Engela Duvenage is ’n vryskutjoernalis wat spesialiseer in artikels oor die wetenskap en navorsing. Sy het pas ’n dik boek oor Suid-Afrikaners se verbintenis met die wetenskap en tegnologie uitgegee. Daarin vertel sy selfs oor die vyf mans wat in Suid-Afrika grootgeword en sedertdien ’n Nobelprys in die wetenskappe gewen het. Uiters gevorderde navorsing word op ’n eenvoudige wyse aan jongmense oorgedra op so ’n manier dat selfs oumense dit kan verstaan.
Die boek is Saterdag 14 November op Wellington bekendgestel.
Izak de Vries het met haar gesels oor Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika (LAPA).
Engela, geluk. Dit is min dat ’n boek my kinderlik opgewonde kan maak. Dié een het dit reggekry.
Dankie – mens is dankbaar as andere ook so saam opgewonde raak oor iets wat eintlik maar vir lank net jou eie mal idee was. Ek het dikwels in die skryfproses gewonder hoekom ek ooit gesê het ek gaan 100 stories doen, maar noudat die bielie hier is, sien ek hoedat dit wel werk. Dis ’n boek wat ek eenvoudig net wou skryf (soos die uitdrukking sê, skryf die boek wat jy nêrens te lese kry nie), seker al vir vyf jaar lank. Ek is dankbaar dat LAPA vroeg in 2018 kans gesien het om dit saam met my aan te pak, nadat twee ander uitgewers aanvanklik nee gesê het.
Waar kom jou liefde vir die wetenskap vandaan?
Ek dink dis eerder ’n geval dat ek van feite en geskiedenis hou, van stories en mense. Ek hou daarvan om ’n bietjie oor baie dinge te weet. ’n Skoolvriend het destyds al gesê ek het ’n brein soos ’n Chappies-papiertjie. My man, Louis, sê weer ek’s nuuskierig, maar op ’n goeie manier, nie in die skinderige sin nie, maar eerder nuuskierig oor wat in die wêreld om my aangaan, hoe dinge by mekaar inpas, en te kan verwonderd wees oor die besonderhede van byvoorbeeld die natuur. My ma vertel hoe ek van kleins af smiddae gesit en koerant lees het. Ek ag myself gelukkig om al die afgelope twee dekades in die omgewings- en die breë wetenskapswêreld te werk, en oor mense te mag skryf wat elke dag deur hul werk ’n verskil probeer maak. Ek kry kans om vrae te vrae aan van die slimste mense, totdat ek self ’n bietjie meer verstaan oor hul navorsingsveld. Hulle kry beslis nie genoeg erkenning vir wat hulle doen nie!
Jy gebruik groot wetenskaplike woorde, maar verduidelik hulle dan. Hier is ’n voorbeeld: Bongani Mayosi se navorsing oor aritmogeniese regterventrikelkardioniopatie (ARVC) word só verduidelik: “Doef-doef-Doef-doef-DOEF-DOEF-DOEF-doef / DOEEEFFF- DOEEEFF”. En nog ’n paar doefe. Wow. Selfs ek kan dit verstaan, maar ek sou andersins nooit ’n artikel oor daardie groot woord gelees het nie.
En dis natuurlik nie al groot woord nie. Regdeur die boek gebruik jy wetenskaplike name en terme. En dit in ’n boek gemik op kinders. Hoekom hulle blootstel aan wetenskaptaal?
Hoekom dan nou nie? Dit brei kinders se woordeskat uit, daag hulle uit, en help hulle om die wêreld om hulle te verstaan. Ek dink daar’s baie kinders wat gefrustreerd is met die inhoud wat hulle op skool leer, en hierdie is dalk net die regte kos vir die leesgieriges onder hulle. Ek’t inligtingsblokkies by elke storie gebruik om talle wetenskaplike konsepte wat in die verhale voorkom verder te verduidelik. Ek lê ook byvoorbeeld woorde soos kardioloog en kardiovaskulêr uit, hoedat dit met die hart te doen het, en dat die kardio-deel sy basis in die Griekse woord kardia het. Hopelik herken hulle dan volgende keer die woord wanneer hul ouers in “kodetaal” of “grootmenstaal” daaroor gesels dat hul oupa of ouma ’n kardioloog moet besoek, en word hulle nie deur “groot woorde” dronk gepraat nie. My ma, Eleanor Botes, het op haar dag Latyn gegee. Sy’t altyd kleintyd (eintlik nou nog!) so vir ons woorde uitgelê, en ons gehelp om die basis en betekenis daarvan te verstaan. Vir die boek het sy ook gehelp om al die spesiename wat voorkom om te sit in foneties-Afrikaanse uitspraak sodat dit makliker op die oog en tong is.
My geliefde is ’n medikus en besig met navorsing. Toe ek die boek langs haar neersit, het sy gesê: “Desember.” ’n Paar minute later het sy “gou-gou” oor Bongani Mayosi gelees, want sy het hom geken. Toe “gou-gou” oor André van der Merwe, want hulle was saam in die klas. En “gou-gou” oor James Barry, want sy het baanbrekerswerk vir vroue gedoen ... Ek dink dit sê iets oor jou boek. Het ander volwassenes al terugvoer gegee daaroor?
Ek is soms bang die volwassenes geniet dit meer as die kinders! Maar dan is dit ook oukei, en kan hulle weer die stories aan hul kinders oordra. Een leser, vir wie ek glad nie ken nie, het op Facebook die volgende laat weet: “Kyk, nou en dan maak ’n kinderboek my so opgewonde dat ek en my kinders stry oor wie hom eerste kan lees. Gelukkig is hierdie een ’n feiteboek wat stuk-stuk gelees en geniet kan word. Hy lê dus hier in die sitkamer waar almal deur hom kan blaai en in bietjies geniet.”
Ek het ook reeds werklik positiewe terugvoer ontvang van onderwysers en bibliotekaresses wat die opvoedkundige waarde daarin raaksien. By die bekendstelling Saterdag by die Breytenbachsentrum het een gas oa gesê dat hy reken die boek doen wondere vir die uitbou van Afrikaans as ’n wetenskapstaal – dit was vir my beslis ’n voorreg om dit eerste in my moedertaal te kon skryf!
André van der Merwe het die wêreld se eerste penisoorplanting gedoen. Jy skryf oor geslagsorgane: “Dis ’n ongemaklike, persoonlike saak waaroor moeilik gepraat word!” En tog, jy bied dit aan; jy skryf selfs oor die besnydenisrituele. Waarom?
Ons leef nie in ’n maklike land nie, en dit sou naïef gewees het om nie sogenaamde moeilike onderwerpe soos Vigs, watertekorte en klimaatsverandering in die boek in te sluit nie. Dit was vir my belangrik om ’n wye spektrum van onderwerpe te dek, oor verhale, mense en gebeure te vertel wat nie noodwendig in die kurrikulum behandel word nie, en wat selfs ’n bietjie uitdaag. So leer ons by mekaar, en van mekaar, en oor mekaar.
’n Vriendin en haar dogters het besluit hulle spring sommer weg met die lees van professor Andre se storie, wat ek glo ek met die grootste moontlike sensitiwiteit geskryf het. Sy’t laat weet dat hul grootste indruk was oor hoeveel mans se penisse jaarliks beseer word of hulle hulle penisse verloor. Hulle het nooit besef hoekom so ’n operasie nodig is nie; dis nie iets waaroor mens sommer dink nie, maar vir die ou met wie dit gebeur, is dit ’n ongemaklike, harde werklikheid. Ja, dis baie makliker om oor die wêreld se eerste hartoorplanting of 3D-gedrukte oorbeentjie-inplanting te lees. Die penisoperasie is egter beslis ’n eerste waarop ons in Suid-Afrika kan trots wees, en ook deel van ons wetenskapsgeskiedenis, en daarom skryf ek daaroor. Dit het hoop gebring vir ’n klomp mans wat met so ’n verlies saamleef.
Ons lewe in ’n tyd waarin wêreldleiers feite ontken of afmaak; daar is alternatiewe waarhede wat deur bedenklike webruimtes aan goedgelowige mense opgedis word. Jy raak nie betrokke nie, maar stel feite, soos die geval is met Edmund February se navorsing oor die sederbome wat daarop dui dat aardverwarming ’n gegewe is. Hoop jy om weer ’n nuuskierige generasie te kweek wat feite interessant sal vind?
Ek wéét daar ís reeds so ’n nuuskierige generasie – kinders (en hul ouers) wat meer wil weet oor die wêreld om hulle en opreg nuuskierig is daaroor. Die belangrike is om vir hulle genoeg bronne (in hul eie taal) te kan aanbied waaruit hulle kan leer, en goeie inhoud vir hulle toeganklik te maak. Dis so dat sommige kinders bloot meer ingestel is op feite as op storieboeke – die verhale in hierdie boek is ’n goeie middeweg. Ek wou ook vir kinders wys watter beroepe alles moontlik is, en dat hulle ’n loopbaan uit hul belangstelling in byvoorbeeld halfedelgesteentes, spinnekoppe of plante kan maak.
Jy skram nooit weg van moeilike onderwerpe, soos vooroordeel teen vroue of selfs die moeilike paaie van swart mense in Suid-Afrika nie. Tog fokus jy op die positiewe en vertel stories van dit wat mense reggekry het. Hoe het jy die balans gehou?
Ek het gehoop om met die aanbied van stukkies geskiedenis vir kinders ’n bietjie konteks te gee oor die uitdagings wat baie mense oor die jare moes hanteer, en hoe dinge dikwels ten goede verander het.
Ek kies beslis doelbewus om op die positiewe in my land te fokus; dis vir my ’n lewenswyse. Soos my vriendin Jeanine sê: “You see what you look for.” Daar is hóévele passievolle, vindingryke mense en goeie dinge in ons land wat eenvoudig nie genoeg gevier of raakgesien word binne die groter prentjie nie. Ons het elkeen van hulle nodig om die wêreld ’n beter plek te maak, maar hulle het ook die ondersteuning nodig om te kan aanhou daarmee. Die positiewe is selfs te vind in negatiewe onderwerpe soos Vigs of klimaatsverandering as mens byvoorbeeld kyk na die magdom wetenskaplikes en medici wat saam soek na oplossings. Daar is mense in die boek wat nooit skool klaargemaak het nie, weens die Depressiejare, apartheid of die Tweede Wêreldoorlog byvoorbeeld. Hulle het hulle nie deur hul kinderjare laat keer om hul merk te maak nie. Elkeen van die verhale bied op een of ander manier hoop of ’n rolmodel. Ek wil subtiel daardeur vir kinders wys wat gedoen kan word as mens net genoeg deursettingsvermoë, passie en breinkrag aan die dag lê, skouer aan die wiel sit en nie deur die eerste teleurstelling of uitdaging uitgeboul word nie.
Een van my gunstelingstories is dié van die Kapenaar Allan Cormack wat aanvanklik nie sy doktorsgraad kon behaal nie, ten spyte van ’n paar jaar se studie aan Oxford-universiteit. Weldra het hy die Nobelprys gewen vir die ontwikkeling van die CAT-skandeerder – aanhouer wen. ’n Fisikus, Buyisiwe Sondezi, wou haar hele lewe een of ander eerste doen (byvoorbeeld om eerste in matriek te kon staan, wat sy nie bereik het nie) en het uiteindelik die eerste vrou in Afrika geword wat in ’n veld van eksperimentele fisika haar doktorsgraad gekry het. So kan ek aangaan.
Tumi K Steyn se illustrasies dra by tot die sukses van die boek, dink ek. Hoe voel jy oor hulle?
Die terugvoer is net positief, en ek is dankbaar vir haar skoon, sensitiewe aanslag. Ek dink die gebruik van illustrasies eerder as stywe foto’s maak die boek met die eerste oogopslag ook makliker vir kinders om op te tel en te begin lees. Die voorblad is ontwerp deur Zinelda McDonald, en ek dink sy‘t ook ’n formidabele stuk werk gedoen. Dit vang beslis die oog! Ek het eers agterna gehoor dat sy, soos ek, op Wellington woon, en dit het die voorblad vir my selfs meer spesiaal gemaak.
Die boek is ondersteun deur die Akademie van Wetenskap en Kuns, en uitgegee deur LAPA. Nou wil jy dit ook in Braille beskikbaar stel. Is daar planne vir vertalings in ander tale?
Ek werk aan die Engelse vertaling, wat teen 2021 deur Penguin uitgegee gaan word. Van die begin af was my droom dat die boek in alle Suid-Afrikaanse tale en by alle skole beskikbaar sal wees. Hoe prakties dit is, weet ek nie, want ek besef daar’s groot finansiële koste aan so iets verbonde. Ek hoop iewers sal ’n befondser na vore kom wat ’n uitgewer met so ’n projek kan help, sodat ’n boek vol wetenskapstaal en positiewe rolmodelle in soveel moontlik tale aangebied kan word vir skoolkinders (en hul ouers!).
Lees ook:
Uittreksel: Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika deur Engela Duvenage
Kommentaar
Ek het nie klein kinders nie, maar ek gaan hom beslis aan skaf. Dis net wat Afrikaans nodig het.
"En dit in ’n boek gemik op kinders" - Nee wat. Ouers en oueres kan heelwat hieruit leer.
My dogter in Namibië het vir my gevra om dit vir haar kinders te bestel. Afgelewer het ek uit nuuskierigheid daardeur begin blaai en aangehou blaai en blaai en lees en lees. Dis werklik interessant en insiggewend en daarby baie goed versorg en aan te beveel.
Goed gedoen Engela.
Doen maar net so 'n bietjie navorsing voor u dit koop. Die prysverskil is meer as R100 van laagste tot hoogste verkoopprys afhangende van die verskaffer. Hoe ook al, dis goeie waarde vir geld.