Die keer toe ek my naam vergeet het deur FA Venter: ’n FMR-resensie

  • 3

  • Boekresensie: FA Venter: Die keer toe ek my naam vergeet het, Protea Boekhuis, ISBN: 9781485308034. Uitgesaai in Fine Music Radio se Boekkeuse op 18 Julie 2018.

FA Venter se Die keer toe ek my naam vergeet het is ’n uitstekende outobiografiese vertelling oor sy ervarings ná hy ’n beroerte beleef het. Eers sy verblyf in ’n hospitaal en toe veral in die aftreesentrum Altena in die Strand.

Die eerste uitgawe het in 1995 by Tafelberg-Uitgewers verskyn, vyf jaar ná die beroerte en twee jaar voor sy dood in 1997. Charles Fryer was die redakteur. Protea Boekhuis gee die boek nou keurig uit in ’n maklik leesbare druk, veral ook vir middeljarige en bejaarde oë! Daar’s ook enkele foto’s en afdrukke van Venter se tekste opgeneem. Sy vier romans oor die Groot Trek is ook weer by Protea Boekhuis beskikbaar: Geknelde land, Offerland, Gelofteland en Bedoelde land.

Ons wat nog op skool was doer in die jare sestig van die vorige eeu onthou nog Swart pelgrim, die verhaal van Kolisile in die grootstad wat vir ons ’n voorgeskrewe werk vir Afrikaans was. As jou vakkeuse dit toegelaat het om letterkunde afsonderlik te neem naas Afrikaans, was jy bevoorreg om een van sy Bybelromans, Man van Ciréne, te bestudeer. Ek het nie dié voorreg op Worcester gehad nie. Maar in my tyd as redakteur by Tafelberg-Uitgewers het ek Venter se hersiening van Man van Cirene (nou sonder die akuutteken) in 1991 geredigeer.

Die keer toe ek my naam vergeet het vorm in ’n sekere sin ’n afsluiting van sy outobiografiese boeke: Werfjoernaal, Die middag voel na warm as en Kambro-kind. Dit is boeke oor sy ervarings as kind en later boer in die Karoo. In hierdie vertelling verwys hy ook na daardie jare.

Volgens JC Kannemeyer in sy literatuurgeskiedenis van 2004 lewer Venter met hierdie “menslike rela(se)” (DJ Opperman) sy belangrikste bydrae tot die Afrikaanse prosa. Kannemeyer sluit Die keer toe ek my naam vergeet het daarby in.

Toe ek die eerste sin in die eerste paragraaf lees, word ek dadelik aangegryp. En dwarsdeur die boek tref ’n mens sulke sinne, sulke goed opgeboude en gedramatiseerde gedeeltes aan. Jy reageer emosioneel. Dit gee insigte, verras jou. En alles word nugter gestel.

Só begin die boek:

Die dood het een môre suutjies by my kombuis in Seemeeu 1104 in die Strand ingekom. Baie suutjies. Juis toe ek besig was om die ontbytgoedjies op te was. Ek het hom nie gehoor óf gesien óf verwag nie. Ek het so goed gevoel. So vol energie. Sou nog die middag gaan rolbal speel. Ek het dié oggend waarlik kans gesien vir die lewe.

Omdat my vrou swaar deur emfiseem en ’n hartkwaal aangetas is, sorg ek elke oggend vir ontbyt en was daarna die skottelgoed.

Ek droë nog so af, toe val die vadoek uit my regterhand. Ek buk en tel dit op. Ek vermoed niks. Dis so ’n pragtige someroggend – helder, windloos.”

Ná dit weer en weer gebeur het, wéét hy daar is iets verkeerd:

Dit is ’n groot ding dié. Dis nie vir sommerso nie. Die vadoek val teen my sin en wil uit my hand – sonder dat ek enige pyn voel.

En skielik tref dit my: Ek staan van aangesig tot aangesig met die dood. Maar is die dood dan so pynloos? So genadig?

Venter se vrou, Stella, is aanvanklik die een wat probleme by hom waarneem, maar ook opgewonde tekens van herstel verwelkom. Later is dit hy wat haar ondersteun. Teen die einde van die boek beskryf hy hoe hy haar aan die dood moet afstaan.

Hy lewer deurgaans goeie vertelkuns oor sy verblyf in die hospitaal en daarna in die siekeboeg en die woonstel in Altena. Dis ’n tyd van herstel, maar dan, voor sy vrou se dood, is dit ook die tyd dat hy begin agterkom waarvan hy al goed genees is én dit wat die beroerte permanent van hom na liggaam en siel weggeneem het.

Van die amusantste gedeeltes is hoe hy weer leer motor bestuur. Ook sy beskrywing van die lewe in die herberg, soos hy ’n ouetehuis of aftreesentrum noem. Hoe verloop die daaglikse omgang met die personeel en mede-inwoners? Met al hulle goedheid, maar ook die ou kwinte en kwale, lastige gewoontes en uiteenlopende karaktertrekke?

Een van die karakters wat meer uitgebreid geteken word, is Uncle Willie. Die verpleegsters sukkel om hom saans in die bed te kry.

Oplaas het hulle hom tóg in die bed. Dan lê hy nogal ’n    rukkie stil. Net tot die laaste verpleegster loop. Dan begin hy vroetel. Baie saggies. Sy kattekwaad verrig hy so stil soos ’n gesoute inbreker. Hy pluis, hy torring, hy meet en pas, hy vervies hom en rem aan ’n onderlaken. Hy raak so opgewen dat waar hy by die koppenent van die katel begin het, hy later by die voetenent lê.

Dis ’n boek waarin afgetredenes, ander ouer mense en hulle familie hulleself alte goed sal herken.

Weens al die terugslae kry oom Frans juis ’n ongewone perspektief op talle dinge in die lewe rondom hom, byvoorbeeld op godsdiens en ook op die werkinge van die verstand. En al hierdie insigte verwoord hy so goed. Jy kan ’n bloemlesing daaruit saamstel. Dis wat ek nou gaan doen.

In die eerste aanhaling wag hy om hospitaal toe geneem te word:

Ek lê intussen baie stil, bedag op die fynste beweging van my liggaam. Ná ’n ruk roer ek my tone en vingers om vas te stel hoe ver die dood al gevorder het. Die hele linkerkant van my liggaam werk, maar die regterkant is verlam. Totaal verlam.

Ek wag op die groot, woedende ruising wat alle krag uit my sal wring en my geluidloos na die ander kant van die stroom sal neem.

Nou die toneel waarin sy vrou en sy suster uitvind dat hy nie kan praat nie:

Op daardie oomblik kom my suster daar aan. Smart het haar ook al geskroei. Sy het haar man verloor; albei haar ouers ook. Sy is gewoond aan skok. Die dood doen dinge aan jou. Maar nog nooit het ek iemand so verwese, so stomverdwaas gesien as toe sy vind ek kan nie praat nie en dat ek net ’n paar gebare met my linkerhand kan maak.

Die oomblik toe my vrou en suster na my kyk, dink hulle seker daaraan dat ek wat in my lewe al miljoene woorde gelewer het, in ’n oogwink gereduseer is tot ’n groot swygsame. Dit moet ’n skok wees om te besef dat ek moontlik nooit weer ’n woord sal skryf nie.

Maar dan kom sy geliefde kleindogter Kandas hom te hulp met die skryfwerk:

Weer probeer ek die tikmasjien. Nee. Die inkpen. Vergeefs. Die potlood. Ook nie. Die fout lê tussen my brein en die vingerpunte. Ek kan my vingerpunte nie beheer nie.

Op ’n dag sit ek en kyk na Kandas se brief in drukskrif. So netjies. So sterk. Elke ry reguit en sekuur soos soldaatjies.

Ek sleep die oefenpapier nader en begin drukskrif skryf. Die letters kom staan mankoliek op die papier, maar hulle bly staan duidelik. Die een vloei nie onduidelik in die ander nie.

Ek sit en huil oor daardie stukkie drukskrif. Dit is skeef en krom, maar leesbaar. Leesbaar! Die mooiste woord in die Afrikaanse taal.

  • 3

Kommentaar

  • Dankie Danie - jou inspirerende resensie motiveer elkeen van ons wat met FA Venter groot geword het, om die besielende boek te lees. Dit is beslis 'n opheffende geskenk vir enige sestig plusser!

  • Georgie le Roux

    Wat n voorreg en eer om mense soos FA Venter te ontmoet met sy wonderlike mense kennis en taal. Geknelde land was my matriekboek in 1970. Elke woord en sy beroerte speek van 'n man waarop ons as Afrikaners kan trots wees en veral sy boek na sy beroerte is nog vandag van pas. Gaan daardie boek weer lees.

  • Een van die puikste skrywers wat ek in my lewe teëgekom het. 'n Mens kan nie 'n boek van FA Venter neersit as jy eers begin lees het nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top