Elsabé Brink is ’n geskiedkundige en skrywer wat uitgebreid navorsing doen oor die geskiedenis van Suid-Afrika. Haar publiskasies sluit onder meer in die uittog van sowat 7 000 Zoeloe mynwerkers wat met die uitbreek van die Anglo-Boere Oorlog in 1899 te voet teruggekeer het na hul tuistes in Natal. Met die 21ste herdenking van die Soweto opstande het sy sowat dertig onderhoude met mense wat ten tye van die opstande daar op skool was, geredigeer om die gebeure uit hulle perspektief weer te gee. Sy het ook ’n boek gepubliseer oor samesmelting van die opvoedkundige instansies wat gelei het tot die stigting van die Universiteit van Johannesburg (UJ) in 2005. Ter viering van UJ se Fakulteit van Kuns, Ontwerp en Argitektuur se 80ste bestaansjaar het sy ’n boek geskryf waarvoor sy vyftig onderhoude met personeel en studente gevoer het. Tydens haar verblyf in Johannesburg het sy tematiese historiese toere oor die stad nagevors, opgestel en aangebied. Sy het indertyd ook as voorsitter van die Provincial Heritage Resources Agency of Gauteng opgetree. Tans spits sy haar toe op argivale navorsing oor die histories agtergrond van grondeise.