Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Nico Steytler se bydrae

  • 1

Die geliefde skrywer Elsa Joubert (gebore 19 Oktober 1922) is op Sondag 14 Junie 2020 aan COVID-19 in ’n Mediclinic-hospitaal in Kaapstad oorlede. Sy was 97 jaar oud.

Haar herdenkingsgeleentheid is op Saterdag 4 Julie 2020 aanlyn aangebied. Volg die skakel om na die geleentheid te kyk: https://vimeo.com/435700573/5fa4f63659. LitNet publiseer hiermee sommige van die huldeblyke, wat elk uit eie reg ’n soort tydsdokument is.

Hier onder is Nico Steytler se bydrae by die herdenkingsgeleentheid.

Foto van Nico Steytler: https://dullahomarinstitute.org.za/about-us/our-people/sarchi-chair-in-multilevel-government-law-and-policy/professor-nico-steytler

Haar intense nuuskierigheid in mense was ook die dryfkrag agter die ewige soeke na begrip van wát dit beteken om mens te wees. Sy sien haarself as ’n reisiger op soek.”

………..

Om nou sin te maak van my ma, wat sy was, wat sy vir my beteken het, is moeilik. Sy was ’n bruisende lewenskrag wat vir my, en ook vele ander, diep geraak het. Dié lewenskrag het vele kante.

Haar liefde vir haar man, haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders het geen perke geken nie. Sy het my vrou, Michelle, in haar hart geneem. Die sorg, die ontferming, die belangstelling, die raad, die gesels, die debatte – alles was daar. Sy het haar familie bymekaar gehou soos ’n ware matriarg. Ons eer haar vandag daarvoor.

Haar belangstelling in, en toegeneentheid tot, haar medemens was intens. Sy het na almal geluister, almal gesien en ervaar, omdat almal vir haar as mense belangrik was. Haar verhouding met Eunice Ntsata, op wie se storie Die swerfjare van Poppie Nongena gebaseer is, is die bekendste. Met haar dood het baie mense geskryf hoe hierdie eienskap haar so spesiaal gemaak het. Nóg meer, sy het nie haarself as iemand spesiaals geag nie. Sy het altyd meer belanggestel in die ander.

Haar intense nuuskierigheid in mense was ook die dryfkrag agter die ewige soeke na begrip van wát dit beteken om mens te wees. Sy sien haarself as ’n reisiger op soek. Haar soekende siel is vir my die beste geïllustreer in die skryf van haar laaste boek, Spertyd. Sowat vier jaar gelede sê my ma Spertyd is klaar geskryf; die laaste hoofstuk, toe genoem “Bestemming”, het haar spirituele en religieuse sieninge oor die lewe saamgevat. Dit bring die boek tot ’n mooi einde. En toe word sy siek en word oorgestoot vanaf Berghof na die hospitaal oorkant die straat. Sy deel in die algemene opvatting in Berghof: Die hospitaal is die eindstasie; jy keer nie terug nie. Maar in plaas daarvan om boedel oor te gee en die familie koebaai sê, breek die instinktiewe nuuskierigheid oor die lewe opnuut deur toe sy ’n hospitaalkamer met twee ander vroue deel. Deur na hulle lewens te kyk, en haar eie te vergeet, kyk sy met nuwe oë na die lewe en die dood. Toe sy die doodsengel dié keer systap, skryf sy ’n nuwe slothoofstuk, gebaseer op haar belewenis in die hospitaal. Sy noem dit “Stofdeeltjie”. Nie ’n filosofiese bespiegeling nie, maar ’n dieper insig in die oombliklikheid van die lewe: Jy is hier vir die oomblik en dan weg.

Regs van Ena Jansen sit Nico Steytler, Elsa Joubert en Klaas Steytler se seun, en regs van hom sit Etienne Bloemhof, uitgewer by Tafelberg. (Foto verskaf deur Ena Jansen)

Die kragtige soeke na betekenis verg moed. As alleenreisiger het sy die onbekende vreesloos aangedurf. Voor haar laaste reis – weer van Berghof na die hospitaal, met die koronavirus as geselskap – het sy vir my gesê: “Ek is nie bang nie.” Toe ons buite die noodeenheid se deure in die parkeerterrein vir toelating wag, was daar geen vrees in haar oë vir die volslae alleenheid wat sy sou betree wanneer die deure, miskien nou vir die laaste keer, agter haar toesluit nie. Daar was krag in haar oë.

Haar lewenskrag is weerspieël in haar skryfwerk. Sy het die innerlike drang gehad om sin te maak van wat om haar gebeur deur dit in woorde vas te lê. Toe selfs ’n kortverhaal te veel energie vereis, begin sy met gedigte. In die laaste maande van haar lewe tree sy in gesprek met die Persiese digter Omar Khayyam en sy kort verse. Hy was haar geselsmaat toe die inperkings kom. Elke dag ’n variasie op ’n gedig. Maar haar liggaam laat haar in die steek. Toe sy nie meer kon tik nie, dikteer sy vir haar kleindogter, vir haar versorgers. Dan probeer sy met die hand skryf, maar haar lopende handskrif kon sy sélf nie ontsyfer nie. Toe probeer sy drukskrif op ’n bladsy met blokkies – om elke letter in ’n blokkie in te pas, woord vir woord, reël vir reël. Haar lewensdrif vir skryf was nooit geblus nie.

………..

As alleenreisiger het sy die onbekende vreesloos aangedurf. Voor haar laaste reis – weer van Berghof na die hospitaal, met die koronavirus as geselskap – het sy vir my gesê: ‘Ek is nie bang nie.’”

………..

Sy was volhartig en met oorgawe ’n eggenoot, ’n ma, ’n skoonma, ’n ouma en ook ’n grootouma, soms ’n “tannie”, ’n patriot, ’n skrywer, denker, vegter vir Afrikaans.

Hoe kon sy alles doen? Dis grootliks te danke aan haar man, Klaas, haar sielsgenoot vir meer as 50 jaar. My pa het die grootsheid van gees en wysheid gehad om haar lewensdrif te herken, te respekteer, en vir haar vrye teuels te gee om te reis waar sy wou, om na te speur wat sy wou. Hy het haar soeke na betekenis ondersteun, en haar gedagtes en bevindings gedeel en gedebatteer. Ek bring graag weer hulde aan dié merkwaardige mensch, my pa.

Dat haar einde moes kom in hierdie tye van inperkings was hartverskeurend – vir haar en vir ons. Geen menslike kontak nie, en die telefoon kon nié die afskeiding oorbrug nie. Die ergste was: Ons kon haar nie vergesel met die laaste treë na haar dood nie. Maar laat ons nou verby dit kyk. Laat ons liewer verheug wees dat ons deur haar lewenskrag diep geraak was, en nog sal wees. Ons sal haar onthou vir haar liefde vir ons, die deernis vir haar medemens, en die onuitputlike wil om verstaan: dít was sy. Beslis nie ’n “stofdeeltjie” wat vir ’n oomblik bestaan en dan verdwyn nie.

  • 1

Kommentaar

  • Sue Van Blerk

    Goeie dag, Covid19 los baie diep wonde in almal se lewe. Ek is opsoek na Nico Steytler se kontak nommer asb ek is besig met my stamboom en is opsoek na sy pa se broer en suster "Johan and Margaret"

    Indien hy met my in aanraking sal kom sal ek dit baie waardeer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top