Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Elsabé Brink se bydrae

  • 0

Die geliefde skrywer Elsa Joubert (gebore 19 Oktober 1922) is op Sondag 14 Junie 2020 aan COVID-19 in ’n Mediclinic-hospitaal in Kaapstad oorlede. Sy was 97 jaar oud.

Haar herdenkingsgeleentheid is op Saterdag 4 Julie 2020 aanlyn aangebied. Volg die skakel om na die geleentheid te kyk: https://vimeo.com/435700573/5fa4f63659. LitNet publiseer hiermee sommige van die huldeblyke, wat elk uit eie reg ’n soort tydsdokument is.

Hier onder is Elsabé Brink se bydrae by die herdenkingsgeleentheid.

Elsa Joubert

Goeie middag. En welkom aan almal wat ingeskakel het by hierdie buitengewone huldeblyk aan my ma, wie se lewe op 97 deur COVID-19 geëis is.

Ek begin – ongewoon vir ’n geskiedkundige – met ’n aanhaling uit die letterkunde. Die eerste sin van Charles Dickens se Tale of two cities het onlangs as deel van die tsunami van grendeltydgesegdes op my selfoon uitgespoel. Vir my klink dit skoon asof Dickens ons eie grendeltyd en die huidige wêreldwye pandemie beskryf. Ek dink my ma sou ook in hierdie uitsonderlike tyd die volle aanhaling van die eerste sin van Charles Dickens se roman gepas vind.

It was the best of times, it was the worst of times, it was the age of wisdom, it was the age of foolishness, it was the epoch of belief, it was the epoch of incredulity, it was the season of Light, it was the season of Darkness, it was the spring of hope, it was the winter of despair, we had everything before us, we had nothing before us, we were all going direct to Heaven, we were all going direct the other way – in short, the period was so far like the present period, that some of its noisiest authorities insisted on its being received, for good or for evil, in the superlative degree of comparison only.

Gedurende haar lang lewe het ek het baie by my ma geleer. Hoe gaan jy te werk om jou ideaal – in haar geval om ’n skrywer in Afrikaans te wees – te identifiseer en dit dan met die moed van jou oortuiging voluit na te streef? Met dryfkrag, deursettingsvermoë en volgehoue harde werk het sy haar ideaal verwesenlik en baie sukses behaal, plaaslik en internasionaal. Sy het ongelooflik baie bereik – vir haar tyd, haar omstandighede en, moenie vergeet nie, as vrou in ’n oorwegend mannewêreld.

As ek terugdink aan die onlangse verlede, sien ek hoe haar boeke haar stukrag en lewenslus gegee het. Toe haar vingers en toetsbord haar in die steek begin laat het, was haar brein nog volstoom aan die werk. Toe kon my broer Nico en sy dogter Isabeau haar bystaan om weer eens ’n merkwaardige boek – Spertyd – die lig te laat sien. Voor die bekendstelling van die boek was sy baie siek. Tog het sy wonderbaarlik herstel en by die geleentheid uit die vuis uit ’n uitstekende toespraak gelewer. Helder en duidelik en skerp. Ouma het weer baie pryse hiervoor ingepalm. Bravo.

Poppie Nongena, die fliek, en die heruitgawe van die boek het Ouma ook ’n groot hupstoot gegee. Toe ons na die voorvertoning van die film daaroor gaan rapporteer, was sy in die bed, maar sy wou, voor enige ander nuus, dadelik hoor hoe dinge afgeloop het. Ek is bly sy kon die bevrediging smaak dat die boek, na ’n verloop van 30 jaar, plaaslik verfilm is en goeie resensies gekry het.

Clementine Mosimane in Poppie Nongena

Inderdaad, skryf was vir haar goeie medisyne. Moenie haar laaste brief op die voorblad van Die Burger vergeet nie. Hierin het sy, tydens die grendeltyd, op kenmerkende Elsa Joubert-wyse, die versugting van inwoners van aftree-oorde landwyd verwoord. Verder het sy tot op die einde ook nog gedigte van Omar Khayyam in Afrikaans vertaal. Dit het sy vingeroefeninge genoem.

In die aftree-oord het sy besoekers altyd verwelkom. Dan moes iets voorgesit word voordat sake van die dag, die politiek, of die huidige stand van Afrikaans, indringend met Basil, my man, debatteer kon word. Elke keer as die kleinkinders wat ver bly, in die Kaap aankom, het hulle by Ouma ’n draai gaan maak. Haar vier agterkleinseuns het geweet dat hulle speelgoed en iets lekkers om te eet en te drink altyd sou regstaan. Hulle sal die kuiers in die Kaap mis.

Ten slotte. Op ’n week na kon Ouma tot op die einde onafhanklik in haar eie ruimte – haar woonstel en studeerkamer – bly woon. Hier het haar span versorgers toegesien dat haar lewe vlot verloop. Dit het haar in staat gestel om aan te hou werk. Ek salueer hulle.

For their benefit, I would like to repeat this in English. To the carers  … You know who you are … You faithfully looked after my mother and made it possible for her to remain in her flat until the end. Thank you for your kindness, care and thoughtfulness. It made Ouma’s life easy and allowed her to continue working. I salute you.

Soms het Ouma haar ma, wat ook 97 jaar oud geword het, aangehaal. Oumagrootjie het altyd gesê: “Old age is not for sissies.” Ondanks haar gestel wat stelselmatig verswak het, het my ma selde oor haar fisieke agteruitgang en die probleme van die ouderdom gekla. Laat dit vir ons ’n les wees. Hiervoor, en vir haar volgehoue werkywer, haar passie vir skryf en vir Afrikaans, haal ek my hoed vir haar af.

Ons eer haar lang en vervulde lewe waarin sy inderdaad al die fasette van die lewe, soos hier bo aangehaal, meegemaak en beskryf het.

Lees ook 

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Nico Steytler se bydrae

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Annari van der Merwe se bydrae

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Ena Jansen se bydrae

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Henriëtte Latsky se bydrae

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Hein Willemse se bydrae

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top