Geknelde land deur FA Venter: ’n resensie

  • 3

Geknelde land
FA Venter
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485307273

FA Venter boekstaaf met Geknelde Land ’n geskiedskrywing byna in die eerste persoon hoewel die roman nie ’n ek-verteller het nie.

Maar jy ervaar en ontdek hierdie hoofkarakater, Rudolf, se wel en wee, aan die vooraand van die Groot Trek se begin. Die roman, wat in 1960 verskyn het, het ’n persoonlike invalshoek rakende hierdie tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, juis hoe dit die individuele mens beïnvloed het.

Die Dreyer-gesin is hier die hoofkarakters.

Dit is fassinerend om ’n storie te lees wat reeds byna ses dekades gelede geskryf is oor ’n tydperk meer as ’n 100 jaar tevore.

Die lees van ’n boek vandag wat lank gelede al staanplek op die boekrak gekry het, gee ’n duideliker beeld van hoe dit wás.

Met die lees van Geknelde Land vandag is dit in twee opsigte so.

Eerstens is dit die tyd toe die boek verskyn het. Dit maak die deur na die die skrywer se eie raamwerk ook ’n bietjie oop.

Tweedens leer ken jy tydperke en sekere gebiede van die 19de eeu in Suid-Afrika, en dit verleen ook ’n uitsig op hoe die wêreld gelyk het, en in die jaar 1834 maak die leser kennis met die Dreyer-gesin.

Rudolf Dreyer boer op die plaas Grensplaas. Die plaas en boerwees word beeldryk weergegee, byna digterlik. Die grond, die weer, die streek. Venter het nou maar net raak beskrywings wat nié as mooiskryf afgemaak moet word nie.

Elke hoofstuk se eerste paragraaf kon eintlik die begin van die boek gewees het, want dit behou die aandag, so trek dit jou in. En lees Venter gerus vir ’n hernude woordeskat. Dis te verstane dat die skrywer (hy is in 1997 oorlede) ook ’n Hertzogpryswenner was. Hy het dit juis vir Geknelde Land tesame met ’n ander boek deur hom, Swart pelgrim, ontvang.

Geknelde Land is ook ’n boeiende storie.

Op Grensplaas word die take van boerwees vermag wanneer ’n onverwagte, ongewenste besoeker daar opdaag. Hy is ook nie ’n vreemdeling vir die Dreyers nie. Goliat Ysterbeek, “die fynste skelm aan die grens”, kom met nuus.

Die jaar 1819 is lank verby, maar tog nie vergete nie, “toe die kommando’s voor die Amatolas deur die Xhosa-falankse gesens het”. Nou is ’n aanslag te wagte. Of die inwoners van die streek Goliat se storie en bedoelings kan glo, is hulle nie seker nie, maar die vuurseine op die berge is sigbaar.

En nou het die Xhosas roers waarvoor hulle hul osse verruil het.

Die beskrywing van die Oos-Kaapse platteland roep by my talle beelde op, aangesien dit my grootwordprovinsie is en baie van hierdie dorpe aan my bekend is.

Terselfdertyd word die oopmaak van die geskienisboeke met Geknelde Land ook ’n taalkundige inspuiting, met woorde wat toe in gebruik was. Dan is daar natuurlik ook sommige woorde wat in onbruik verval het, en sommige woorde en benamings wat ’n mens nie wil noem nie.

Met die koms van televisie het die Dreyer-gesin ook in sitkamers regoor Suid-Afrika besoek afgelê.

En dit sou stellig ook in hierdie medium goed kon werk omdat dit so ’n sterk storie is. Gewis ook ontstellend en baie goed wat ’n mens raak lees by monde van sommige karakters voel taamlik ongemaklik om vandag in te neem. Die woordkeuses van sommige karakters kan ’n mens seker nie van wegkom nie, maar dit krap aan menige mens vandag.

Maar kyk verby dit. Want dit is ’n goeie, sterk verhaal dié, en op die koop toe besonder goed verwoord.

  • 3

Kommentaar

  • Geen wonder dat ik mij wat versleten voel: het is al 40 jaar geleden dat het Davidsfonds (Leuven) mijn Nederlandse vertaling van 'Swart Pelgrim' op de markt bracht. Ik heb toen gezworen dat ik niet meer uit het Afrikaans in het Nederlands zou vertalen, omdat ik niet wilde bijdragen aan het verder vervreemden van de twee talen van elkaar. Ik heb woord gehouden, maar de evolutie heeft mij ongelijk gegeven. Mijn taalgenoten brengen de minieme inspanning niet op om Afrikaanse teksten direct in het Afrikaans te lezen, desnoods met wat woordverklaring. Ze weten niet wat ze missen.

  • Goeiedag

    Ek is op soek na F A Venter Geknelde Land,Offerland,Gelofteland en Bedoelde land.
    Kan julle my miskien help?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top