Poppie Nongena-rolprent skenk gedeelte van wins aan veldtog teen geslagsgeweld

  • 0

Die lokprent vir die langverwagte rolprent Poppie Nongena is dié week uitgereik. Die rolprent het skoonskip gemaak by die onlangse kykNET Silwerskermrolprentfees, waar dit met 12 toekennings bekroon is.

Die rolprent is gegrond op Elsa Joubert se roman Die swerfjare van Poppie Nongena, wat in 13 tale vertaal is, en die rolprent word op 31 Januarie 2020 landswyd in rolprentteaters vrygestel.

Die roman sal op 15 Oktober 2019 hervrygestel word in beide Afrikaans en Engels ter viering van die rolprent se bekendstelling.

Poppie Nongena vertel die verhaal van ’n Afrikaanssprekende Xhosa-vrou se stryd om stabiliteit vir haar gesin te verseker in ’n tydperk van buitengewone onrus in Suid-Afrika. Dis ’n era waarin swart vroue deur arrestasies, boetes en gedwonge verwyderings hulle huise moes verlaat om hulle in afgeleë gebiede, die sogenaamde swart tuislande, te gaan hervestig. Wanneer haar man, Stone, te siek word om te werk, word Poppie volgens die wet beskou as ’n “onwettige” inwoner in haar eie land.

Die bekroonde draaiboekskrywer en regisseur Christiaan Olwagen is die regisseur van die rolprent en die rolverdeling sluit Anna-Mart van der Merwe, Chris Gxalaba, Rolanda Marais, Dawid Minnaar, Lida Botha en Nomsa Nene in, met Clementine Mosimane in die hoofrol.

Volgens die vervaardiger van die rolprent, Helena Spring, is Poppie Nongena besonder relevant in die hedendaagse Suid-Afrika, en hoewel die rolprent nie spesifiek handel oor geweld teen vroue nie, gaan dit oor ’n “sterk Suid-Afrikaanse vrou wat teëspoed te bowe moet kom”.

Spring het daarom besluit om 10% van die vervaardiger se wins uit die rolprent te skenk aan organisasies wat geslagsgeweld in Suid-Afrika probeer bekamp.

Spring en Olwagen lewer kommentaar oor die rolprent.

Helena, Poppie Nongena het skoonskip gemaak by die Silwerskermfees en met 12 toekennings weggestap, onder andere Beste speelfilm, Beste draaiboek, Beste regisseur, Beste aktrise, Beste manlike byspeler en Beste vroulike byspeler. Wat beteken hierdie toekennings vir julle as span?

Dit is wonderlik, en ons is baie trots op elke spanlid se werk. Ongeag of hulle voor of agter die kameras was, elkeen het die maande lange harde werk as ’n liefdestaak aangepak, en is verheug en dankbaar dat die voltooide film met soveel lof bekroon is.

Waaraan skryf julle die rolprent se sukses toe by die filmfees? 

Die regisseur, Christiaan Olwagen, verstaan storie vertel soos min ander, en hy het Poppie se reis met soveel eerlikheid en opregtheid oorgedra dat gehore nie anders kon as om te identifiseer met Poppie en haar gesin nie. Die uitbeelding van hulle stryd oorskry kleur, kultuur en sosio-ekonomiese omstandighede.

Wat was die inspirasie om Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena in ’n rolprent te omskep, en wat was julle visie met die maak van die rolprent? 

Elsa se vertelling van Poppie se stryd het destyds met publikasie ’n reuse-impak gehad, beide binne en buite Suid-Afrika. Daardie impak het nooit vervaag nie en ons wou graag die diep persoonlike lens wat Elsa in haar roman gebruik het, ook op die groot doek toepas. Vryheidsvegters wat tot dusver gehuldig is, is meestal mans en groot politieke figure. Niemand het nog ooit gekyk na wat die stryd aan gewone gesinsmense, veral vrouens, gedoen het nie.

Wat maak hierdie rolprent uniek?

Dit is ’n intieme, persoonlike ontbloting van menswees waarmee almal kan vereenselwig.

Christiaan, jy is onder andere bekroon as beste regisseur vir die rolprent – wat was vir jou die uitdagings verbonde aan die verfilmingsproses?

Die grootste uitdaging was die periode. Ons moes plekke in Kaapstad vind wat nog lyk soos wat dit in die sewentigs gelyk het. Dit wat ons nié kon sien nie, het baie keer die skoot bepaal. Die ander groot uitdaging was die casting. Dit is ’n enorme ensemble. Al die persone wat Poppie se pad in die film sou kruis, was ewe belangrik. Dit was ’n lang proses om die regte persoon vir elke rol te vind.

En die hoogtepunte?

Om met Clementine Mosimane te kon werk. Sy is ’n ongelooflike aktrise en mens. Ek hoop dat ek binnekort weer so ’n geleentheid sal kry. Sy is die hart van hierdie film en haar vertolking is ongelooflik. 

...........

Volg Poppie Nongena op sosiale media vir die jongste nuus by @PoppieFilm (Facebook, Twitter en Instagram) #PoppieNongenaFilm 

  • Foto’s: Melanie Cleary
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top