Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Hein Willemse se bydrae

  • 0

Die geliefde skrywer Elsa Joubert (gebore 19 Oktober 1922) is op Sondag 14 Junie 2020 aan COVID-19 in ’n Mediclinic-hospitaal in Kaapstad oorlede. Sy was 97 jaar oud.

Haar herdenkingsgeleentheid is op Saterdag 4 Julie 2020 aanlyn aangebied. Volg die skakel om na die geleentheid te kyk: https://vimeo.com/435700573/5fa4f63659. LitNet publiseer hiermee sommige van die huldeblyke, wat elk uit eie reg ’n soort tydsdokument is.

Hier onder is Hein Willemse se bydrae by die herdenkingsgeleentheid.

Hein Willemse (foto: Herman Meulemans)

Die dag toe Elsa Joubert gesterf het, het Afrikaans een van sy belangrikste skrywers verloor. Trouens, Afrika het een van sy belangrikste skrywers verloor. Die afgelope weke het daar roerende waarderings vir haar werk en vir haar as persoon in die media verskyn. Tereg, want haar bydrae tot die Afrikaanse letterkunde is enorm.

Vir Elsa was Afrikaans en ’n bewustheid van “haar volk” belangrik. Dié gegewe was sedert haar vroegste werk altyd teenwoordig. Dit is juis hierdie spanning tussen “Wie is ek en waar pas ons in?” “Wie is ‘ons’?” “Hoe oorbrug ek die ‘ons’ en die ‘julle’?” wat seker van die belangrikste terugkerende vrae in al haar werk is. Die wroeging en worsteling om antwoorde op hierdie vrae te kry, kenmerk haar werk, of dit nou haar reisverhale, outobiografieë, romans, novelles of kortverhale is. Wat aanvanklik onomstootlike sekerhede oor die eie was, het geleidelik verander in die erkenning van die ander, van ’n gemeenskaplike verbondenheid.

Dit is juis hierdie ingesteldheid wat dit vir haar moontlik gemaak het om grense oor te steek, om vreemde ruimtes en omstandighede te ondersoek. Al was dit háár soeke, het sy ook ons gedeelde menslikheid ondersoek. Dit is dan juis sy wat die naaste kom aan wat Latyns-Amerikaanse literêre kritici die tradisie van testimonio noem, naamlik om die verhale van die gemarginaliseerdes op te neem en oor te vertel – om getuie van ’n moment te wees.

Ek onthou dat toe ons mekaar die eerste keer van aangesig tot aangesig ontmoet het, ek strydend gepraat het oor die noodsaak vir ’n niehegemoniese Afrikaanse tradisie. ’n Swart Afrikaanse literêre tradisie, het ek dit genoem. Sy het in ’n koerantartikel kapsie daarteen gemaak en gepleit dat sulke skeidingspraatjies tog liewer nie moet posvat nie. Ons het verskil. Met haar ruimheid van gees was gesprek en die oorbrugging van verskille en grense altyd moontlik – ook in dié geval. Tot haar dood was sy bekommerd oor die stand van Afrikaans, oor haar eie bydrae tot Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde.

Die herinneringe aan die enkele kere wat ek, en later ek en my vrou, by Elsa en Klaas in hul ruim huis in Belvederelaan, bokant die Molteno-dam, in Tamboerskloof besoek het, bly kosbaar, veral omdat, afhangend van die geleentheid, daar altyd interessante mense saamgekuier het, of dit nou Jan Rabie en Marjorie Wallace, of Richard Rive, of Braam en Hannie de Vries, of Annari van der Merwe was. Dit was altyd lekker om te deel in die vertellings en almal se beskouings oor sake van die dag aan te hoor. In dié omgewing was Elsa altyd ’n gulhartige gasvrou.

Ek onthou dat met haar en Klaas se besoek aan Indonesië waaruit Gordel van smarag voortgevloei het, ons, voor of ná die besoek, ’n interessante gesprek oor die nalatenskap van die Hollanders in die Indiese eilande gevoer het. Ek het onder meer die naam van Pramoedya Ananta Toer, een van hul belangrikste skrywers, genoem. Elsa het nie sy werk geken nie en terstond daarop aangedring om my Pramoedya-romans te leen om te lees. By ’n latere boekgeleentheid kon sy ’n paar indringende, kritiese opmerkings daaroor maak. Dit is juis in haar geselse oor Indonesië dat sy eenkeer opgemerk het dat sy ’n spesmaas het waar die Kaapse uitspraak vir jy, naamlik “djy”, vandaan kom. Daardie “djy” het sy oorsprong in Suidoos-Asië, want die Indonesiërs praat nie van “Jakarta” nie, maar van “Djakarta”. Dit is hierdie intellektuele nuuskierigheid en intuïtiewe intelligensie wat van Elsa ’n boeiende gespreksgenoot en skrywer gemaak het.

Ten spyte van haar bekendheid het ek haar as oneindig beleefd en sonder eiewaan ervaar. Toe die Universiteit van Pretoria in 2007 ’n eredoktorsgraad aan haar toegeken het, het sy my vóór die seremonie haar bedankingstoespraak laat sien. “Dink jy dit is reg vir die geleentheid?” het sy gevra. Natuurlik was dit, want die toespraak was pretensieloos. Vir haar, het sy gesê, gaan “die stroom van die lewe ... so sterk en so vinnig verby”, en sy wou deur “woorde probeer [om] ’n klein stroompie af [te] keer, ’n walletjie [te] gooi, om te kyk hoe dit lyk as die water tot ruste kom”. Let op die dubbele verkleining – “klein stroompie”. Ons almal weet dat haar skryfwerk allesbehalwe “’n klein stroompie” was.

Dit was ’n voorreg om Elsa te ken, en ons sal nog vir jare oor haar intellektuele bydrae tot die letterkunde in Suid-Afrika en veral in Afrikaans praat.

Lees ook 

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Nico Steytler se bydrae

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Annari van der Merwe se bydrae

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top