Man van Cirene deur FA Venter: ’n resensie

  • 2

Man van Cirene
FA Venter
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320216

Sedert FA Venter (1916–1997) se Bybelroman Man van Cirene in 1957 verskyn het, het talle herdrukke en heruitgawes daarvan gevolg. Onlangs is hierdie klassieke werk opnuut deur Lux Verbi uitgegee. Hierdie uitgawe is gegrond op die weergawe uit 1991, destyds intensief hersien deur die outeur self. Verder is daar geringe aanpassings van die taalgebruik met die 1983-vertaling van die Bybel as verwysingspunt.

Venter is bekend vir werke soos die volgende: Kambro-kind (1979), ’n beleë en sensitiewe verwerking van die eie jeugherinneringe wat bewys dat ’n kunstenaar die eenvoudige tot ’n boeiende onderwerp kan omskep; Die drosters (1952), waarin die universele oorlogsproblematiek op pakkende wyse verken word; en die “Jim-comes-to-Jo'burg”-verhaal van Kolisile in Swart pelgrim (1952/1958), ’n vroeë, tentatiewe manifestasie van literêre betrokkenheid (littérature engagée) in die Afrikaanse letterkunde. Venter ontvang in 1961 die Hertzogprys vir Swart pelgrim en Geknelde land. Laasgenoemde roman vorm deel van sy tetralogie oor die Groot Trek.

Wat literêre gehalte betref, is Man van Cirene van ’n laer orde as Venter se beste werk, maar oortref tog die latere Die koning se wingerd (1984), wat eweneens op Bybelse stof gebaseer is. Daar sou seker aangevoer kon word dat hierdie tipe waardeoordele nie die hoofoorweging sou wees vir ’n leser wat die nuwe Lux Verbi-weergawe van Man van Cirene in die hand neem nie. Tog wil ek beweer dat die literêre juis ’n rol behoort te speel by die lees en beoordeling van hierdie roman. Die Bybelse gegewe is weliswaar van sentrale belang, maar daarmee word nie volstaan nie. In navolging van die diensknegte in Jesus se "talente"-gelykenis wat met die kosbare besit van hul heer gaan woeker, het Venter vlytig gaan werk met die Bybelse stof sodat hy rekenskap sal kan gee van voldoende wins. Uiteindelik gaan dit in die geloof, soos ook voorgestel in bogenoemde gelykenis, oor die uitdra van die Evangelie van Christus en die uitbou van sy Koninkryk. Man van Cirene is daarop gerig om ’n bydrae te lewer tot hierdie groot opdrag, al is dit dan, soos ek sal aanvoer, grootliks ten behoewe van die reeds bekeerdes, om hulle geloof te versterk deur die geloofstryd opnuut, romanmatig, op te voer.

Hierdie roman bou kreatief voort op die "terloopse" en besonder enigmatiese verskyning van Simon Niger, die man van Cirene, in die Sinoptiese evangelies, spesifiek in Matteus 27:32, Markus 15:21 en Lukas 23:26. Simon is die man wat beveel is om Jesus se kruis te dra nadat Hy nie meer daartoe in staat was nie, wat simbolies dui op die deelname van elkeen, ook die geringste, aan die Kruisigingsverhaal, en die opdrag tot verdere verkondiging van hierdie Evangelie van dood en opstanding. Die manier waarop Simon se lewensverhaal in hierdie roman eindig, bevestig sy verbondenheid met Christus.

Man van Cirene bestaan uit drie dele: die middelste is om die sentrale Bybelse vertrekpunt gebou en staan nader aan die oorspronklike gegewe as deel een en deel drie wat onderskeidelik die jare voor en ná hierdie sleutelgebeurtenis verbeeldingryk, maar ruimtelik en histories betreklik getrou, inklee. Deur ’n reeks dramatiese gebeure volg die leser Simon as ortodokse Jood se ontwikkeling vanaf ongeloof en teenstand tot volle oorgawe aan die Man van Nasaret, waarna hy ook oorgaan tot aktiewe deelname aan geloofsverkondiging.

Die klem val in hierdie roman ongelukkig, soos dikwels by Venter, op die uiterlike dramatiek, wat weliswaar hier deeglik ingegee word deur die grootse sake waaroor dit gaan. Uiteindelik skeur die voorhangsel dan ook en is daar sonsverduistering. Met hierdie dramatiese inslag bou Man van Cirene dus getrou voort op die Bybelse, maar bied daarom min geleentheid tot dieper en oortuigende karakterontwikkeling, terwyl ware spanning grootliks ontbreek, omdat alles hier ingebed is in een groot eenstemmigheid. Simon se aanvanklike ongeloof word eensydig gekontrasteer met die intense geloof wat sy vrou, Debora, reeds vertoon wanneer die eerste gerugte oor die Nasarener hulle in Noord-Afrika begin bereik. Ofskoon daar talryke onvoorspelbare verhaalwendinge in hierdie doelbewus gebeurtenisvolle verhaal voorkom, is die breë gang daarvan voorspelbaar. Elke opponent en teenslag is byna net "seremonieel" daar geplaas in diens van die groot ontknoping wat wag, ook Simon se aanvanklike ongeloof en bevegting van die Messias. Daarom word sake dan ook af en toe opvallend vooruitgeloop. ’n Voorbeeld hiervan is die volgende: Simon Niger gaan soek die dissipel Simon Petrus op en stel onmiddellik ’n vraag met betrekking tot gerugte oor Jesus se opstanding, waarop Simon Petrus sonder voldoende aanleiding antwoord: "Dit klink vir my jy glo dit nie?" (243). Vroeër in die verhaal merk Simon Niger ná ’n ontmoeting met Judas Iskariot proeslaggend op: "Om jou die waarheid te sê, ek sal my kop op ’n blok sit hy gaan die Nasarener verraai" (165). Hierdie reaksie volg te gou en is te spesifiek. As Simon aan Debora onthul dat hy Jesus se kruis gedra het, merk sy entoesiasties op: "Hiervoor sal jy vir altyd onthou word" (229). Die leser mag soms die indruk kry dat die karakters in hierdie roman die Bybel goed gelees het.

Waarmee die leser hier gekonfronteer word, is ’n soort Bybelse toerisme waarby hy, byna soos tydens die Passiespel, Bybelse en Bybels-geïnspireerde taferele voor hom sien afspeel. Dit word ’n skouspel waaraan selfs ek, wat aanvanklik onwennig gereageer het, my naderhand gelate moes oorgee. Die karakters word amper verteenwoordigers van die leser wat die verlede en die Bybellande "besoek". Vandaar dan ook Debora se reaksie as sy Simon Petrus in lewende lywe ontmoet: "Sy is so oorstelp dat sy nie weet waar om te kyk nie" (166).

Uiteindelik is die aangewese benadering tot die lees van Man van Cirene dalk juis om dit as ’n soort Passiespel te bejeën. Hierdie roman is nie daarop gerig om nuwe insigte oor Jesus en die geloof te bring nie, maar is eerder ingestel op die bevestiging van sekerhede en die versterking van die geloof. Simon Niger is in hierdie verband verteenwoordigend van die leser: juis ook daardie leser wat skynbaar nie “kwalifiseer” nie, is bestem om ’n volgeling van Jesus te wees. In Simon sien die Christen sy/haar eie pad van ongeloof na bekering, ook elke dag opnuut.

Los van die Bybelse grootshede beskou, is Man van Cirene egter nie ’n oortuigende roman nie. Ek kan my ook nie voorstel dat hierdie weergawe van die Bybelgebeure en die Christelike leer nuwe belangstelling sal wek by diegene wat ten opsigte daarvan oningewydes is nie.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top