boekklub
  • Johannesburg: Voortrekker-Boekklub

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Beukes, Gerhard: Goeie verhaal van Derde Wêreldoorlog. Huisgenoot, 19 Junie 1953
  • Dit rym nie met die hede nie. Oosterlig, 20 Maart 1979
  • Grobler, Hilda: Die drosters ’n boeiende verhaal op swak papier. Hoofstad, 31 Augustus 1978
  • Sterk nuwe skrywer. Ekstra, 13 September 1952

 

Publikasie

Die tollenaar

Publikasiedatum

  • 1955
  • 1977

ISBN

0628011849

Uitgewer

  • Johannesburg: Goeie Hoop
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Buitengewone boek in Afrikaans. Landstem, 25 Junie 1955
  • FJBM: Boekbeskouing. Kerkbode, 5 Oktober 1955
  • Schutte, Hannie: Jy sluk aan die knop in jou keel. Die Transvaler, 20 Augustus 1977
  • Tredoux, EM: Die tollenaar. Sarie Marais, 22 Februarie 1956

 

Publikasie

Man van Ciréne

Publikasiedatum

  • 1957
  • 1958
  • 1959
  • 1961
  • 1962
  • 1966
  • 1970
  • 1982
  • 1986
  • 1991
  • 2017

ISBN

  • 0624017583
  • 0624023494 (sb)
  • 0624029417 (sb)
  • 9780796320216 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Kaapstad: Lux Verbi

Literêre vorm

Godsdienstige roman

Pryse toegeken

Hertzogprys 1961

Vertalings

  • Duits 1959 en 1997; vertaal deur Jutta en Theodor Knust
  • Engels 1959 en 1993; vertaal deur G en W Gordon (1959) en James S Bell (1993)
  • Nederlands 1960; vertaal deur A Smit
  • Spaans 1962; vertaal deur A-M Haft de Bouren
  • Noorweegs 1995; vertaal deur Oddvar Nilsen

Resensies en besprekings

  • AE: Skitterende roman van Afrikaanse skrywer. Die Suidwes-Afrikaner, 8 November 1957
  • Afrikaanse “Cry”. Die Vaderland, 30 Mei 1958
  • Agter my lessenaar … Naweekpos, Desember 1957
  • Botha, Danie: Man van Ciréne kry nuwe kleed. Kerkbode, 8 November 1991
  • Burger, Willie: Kies ’n boek: Historiese romans wat vertaal en heruitgegee is. Vrouekeur, 10 Februarie 2017
  • Grové, AP: Die man wat Christus se kruis gedra het. Huisgenoot, 13 Desember 1957
  • Grové, AP: ’n Onvermoë om groots uit te beeld. Insig, Julie 1991
  • HMvR: Skrywer met wêreld roem wil hom verkyk na ’n trein. Bron en datum onbekend
  • Krige, Uys: Saluut aan ’n roman van formaat. Bron en datum onbekend
  • Pienaar, Hennie: Dankie vir sielsverrykende verhaal op RSG [brief]
  • SA roman is treffer agter Ystergordyn. Volksblad, 27 April 1966
  • Schoonees, PC: ’n Uitsonderlike roman van Venter. Brandwag, 17 Januarie 1958
  • Van Schalkwyk, Phil: Man van Ciréne deur FA Venter: ’n resensie. LitNet, 6 April 2017
  • Venter, FA: Die geboorte van ’n boek. Naweekpos, Augustus 1958
  • Venter, Hertzog: Boeke. Kerkblad, 5 Februarie 1958
  • Wybenga, Gretel: Ou treffer gestroomlyn. Beeld, 16 September 1991

 

Publikasie

Geknelde land

Publikasiedatum

  • 1960
  • 1967
  • 1960
  • 1961
  • 1971
  • 1974
  • 2017

ISBN

  • (hb)
  • 9781485307273 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Hertzogprys 1961

Vertalings

  • Duits 1962; vertaal deur J en T Knuts
  • Nederlands 1969; vertaal deur H en G Tomme-Manesse

Resensies en besprekings

  • Alberts, A: Oor boeke. Tydskrif vir Letterkunde, Desember 1961
  • Burger, Jan: Prospect of a masterpiece. Cape Argus, 1 Maart 1961
  • Louw, WEG: Frans Venter se roman Geknelde land in die weegskaal gelê… Die Burger, 2 Desember 1960
  • Opperman, AJ: Geknelde land deur FA Venter: ’n resensie
  • Van Zyl, JE: Vir my eie boekrak. Taalgenoot, Februarie 1961

 

Publikasie

Offerland

Publikasiedatum

  • 1963
  • 2017

ISBN

  • (hb)
  • 9781485307334 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Duits 1966; vertaal deur J en T Knust

Resensies en besprekings

  • Anker, Johan: By die herlees van Offerland: FA Venter
  • Louw, WEG: Tweede boeiende roman oor Groot Trek. Volksblad, 28 November 1963
  • Louw, WEG: Tweede deel van reeks oor Groot Trek boei. Die Burger, 22 November 1963
  • Strydom, S: Veel meer diepte en krag in jongste van Venter-trilogie. Die Vaderland, 13 Desember 1963
  • TP: Offerland. Kerkbode, 5 Februarie 1964
  • Venter opgewonde oor sy Geknelde land [televisiereeks]. Volksblad, 20 Junie 1984
  • Voortrekkers had ook foute, sê FA Venter [televisiereeks]. Die Burger, 20 Julie 1984

 

Publikasie

Werfjoernaal

Publikasiedatum

  • 1965
  • 1966
  • 1968
  • 1970
  • 1979

ISBN

0624007685

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • JME: Ideale geskenkboek vol lekker lees. Dagbreek en Sondagnuus, 28 November 1965
  • Muller, Elise: Werfjoernaal. Huisgenoot, 28 Januarie 1966
  • Strydom, S: Frans Venter vertel en skep die Noordweste om in ’n towerland. Bron en datum onbekend

 

Publikasie

Wit Oemfaan: gegrond op die verhaal van die Voortrekkerseun Ferdinand van Gas soos aangeteken deur Gustav S Preller

Publikasiedatum

  • 1965
  • 1969
  • 1970
  • 1985

ISBN

0624021726 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Gelofteland

Publikasiedatum

  • 1966
  • 1969
  • 1970
  • 1985
  • 2018

ISBN

  • 0624023133 (sb)
  • 9781485307303 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands 1970; vertaal deur H en G Tomme-Manesse

Resensies en besprekings

  • AS: FA Venter open nog ’n deur. Beeld, 20 Oktober 1966
  • Coetzee, AJ: Gelofteland. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Junie 1968
  • De Kock, ME: ’n Stuk geskiedenis wat na aan Afrikanerhart lê
  • RCS: Mr Venter’s vivid trek. Cape Argus, 1965
  • Schutte, R: Gelofteland tref met pretensieloosheid. Die Vaderland, 2 Desember 1966
  • Snyman, Henning: Gelofteland – FA Venter. Die Unie, April 1969
  • Van Zyl, Anna: Gelofteland: ’n beeld van die lewe self. Volksblad, 1 Desember 1966

 

Publikasie

Bedoelde land

Publikasiedatum

  • 1968
  • 1971
  • 1978
  • 2018

ISBN

  • 062401214X (hb)
  • 9781485307303 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands 1971; vertaal deur H en G Tomme-Manesse

Resensies en besprekings

  • Bedoelde land is Frans Venter se grootste triomf. Bron en datum onbekend
  • Behrens, Louise: Die kroon op Venter se Voortrekkerreeks. Die Vaderland, 25 Oktober 1968
  • Bosman, FCL: Bedoelde land. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, September/Desember 1969
  • DM: The best but surely not the last? Pretoria News, 4 Desember 1968
  • Drie heruitgawes. Huisgenoot, 9 Augustus 2018
  • Van Zyl, Anna: Bedoelde land stel teleur. Volksblad, 12 Desember 1968

 

Publikasie

Die rentmeesters

Publikasiedatum

  • 1969
  • 1970
  • 1972
  • 1986
  • 1993 (Grootdruk)

ISBN

  • 0624024245 (sb)
  • 0868123730 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Joubert, DM: Die rentmeesters. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Desember 1970
  • Schumann, Annie: Die ou man troon uit. Beeld, 30 November 1965
  • Smuts, JP: Venter is hier veral volkskrywer. Die Burger, 9 Desember 1969
  • Van Zyl, Anna: Dis ’n boek vir almal, en boer veral. Volksblad, 11 Desember 1969
  • Venter se “Boere-boek” verskyn. Die Burger, 11 Desember 1969

 

Publikasie

Die middag voel na warm as

Publikasiedatum

  • 1974
  • 1975
  • 1986
  • 1996 (Grootdruk)

ISBN

  • 0624006123
  • 0624021823
  • 0868126691 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • De Vries, Abraham: FA Venter raak “betrokke”. Oggendblad, 27 Februarie 1975
  • Marais, Guillaume: Die middag voel na warm as. Daily Dispatch, 4 Januarie 1975
  • Pienaar, Schalk: Betrokkenheid – met humor. Beeld, 31 Oktober 1974
  • Rabie, Jan: For Boland-lovers. Cape Times, 11 Desember 1974
  • Van der Walt, PD: Dit word meer as dokumentasie. Die Transvaler, 30 November 1974
  • Van Zyl, Anna: Eerlike siening van Kleurling. Volksblad, 19 Februarie 1975

 

Publikasie

Kambro-kind: ’n jeugreis

Publikasiedatum

  • 1979
  • 1981
  • 1983
  • 2021

ISBN

  • 0624013448 (hb)
  • 9781485312079 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Biografiese roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Boek “Kambro-kind” – FA Venter
  • Boeke uit die binnekamer. Rapport, 14 Maart 2021
  • Brink, André P: Venter se Kambro-kind boeiend, genoeglik. Rapport, 12 Oktober 1980
  • Greyling, Cecile MJ: Hier’s ’n bobaas-verteller. Oggendblad, 1 Augustus 1980
  • Grobler, Hilda: Kambro-kind ’n boeiende jeugreis. Hoofstad, 26 Januarie 1980
  • Jansen, Ena: Op reis met Venter en sy Kambro … Die Vaderland, 31 Januarie 1980
  • Kambro-kind ’n reis op soek na self. Oosterlig, 13 Februarie 1980
  • Rabie, Jan: Looking back on desperate years. Cape Times, 4 Junie 1980
  • Snyman, Henning: Dié Kambro bly altyd groen. Beeld, 25 Februarie 1980
  • Van der Schijff, Manie: ’n Getroue weergawe van swaar jare. Beeld, 16 Januarie 1981
  • Van Vuuren, Helize: Venter-werk pragtig! Die Burger, 13 Desember 1979
  • Van Zyl, Dorothea: Kambro-kind praat met literêre leser en breë publiek. Volksblad, 5 Desember 1979

 

Publikasie

Die koning se wingerd

Publikasiedatum

  • 1984
  • 2017

ISBN

  • 0624020924 (hb)
  • 9780796320599 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Kaapstad: Lux Verbi

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • De Vries, Abraham H: Venter boei deurentyd. Die Burger, 13 Desember 1984
  • Die koning se wingerd. Huisgenoot, 20 Julie 2017
  • FA Venter se Bybelroman van toe praat ook nou
  • Grové, AP: Talle mooi momente in nuwe Venter-roman. Oosterlig, 15 Oktober 1984
  • Wollheim, OD: Vivid Biblical drama. The Argus, 24 Oktober 1984

 

Publikasie

Die ou man en die duif

Publikasiedatum

  • 1987
  • 1990

ISBN

  • 0624025292 (hb)
  • 0624028089 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Du Plooy, Heilna: Ryk aan inhoud, en goed geskryf. Beeld, 9 November 1987
  • Pakendorf, Gunther: FA Venter se jongste met deernis geskryf. Die Burger, 26 November 1987
  • Van Zyl, Anna: ’n Aangrypende fantasie. Volksblad, 3 Oktober 1987
  • Van Zyl, Ia: Die ou man en die duif. Suidwester, 22–28 Januarie 1988
  • Venter, FA: Konflik in Venter se novelle “raak almal” [brief]. Die Burger, 8 Desember 1987

 

Publikasie

Die keer toe ek my naam vergeet het

Publikasiedatum

  • 1995
  • 2018

ISBN

  • 0624032914 (hb)
  • 0624034623 (sb)
  • 9781485308034 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Andrew Murray-prys vir Algemene Godsdienstige Literatuur 1996

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Blignault, Audrey: ’n Verhaal van oorwinning. Insig, Junie 1995
  • Botha, Danie: Die keer toe ek my naam vergeet het deur FA Venter: ’n FMR-resensie
  • Cilliers, Cecile: Hartseer leesstof wat in ’n triomftog eindig. Rapport, 18 Junie 1995
  • Eksteen, Willem: Eerlike persoonlike dokument. Die Burger, 14 Junie 1995
  • Gouws, Tom: Leser leer van sterwe, maar ook van lewe. Beeld, 5 Junie 1995
  • Venter se pen skets moedige herstel ná beroerte-aanval. Die Burger, 18 Mei 1995
  • Vosloo, Johan: Venter kry prys vir sy “belydenisboek”. Rapport, 14 April 1996

 

Publikasie

Van Botterkraal na Altena: hoogtepunte uit vier outobiografiese romans. Saamgestel en ingelei deur AP Grové

Publikasiedatum

1996

ISBN

0624035255 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Biografiese roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Crafford, Albert: Met skrywers soos Venter hoef ons taal niks te vrees. Rapport, 9 Maart 1997
  • Kroon gespan op FA Venter se skrywersloopbaan. Die Burger, 27 November 1996
  • Olivier, Fanie: FA Venter herwaardeer in boeiende outobiografie. Beeld, 21 April 1997
  • Van Biljon, Madeleine: Dis ’n loutere plesier om te lees. Die Burger, 12 Februarie 1997

 

FA Venter as vertaler:

  • Crafford, FS: Jan Smuts: ’n biografie. Kaapstad: Edina Works, 1950

FA Venter as redakteur:

  • Pragboek oor water aan premier gegee. Die Vaderland, 17 November 1970
  • Water. Onder die redaksie van FA Venter. Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel vir die Ministerie van Waterwese, 1970
  • Water 70 ’n epos. Tegniek, November 1970

As Meiring Fouché:

  • Aasvoëls van die Kalahari. Turffontein: Sirkel Publikasies, [197-]; Johannesburg: Pronkboeke, 1962
  • Afgrond van wraak. Johannesburg: Pronkboeke, 1959: Turffontein: Vanity Promosies, [198-]
  • Avontuur in die Kongo. Johannesburg: Pronkboeke, 1960; Turffontein: Vanity Promosies, [198-]
  • Bekende vreemdeling. Johannesburg: Dagbreek-Boekkring, 1963
  • Bitter die wraak. Johannesburg: Pronkboeke, 1959; Turffontein: Sirkel Publikasies, [197-]
  • Bloed oor die bouvalle: ’n Afrikaner in die Vreemde Legioen. Johannesburg: Pronkboeke, 1959; Turffontein: Sirkel Publikasies, [197-]
  • Bloed oor die duine. Johannesburg: Pronkboeke, 1958; Turffontein, Sirkel, [197-]
  • Bloed voor die son: ’n Afrikaner in die Vreemde Legioen. Johannesburg: Pronkboeke, 1957
  • Bloedige robyne: ’n Afrikaner in die Vreemde Legioen. Johannesburg: Pronkboeke, 1958; Turffontein: Sirkel Publikasies, [197-]
  • Boeie van die dood. Johannesburg: Pronkboeke, 1962
  • Boodskap uit die blou. Johannesburg: Pronkboeke, 1961
  • Bouvalle van die dood: ’n Afrikaner in die Franse Legioen. Johannesburg: Pronkboeke, 1958; Turffontein: Sirkel Publikasies, [197-]
  • Die baron van die Namib. Turffontein: Sirkel Publikasies, [197-]
  • Die bloedbad van Goras. Turffontein: Sirkel Publikasies, [197-]
  • Die dieper straf. Kaapstad: Tafelberg, 1954
  • Dodelike druppels. Turffontein: Vanity Promosies, [198-]
  • Die dodelike sluipers: ’n Afrikaner in die Vreemde Legioen. Johannesburg: Pronkboeke, 1959; Turffontein: Sirkel, [197-]
  • Dood met sonop: ’n Afrikaner in die Vreemde Legioen. Johannesburg: Pronkboeke, 1957
  • Dreigende daeraad: ’n Afrikaner in die Vreemde Legioen. Johannesburg: Pronkboeke, 1958
  • Dreunende hoewe: ’n Afrikaner in die Vreemde Legioen. Johannesburg: Pronkboeke, 1957
  • Duine van die dood: ’n Afrikaner in die Vreemde Legioen. Johannesburg: Pronkboeke, 1958
  • Die fort is stil: ’n Afrikaner in die Vreemde Legioen. Johannesburg: Pronkboeke, 1956
  • Gaste van die dood.Johannesburg: Pronkboeke, 1959; Turffontein: Sirkel Publikasies, [197-]
  • Geheim van die Sederberg. Johannesburg: Pronkboeke, 1961
  • Die geheim van Fort Laval. Johannesburg: Pronkboeke, 1963; Turffontein: Sirkel Publikasies, [198-]
  • Die gevleuelde fortuin. Johannesburg: Pronkboeke, 1961
  • Heks van die Sahara: ’n Afrikaner in die Vreemde Legioen.Johannesburg: Pronkboeke, 1956
  • Die kneg. Kaapstad: Tafelberg, 1963 (Oorspronklik as vervolgverhaal in Die Landbouweekbladverskyn met titel: ’n Kneg vir Rynland)
  • Leeuspore tussen die lyke. Turffontein: Vanity Promosies, [198-]
  • Die legende van Kumara. Johannesburg: Pronkboeke, 1960; Turffontein: Vanity Promosies, [198-]
  • Losprys vir liefde. Johannesburg: Goeie Hoop, 1954
  • Die maagd van die see. Johannesburg: Pronkboeke, 1960
  • Mademoiselle Julie: ’n Afrikaner in die Vreemde Legioen. Johannesburg: Pronkboeke, 1957
  • Die mal seerower. Johannesburg: Pronkboeke, 1962
  • Die mensvreters van Tsawo. Johannesburg: Pronkboeke, 1949
  • Monster van die moerasse. Turffontein: Vanity Promosies, [198-]; Johannesburg: Pronkboeke, 1959
  • Monsters van die Bambiberge. Johannesburg: Pronkboeke, 1960; Turffontein: Vanity Promosies, 1989
  • Die monsters van Komo. Johannesburg: Pronkboeke, 1960: Turffontein: Vanity Promosies, [198-]
  • Moord in die oerwoud. Turffontein: Vanity Promosies, [198-]; Johannesburg: Pronkboeke, 1961
  • Nag van geweld. Johannesburg: Pronkboeke, 1959; Turffontein, Sirkel Publikasies, [197-]
  • Noodroep uit die woestyn. Turffontein: Sirkel Publikasies, [197-]; Johannesburg: Pronkboeke, 1961
  • Offer vir die slanggod. Turffontein: Vanity Promosies, [198-]
  • Onheil in Suidwes. Johannesburg: Pronkboeke, 1962
  • Die pêrel van Maleia. Johannesburg: Pronkboeke, 1961
  • Die plaag uit Egipte. Johannesburg: Pronkboeke, 1961
  • Prinses van die arende. Johannesburg: Pronkboeke, 1959; Turffontein: Vanity Promosies, [198-]
  • Die purper arend. Johannesburg: Pronkboeke, 1960
  • Die raaisel van Aber-El-Mir. Johannesburg: Pronkboeke, 1961; Turffontein: Vanity Promosies, [197-]
  • Rampokkers van die paradys. Johannesburg: Pronkboeke, 1960 Turffontein: Vanity Promosies, [198-]
  • Die renostermanne van die Moraberge. Turffontein: Vanity Promosies, [198-]; Johannesburg: Pronkboeke, 1962
  • Die reus van Boendoe. Johannesburg: Pronkboeke, 1958
  • Die rooi klippies van Tandberg. Johannesburg: Pronkboeke, 1962
  • Seerowers vel die vonnis. Johannesburg: Pronkboeke, 1962
  • Seun van die Swart Luiperd. Johannesburg: Pronkboeke, 1961
  • Skaduwee van gister: ’n Afrikaner in die Vreemde Legioen. Johannesburg: Pronkboeke, 1959; Turffontein: Sirkel Publikasies, [197-]
  • Die Skarlaken Ruiters. Johannesburg: Pronkboeke, 1956; Turffontein: Sirkel Publikasies, [197-]
  • Skat onder die palms. Johannesburg: Pronkboeke, 1961
  • Die skatte van Marabash: ’n Afrikaner in die Vreemde Legioen. Johannesburg: Pronkboeke, 1960; Turffontein: Sirkel Publikasies, [197-]
  • Slagoffer vir die slanggod. Johannesburg: Pronkboeke, 1961
  • Sluiers oor die woud. Johannesburg: Pronkboeke, 1959; Turffontein: Sirkel Publikasies, [198-]
  • Spelonk van verskrikking: ’n Afrikaner in die Vreemde Legioen. Johannesburg: Pronkboeke, 1959; Turffontein: Sirkel Promosies, [197-]
  • Spore na die dood: ’n Afrikaner in die Vreemde Legioen. Johannesburg: Pronkboeke, 1956
  • Die spore roep: ’n Afrikaner in die Vreemde. Johannesburg: Pronkboeke, 1957
  • Spore van verraad. Johannesburg: Pronkboeke, 1961
  • Staatsgeheim BHC 7. Kaapstad: Tafelberg, 1969
  • Stille dood oor die Sahara: ’n Afrikaner in die Vreemde Legioen. Johannesburg: Pronkboeke, 1960
  • Storm oor Dini Salam. Johannesburg: Pronkboeke, 1960; Turffontein: Sirkel Publikasies, [197-]
  • Strik van die dood: 'n Afrikaner in die Vreemde Legioen. Johannesburg: Pronkboeke, 1959
  • Die swaard van verwoesting. Turffontein: Sirkel Publikasies, [198-]
  • Die Swart Luiperd. Turffontein: Vanity Promosies, [198-]
  • ’n Teken in die nag. Turffontein: Sirkel Publikasies, [197-]
  • Die vermiste meisie. Johannesburg: Pronkboeke, 1961
  • Die verraaier van Dini Salam. Johannesburg: Pronkboeke, 1961; Turffontein: Vanity Promosies, [197-]
  • Vlam van wraak. Turffontein: Vanity Promosies, [198-]
  • Vlamme in die Kalahari. Kaapstad: Landstem-Boeke, 1961
  • Vlamme in die tempel. Johannesburg: Pronkboeke, 1959; Turffontein: Vanity Promosies, [197-]
  • Vlamme in die woestyn. Johannesburg: Pronkboeke, 1961; Turffontein: Vanity Promosies, [197-]
  • Vlamme van verraad. Johannesburg: Pronkboeke, 1958
  • Vuilspel op die vlaktes. Kaapstad: Landstem-Boeke, 1960
  • Vuurpeloton ... lê aan!Johannesburg: Pronkboeke, 1962
  • Die waansinnige besoeker.Johannesburg: Pronkboeke, 1962
  • Watergraf vir die oerwoudman. Johannesburg: Pronkboeke, 1962
  • Woud van onheil. Johannesburg: Pronkboeke, 1959; Turffontein: Vanity Promosies, [198-]
  • Woud van waansin. Johannesburg: Pronkboeke, 1959; Turffontein: Vanity Promosies, [198-]
  • Wraak in die woestynvesting. Johannesburg: Pronkboeke, 1960; Turffontein: Sirkel Publikasies, [197-]
  • Wraak uit die verlede. Johannesburg: Pronkboeke, 1962; Turffontein: Sirkel Publikasies, [198-]
  • Wraak van die sabel: ’n Afrikaner in die Vreemde Legioen. Johannesburg: Pronkboeke, 1958
  • Wraak van die woestyn: ’n Afrikaner in die Vreemde Legioen. Johannesburg: Pronkboeke, 1956; Turffontein: Sirkel Publikasies, [197]-

As René Stegmann:

  • Die kampvegter. Kaapstad: Tafelberg, 1969
  • Die vrou van Schoonegevel. Kaapstad: Human & Rousseau, 1968, 1992
    [ISBN0798130512 (sb)]
  • Doktersvrou op Oude Bosch. Kaapstad: Tafelberg, 1968
  • Kringe en kartels. Kaapstad: Tafelberg, 1969
  • Teen ’n afgrond. Kaapstad: Tafelberg, 1967
  • Vrou uit die vreemde. Kaapstad: Tafelberg, 1967

As Marius de Jongh:

  • Die oë van Okatura. Kaapstad: Tafelberg, 1968, 1970 (Spesiale Grootdruk-uitgawe)
  • Die waters van Toringberg. Kaapstad: Tafelberg, 1966
  • Son en smarag. Kaapstad: Human & Rousseau, 1968, 1992 
    [ISBN0798130598 (sb)]

As Elske te Water:

  • Stryd in die lower. Johannesburg: Dagbreek-Boekkring, 1967

Artikels oor en deur FA Venter:

  • Alienation from community hits Afrikaans writer worst – author. Eastern Province Herald, 25 April 1981
  • Botha, Danie: Van blywende waarde. Insig, Augustus 1997
  • Burger, Jens: Voortrekker epic. The Star, 30 Junie 1958
  • Claassens, Pieter: FA Venter vereer deur Rapportryers. Oggendblad, 30 September 1982
  • Daantjie Dinamiet: FA Venter (1916-1997)
  • Ellis, Estelle: FA Venter se kinders erf alles; UPE R10 000. Die Burger, 27 September 1997
  • Engelbrecht, Theunis: Kind van die Kambro is dood. Beeld, 10 Julie 1997
  • FA Venter
  • FA Venter
  • FA Venter (Beeld se hoofartikel). Beeld, 10 Julie 1997
  • FA Venter bemaak grootste deel van boedel aan kinders. Volksblad, 27 September 1997
  • FA Venter kry môre Hertzogprys. Bron onbekend, 12 Oktober 1961
  • FA Venter ontvang Andrew Murrayprys. Kerkbode, 19 April 1996
  • FA Venter ontvang Hertzog-prys vir prosa. Die Burger, 3 Julie 1961
  • FA Venter oor Man van Ciréne. Oosterlig, 16 April 1987
  • FA Venter (80) oorlede weens nierversaking. Die Burger, 9 Julie 1997
  • FA Venter overleden. Zuid-Afrika, Julie/Augustus 1997
  • FA Venter se vier romans vir TV. Beeld, 19 September 1978
  • FA Venter sewentig. Die Burger, 29 November 1986
  • FA Venter sewentig. Suid-Afrikaanse Oorsig, 5 Desember 1986 (oorgeneem uit Die Burger)
  • FA Venter siek. Die Transvaler, 18 September 1990
  • FA Venter span uit. Die Burger, 15 Maart 1977
  • FA Venter stabiel na beroerte. Die Burger, 18 September 1990
  • FA Venter sterf weens nierversaking op 80. Volksblad, 9 Julie 1997
  • FA Venter veg met inbreker. Volksblad, 2 Januarie 1969
  • FA Venter wen Andrew Murrayprys. Die Voorligter, Mei 1996
  • Francois Alwyn Venter se lewensgeskiedenis soos hy dit self geskryf het in 1995. Die Patriot, Julie 1997
  • Frans Venter, klaar met trek, het groot planne. Dagbreek en Landstem, 20 Oktober 1968
  • Fryer, Charles: Beskermengel vir ’n skrywer. Sarie, 24 Mei 1995
  • Fryer, Charles: FA Venter is tagtig – balans van ’n lewe. Volksblad, 27 November 1996; Beeld, 27 November 1996; Die Burger, 27 November 1996
  • Fryer, Charles: Venter ’n vegter tot die einde. Volksblad, 19 Julie 1997
  • Gehuldig [ATKB-tak Kaapstad] [foto]. Die Burger, 12 Februarie 1966
  • Gilde “ongevoelig” met safari-steun – FA Venter. Beeld, 3 Augustus 1987
  • Goosen, Jeanne: FA Venter maan teen oopgooi van Gilde. Hoofstad, 21 Mei 1976
  • Gordon, Jamey: FA Venter se naam wel só onthou
  • Greeff, Apie: Nóg ’n treffer vir FA Venter. Die Transvaler, 18 Januarie 1983
  • Hertzogprys aan Frans Venter. Die Suidwes-Afrikaner, 4 Julie 1961
  • Hill, Raymond: English writers “not estranged from readers”. Evening Post, 24 April 1981
  • Hoffman, Hoffie: 200 mense by roudiens vir FA Venter in die Strand. Beeld, 11 Julie 1997
  • Hoffman, Hoffie: Baie woon roudiens vir bekroonde skrywer by. Volksblad, 11 Julie 1997
  • Hoffman, Hoffie: FA Venter se ambisies was “so suiwer soos Karoo lug”. Die Burger, 11 Julie 1997
  • Hoffman, Hoffie: Talle betoon laaste eer aan “vegter en oorlewer”. Die Burger, 11 Julie 1997
  • Hoffmann, Kit: Venter terug van randjie van dood. Rapport, 27 Januarie 1991
  • Huldeblyke aan FA Venter, Ferdinand Deist het ontroer. Beeld, 24 Julie 1997
  • Joubert, Maureen: FA Venter span uit. Die Burger, 15 Maart 1977
  • Joubert, Peet: Huldeblyk. Die Patriot, Julie 1997
  • Klaas Waarsegger II: FA Venter en die Afrikaanse skryfkuns. Die Afrikaner, Julie 1997
  • Lake, Arthur: Slim skrywery sommer ’n onding, sê FA Venter. Die Vaderland, 27 Junie 1984
  • Le Roux, André: FA Venter los Gilde oor Dakar-steun. Die Burger, 22 Julie 1987
  • Le Roux, André: Frans Venter nog lank nie klaar met sy tikmasjien. Die Burger, 27 November 1986
  • Letterkunde kan SA oorsee “adverteer”, sê Frans Venter. Die Vaderland, 20 Junie 1961
  • Louw, WEG: Van die grond kom Frans nie weg nie. Beeld, 4 Junie 1970
  • MM: Man van Ciréne … en die ou kombuistafel. Bron en datum onbekend
  • Ná tien jaar is sy Groot Trek klaar. Bron en datum onbekend
  • Petersen, Marina: Soet herinneringe aan my ouma en oupa. Sarie, 14 Desember 1988
  • Pienaar, Leatitia: FA Venter vier tagtig jaar. Volksblad, 9 Desember 1996
  • Prinsloo, Koos: Met deernis en ’n gewete. Beeld, 19 November 1984
  • Produktiewe skrywer word sestig. Die Burger, 27 November 1976
  • Rautenbach, Elmari: FA Venter, die alleenmens … Beeld, 4 April 1989
  • Richardt, Hans: FA Venter was ’n goeie skrywer [brief]
  • Siek Frans Venter vasgeknel – vliegtuig, trekker help. Die Burger, 24 Maart 1961
  • Skrywer vra dig-genade vir Breytenbach. Hoofstad, 2 Februarie 197-
  • Smit, Berta: Venter het ons romankuns verryk. Afrikaans Vandag, September 1996
  • Smit, Johan: FA Venter: ’n man van die bodem en vegter vir die lewe. Die Voorligter, Desember 1995/Januarie 1996
  • Smit, Johan: ’n Vegter vir die lewe. Saffier, Augustus 1996
  • Snyman, Dana: Met ons gesels word sprokies, stories en legendes, die ou-ou juwele, uit die kis gehaal, opgevryf en rondgegee sodat dit lewend bly. Die Burger, 30 Oktober 2010; Volksblad, 30 September 2010
  • Spaarwater, Pieter: “Anders sou dit ondraaglik wees”. Die Burger, 5 Mei 1995
  • Spies, Johan: So is ’n naam. Die Burger, 28 Desember 1987
  • Spies, Willie: Kambro-kinders van Suid-Afrika. Volksblad, 30 Maart 2020
  • Steenkamp, Isabelle: Die vrou op die agtergrond: Stella Venter. Dagbreek en Landstem, datum onbekend
  • Steenkamp, Isabelle: Nou gaan Frans skryf! Dagbreek en Landstem, 1968
  • Trekker: Dogter se vraag het tot Venter se groot roman gelei. Die Vaderland, 15 Januarie 1959
  • Twee vorige wenners van Andrew Murrayprys sterf. Kerkbode, 18 Julie 1997
  • UPE honours fossil hunter and author. Evening Post, 23 Januarie 1981
  • UPE kry skenking uit Venter se boedel. Beeld, 27 September 1997
  • UPE vereer OP-seun en gevierde skrywer. Oosterlig, 23 Januarie 1981
  • Van Reenen, Rykie: Afrikaanse skrywer kry wêreld-roem. Die Burger, 1959
  • Venter, FA: Afrikaanse skrywers in dampkring van terroriste geplaas … [brief]. Rapport, 2 Augustus 1987
  • Venter, FA: Burger veroorsaak in ’34 eerste knal van vreugde. Die Burger, 13 Augustus 1990
  • Venter, FA: Gesonde verhouding die enigste pas. Die Burger, 20 Februarie 1989
  • Venter, FA: Koelbloedige miskenning deur sekere literatore [brief]. Beeld, 5 Mei 1968
  • Venter, FA: ’n Aanskouingsles in rasseverhoudinge. Die Burger, 28 Januarie 1989
  • Venter, FA: Skrywer dikwels vergete broeder [brief]. Beeld, 21 April 1990
  • Venter, FA: Skrywer sê dankie vir TV-prent oor sy lewe. Die Burger, 12 April 1990
  • Venter, FA: Vir Stella … met liefde van Frans. Huisgenoot, 18 Mei 1995
  • Venter gesels oor taak van skrywer. Die Burger, 15 Februarie 1966
  • Venter sells up. The Argus, 2 Februarie 1976
  • Verkoop plaas. Die Transvaler, 3 Februarie 1976
  • Volk moet skrywe verstaan. Die Transvaler, 28 Junie 1984
  • Vosloo, Johan: Die laaste kinders van die genade. Rapport, 1 Desember 1974

FA Venter se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2012-04-19 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 2

Kommentaar

  • Sampie Snyman

    Het "Geknelde land" as voorgeskrewe werk op skool gehad. Het later die ander twee dele ook gelees. Het groot respek vir hom. Hy en sy vrou het my en twee vriende eendag as Bloemfontein-weermaglede tussen Belmont-stasie en Prieska opgelaai. Na lang gesprekke in hul kar, kon ons later uitvind wie hy was. So is ons ook getrakteer op hul padkos. Soos hy gesê het: "Vrou, gee die kinders kos, hul's honger." Hy het destyds 'n plaas iewers in die Noord-Kaap gehad. Dankie, oom FA.

  • As jong outjie in Vanwyksvlei het ek oom Frans goed geken. Wonderlike vooreg gewees!

    Hy het as Meiring Fouche 'n hele boek in een dag geskryf. Gepraat op die ou bandopnemer en dan vir die uitgewers gepos.

    Was effe links en 'n Bloedsap.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top