Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Henriëtte Latsky se bydrae

  • 0

Die geliefde skrywer Elsa Joubert (gebore 19 Oktober 1922) is op Sondag 14 Junie 2020 aan COVID-19 in ’n Mediclinic-hospitaal in Kaapstad oorlede. Sy was 97 jaar oud.

Haar herdenkingsgeleentheid is op Saterdag 4 Julie 2020 aanlyn aangebied. Volg die skakel om na die geleentheid te kyk: https://vimeo.com/435700573/5fa4f63659. LitNet publiseer hiermee sommige van die huldeblyke, wat elk uit eie reg ’n soort tydsdokument is.

Hier onder is Henriëtte Latsky se bydrae by die herdenkingsgeleentheid.

…………

“Sy is die voorbeeld van iemand wat haar lewe ten volle gelewe het en elke geleentheid aangegryp het om óf iets daaruit te leer óf iets daaroor neer te pen.”

…………

My ma het baie karaktertrekke en eienskappe gehad wat ek altyd sal onthou en probeer navolg – ek gaan drie daarvan uitlig.

My ma het eerstens ’n prysenswaardige werksetiek gehad. Oor harde werk kon jy haar niks leer nie en is sy vir ons almal ’n voorbeeld. Soos sy telkemale vir ons gesê het, die woorde borrel nie sommer uit haar uit nie – sy het nie daardie tipe talent nie. Skryf beteken gaan sit elke dag voor jou tikmasjien, ’n paar sinne skryf, die volgende dag ’n paar doodvee en weer oorskryf en die volgende dag weer oorskryf. Sy was tot op die einde op haar gelukkigste as sy met taal kon speel of wanneer daar ’n taak in haar dag was om iets te redigeer, te vertaal of skrywend te skep.

Tweedens was daar haar entoesiasme vir nuwe ervarings, nuwe mense ontmoet, nuwe projekte aanpak, geklankbord deur haar groot avontuurlus. Sy is die voorbeeld van iemand wat haar lewe ten volle gelewe het en elke geleentheid aangegryp het om óf iets daaruit te leer óf iets daaroor neer te pen. Dit was vir haar lekker om mense se stories aan te hoor en sy was dus ’n entoesiastiese luisteraar. Groot was haar plesier om iets nuuts te leer of te lees en sy kon nie wag om ’n nuwe projek aan te pak nie (soos tydens die grendeltyd haar vertaling uit Engels na Afrikaans van Omar Khayyam se gedigte).

…………

“Dit was my ma se filosofie – gaan voluit, maak jou kop skoon en oop vir nuwe ervarings en wees dapper genoeg om nuwe avonture te begin.”

…………

Derdens was dit so mooi om te sien hoe sy dit in haar later jare reggekry het om soveel plesier en geluk in die kleinste mooi dingetjie te vind – die son wat op ’n boom val, die wind wat die blare rondbeweeg. My ma het nooit gesê dit gaan oukei of orraait as jy haar vra hoe dit gaan nie – sy het altyd gesê dit gaan goed of dit gaan baie goed. Sy het gesorg dat haar dag goed gaan, al was sy die laaste paar jaar meestal in haar woonstel – dan het sy plesier gekry uit die bome voor haar venster, en dit het haar dag goed gemaak. Hoeveel keer het sy nie in ons telefoongesprekke vir my die bome wat weerkaats op haar venster beskryf nie.

My betoog vir ons, haar kleinkinders en agterkleinkinders is – lewe die lewe ten volle, met oorgawe en passie, en put uit elke dag wat jy kan – jy kry net een keer die geleentheid om vandag te beleef. Dit was my ma se filosofie – gaan voluit, maak jou kop skoon en oop vir nuwe ervarings en wees dapper genoeg om nuwe avonture te begin. My ma het in ongekende waters ingevaar toe sy in die hospitaal opgeneem is – net soos sy gedoen het op die ouderdom van 25 toe sy op haar eie in Afrika ingevaar het – sy het alleen na die hospitaal gegaan en alleen gesterf. My ma het nog die laaste keer toe ek met haar in die hospitaal gepraat het, vir my op my vraag hoe gaan dit met haar gesê dit gaan goed – ek is seker sy het geweet dat sy nou op die drempel van ’n nuwe avontuur en nuwe begin staan. Vaarwel liewe Ma – ek hoop die nuwe avontuur oortref al Ma se verwagtinge.

Ek was gelukkig om die laaste paar jaar met haar oor spiritualiteit en religie te kon praat en ons het menige gesprek gehad oor ’n meer interkerklike invalshoek tot gestruktureerde godsdiens. Dit was ook lekker om, as sy in iets nuuts begin belangstel en entoesiasties ’n nuwe projek aanpak, vir haar materiaal  op die internet te soek en te stuur.

Gebed

Liewe Heer, baie dankie dat ons hier bymekaar kan kom om ons ma, ouma en grootouma te onthou en hulde aan haar te bring. Baie dankie dat sy nie meer deur fisieke beperkings teruggehou word nie en dat sy nou met vrye vleuels by ons pa kon aansluit – ons eer haar krag en moed met die heengaan in die hospitaal. Dankie dat U by haar was in haar laaste ure en dat sy nie alleen die dood tegemoet moes gaan nie.

Ek vra dat U by ons sal wees in hierdie tyd en dat die heengaan van ons ma, ouma en grootouma ons net nader aan mekaar sal bring en sal bind as ’n familie en dat ons mekaar in die toekoms altyd sal ondersteun en help in tye van nood en in geluk. Ons dank U vir nog ’n dag. U genade aan ons, die geleentheid om na U wil te leef, en weer die vreugde van die lewe te voel. Ons dank U dat U vir 97 jaar saam met ons ma, ouma en grootouma gestap het.

Dankie dat ons hierdie geleentheid kan gebruik om afskeid te neem en afsluiting te kry en ons vra U seën op hierdie geleentheid.

Our Father, from whom the breath of life comes, Who fills all realms of sound, light and vibration, may your light be expressed in our utmost holiest. Your heavenly domain approaches. Let your will come true, in the universe just as on earth. Give us wisdom for our daily needs, detach the fetters of faults that bind us, like we let go of the guilt of others. Let us not be lost in superficial things, but let us be free from that which keeps us off from our true purpose. From you comes the all-working will, the lively strength to act, the song that beautifies all and renews itself age to age. Sealed in trust, faith and truth Amen.

(First-century Aramaic prayer)

Lees ook 

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Nico Steytler se bydrae

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Annari van der Merwe se bydrae

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top