By die herlees van Offerland: FA Venter

  • 4

By die herlees van Offerland: FA Venter
Protea Boekhuis, 2de Uitgawe, 1ste druk, 2017

Joan Hambidge het iewers vroeër geskryf dat ’n resensent sy posisie, motiewe en standpunte moet verklaar.

Hierdie resensie kon nooit iets anders as uiters persoonlik en subjektief wees nie.

Dit het introspeksie geverg ten opsigte van my eerste lees van hierdie roman as voorgeskrewe boek in matriek (1969); die bewondering wat ek in 1964 in st 5 (graad 7) gehad het vir Geknelde land (1960), en ook die latere lees van die res van die tetralogie: Gelofteland (1966) en Bedoelde land (1968). Die lees daarvan is ook beïnvloed deur en voortkomende uit my lewenslange inherente belangstelling in die geskiedenis. Juis omdat ek Offerland egter as ’n voorgeskrewe boek moes “bestudeer”, het ek daarna besluit dat dit nie weer op my boekrak sou staan nie – die res wel!

Die vraag het ook by my opgekom: Hoekom juis nou ’n herdruk van ’n historiese roman wat ’n baie tradisionele Afrikanergeskiedenis uitbeeld met al die raspejoratiewe en ideologieë wat daarmee saamgaan? En ’n tweede vraag was hoe ek my eie (steeds) veranderende sieninge (ideologies, polities, persoonlik en letterkundig) sou ervaar en raaklees in die herlees van hierdie roman (byna 50 jaar later en hopelik wyser as die 17-jarige in matriek).

Ek gaan nie noodwendig die kritiek van TT Cloete in sy studie oor die vier romans as romansiklus of in die literatuurgeskiedenisse daarna herhaal nie. Ek kan wel saamstem met die algemene strekking daarvan dat dit ’n redelik noukeurige uitbeelding is van die geskiedenis en bekende historiese figure van die sogenaamde Groot Trek, met Offerland as die tweede deel daarvan. Dié roman beskryf in breë trekke die trek oor die Gariep aan die begin van 1837, die stilstand en samekoms by Blesberg met die terugflitse na Vegkop, oorstaan by Vetrivier en Doornkop, onenigheid onder die leierskap en hul volgelinge oor die kerkkwessie, trekrigting en persoonlike botsings, die besoeke aan Dingaan en strafekspedisie teen die Matabeles by Mosega tot die Bloukransmoorde onder die Drakensberge gedurende Februarie 1838.

Soos met Geknelde land word die sogenaamde “groot geskiedenis” egter uitgebeeld deur die lotgevalle en fokalisering van die “klein geskiedenis” van Rudolf Dreyer en sy gesin. Deur hulle gesin en familie word die onrustigheid, verdeeldheid, bitterheid en selfs skeuring, maar ook ideale en drome van die gewone mens gedurende hierdie tydperk in die geskiedenis beskryf. Dit is seker een van die gesinne in ons letterkunde wat ek die langste en beste ken. Venter het beslis daarin geslaag om hulle deel van my verbeelding te maak, en met die herlees van Offerland het ek besef hoe verbonde ek nog altyd aan hulle is. Al het my mening oor hulle optrede verander en sien ek die foute in die karakters soveel beter raak as 50 jaar gelede, kan ek Meester se objektiewe siening van hulle beter verstaan, was my hartseer oor wat hierdie mense moes verduur in die soeke na vryheid en grond nog net so intens. Miskien meer, omdat my persoonlike ervarings my soveel meer empatie kan gee oor die verlies van familielede, kinders, sekuriteit en sekerheid oor hul toekoms.

Venter gebruik egter ook ander karakters se fokalisering om motiewe agter die besluite te ondersoek en spreek ook deur mindere karakters skerp kritiek uit teen verouderde ideologieë, rasseverdeeldheid, die idee van rassuiwerheid, kolonialisme, swak en verdeelde leierskap, koppigheid en die onvermoë om ag te slaan op waarskuwings oor die gevolge van sekere besluite. Daar is al literêr kritiek uitgespreek oor hierdie fragmentasie van fokalisering, en die hoofstukke oor Dingaan was vir my steeds onoortuigend, maar die herlees van die sienings van Sybrand, Adam Kok, sir Benjamin D’Urban, die trekleiers en Meester was vir my duideliker en meer relevant. Adam Kok sê byvoorbeeld aan Rudolf op bl 68: “Luister vandag na Adam Kok – eer baie jare om is, sal julle leer dat julle nie bo-op ons kan staan nie. Julle sal neffens ons moet staan”; en sir Benjamin D’Urban oor die Trekkers uit die kolonie: “We shall never get them back and through them we shall lose this Colony and more. You and I will not live to see it, but it will come.”

Hierdie kritiek het, saam met die uitbeelding van die hoofkarakters, universele temas na vore laat kom, soos die brandende begeerte na vryheid en grond by alle volkere, die offers wat mense moet bring en die lyding vir die individu wat hierdie groot motiewe vir besluite in die geskiedenis tot gevolg het, die mens se gedurige versugting na die beweeg oor grense wat altyd afskeid, skeiding en nuwe uitdagings tot gevolg het.

Aan die ander kant beklemtoon Venter steeds eg nasionalisties die tradisionele siening van die Afrikaner se gebondenheid aan geloof as ’n bindende faktor en die enigste hoop in ’n proses wat soveel offers vra. Daar is ook deurlopend die identifikasie met die Ou-Testamentiese geskiedenis met verwysing na leiers soos Moses, Josua, Aäron, Gideon en Jesaja. Binne hierdie denkraamwerk word die motief van God se Voorsienigheid en sy bestiering van alle gebeure ook ’n sterk faktor in die volharding met besluite en die aanvaarding van ’n persoonlike lot.

Een van die opvallende aspekte by die herlees was die ervaring van dramatiese ironie – soos by alle historiese romans waar die leser reeds die geskiedenis ken, maar die karakters nie. Dit bly een van die tegnieke wat Venter deurlopend gebruik. Op hierdie wyse word ook spanning by die leser geskep, omdat hy/sy nie weet wanneer die karakter ook uiteindelik die realiteit sal besef of daarmee sal kennis maak nie. In baie gevalle te laat, maar dit weet die leser nie in verband met die individuele karakters nie – nie altyd nie. In Offerland is daar byvoorbeeld in die algemeen die siening van Retief deur sommiges as ’n Messias en Moses, die oortuiging dat Dingaan reeds grond aan hulle afgestaan het, die verwagting van Natal as Kanaän. Daar is egter ook die individuele oortuigings, soos dié by Rudolf aan die begin van die roman wanneer hy die onderdrukking van die Kaapkolonie agter hom laat: “Die Oosgrens het hom min saamgegee, maar wat hy het, is syne om te behou en mee te woeker” (11). Op bl 360, wanneer hy op Buks se lyk afkom na die Bloukransmoorde, moet ons egter lees: “Op daardie plek in die stilte, in die warm sonlig, in die roerloosheid, stil van skrik, sien Rudolf Dreyer wat hierdie dag hom kos.”

Die titel van die roman dui juis die klem op die offers aan en op bl 164, wanneer Rudolf vir sy vader vra wanneer al die swaarkry dan gaan einde kry (na die besef van sy broer, Sybrand, se teregstelling), antwoord Helgaardt: “Dalk is dit ons offer vir Vryheid. Nog veel meer sal seker gevra word. Grensplaas het sy offers geëis. ’n Nuwe land en Vryheid sal nog meer eis.” Nie een van hulle twee weet wat nog alles voorlê nie, maar Venter laat die leser hierdie reeks offers saam met hulle beleef tot ’n aangrypende hoogtepunt in die laaste hoofstukke en die besef deur Hendriena verwoord: “Elkeen het ’n offer gebring. Daar is Salomon en Gesina en kinders wat ons nie eens ken nie. Daar is oom Pieter Retief, Vader, ons liefste Buks, Naomi – almal wat in die vallei rus. Dit is ons offer. Dit is ’n goeie offer, want dit is ons beste, ons dierbaarste. Dit is ons onskuld” (390).

Die gedetailleerde beskrywing van die daaglikse bestaan in die laer is opvallend deeglik en dit word ondersteun deur die woordeskat uit ’n vergange era wat by die herlees soos ou vriende na vore gekom het: “velkuip”, “skeimes”, “lopers en snaphane”, vuurstene wat “ingeskerp” word, “benieud”, “op-agter-os”, en hierdie “gewes”. Onder die spreekwoorde was daar herontdekkings soos: iets is “vaag en vers”; “lyk soos ’n nuwe peits”; “waar het jy dit al op ’n viool hoor speel”; “jy moet alles sê, nie een semel laat val nie”; “stilsit praat en griewe pruim”; “trou is nie ertjies dop nie”; en “hy’t nie ’n skelling om in sy oog te steek nie”. Hierdie besonderhede maak ook van die beskrywing van die voorbereiding op en die trek oor die Drakensberge een van die hoogtepunte in die roman.

Die karakterisering van Rudolf Dreyer deur die loop van hierdie roman is ook meer oortuigend as in Geknelde land. Die geleidelike verandering van ’n besliste, koersvaste, selfversekerde en kragdadige karakter tot ’n man vol twyfel en onsekerheid oor sieninge en beginsels wat vroeër vas gestaan het, as gevolg van die gebeure, die koersloosheid en verdeling in trekgeledere, asook die afbreek van sy trots en selfstandigheid deur die offers wat ook hy moet bring, vorm ’n deurlopende spanningslyn in hierdie roman.

Die herlees van Offerland het my aanvanklike sinisme weerspreek. Dit was ’n interessante reis deur my eie leeservarings, besinning oor die geskiedenis van al die mense en offers in hierdie “wye en droewe land”, ’n vergelyking met ander meer moderne historiese romans en nadink oor die aard van die geskiedskrywing as verhaal. Die belangrikheid van die “klein geskiedenisse” vir die begrip van wat die groter verloop van die geskiedenis aan mense doen, was meer opvallend en die begrip dat alle historiese romans moet handel oor die aard van die méns.

Alhoewel Offerland steeds ’n tradisionele en kultuurgebonde historiese roman uit die sestigerjare sal bly, is ek aan die einde van die lees daarvan wéér ontroer. Die ervaring van die menslike lyding van enkelinge in hierdie groot land ter wille van vryheid, meegesleur deur die groot historiese ontwikkelinge om hulle, asook die onskuld van die ontwikkeling van die verhouding tussen Buks en Naomi sal my bybly. Dit is ’n bewys dat Venter ook in hierdie roman daarin slaag om lesers soos ek mee te voer met die karakters en hul wedervaringe soos slegs ’n goeie storieverteller kan.

Offerland staan weer op my rak.

  • 4

Kommentaar

  • Ben Raubenheimer

    Offerland en die ander sal altyd tydlose, tradisionele kultuurgebonde Afrikanerromans bly.

  • Baie goeie resensie!
    Ek het die hele reeks meer as een keer gelees.
    Ek dink ook KAMBROKIND is Afrikana wat bewaar en herlees moet word.

  • Dit was 'n allerpragtige reeks. Ek het dit vasgenael gelees as kind. Tydloos ... en steeds relevant - menslike opoffering ter wille van vryheid.

  • Dankie vir die resensie Joan, ek het reeds Geknelde Land gelees, en gaan die einde van die maand Offerland aanskaf.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top